
Foto: Pixabay
Die LitNet Akademies Weerdink-reeks skakel akademiese navorsing met vandag se aktuele kwessies. Die volgende artikel het in 2019 in LitNet Akademies (Regte) verskyn: Grondhervorming: Is onteiening sonder vergoeding die magiese “silwer koeël” of is dit ’n (berekende) skoot in die donker?
Gerrit Rautenbach skryf in hierdie bydrae dat daar ná 2024 se verkiesing opnuut oor ’n apolitieke koalisie en grondhervorming nagedink behoort te word.
Oukei, die verkiesing is verby en dit lyk of die sieners se voorspellings reg was. Daar is nie ’n meerderheid nie en nou is daar ’n koalisieregering van een of ander aard. Party klassifiseer dit as ’n regering van nasionale eenheid, maar selfs dit is eintlik ook seker maar ’n koalisie. Van min of meer al die politieke spelers.
Om ’n koalisie te bewerkstellig is ’n bietjie soos om Scrabble te speel. Of ’n blokkiesraaisel te maak werk. Om ’n labirint deur te stap tot by die uitkoms. Wat dit wel nie is nie, is Thirty seconds. Hierdie oplossing gaan lank vat. Dis dinkwerk, strategie, voor- en nadele. Insluitings, uitsluitings. Dis ’n bisarre soort van huwelik. Trou met jou teenstander. ’n Huwelik met ’n egskeiding as doelwit.
Daar is nou baie partye betrokke om een geheel te maak, maar wie dit ook al is, daar is één ding wat op die hooflys van almal se agendas moet wees: Grondhervorming. Nie onteiening nie – dít is agteruitboer vir almal. Maar grondhervorming. Sodat daar meer inklusiwiteit kan wees met meer deursneeboere wat meer kos produseer, meer werk skep en meer mense voed. Meer vrede kan verbou.
Oor die afgelope 30 jaar is daar baie gedreig en vingers gewys na die tradisionele wit boere. “Dubul’ ibhunu” (“Kill the boer”) het kort-kort kop uitgesteek. Groot geraas is gemaak oor plase wat afgevat moet word. Die staat het derduisende hektaar landbougrond op hul naam wat van tyd tot tyd oor die laaste drie dekades uitgedeel is aan nuwe swart probeerboere. Wat dan ongelukkig nie weet hoe om daardie grond voordelig te benut nie. Die staat het hulle nooit leer boer nie. Grond maak jou nie ’n produsent nie. Agteruitgang was die gevolg. Wanneer landbougrond nie landbouprodukte lewer nie, word die kosmandjie van die land leër. En word werksgeleenthede minder.
Die regstelling en balans van landhervorming en landbouers tussen swart en wit is nog altyd as polities gesien. Tog, as jy gaan kyk na hoe almal op plase oorwegend deur al die jare van landbou in Suid-Afrika eintlik goed saamgewerk het, is politiek van minder belang. Van meerdere belang is dat almal graag deel wil wees van dieselfde proses. En dat dit gelykgestel moet word. Nie omdat iemand “Dubul’ ibhunu” sing nie, maar omdat dit reg is, regverdig is, progressief is. Grondhervorming is nie ’n politiese kwessie nie, dis ’n logiese kwessie. Hou op hamer oor wat verkeerd was, soek wat reg is. En dit gaan nie noodwendig by die stembus gebeur nie.
........
Die doel van die oefening is die bou van ’n volhoubare, meer inklusiewe en veiliger landbougemeenskap. Die bevordering en fasilitering van suksesvolle vennootskappe tussen bestaande en nuwe-era-boere sodat ekonomiese groei, werkskepping, voedselsekerheid, rentmeesterskap en sosiale harmonie bevorder word.
........
So min of meer twee derdes deur Suid-Afrika se demokrasie het daar ’n proses begin: ’n totaal apolitiese inisiatief uit die privaat sektor wat hulself ten doel stel om grondhervorming positief te laat gebeur. Tot voordeel van die land in sy geheel. En dit lyk of dit is wat hulle regkry. Hulle staan bekend as Partners in Agri Land Solutions oftewel PALS en is prakties en pragmaties en glad nie polities nie. Want dit maak nie saak vir wie jy stem nie; dit help als niks as jy nie kan eet nie. As daar nie kos is nie, kan jy niks doen aan opvoeding, behuising of werkskepping nie.

Mentor Peter Wolfaardt en Raymond Koopstad op Raymond se plaas La Vouere. Foto: Gerrit Rautenbach
Die doel van die oefening is die bou van ’n volhoubare, meer inklusiewe en veiliger landbougemeenskap. Die bevordering en fasilitering van suksesvolle vennootskappe tussen bestaande en nuwe-era-boere sodat ekonomiese groei, werkskepping, voedselsekerheid, rentmeesterskap en sosiale harmonie bevorder word. Dis ’n inklusiewe proses waarby die groter gemeenskap betrokke raak en saamwerk om projekte te fasiliteer en mense op grondvlak te inspireer. Almal raak betrokke. Ongeag politieke oortuiginge, geloof of ras. Want sonder kos is almal sonder hoop.
Soos reeds gesê, is PALS apolities; dit gaan oor regverdigheid. Hulle glo bloot die speelveld moet gelyk wees en almal moet ingesluit word. Dit is waar die apolitiese koalisie reeds begin. Want as die gevestigde (wit) boere nie betrokke raak om die nuwe-era- (swart) boere te mentor om landbougrond ekonomies te gebruik nie, gaan daar moeilikheid kom. Politiese moeilikheid en produktiewe moeilikheid. Dan motiveer jy sekere spelers om weer net ten alle koste grond te probeer gryp. Vir wat? Wie wen daardeur?
.......
Sedert 2014 het baie gevestigde boere en nuwe-era-boere reeds PALS-vennootskappe gesluit wat tot inklusiwiteit en opheffing gelei het. En meer kos, meer werksgeleenthede. Meer gelykheid, regstelling en wat nog. Daar is heelwat eertydse nuwe-era-boere wat binne ’n dekade gevestigde kommersiële boere geword het.
.......
Sedert 2014 het baie gevestigde boere en nuwe-era-boere reeds PALS-vennootskappe gesluit wat tot inklusiwiteit en opheffing gelei het. En meer kos, meer werksgeleenthede. Meer gelykheid, regstelling en wat nog. Daar is heelwat eertydse nuwe-era-boere wat binne ’n dekade gevestigde kommersiële boere geword het. Wat saam met die ou gevestigde boere net so gatvol is vir die staat se onvermoë om hul prima uitvoerprodukte oor die waters te kry na kopers wat ander poorte begin oorweeg.

Cobus en ML Geldenhuys, mentors by Bambisane saam met Lennox Plaatjies. Foto: Gerrit Rautenbach
Die PALS-raamwerk is eenvoudig. Dis hoekom dit werk. Die formule bestaan uit ’n driehoek. Omdat dit gaan oor kos, dink aan ’n driepootpot. Eg Suid-Afrikaans vir wit en swart. Potjiekos en pap. Perfekte kombinasie. Die ding is, met drie pote kan jy nie wankel nie. Al is die grond ongelyk, staan die pot stewig. Net so het PALS ook drie pote: die nuwe-era-boer, die gevestigde kommersiële boer (die mentor) en die boerderymaatskappy. Elke boer het sy eie landbougrond. Die gevestigde boer is waarskynlik een van vele generasies daar. Die nuwe-era-boer het dalk sy grond by die staat gekry, of die gevestigde boer het ’n deel van sy grond afgebaken. Of ’n buurplaas is gekoop. Hoe ook al, dit kan deel van die transaksie wees, maar die grond self is nie deel van die driehoek nie. Jou plaas bly jou plaas. Die boerderymaatskappy se meerderheidsaandeel is in die hande van die nuwe-era-boer. BEE en al daai.
Beide nuwe-era-en gevestigde kommersiële vennote dra by. Met arbeid, kennis, toerusting, mentorskap, tyd om mekaar te leer ken en verstaan. Hiermee help PALS as onafhanklike derde party totdat die nuwe-era-boer ’n gevestigde kommersiële boer word. En weet hoe om sy appels te oes. Sonder om ooit appels te swaai. Daar is nou al rondom 50 van hierdie suksesverhale, en die mooiste deel van die storie is dat die “partners” in Partners in Agri Land Solutions partners bly. Hulle loop die landboupad saam. ’n Koalisie in die ware sin van die woord.

Thoko Didiza, minister van landbou: “Initiatives like PALS where emerging farmers and commercial farmers are forming partnerships, is showing fruit in addressing binding constraints.” Foto: Gerrit Rautenbach
Die staat het al positiewe dinge oor PALS gesê. Thoko Didiza, minister van landbou: “Initiatives like PALS where emerging farmers and commercial farmers are forming partnerships, is showing fruit in addressing binding constraints.” Selfs Cyril het in die
parlement gesê “The PALS initiative is a practical example of inclusive cooperation.”
Maar dit moenie net by praat bly nie: “Words, slogans, and talk won't earn trust. We need to get our hands dirty together,” meen Lennox Plaatjies, bestuurder, openbare betrekkinge van PALS.
Is dit nie nou tyd dat die nuwe regering ten volle inkoop en deel word van hierdie apolitiese koalisie nie?
Lees ook:
LitNet Akademies Weerdink: Grondhervorming, onteiening en artikel 25 ‒ stand van sake
Toekomsgerigte grondhervorming moet ideologiese kitsoplossings vervang

