Toekomsgerigte grondhervorming moet ideologiese kitsoplossings vervang

  • 1

.............

“Die ANC se volgehoue (en inkonsekwente) verknogtheid aan die huidige vorme van regstellende aksie, asook hul retoriek oor grondonteiening sonder vergoeding en radikale ekonomiese transformasie, is voorbeelde van ‘n blinde gedweep ter wille van ideologiese dogma.”

.............

Pieter Labuschagne, emeritus professor in die politieke wetenskap, voer in sy meningsartikel op Netwerk24 van 9 Januarie aan dat ideologie in die Suid-Afrikaanse politiek ’n dwangbuis is wat neig om noodsaaklike deduktiewe en praktiese stappe te ignoreer wat nodig is om ’n politieke visie tot uitvoer te bring.

Die ANC se volgehoue (en inkonsekwente) verknogtheid aan die huidige vorme van regstellende aksie, asook hul retoriek oor grondonteiening sonder vergoeding en radikale ekonomiese transformasie, is voorbeelde van ’n blinde gedweep ter wille van ideologiese dogma.

Daar is ’n fundamentele teenstrydigheid aan die hart van ideologiese politieke bestuur wat aansluit by Labuschagne se argument: Die abstraksies van ideologiese politiek delf die verlede so om in die soeke na regverdiging van dogmatiese oplossings vir die hede se uitdagings, dat die toekoms glad uit die oog verloor word.

Twee bewyse bestaan hiervoor in die praktyk:

Ideologiese retoriek is eerstens altyd deurspek met beloftes om onmiddellike en allesomvattende verandering teweeg te bring, so asof ’n aggressiewe gepeupel die strate binne dae gaan binnevaar om af te breek, om te keer en te herverdeel.

Tweedens is daar ’n ooglopende tekort aan beplanning in ideologiese bestuur. Eskom, SAL en Prasa, om net enkele staatsbeheerde instellings te noem, se tragiese verval is tekenend van ’n tekort aan toekomsbeplanning en die aanwending van holistiese projeksies oor wat die toekoms vir elke instelling se bedrywighede inhou. As jy byvoorbeeld weet dat swaar reën oor Mpumalanga se steenkoolvelde ’n waarskynlikheid is, en jy weet dat die toekoms aan groen energie behoort, dan het jy lankal seker gemaak jou steenkoolvoorraad reën nie nat nie en jy begin daadwerklike stappe doen om ons sonnige land se sonkragkapasiteit uit te bou.

Maar waarom hierdie stiksienigheid, as ons soveel vermoë het om projeksies te maak en deeglik te kan beplan?

Die geloof in die absolute ommekeer van die hede se onregte deur staat te maak op die outomatiese progressiewe voortstuwings vanuit die verlede, lê aan die hart van verskeie ideologiese posisies in die wêreldgeskiedenis, met ’n gemeenskaplike herkoms in die filosofie van Georg Friedrich Hegel en die Duitse Idealiste.

Hegel het, eenvoudig gestel, geglo dat die gesag van die menslike rede in teenstryd met die voor-Verligtingsera se verknogtheid aan religieuse sekerhede ontwikkel het, maar dat die gemene deler tussen God en die Rede dan die sintese of sameflansing tot ’n geskiedkundige absolute is. Die menslike geskiedenis vloei dus soos ’n rivier in die rigting van ’n finale, logiese uiteinde.

Hegeliaanse absolutisme het die weg gebaan na die groot ideologieë van die 19de en 20ste eeue: Hitler en Mussolini se fascisme was die geloof in die outomatiese voortstuwing van die nasie se welstand vanuit ’n chaotiese verlede na ’n gesuiwerde toekoms. Marxisme interpreteer die loop van die geskiedenis van kapitalisme as ’n stel teenstrydighede wat tot ’n noodwendige revolusionêre toekoms sal voortbeur, met die gevolg dat kapitalisme en die staat uitgefaseer word en plek maak vir gelyker besit van produksiemiddele.

Ek onthou goed hoe my filosofieprofessor, Anton van Niekerk, op voorgraadse vlak ons klas gewaarsku het teen die geloof in ’n voortstuwende progressie van die menslike geskiedenis. Die kompleksiteite van ons wêreld laat nie toe dat die geskiedenis soos ’n reeds-geskrewe roman benader kan word nie. Ideologiese dogmatici in Suid-Afrika mors in elk geval met mense se tyd, geduld en welsyn deur aldag te sit en wag vir die geskiedenis se noodwendige trein van progressie om ons te kom oplaai terwyl hulle onbenullige voorbereidings vir ’n revolusionêre toekoms tref.

Dié van ons wat nie die gemak van staatsalarisse en patronaatskapnetwerke het nie, moet maar ons moue oprol en iets doen om aan die lewe te bly, hetsy dit is deur ’n lappie armsalige grond te bewerk wat aan jou stamhoof se genade uitgelewer is, of om mediese dienste te lewer met die vrees dat ’n ondeurdagte en onbekostigbare Nasionale Gesondheidsversekering jou landuit sal dryf.

.............

“Ideologiese dogmatici in Suid-Afrika mors in elk geval met mense se tyd, geduld en welsyn deur aldag te sit en wag vir die geskiedenis se noodwendige trein van progressie om ons te kom oplaai terwyl hulle onbenullige voorbereidings vir ‘n revolusionêre toekoms tref.”

.............

Ideologiese bestuur is ook tans die Achilleshiel van Suid-Afrika se grondwetlike onderneming om gelyker grondbeheer en -besitstrukture teweeg te bring. Omdat ideologiese bestuur so vasgevang is in die geskiedkundige patrone van die verlede se verhouding met die hede, word daar min aandag geskenk aan hoe die toekomstige patrone van grondbeheer en -besit moet funksioneer.

Daar word dikwels, aldus Cyril Ramaphosa, vae beloftes gemaak oor ’n toekoms waar grondhervorming steeds voedselsekerheid en ekonomiese groei waarborg, maar daar bestaan geen daadwerklike beplanning, of om Pieter Labuschagne se neologisme te gebruik, praktologie hiervoor nie.

Twee stelle wetgewing wat fundamenteel behoort te wees tot enige grondhervormingsbeleid is die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (op Engels, National Environmental Management Act, of NEMA) en die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (Spatial Planning and Land Use Management Act, of SPLUMA).

NEMA is ’n raamwerkwet wat die norme en mikpunte van omgewingsbestuur en omgewingsbewaring neerlê. SPLUMA reguleer stads- en streeksbeplanning en die prosesse onderliggend aan grondgebruikbestuur. NEMA het intussen ’n reeks verwante wette gebaar wat spesifieke omgewingsaspekte beheer, soos luggehalte en water.

SPLUMA is ’n konsoliderende stuk wetgewing wat die gefragmenteerde ruimtelikebeplanningstelsel van die apartheidsdae opvolg. Die skakel tussen hierdie twee wette is dat grondgebruikbestuur vir die eerste keer ’n omgewingsbewaringsplig verkry. Dit voorsien dus ’n toekoms waar ongelyke standaarde wat grondgebruikbestuur onderskraag, vervang word met ’n stelsel wat omgewingsbewaring en menslike-ontwikkelingspatrone versoen.

Dit is hoogs kommerwekkend dat hierdie twee wetlike meganismes nie figureer in die voorbereidingsverhaal van die huidige wysigingswetsontwerp ter wille van onteiening sonder vergoeding nie, en ook nie in die verslag van die presidensiële adviespaneel wat in Mei 2019 aan president Ramaphosa verslag gedoen het nie.

Gegewe Suid-Afrika se internasionale omgewingsbewaringspligte, asook die reg op ’n gesonde en veilige omgewing vervat in artikel 24 van die Grondwet, is dit noodsaaklik dat enige grondhervormingsprogram met toekomsgerigte wetgewing oor ruimtelike beplanning en omgewingsbestuur tred hou.

.............

“Omdat ideologiese bestuur so vasgevang is in die geskiedkundige patrone van die verlede se verhouding met die hede, word daar min aandag geskenk aan hoe die toekomstige patrone van grondbeheer en -besit moet funksioneer.”

.............

Ons kan nie bloot die verlede omdolwe om rasse- en klasse-ongelykheid te probeer regstel sonder om ’n praktiese en volhoubare visie te hê oor hoe ons natuurlike en menslike omgewing gaan lyk nie. Daar is talle voorbeelde uit die afgelope 20 jaar waar ekologies-volhoubare landbougrond wat suksesvol deur grondeise herverdeel is, gestroop word van inheemse biodiversiteit. In my eie geboortestreek in die Onderberg is verskeie herverdeelde plase gestroop van eeue oue, gesonde inheemse bosveld wat voorheen die landbou-ontwikkelingsimpak uitgebalanseer het. Oorkant die grens, in Mosambiek, is daar ’n voorsmakie van wat wag as ideologies-bestuurde grondhervorming nie met omgewingsbewaringspligte meegaan nie: Die ganse vloedvlakte wat vanaf die oostekant van die Lebomboberge in die rigting van die kus strek, is ontbos van ekologies noodsaaklike bome, wat afgekap en gesmeul word om houtskool te maak. Net struike bly oor, wat erosie bespoedig en natuurlike vloedbeheer verswak.

In Suid-Afrika het ons ’n grondwetlike verbintenis tot regverdiger grondbesit en grondbeheer. Maar dit beteken beslis nie dat ons so nougeset oor regstelling moet dink dat ’n groen en volhoubare toekoms vir die menslike en natuurlike omgewing ons openbare beleid ontwyk nie.

Ons kan nie soos die karakters Vladimir en Estragon in Samuel Beckett se Waiting for Godot sit en wag vir ’n ideologiese voortstuwing om alles deur die outomatiese progressie van die geskiedenis reg te stel nie.

Omgewingsverval is die enigste noodwendige uitkoms vir die mens as ons langer op ons louere rus.

Lees ook

LitNet Akademies Weerdink: Grond

Menseregte, die omgewing en omgewingskonstitusionalisme

Volhoubare ontwikkeling, omgewingskonstitusionalisme en die oppergesag van die reg vir die omgewing: ’n Grondwetlike beskouing

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top