’n Begin: in gesprek met Cintaine Schutte en Carel Nel

  • 0

’n Begin met Cintaine Schutte en Carel Nel is by die Vrystaat Kunstefees te sien, nadat dit verlede jaar by die Toyota Woordfees op Stellenbosch debuteer het. (Foto: Suzy Bernstein)

........
Die toneelstuk wys hoe twee vreemdelinge desperaat soek na iets gemeen. In teenstelling met die mites van die tegnologiese era, en die verleidelike aanloklikheid van die media en toeps, is eensaamheid meer deurdringend as ooit.
........

’n Begin met Cintaine Schutte en Carel Nel is by die Vrystaat Kunstefees te sien, nadat dit verlede jaar by die Toyota Woordfees op Stellenbosch debuteer het en al by verskeie plekke in die land op die planke was.

Cintaine is ook die vervaardiger en die stuk het Tinarie van Wyk Loots as regisseur en stelontwerper.

Dit is die vroeë oggendure in die nadraai van haar (Cintaine Schutte) nuwe plek se daknatmaak. Hy (Carel Nel) is die laaste oorblywende gas. Die plek is ’n gemors en hulle ook ...

’n Begin, Nico Scheepers se vertaling van David Eldridge se skerpsinnige toneelstuk Beginning, is ’n teer ondersoek na moderne verhoudings, met twee beskadigde mense wat aan die einde van ’n partytjie uitreik na mekaar. Die skerpsinnige stuk – sowel komies as aangrypend – vra vrae oor wedersydse eensaamheid, konneksie, menslikheid en intimiteit.

In ’n era van sosiale media en internetafsprake bly dit uitdagend om waarlik met ander te verbind. Die toneelstuk wys hoe twee vreemdelinge desperaat soek na iets gemeen. In teenstelling met die mites van die tegnologiese era, en die verleidelike aanloklikheid van die media en toeps, is eensaamheid meer deurdringend as ooit.

Albei karakters laat hulle ware self stadig na vore kom: Daniël is geskei, vervreem van sy jong dogter, woon by sy ma en het ’n lae selfbeeld. Laura is beroepsgerig, maar veg met ’n knaende eensaamheid en diepgewortelde ontevredenheid. Hulle albei beskuldig mekaar daarvan dat hulle nie werklik sê wat hulle dink nie.

Laura is 38, enkellopend en kinderloos met geen onmiddellike familie; Daniël is 42 en het sy dogter jare laas gesien.

Die toneelstuk begin met hulle wat byna soen, maar dan nie, en ons volg die verloop van hul gesprek terwyl albei weer probeer om terug te keer na daardie oomblik van hartstog. Laura is vanuit die staanspoor duidelik dat sy wil hê Daniël moet oornag, maar hy is huiwerig om sy ware gevoelens te wys.

’n Begin beeld die huiwerige ontstaan van iets wat dalk spesiaal kan wees uit – maar eweneens nie. Dis ’n onverskrokke ondersoek na die vrese en bekommernisse wat een vir een ophoop en mense afrem soos wat die lewe eensaam voortdreun.

  • ’n Toyota Stellenbosch Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi. Dit speel op 15 Julie om 13:30, 16 Julie om 17:00, 17 Julie om 13:30 en 19 Julie om 20:30 in die kykNET Scaena-teater. Kaartjies kos R150 vooraf en R180 by die deur. Die stuk is 90 minute lank en geen o/16’s word toegelaat nie.

’n Begin: Die karakters Daniël en Laura word vertolk deur Carel Nel en Cintaine Schutte. (Foto: Gys Loubser)

Vrae vir Carel en Cintaine:

MR: Wat aan die teks het jou so aangegryp dat dit eenvoudig na die planke moes kom en hoe het die teks op jou tafel beland?

CS: Ek en Carel was met vakansie in Europa. Ek sit op ’n trein op pad na Berlyn toe, toe daar skielik ’n stem in my kop begin bulder: “Cintaine, jy moet weer vervaardig. Jy moet ’n stuk vind wat met jou praat.”

Ek het dadelik met navorsing begin en afgekom op David Eldridge se werk en die two-hander Beginning. Toe ek dit klaar gelees het, het ek geweet: Dít is die een.

Daarna moes ek vinnig my span bymekaarkry. Vandag is ek só dankbaar dat ’n Begin al op soveel speelvakke te sien was. Ek glo dit is juis omdat mense hulleself daarin herken. ’n Begin is ’n brose, eerlike kyk na menswees – na wat gebeur wanneer twee vreemdelinge genoeg tyd saam deurbring en hulle toelaat dat die lae, die mure, een vir een begin afkom.

Ons almal wil gesien word. Ons wil liefgehê word. Ons wil êrens hoort. Maar wat gebeur wanneer daardie drie dinge nie deel is van ’n mens se lewe nie?

“Dis moeilik om mense ons ouderdom te ontmoet,” sê Laura, my karakter in die stuk. “Al my vriende dink ek is so braaf.” Op ons ouderdom het ons al klippe gekou, diep spore getrap en probeer om sin te maak van die lewe. Ek glo daar’s ’n bietjie van Laura en Daniël in elkeen van ons.

MR: Hoe balanseer jy die rolle van vervaardiger en akteur in hierdie stuk? Geniet jy vervaardiging en is dit iets waarvan jy in die toekoms meer sal wil doen?

CS: Ek dink dis ’n fyn balans om die hoedjie van vervaardiger en akteur te dra. Maar my ervaring het my al geleer dat voorbereiding die belangrikste ding is en om die regte span bymekaar te sit. As al die rolspelers hulle werk doen en alles gee, dan val alles ook in plek. Dat teen die tyd wat ek op die verhoog stap, ek net suiwer aktrise is en my hoedjie van vervaardiger af is. Ek sal beslis aanhou vervaardig. Dit gee my absolute plesier om my eie werk te skep en stories saam met my geselskap te kan skep.

MR: Jy het voorheen vertel dat jy Tinarie genader het om die regie te behartig en sy op Carel besluit het vir die manlike rol. Hoe is dit om weer na al die jare teenoor jou man te speel en wat was jul vorige rolle teenoor mekaar?

CS: Dis so groot voorreg om ’n verhoog met Carel te deel. Nie net is ek ’n groot bewonderaar nog altyd van sy werk nie, maar ek vertrou hom 100%. Daar is ook iets daaraan om ’n shorthand met jou mede-akteur te hê, om nie op eiers te loop nie en reguit te sê wat jy wil hê, wat jy soek om die oomblik te laat werk. Maar ook om mekaar se prosesse te vertrou en geduldig te wees met mekaar. Ons het al vantevore baie televisie- en filmwerk saam gedoen, sowel as teater, maar dis die eerste keer dat dit net ek en hy op die verhoog is. 

.......
“Ons groei as mense so tussen die speelvakke. So natuurlik gaan die stuk ook saam met ons groei. Met elke repetisie vind ons meer detail as vantevore. Dit laat ook toe dat die stuk bietjie meer gaan sit in ons bene.” – Cintaine Schutte
.......

MR: Wat bring die feit dat julle man en vrou in die werklike lewe is, na die tafel wat anders is as toe julle nie getroud was nie?

CN: Dat ons vinniger tot ’n oplossing kan kom, dat ons mekaar se maniërismes en insecurities ken en daarteen probeer speel. Ons vertrou mekaar genoeg om te weet en te kan respekteer, dat ons ons alles sal gee vir mekaar op daai verhoog.

MR: Carel, wat het jou laat instem vir die rol?

CN: Dis ’n ongelooflike teks en ek geniet die uitdaging van ’n two-hander. Natuurlik was dit ook amazing om saam met die span te kan werk op hierdie produksie. Ek het ook lanklaas bietjie teater gedoen, so dit was ook een van die redes. Ek is mal oor David Eldridge se studie van menswees, alleen wees. 

MR: Hoe verander die toneelstuk elke keer as julle dit opvoer?

CN en CS: Ons groei as mense so tussen die speelvakke. So natuurlik gaan die stuk ook saam met ons groei. Met elke repetisie vind ons meer detail as vantevore. Dit laat ook toe dat die stuk bietjie meer gaan sit in ons bene. 

MR: Hoekom is die toneelstuk vandag amper nog meer relevant as sê ’n dekade gelede?

CN en CS: In vandag se era van dating apps, isolasie en eensaamheid, praat die stuk nogals harder as vantevore. Dit is net twee mense wat gelukkig wil wees, wat nie alleen wil wees nie, wat net goeie mense wil wees; maar die lewe loop draaie met mens, die lewe kan soms moeilik wees, die lewe kan ook weer lig bring as JY dit toelaat. 

MR: Waarin is julle twee nog te sien by die Vrystaat Kunstefees?

CS: Ek sal ook in Annie+Helen speel by die fees.

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin

KKNK 2025: In gesprek met Carel Nel oor ’n Begin

Annie+Helen, ’n drama oor Helen Keller

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top