My taal: van toe tot nou – ’n brief op 14 Augustus 2025

  • 2

Prent: Canva

Op 14 Augustus 1875 is die GRA gestig. Op 8 Mei 1925 word Afrikaans tot amptelike taal verklaar in die parlement. 

Na ’n eeu en ’n half van my geliefde taal, is dit met trots dat ek sê:

Geluk, Afrikaans! Word groter! Word sterker!

Nederlands is die taal waarin Jan van Riebeeck in 1652 Kaap die Goeie Hoop aanlê as halfwegstasie op die VOC se seevaarthandelsroete na Indië. Wedywerende handelsbelange skep konflik tussen Holland, Engeland en Frankryk. Engeland verower die Kaap in 1795 vir die eerste keer en finaal in 1806 van Nederland. Verengelsing volg. Slegs Engels word in skole toegelaat en die Hollandse taal verwaarloos drasties oor die volgende 100 jaar. Die Khoi en San met wie handel gedryf word en die ingevoerde Oosterse slawe se tale meng saam. ’n Vreemde dialek, 90% uit Hollandse oorsprong, word geleidelik die praattaal. En sonder grammatika skryf mens soos jy praat.

Hierdie taalvermenging en verswakte Nederlands vorm die oer-begin van Afrikaans. Dié Kaapse dialek word deur geleerde Hollanders wat kom en gaan en deur die Engelse geskel as “kombuistaal”. Dit kweek wrewel teen die Engelse.

Ál meer word geskryf soos gepraat. Dis nou “Africaanders” wat “Africaans” praat. Leermeester CP Hoogenhout dig gebelgd:

Engels! Engels! Alles Engels! Engels wat jy siet en hoor;
in ons skole, in ons kerke – word ons moedertaal vermoor!

Op 14 Augustus 1875, vanjaar 150 jaar gelede, stig agt vurige taalaktiviste die Genootskap van Regte Afrikaners (die GRA), onder leiding van CP Hoogenhout, Arnoldus Pannevis en SJ du Toit in die Paarl. Dit word spoedig ’n sterk visionêre beweging en groei deur spontane stimulasie van taal en kerk. Die taal begin “Africaanders” se nasiebewustheid saamsnoer.

Die eerste Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, word in 1876 gestig en die verspreiding vorder met geesdrif, sonder grammatika of woordeboek, op wankelende bene maar vorentoe.

My motivering vir hierdie taalartikel is die vraag aan myself: Hoe kon die geminagde “kombuistaal” in minder as een en ’n half eeu taalwetenskaplik so bemagtig word en tot hier kom? Ons is een van die jongste moderne wêreldtale om in enige verbeeldingsveld of die mees aerodinamiese, wetenskaplike en letterkundige terreine sinvol en volledig te kan kommunikeer. Kompleet met leksikon, sintaksis en grammatika! Die antwoord: Ons skrywers dra ons tot hier. En verder.

In hierdie artikel word verwys na ons Afrikaanse prosa, en hoofsaaklik na die werk van ons Hertzogpryswenners vir prosa. Ja, die geskiedenis sal altyd belangrik wees. Maar hier fokus ons op die gewese “kombuistaal”, die voortdurende ontwikkeling van Afrikaans onder die hand van ons skrywers wat ons leer skryf en lees soos ons era na era oorvleuel en handevat en voortbou aan ons taal.

1875 tot die twintigs: trippe trappe trone tot die drempel

Pulvermacher (1866): Sy kort verhaaltjie, Gebet van Tities Tokiaan, is in Abraham H de Vries se Die Afrikaanse Kortverhaalbundel opgeneem. Luister na sy spraakklanke: “[K]yke die banjang water in die sloot [...] kyke die banjang bees [...] uit hulle vel spring van die gladgyt [...] achterop schop. Schaape [...] malkander al die foute vergeeve [...].”

Helaas, dis hoe Afrikaans se eerste skredes gelyk het.

Arnoldus Pannevis (onderwyser en taaldenker) (1874): Hy het eerste Afrikaans as potensiële skryftaal gesien. Hy het geglo die Kaaps-Hollandse omgangstaal onder bruin mense was beter praattaal as formele Nederlands. Hy skryf in De Zuid-Afrikaan (1874) dat “Afferkaans wesenlijk een taal [is] [...] wat Un genootskap foor die befordering fan die Afferkaanse taal nodig gehad het”.

CP Hoogenhout (1874): publiseer in Die Patriot artikels, gedigte, briewe en vertalings – almal in eenvoudige, volkse Afrikaans. Dit was die belangrikste kanaal vir die vroeë Afrikaanse skryftradisie. Ene Klaas Waarsegger, Jnr (CP Hoogenhout en latere GRA-lid) het daarop in ’n brief aan die blad gevra dat daar tog vaste spelreëls moet wees. 

SJ du Toit (1874): publiseer reeds in 1876 Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk, geskryf in vroeë Afrikaans. Hy skryf ook ’n Afrikaanse Bybelvertaling (Genesis, gedeeltes uit Mattheus), asook verskeie ander bydraes. Die sinsbou dra nog die gebroke struktuur van Hollands. Die woordeskat is religieus, staatagtig en moralisties. Spontaan skryf publieke amateurs skryfwerk as gedigte en verhaaltjies. Maar die strewe vir eie taal, Afrikaans, is gebore. Du Toit het, op aandrang van CP Hoogenhout, die eerste taalreëls saamgestel om Afrikaanssprekendes ’n resep te leer om te skryf en te spel. Voorbeelde sluit in:

’n vir die lidwoord (’n man, in plaas van “een” man); die gebruik van ’n voor selfstandige naamwoorde (’n boom); vereenvoudigde spelling: mens in plaas van mensch; sch word vervang deur k (skaap in plaas van schaap); verbuigings soos in Nederlands werd in plaas van waard; die dubbele nie: ons kan nie kom nie; daar word tussen vier e’s onderskei: a) die e in en; b) die gewone e en skerp é, soos in die twee lettergrepe van gegé; c) die dowwe ê, soos in hê, wêreld; d) die korte è in è.

Spoedig volg die taal met spelling, grammatika en verskeie opvolgende woordeboeke.

GR Von Wielligh (1890): Begin in die 1890’s volksverhale skryf en skep ’n groot klomp werke. Die meeste is versamel in twee bundels, Boesmanstories en Dierestories. Verskeie latere bekende skrywers neem van sy verhale in hul versamelbundels op. Hy skryf in die oorgang tussen die twee taalbewegings.

Eugène Marais, 1905 en ...

Eugène is ’n pionier in meer as een opsig: Hy was die eerste groot Afrikaanse digter, een van die eerste wetenskaplike natuurwaarnemers in Afrikaans én ’n sleutelfiguur wat bewys het dat die jong, nuwe taal nie net vir huistaal bruikbaar was nie, maar vir hoë letterkunde. Hoewel hy nooit die Hertzogprys ontvang het nie – sy werk was beroemd voordat die prys ontstaan het – is sy invloed op die Afrikaanse letterkunde en taalontwikkeling onmiskenbaar. Omdat Afrikaans so deur sy digkuns oopgebreek is, meld ek sy digwerk hier, al is die doel net prosa. In sy digkuns het hy ’n diep simboliese, elegiese toon gevestig.

As Guido Gezelle taalberoemdheid vir Nederlands bekom met: “Als de ziele luistert, spreekt het al een taal dat leeft [...]” dan doen “Winternag” vir my persoonlik ewe verrassend dieselfde vir die nuwe Afrikaans: “[E]n hoog in die rande, versprei in die brande, is die grassaad aan roere soos winkende hande [...] in elk’ grashalm se vou blink ’n druppel van dou, en vinnig verbleek dit tot tryp in die kou! Aaijaaijaai.” Kuns is kuns. Hierdie “Winternag” het bewys dat Afrikaans gereed en in staat is om ook die fynste gevoelens uit te beeld. Sy “Skoppensboer” herinner: “In elke lag ’n sug van pyn, / in elke roos ’n dowwe blaar.” Dit vereis ’n volwasse taal om dit te kan verwoord.

Marais se prosa sluit die baanbrekerswerke Die siel van die mier (1925–1930) en Burgers van die berge (postuum, 1938) in, waarin hy sy navorsing oor diere met ’n literêre styl geskryf het – ’n styl wat Afrikaans oopgestel het vir wetenskap, empatie en filosofiese besinning. Helder, beeldryk, musikaal. Sy taalgebruik het Afrikaans verheffing gegee, en sy kombinasie van digterlike gevoel en wetenskaplike nuuskierigheid bly uniek.

Die Twintigers

CJ Langenhoven, 1920 en ...

Vanjaar se eeufeesviering wys terug na die blye dag op 8 Mei 1925 toe Langenhoven as senator kon beleef hoedat sy mosie vir Afrikaans as amptelike taal in die parlement aanvaar word. Sedertdien geniet ons taal amptelike status.

Langenhoven verdien sy ere-gesagsposisie in die wording van Afrikaans. Glad nie so pro-Afrikaans in die wordingsjare nie, skryf hy in 1893 reeds: “For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has no literature, and a very poor vocabulary.”

JC Kannemeyer sê in Langenhoven: ’n Lewe:

Die kort verhandeling is die eerste voorbeeld van Langenhoven se betogende prosa in Afrikaans. Vir kenners van sy latere werk illustreer dit treffend hoe hy in die bestek van twee dekades daarin geslaag het om sy eie rudimentêre skryftaal tot ’n fyn instrument te slyp.

Onder sy trotsste werk is “Die stem van Suid-Afrika” in 1919. Hy het ruim voor 1910 reeds baie verhale geskryf in Het Zuid-Western, ’n plaaslike koerant te Oudtshoorn, wat versamel is in sy bundel Weg deur die wêreld. Sy ander werk vir Huisgenoot en Die Burger is versamel in Aan stille waters.

Van sy baie ander gewilde romans was onder andere Sonde met die bure (1921), Doppers en Filistyne (1922), Herrie op die ou tremspoor (1925) en Mof en sy mense, waarvoor hy eervolle vermelding vir die Hertzogprys kry (1926). Toe, in 1927, ook Skaduwees van Nasaret waarvoor die komitee vyf wenners aanwys om die testamentêre nalatenskap van Van der Linghen vyf jaar na dié se dood te deel. Dit is Jochem van Bruggen, met Ampie 1 en 11; Sangiro met Uit oerwoud en vlakte; Leipoldt met Oom Gert vertel en andere gedigte; Jan FE Cilliers met Die vlakte en ander gedigte; en dan Langenhoven met Ons weg deur die wêreld. Hy weier om die toekenning te aanvaar, omdat Mof en sy mense die vorige jaar slegs eervol vermeld is en omdat sy naam hierdie jaar laaste gelees is. Dit gee aanduiding dat Langenhoven negatiewe kritiek op sy werk moeilik aanvaar het. Hy was glo oortuig dat die keurkomitee nie sy werk verstaan nie.

Hy het sy mense geleer om die Afrikaans van sy tyd goed te lees. In talle kortverhale, toneelstukke en essays kombineer hy humor, satire, nasionale denke, fyn spot, politiek en simboliek. Sy taalgebruik is so dat lesers dit as voorbeeld van die nuutste Afrikaans en leersaam kon ervaar. Talle herdrukke van baie van sy boeke vind plaas.

In 1933, ’n jaar na sy dood, is begin om ’n groot deel van sy lewenswerk in 12 dele as die bekende Versamelde werke te publiseer, ’n proses wat voortdurend aangevul is tot 1937. Ook daarna weer sodat in 1958 in totaal die stel uit 16 dele bestaan. Dit sluit ook in “Die stem van Suid-Afrika” en “Ons eie vlaglied”.

Met die nasionale aard en die kragtige simbole van “Die stem” wat volkslied word, asook sy ywer en uithouvermoë vir die amptelikheidsverklaring van Afrikaans, maak hy die Afrikaner bewus van sy nasionaliteit. Langenhoven is ’n ankerfiguur in die geskiedenis en selfstandigwording van Afrikaans. En Afrikaanse kultuur.

Jochem van Bruggen, 1917 en ...

As pionier van die vroeë Afrikaanse roman en met sy sielkundige benadering tot sy karakterbeelding, steek Jochem van Bruggen vir hom ’n kleim in Afrikaanse letterkunde af. Sy eerste roman wat die Hertzogprys ontvang, is Teleurgestel (1917). Hy skryf sowat 10 romans voor die onvergeetlike Ampie-reeks: Ampie: die natuurkind, Hertzogpryswenner (1925) en weer nog ’n Hertzogprys vir Ampie: die meisiekind, (1927). Hy beeld in sy boeiende verhale die alledaagse lewe en ontberings van arm Afrikaners met empatie en taalgetrouheid uit. Ook volg Die sprinkaanbeampte van Sluis (1933), waarvoor hy sy vierde Hertzogprys ontvang – tot dan ’n ongeëwenaarde prestasie. Sy werke weerspieël die sosiale realiteite van die Groot Depressie en beklemtoon die rol van Afrikaans as draer van waardigheid, identiteit en gemeenskapsgevoel. Hy slaag goed daarin om in die twintigs reeds uitstekende taalgebruik te handhaaf om sy verhale op helder en korrekte wyse uit te beeld.

Leon Maré, 1920 en ...

Wikipedia skryf:

Hendri Leon Francious Maré was ’n Afrikaanse skrywer en Hertzogpryswenner in 1920. Al het hy [...] vergete geword, bly hy een van die grondleggers van die Afrikaanse prosa, die pionier op die gebied van die Afrikaanse verhaalkuns [...]. [O]ngelukkig word sy verhale ontsier deur ’n gebrekkige taalkennis en lomp segswyse wat [...] nie die toets van die tyd deurstaan het nie.

Met gebrekkige grammatika op daardie stadium kan mens aanvaar dat hy grootliks geskryf het soos hy praat en sy stories so vertel het.

Sangiro, 1921 en ...

Sangiro het Afrikaans as natuurbeskrywende en wetenskaplik-georiënteerde taal gevestig. In boeke soos Uit oerwoud en vlakte (1921), Diamantkoors en Twee fortuinsoekers (1927), laasgenoemde twee wat met die Hertzogprys beloon word, versmelt hy avontuur met ekologiese insig. Hy ontvang die Hertzogprys in 1927 en ook in 1945 vir sy volledige oeuvre. Sy lewendige beskrywings van wild, jag en die vrye Afrikaanse landskap het Afrikaans se woordeskat en seggingskrag ook op daardie terrein sterk ontwikkel. Ook deur beperkte vertalings internasionaal te laat geld as ’n taal van dokumentêre realisme en romantiek. Hy het Afrikaans ’n posisie gegee binne die wêreld van veral Nederlandse en Duitse natuurliteratuur.

MER, 1923 en ...

MER was dekades lank een van die invloedrykste vroulike skrywers in die geskiedenis van Afrikaans toe die taal nog jonk met veel geleentheid vir woordeskat- en styluitbreiding was. Sy het kinderboeke, romans, kortverhale en artikels geskryf met ’n fyn aanvoeling vir kultuur, vroue se rolle en opvoeding. Haar verhale het veral aanvanklik dikwels in tydskrifte soos Die Brandwag, Die Boervrou en Die Huisgenoot verskyn. Haar bekendste werke sluit in “Kinders van die voortrek” en “Eendag was daar ’n stad”, wat sowel aan geskiedenis as identiteit literêr vorm gee. Sy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en het die Hertzogprys vir prosa vir haar oeuvre (1953) ontvang. Haar styl is verfyn, opvoedkundig en sentraal tot die ontwikkeling van ’n volwasse Afrikaanse letterkunde, ook op die vrou gerig.

Die Dertigers

DF Malherbe, 1930 en ...

Malherbe was vanaf 1913 ’n sleutelfiguur in die vroeë Afrikaanse romankuns. Sommige van sy romans het nie die toets van die tyd deurstaan nie, omdat hy geneig was om wydlopig en filosofies af te dwaal. Later het hy steeds romanties, maar meer gefokus geskryf oor talle onderwerpe, soos die plaasroman, oorlog, Bybelromans, die Groot Trek. Hy het met sy skryfstyl geslaag daarin om die Afrikaner met Afrikaans-wees te laat identifiseer – gewone mense, gewone taal en herkenbare landskap. Sy romans het wel gesorg dat Afrikaanse prosa ’n stewige voet aan wal kry. Die profeet het byvoorbeeld Afrikaans toeganklik gemaak vir ’n breër publiek, veral kinders en jong lesers. Malherbe kry vir sy Die meulenaar (1926) verering met die Hertzogprys. Hy skryf ook die veelgeliefde Hans die skipper (1930) en Die hart van Moab, eervol vermeld vir die Hertzogprys van 1933. Dan volg Saul die worstelheld (1939) en Die profeet (1939) waarvoor nog eens die Hertzogprys aan hom toegeken word. Malherbe is ’n uiters suksesvolle en geliefde skrywer en sy werk is stilisties en grammatikaal sober en volkseenvoudig. Vir hom was dit sy erns dat Afrikaans, taalkundig gesien, by ’n keerpunt in ontwikkeling en groei van die skryf-, sowel as die leestaal moes wees. Malherbe se boeke is ywerig gelees.

Mikro, 1935 en ...

Mikro se bydrae tot Afrikaanse prosa lê in sy vermoë om satiriese en modernistiese tendense te verwerk binne ’n volkse raamwerk en om deurlopend die Afrikaanse taal geskik te vind en te maak om sy kreatiewe denke mee effektief uit te beeld. Hy werk uitstekend met wat hy het. Mikro se naam leef voort in die harte van lesers wat met sy boeke grootgeword het. In sy romans Toiings en Pelgrims (waarvoor hy in 1936 die Hertzogprys vir prosa ontvang) en Vreemdelinge (1944) bring hy die veld, die boerekind en die volkslewe tot lewe met warmte, humor en eenvoud. Hy verfris die styl van die Dertiger-beweging met vaardige taal verryk met ironie en subtiele kritiek. Sy plattelandse vertellings soos Koperkan en Huisies teen die heuwel het ’n warm plek in volksgeheue verwerf.

Mikro se werk is ’n brug tussen die tradisionele volksverhaal en die moderne novelle. Afrikaans raak steeds meer vaardig en volwasse. In ’n sekere sin kan ons selfs in daardie vroeë jare reeds Mikro se aanvoeling en kommer oor rasseverskille sien. Mikro het sy Afrikaanse prosa ook oopgestel vir skoollektuur van gehalte en so ook die jeug bereik met verhale van jeug en volk. Hy was ’n skrywer wat geslaag het daarin om met kind en volwasse leser ’n verhouding van liefde vir en trots op Afrikaans te bou.

CM van den Heever, 1935 en ...

CM van den Heever was in die Afrikaanse letterkunde van die dertigs en nog lank daarna ’n krag en siel van die Afrikaanse prosa. By sy skryfwerk, was hy ook taalversorger en ernstig oor die ontwikkeling van Afrikaans in die rigting van ’n gevestigde metode of kultuur van die gebruik van die taal. In leierskapsrolle as lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, stigter en voorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging en as redakteur van die Tydskrif vir Letterkunde kon hy met gesag bydra tot die ontwikkeling van Afrikaans se strewe na vestiging van Standaardafrikaans. Want sy ideaal was dat die taal moes ontwikkel tot ’n gevestigde skryfkultuur en -tradisie.

Hy benader sy skryfwerk met diepgefokusde empatie vir sy karakters en gevoel, byna treurend oor die verganklikheid, konflik ook in familieverhoudings, baie ingestem op persoonlike emosie, plek en atmosfeer. Tog spreek dit van egtheid en realisme. Stad en platteland vorm dikwels deel van sy temas. Hy skryf na sy karakters en lesers toe en opvallend is sy fyn ontwikkelde taal asof hy steeds aan Afrikaans afrond. Steeds soek hy na die binnelewe van die taal om betekenis te kan vorm en verdiep. Hy het Afrikaans ontwikkel met sy deurdagte en komplekse benaderings tot styl wat tog steeds tot die ontwikkelende taal kon aanspoor.

Romans waarmee hy altyd assosieer sal word, sluit in die gewilde romans Groei (1933), Somer (1935), Kromburg (1937) en die bekroonde Laat vrugte (1939), waarvoor hy in 1942 vereer word met die Hertzogprys.

NP van Wyk Louw, 1938 en ...

Waar sou hierdie Suid-Afrikaanse figuur van buite-proporsionele letterkundige formaat die geskikste geplaas word? As student is hy met sy vroegste skryfwerk reeds ’n Twintiger wanneer hy gereeld skryf in die UK se studenteblad. Tog word hy met sy digwerk beskou as belangrikste “Digter van die Dertig”, eintlik sy lewe lank. Hy bly aktief, kreatief en konstruktief, in elke opsig eenvoudig intellektueel-literêr sonder maatstaf sy eie tyd vooruit. Hy betree rou grond en ontdek nuwe nuanses in poësie, drama, prosa, hoorbeeld, intellektuele kritiek, filosofie en eintlik onbeperk. Hy het minstens 30 keer in al daardie genres gepubliseer. Wat ’n voorreg en unieke seën om ’n woordkolos van sy statuur as landsburger in ons midde en ’n krag in die sentrum van ons jong taal te kon hê. Op Weet lees ek: “Die gevierde Afrikaanse skrywer en historikus, Karel Schoeman, het Louw bestempel as Suid-Afrika se grootste digter en ‘een van die min figure van wêreldformaat’ wat die land nog opgelewer het.”

As ek aan Van Wyk Louw dink, doem sy meesterlike Raka en Germanicus altyd by my op.

Hy is vyf keer met die Hertzogprys vereer. Vir poësie: Alleenspraak (1937) (wat hy nie met ID du Plessis wou deel nie); Die halwe kring (1940); vir Tristia (1965); vir sy monumentale drama Germanicus (1960). Hoewel veral bekend vir sy poësie, het NP van Wyk Louw ’n beslissende rol gespeel in die vestiging van Afrikaanse kulturele kritiek en literêre denke. Sy belangrikste prosawerk is vir kritiese prosa en essays, Die mens agter die boek (1952–1958), wat aan hom die Hertzogprys vir prosa in 1958 besorg het. Hierdie tekste is ferm, helder en diep gelowig in die mag van idee en gesprek. Vir hom moes die taal steeds groei en sterker word in ’n intellektuele wordingsproses, verryk deur ’n filosofiese gewete. Hy kon die skrywende voorbeeld wees vir denkers en skrywers in sy kreatiewe omgewing, wat ook ruim blootstelling in Nederland ingesluit het. Hy het van 1950 tot 1958 die leerstoel in Afrikaanse Taal en Lettere aan die Gemeentelijke-Universiteit van Amsterdam beklee, daarna lewenslank hoof van Departement Afrikaans-Nederlands aan Witwatersrand. So het hy uit sy diepste bygedra om Afrikaans as taal te moderniseer en ontwikkel, ook buite ons grense.

Die Veertigers en Vyftigers

Gedurende hierdie era het, wat prosa betref, daar nie soveel vernuwing gekom in soverre dit belonings met Hertzogpryse betref nie. Wel was dit ’n blomtyd-fokus op die poësie. Die moontlike aanleiding daartoe – en daar is oortuigende redes – sal ’n volle beurt kry. Die Afrikaanse prosa wat wel na vore gekom het, was van besondere kwaliteit en op die regte tyd en plek op die pad van Afrikaans.

Elize Muller, 1941 en ...

Hierdie geliefde skrywer se skryfloopbaan strek oor 48 jaar! In die veertiger- en vyftigerjare het sy aktief gepubliseer en ’n unieke vroulike toon gevestig in die Afrikaanse kortverhaal. Ook met romans soos Ek, ’n Samaritaanse vrou (1941), Die pad verder (1943), Maar die jare antwoord (1947), alles verhale met goeie meriete. Haar bekende en geliefde werk Die vrou op die skuit, ’n versameling kortverhale, was uiters suksesvol. Haar vriendinne Alba Bouwer en Audrey Blignault het haar uit haar verhale help keuses maak vir die bundel en Elize word beloon met die Hertzogprys (1957). Sy was streng met haar eie skryfstyl en het die voorskriftelike vereistes van daardie tyd vir die skryf van haar verhale gevolg. Dus was sy ook taalkundig en tegnies betrokke met die ontwikkeling van die Afrikaans van haar dag. Sy skryf oor gewone mense, veral vroue, en fokus op innerlike ervaring en swaarkry. Vir almal, maar in besonder vir die Afrikaner en in besonder die Afrikaner-vrou, die landelike mens, was dit die aanbreek van uitdagende tye. Dit was aan die einde van een-kind-se-tiener-word na die Armblankevraagstuk, die Groot Depressie, Groot Droogte en die Wêreldoorlog. Haar taalgebruik is eenvoudig, sag, maar gedrae. Haar styl het Afrikaans verruim deur empatie en menslikheid.

FA Venter, 1950 en ...

FA Venter was een van die belangrikste Afrikaanse romanskrywers van die twintigste eeu en het die Hertzogprys vir prosa twee keer ontvang. Sy eerste bekroonde werk Swart pelgrim (1952) was aangrypend oor die tradisionele swart plattelandse en stedelike leef- en werkscenario’s. ’n Diep empatiese verhaal (wat my soms laat dink het aan Alan Paton se Cry, the beloved country) oor ’n swart man wat van die platteland na die stad trek en daar met vervreemding en identiteitstryd worstel. In 1960 ontvang hy die Hertzogprys hiervoor. Die roman Man van Cirene (1957), oor die Bybelse Simon van Cirene, versterk sy reputasie as ’n diep religieuse en menslike verteller. Daarna verskuif sy fokus na die Afrikaner se geskiedenis en volksidentiteit, wat uitloop in die monumentale lande-reeks: Geknelde land (1960) wat die Hertzogprys in 1961 verower, Gelofteland (1970), Offerland (1971) en Bedoelde land (1973) – epiese werke wat die lyding, geloof en volharding van die Voortrekker- en pioniersgeslag verbeeld. Venter se temas wissel van godsdienstige oordenking tot sosiale kritiek, en sy styl is nugter, verhalend en deurdrenk van geskiedkundige bewussyn. Om nie sy aangrypende, mensryke Kambrokind ongenoem te laat nie. Hy het nie net bygedra tot die ontwikkeling van die Afrikaanse historiese roman nie, maar ook empatie en kompleksiteit ingebring in die uitbeelding van die Ander. In Afrikaans moes ál Venter se gevoelvolle, uiteenlopende temas geskryf word – en hét hy dit nie gedoen nie.

Anna M Louw, 1956 en ...

Anna M Louw was een van die mees onderskatte, maar invloedryke Afrikaanse romanskrywers van die ganse twintigste eeu. Vroeg in haar skryfloopbaan het sy baie kortverhale en artikels geskryf, baie daarvan gebundel en geloof. Haar groot kwaliteit-prestasie was toe sy na haar romans Die onverdeelde uur (1956) en Die banneling: die lyfwag (1964) haar beroemde roman publiseer, Die groot gryse (1968), met die Hertzogprys in 1971 bekroon. Nog romans volg: Kroniek van Perdepoort (1975), Op die rug van die tier (1981), Wolftyd (1991), Die donker kind (1996) en Vos (1999). Dit is maar sommige van haar minstens 17 romanpublikasies.

Sy het haar naam verrassend gevestig met Kroniek van Perdepoort, ’n verfynde Karoo-plaasroman, die gesin in taai situasies, hard en nugter soos dit gebeur. In Die groot gryse beskryf sy ’n voorstelling van die oudgeworde president Kruger wat as balling sy eensame, droewe dae te midde van herinneringe en gedagtes aan die verlede uitleef en dat hy hier in Clarens in Switserland sy lewe sal slyt en moet sterf. Die verhaal verbeeld ten diepste sy besef van die fisiese dood wat sy loopbaan beëindig en verweef daarmee die dieperliggende einde wat hom bring by die punt van geen ontsnaproetes, met die noodwendige besef dat hy bloot sy lot moet aanvaar en verwerk en dat hy geen keuse het as aanvaarding van sy lot nie. So bring Louw die abstrakte tussen lewe en dood ook met steeds meer ontwikkelde Afrikaans tot lewe. Latere werke soos Op die rug van die tier en Wolftyd het haar gevestig as denker oor ingewikkelde, abstrakte idees van moraliteit, filosofie en ideologiese drome. Louw het Afrikaans gehelp bevry van tematiese engheid en dit gevestig as ’n medium vir diep filosofiese, historiese én psigologiese ondersoek waarvoor die taal in haar gedagte en hand moes ontwikkel. So kon sy kreatief sê wat sy moes verbeeld en steeds dit toeganklik tot die meer ontwikkelde leser maak. Anna M Louw – ’n literêre gesagsfiguur in eie reg in Afrikaans.

Die Sestigers

In die Afrikaanse letterkunde beval die betiteling Die Sestigers ’n maklik-identifiseerbare skryfgroep in al die genres van daardie tyd. Om welke redes: om teenstand te bied teen die staat, teen moraliteit, ondermyning en onwenslikheid. Dit alles ten grondslag van beperkende wetgewing op die Afrikaanse literatuur wat aan skrywers voorgeskryf het waaroor hulle nie mag skryf nie, of dan dit wat onder sensuur geplaas is deur die Publikasieraad/Sensuurraad. En verban sou word. Vir sommige skrywers het dit meer belemmer of frustreer as vir ander. Tog het in die Sestiger-tyd geweldig baie nuwe, verligte, gewaagde Afrikaans die lig gesien en dikwels is van daardie manuskripte oorsee uitgegee. Dit net ter agtergrond oor die skrywers. Die luidste stemme wat die weerstandsgevoel momentum gegee het, was hoofsaaklik Etienne Leroux, André P Brink, Jan Rabie, Breyten Breytenbach – met ’n stewige groep ondersteuners. Voorts ons Hertzogpryswenner-prosaïste:

Chris Barnard, 1961 en ...

Reeds in 1961 word sy novelle Bekende onrus bekroon met die CNA-prys. Hy wys dat mens in Afrikaans kan skryf oor die ongewone, oor seksuele drif en die mens se verhouding met geslagsdrif, die erotiese en verganklikheid. Barnard het met sy veelbekroonde roman Mahala (1974, Hertzogprys), kortverhale soos “Boela van die blouwater” en sy gewilde Chriskras-verhale aan Afrikaanse prosa ’n fris, ironiese stem gegee. Vir Duiwel-in-die-bos ontvang hy die Hertzogprys in 1973. Die Afrikaanse taal word verryk met Barnard se siening van die samelewing, met ’n gefokusde uitkyk op humor, speels en modern. Sy inskakeling as Sestiger en sy wye oeuvre en skryfwyse bring verryking en seggingskrag na Afrikaans. Barnard met die gawe van die woord en die gedagte. Ek onthou hoe hy my in Chriskras vasgenael kon laat op ’n helder somersdag by die flikkerende skadu van ’n kersvlam teen die skemer kombuismuur. En dit wil gedoen wees.

Elsa Joubert, 1963 en ...

Elsa Joubert, ’n grote in Afrikaans, publiseer in 1963 haar eerste roman Ons wag op die kaptein, wat haar as bekwame skrywer vestig. Verskeie romans volg. Sy styg tot ’n prominente skrywer in Afrikaanse letterkunde met haar beroemde Die swerfjare van Poppie Nongena (1978), wat op ware gebeure gebaseer is en die lewe van ’n swart vrou tydens apartheid met empatie, realisme, deernis, introspeksie en literêre krag uitbeeld. Die boek verskyn in 13 tale en verower die WA Hofmeyr-, CNA- en die Hertzogprys vir prosa in 1980. Sy hanteer migrasie, identiteit, maatskaplike onreg en die vrou se posisie in ’n veranderende Suid-Afrika. Op 95-jarige ouderdom voltooi sy haar laaste van die outo-biografiese driestuk, wat in 2005 begin is met Wonderlike geweld, daarna Reisiger (2009) en oplaas Spertyd (2017). Deur haar keuse van onderwerpe en karakters in haar oeuvre het sy Afrikaans oopgeskryf – vir stemme en stories wat voorheen gemarginaliseer is oor die kleurgrens heen – en daarmee die taal verruim en ontwikkel tot ’n medium van sosiale gewetensvorming. Nog ’n hoogsgerespekteerde skrywer.

Hennie Aucamp, 1963 en ...

Hy debuteer in 1963 met Somermiddag en verskeie sketse in tydskrifte volg, asook Die hartseerwals in 1965. Sy kortverhaalbundels verskyn gereeld. So die alombekende ’n Bruidsbed vir tant Nonnie, wat in 1970 die Tafelberg-wedstrydprys verower, en Wolwedans en Hongerblom wen in 1974 die WA Hofmeyrprys. In 1982 word hy vereer met die Hertzogprys vir sy hele oeuvre van kortverhale. Aucamp lewer as digter, kabaretskrywer en rubriekskrywer verskeie publikasies. Dit is met die kortverhaal waar hy homself bekend en bemind maak en hy skryf ook sy handboek/werkboek as raamwerk en wenke vir die skryf van kortverhale: Die blote storie (1986). Soos sy bundels, lewer ook dit ’n uitmuntende bydrae tot die aanwending en ontwikkeling van Afrikaans as ’n sensitiewe, speelse, maar ook esteties-volwasse taal. Sy werk is bekend vir sy ironie, sy onderbeklemtoonde humor en sy vermoë om die alledaagse vir sy leser tot iets besonders en uniek te maak.

Die Sestiger-Sewentigers

André P Brink, 1962 en ...

Hoewel Brink dikwels as een van die kernfigure van die Sestigers beskou word, strek sy loopbaan en invloed ver buite die tydsgrense van daardie era. André P Brink was ’n kernfiguur en grensverskuiwer in die sogenaamde Sestiger-beweging wat Afrikaans ’n nuwe literêre status gegee het en een van die mees invloedryke Afrikaanse skrywers van die laat 20ste eeu. Reeds met romans soos Lobola vir die lewe (1962) en Orgie (1965) het hy bestaande Afrikaanse temas uitgedaag en ’n nuwe, kritiese bewustheid aan die taal geskenk. Sy roman Kennis van die aand (1973) was die eerste Afrikaanse werk wat in Suid-Afrika deur die Sensuurraad verbied is, en dit het hom onmiddellik as ’n literêre rebel én vernuwer gevestig. Hy het later self baie van sy werke in Engels vertaal om internasionale trefkrag te verseker. Met ’n Oomblik in die wind (1975), Donkermaan (die Hertzogprys vir prosa in 2000) en Philida (2012) het hy die grense van taal, politiek en geskiedenis getoets. Brink se styl is welsprekend, met groot taalvernuf en vonkel. Sy prosa het Afrikaans bevry van sy volksmond-grense en dit gevestig as ’n medium van wêreldklas-fiksie en morele kompleksiteit. Philida vind internasionaal groot byval, onder meer as finalis vir die Man Booker Prize. Temas in sy werk sluit in rassisme, magsmisbruik, taboes, seksuele bevryding, erotiek en die mens se inherente stryd teen sinnelose stelsels. Die Afrikaanse roman is deur Brink herposisioneer tot debatteerbare moraliteit, eksperimenteel en losgewikkel van eng politiekery. Hy het met gemak die nuwe riskante grense uitgedaag. Sy taalgebruik is gebou met helder beelde en sterk struktuur in sy verrassende styl. Hy is Afrikaans uitstekend baas waardeur telkens die seg- en beeldvermoë van Afrikaans ten toon gestel word. Met baie veral Franse besoeke, invloedryke kennisse, lang verblyf en kennis van Europese tale en vertalings wat hy dikwels self gedoen het, het hy van sy veelbesproke romans ook oor grense gedra.

Etienne Leroux, 1962 en ...

Hierdie formidabele skrywer se eerste publikasie was reeds in 1943 en 1944 in Stellenbosse Student en getuig reeds van satire en surrealisme. Ook so in Standpunte. Reeds in 1951 sy kortverhaal “Kaartjie vir oortreding”. Etienne Leroux word as Afrikaanse skrywer en hoogs prominente Sestiger wêreldwyd bekend. Hy het talle literêre toekennings verower. Met sy sogenaamde Orpheus-trilogie – Sewe dae by die Silbersteins (Hertzogprys vir prosa, 1962), Een vir Azazel (1964) en Magersfontein, o Magersfontein! (Hertzogprys, 1976). Nou is Leroux se mitologiese en tipiese satiriese inhoud en die nugter geskiedenis goed gesinchroniseer. Oral word sy werke as beeldende metaforiek en simboliek van die beste van Afrikaans beskou. Etienne Leroux was een van die mees invloedryke Afrikaanse romanskrywers van die Sestiger-beweging, maar sy werk strek veel verder as net daardie era. Hy het die roman in Afrikaans nuwe rigtings laat inslaan met sy oorspronklike styl, sin vir struktuureksperimentering en gebruik van simboliek. Boeke soos Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, o Magersfontein! het opnuut gewys hoe geskiedenis, politiek en identiteit in fiksie verweef kan word – dikwels met satire of ironie. Leroux se romans is nie eenvoudig of realisties nie; dis gelaai met onderstrominge, verwysings en ’n speelse maar tog ingewikkelde benadering tot taal en storie. Hy het temas soos skuld, versoening, mag en selfbegrip ondersoek, maar altyd op maniere wat die leser laat dink en nie net laat kyk nie. Sy werk het beslis meegehelp om Afrikaans as literêre taal ruimer en ryker te maak.

Karel Schoeman, 1965 en ...

Karel Schoeman was ’n fynproewer van styl en een van die mees gesaghebbende stemme in Afrikaanse letterkunde. Hoewel hy soms losweg aan die Sestigers gekoppel word op grond van sy publikasiedatums en literêre diepte, het hy sy eie pad geloop – as skrywer, historikus en meester van die stil, ingehoue styl. Sy debuutroman, Veldslag (1965) is gevolg deur ’n merkwaardige reeks prosawerke, soos Spiraal (met die Hertzogprys beloon in 1970); By fakkellig (1971); ’n Ander land (1984) (met die Hertzogprys beloon in 1986); ’n Lug vol helder wolke (1967); Na die geliefde land (1991); Hierdie land (met die Hertzogprys vereer in 1995); Verliesfontein (1998); Die uur van die engel (2005); en Die laaste Afrikaanse boek (2016). Sy styl is nugter, berekenend en hy dink diepnadenkend oor die mens en verloop van tyd en wat prysgegee word. Dit vind neerslag in sy prosa. Ook soek hy na die Afrikaner – en homself – in al hierdie elemente. En die vermoë om aan te pas by die veranderlike. Hy skryf eerlik, helder en weldeurdag en hanteer Afrikaans uitstekend. Schoeman word aanvaar as ’n gesaghebbende oor Suid-Afrikaanse geskiedenis, veral die vroeë geskiedenis. Die Kaapse geskiedenis word verweef met die Afrikaanse roman tot ’n entiteit met persoonlikheid en intellek. Sy bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans was ’n hoogtepunt.

Die Tagtigers

Wilma Stockenström, 1981 en ...

In Die kremetartekspedisie (1981) en later in Abjater wat so lag (1991, waarvoor sy die Hertzogprys ontvang het in 1992) bring Wilma Stockenström ’n fyngevoelige vrouestem na die Afrikaanse prosa. Haar styl is besonke, literêr hoogs geslaagd en vol taalritme. Die skrywer se werk trek die leser stadig in die liggame, geheue en landskappe van haar karakters in. Sy gebruik Afrikaans met presisie en beeldryke intimiteit, waardeur die taal self ’n karakter word – in diens van stilte, introspeksie en weerloosheid. Sy het die gesofistikeerde psigologiese roman in Afrikaans verhef en die wêreld van Afrikaanse dialoog vergroot. En so bygedra tot die ontwikkeling van die taal.

Henriette Grové, 1981 en ...

Sy het haarself gevestig as ’n stil, maar kragtige stem in die Afrikaanse letterkunde. Haar romans Lindewiel (2003) en Die onbekendes (2016) het haar vermoë bevestig om menslike weerloosheid en morele kompleksiteit met mededeelsaamheid te verken. Haar eerste Hertzogprys is vir dramawerk van haar bekende Ontmoeting by Dwaaldrif (1981) en ’n tweede keer vir die roman Kêrel van die Pêrel. Haar werk word deurgaans gekenmerk deur ’n fyn aanvoeling vir karakterontwikkeling, emosionele geladenheid en uitstekende styl. Grové se temas sluit in die spanning tussen vryheid en verbondenheid, die soeke na identiteit en die pyn van verlies. Sy skryf met ’n helder, ekonomiese styl, maar sonder om diepsinnigheid prys te gee – iets wat haar prosa toeganklik én gevul met onderstrominge maak. Grové dra by tot die ontwikkeling van Afrikaans deur ’n stem te wees wat wys dat eenvoud nie gelyk is aan oppervlakkigheid nie.

Etienne van Heerden, 1983 en ...

Hy is een van die mees invloedryke Afrikaanse prosaskrywers van die postapartheid-era. Met romans soos Toorberg (Hertzogprys, 1986); Die stoetmeester (1993); In stede van die liefde (2005); 30 nagte in Amsterdam (2008); Klimtol (2013); en Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019) het hy ’n besonder gelaagde en simboliese manier van storievertelling gevestig. Sy werk ondersoek temas soos herinnering, geheime, identiteit en die spanning tussen stad en platteland, tussen oud en nuut. Van Heerden se styl is ryk en beeldend, met ’n sterk gevoel vir struktuur en ritme. Vir Die stoetmeester het hy in 1994 die Hertzogprys vir prosa ontvang. Hy het ook ’n reeks ander toekennings verwerf, waaronder die CNA-prys, M-Net-prys, WA Hofmeyrprys, Eugène Maraisprys en UJ-prys vir letterkunde. As akademikus het hy ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van jong stemme en met sy streng vereistes vir die keurigste taal strek sy bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans regoor sy volle oeuvre. Veral hoe hy die Afrikaanse roman oopgeskryf het vir strukturele en tematiese vernuwing – en dit wêreldwyd respek laat geniet het. Hy dra ook veel by tot Afrikaans se ontwikkeling deur skryfskoolaktiwiteite waarby hy graag betrokke is.

Adam Small, 1983 en ...

Adam Small het iets vermag wat min kon regkry: Hy het nie Kaaps as ’n substandaard geposisioneer nie, maar as ’n volwaardige, emosioneel gelaaide vorm van Afrikaans. In sy dramas en gedigte het hy Kaaps nie verswyg of verklein nie, maar vol geskryf – sonder dat hy ooit teruggeval het op Engels as vangnet of versiering. Sy taalgebruik was suiwer Afrikaans, gegiet in die wêreld van die werkersklas, geslyp aan die ritme van die gemeenskap en getrou aan die klank van die straat. Ek sonder hom uit as Hertzogpryswenner vir sy drama-oeuvre waarvoor hy so bekend en gewild is: Kitaar my kruis (1961); Sê sjibbolet (1963); Kanna hy kô hystoe (1983). Daarmee het hy Kaaps nie uitgedun nie, maar verdiep. Hy het nie net in Afrikaans geskryf nie, hy het Afrikaans geword vir daardie gemeenskappe wat nooit amptelik verteenwoordig is in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal nie. Small was, sonder oorbeklemtoning, ’n grondlegger van ’n nie-wit taalruimte binne Afrikaans, en hy het die moontlikheid van ’n toekomstige KWS reeds laat deurskemer.

Eben Venter, 1993 en ...

Venter kom versterk ons Afrikaanse prosa helder en met persoonlike inslag en nogal gewaagd. Vanaf sy vroegste roman My broer se kraai (1993) is hy ’n oop, eerlike skrywer. In Ek stamel ek sterwe (1996) is sy erg menslike belewenisse ook intens en eerlik. So ook sy styl in Horrelpoot (2006); Santa Gamka (2009); Wolf, wolf (2013). In sy Green as the sky is blue (2019) is die temas wat aan die bod kom, verhuising, siekte, eie identiteit, verlies, seksualiteit. Hy skryf intens eerlik oor homoseksualiteit, Vigs en die menslike liggaam. Venter het verskeie pryse ontvang, insluitend die WA Hofmeyrprys, die M-Net Literêre Toekenning, die UJ-prys en die Media24 Boekeprys. Sopas ook die groot prestasie in 2025 met sy Hertzogprys vir sy unieke roman Decima.

Marlene van Niekerk, 1994 en ...

Haar debuut Triomf (1994) trek aandag met haar verhaal oor ’n wit gesin, werkersklas, in die afloop na apartheid en die satire daaromheen. Die M-Net Literêre Toekenning en die CNA-prys word verower. Haar tweede roman Agaat (2004) oor ’n siek wit vrou en die swart vrou wat haar versorg, wek spanning met konflikterende elemente waar taal, ras, oorheersing en onderdanigheid deurlopend geld. Agaat is ’n sterk verhaal wat lank bybly. Talle pryse volg: die WA Hofmeyrprys en internasionaal die Sunday Times Literary Award. En die hoogtepunt, die Hertzogprys vir prosa in 2007. Haar bydrae tot Afrikaans is dat sy die taal se uitdrukkingsmoontlikhede tot uiterste rek en die komplekse verhoudinge van ons geskiedenis op ’n esteties en menslik oortuigende manier verken.

Ingrid Winterbach, 1999 en ...

Sy begin skryf as Lettie Viljoen, maar sedert die 1990’s onder haar eie naam. Sy is bekend vir romans soos Karolina Ferreira (1993); Niggie (2002); Die boek van toeval en toeverlaat (2006); Die aanspraak van lewende wesens (2012); en Voorouer. Pelgrim. Berg. (2023). Haar werk is intellektueel prikkelend, met filosofiese ondertone en met die grense tussen logika, mitologie en verbeelding wat vervaag word. Haar gestroopte, helder styl dra steeds dieper betekenisse. Sy ontvang die Hertzogprys vir prosa twee keer – vir Niggie en vir Die boek van toeval en toeverlaat. Ook die WA Hofmeyrprys, M-Net-prys, UJ-prys en die Helgaard Steynprys. Winterbach het bepaald bygedra om Afrikaans literêr vir eksistensiële en intellektuele navorsing te bevestig.

Willem Anker, 2014 en ...

’n Hoogs indrukwekkende stem in ons hedendaagse prosa. Sy debuutroman Siegfried (2007) het die UJ-debuutprys gewen en is opgevolg deur Buys (2014), ’n epiese herverbeelding van die grensfiguur Coenraad de Buys, en Skepsel (2023), ’n roman oor mens en dier, mag en ontbinding. Buys het verskeie pryse verower, insluitend die WA Hofmeyrprys, die UJ-prys en die Hertzogprys vir prosa in 2016. Anker se werk is robuust, vol geskiedenis, politieke kritiek en mitologie. Hy vermeng taalfynheid en ruwe krag en verras die leser onverwags met situasies wat soms wys, soms wild, soms woedend is. Sy bydrae tot Afrikaans lê in die manier waarop hy die grense van genre, tyd en identiteit uitdaag, en in sy vermoë om taal en geskiedenis aanmekaar te vleg tot iets vars en onontwykbaar.

SJ Naudé, 2014 en ...

Hier is ’n nuwe-era-skrywer. Al die mense wat ek ken is sy bundel kortverhale (2011), en die temas loop wyer as net binne landsgrense. Sy roman Die derde spoel, waarvoor hy die Hertzogprys losslaan (2017), neem die leser na Asië, Europa en Suid-Afrika. Dit maak die struktuur ingewikkeld maar logies, want Naudé se werk is stilisties uitstekend afgewerk. Daar is ontmoetende kulture en die abstrakte temas is deurgaans intellektueel berekend. Sy tweede roman wat ook die hoogste erkenning kry, naamlik die Hertzogprys vir prosa, is Dol heuning (2021). Dat daar verliese te ly is en alternatiewe seksualiteit, is alles belangrike oorwegings in die roman. Die werke het baie erkenning gekry, met pryse soos die Jan Rabie-Rapportprys, die kykNET-Rapportprys vir prosa, die UJ-prys. Naudé se Afrikaans is taalkundig goed versorg en afgerond. Sy taalbydrae lê daarin dat hy die taal neem na nuwe velde wat betreebaar raak, oor fisieke en abstrakte grense heen, en blykbaar geen hindernisse vind om sy literêre weg met denke en slim oorweging in te gaan nie.

Ter afsluiting

Hierdie samevatting is ’n gelukwensing aan Afrikaans met sy twee roemryke verjaardae in 2025. Geluk met wat die “vernederde kombuistaal” vermag het tot hier. Om vandag in staat te wees om saam met enige ander wêreldtaal te kommunikeer op enige platform; in enige verhandeling; in die wetenskap, lettere, kuns, musiek, religie, staatkunde, filosofie, erotika en die lewe.

Hierdie informele huldeblyk aan Afrikaans en sy taalmeesters wat hom oopgeskryf en uitgebou het, is gevorm uit my jare se liefde vir en werk met die taal en aangevul uit verwysings en indrukke verkry uit onder meer die volgende: Riana Scheepers en Leti Kleyn – Die Afrikaanse Skryfgids; Hennie Aucamp – Die blote storie; Abraham H de Vries – Die Afrikaanse Kortverhaalboek; PG du Plessis – Sommer stories; JC Kannemeyer – Langenhoven: ’n lewe; Wikipedia, Weet, LitNet, ChatGPT (OpenAI), Google (gereelde verifiëring vir sommige biografiese en literêre agtergrond).

  • Coen Basson, BA (Hons) UOD

Lees ook:

Veertig jaar later: die eerste Swart Afrikaanse skrywersimposium

"Haal af bitsje bitsje en maak ope die omwoelsels..." – vroeë Arabies-Afrikaanse tekste

Cappuccino of flat white: Literêre waardes en die kanon tussen resensente en smaakmaker

Afrikaans: the language of dissent

Op soek na taal en identiteit in ’n tyd van war

  • 2

Kommentaar

  • Ja nee - dis nou vir jou 'n bakgat brief.
    Gaan later vir myself by die huis 'n ruimhartige skeut privaat gestookte, welbeleë en van stroperige viskositeit, witblits daar uit die Strandveld uit, skink.
    Mooi loop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top