Titel: Kanaän
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799399462
Kanaän is die storie van Catherine Baker, ’n gesofistikeerde Johannesburger, en Chrisjan Cronjé, ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat. Sy is half-Engels en ’n Bloedsap; hy is die nasaat van Boere en ’n inwoner van ’n distrik waar die wonde van die Vryheidsoorlog nog vlak lê.
Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar onvoorsiene omstandighede het hulle saamgegooi, en vir ’n jaar is hulle man en vrou.
Op Kanaän leer hulle nie net om mekaar te verdra nie, hulle leer dat die liefde soms teen alle verwagting in kan gedy. Maar hulle leer ook dat die verlede van ’n mens rekenskap eis, en dat die liefde soms ’n prys het wat ’n mens dalk nie sal kan betaal nie.
......
Cliffordene Norton gesels met Sophia Kapp oor haar jongste roman.

Foto: LitNet
Sterk vroue is kenmerkend van jou romans. ’n Bedonnerde diva, ʼn konvensionele, wit, Afrikaanse vrou en nou ... ’n gesofistikeerde Engelse vrou. Sophia, vertel ons meer oor Catherine Baker, die vroulike hoofkarakter in Kanaän?
Ek dink nie ek skryf soseer sterk vroue as wat ek vroue skryf wat in moeilike omstandighede sterk word nie.
Catherine is aan die begin van die storie eintlik maar ’n gewone meisie wat op ’n gewone manier in haar omgewing pas. Sy is deel van die Johannesburgse elite en dit maak haar bevoorreg en eiegeregtig, nie noodwendig sterk nie. Sy is mooi, maar sy is nie besonder dapper nie. Sy is trouens ’n bietjie onderdanig teenoor haar pa, wat nie dink sy behoort ’n loopbaan te hê nie. Dis eers as haar lewe in duie stort en sy buite haar gemaksone moet beweeg – en leer om binne ’n vreemde omgewing haar beginsels uit te leef – dat sy ’n sterk vrou word.
Dis min of meer dieselfde geval as met my ander vroulike hoofkarakters. Hulle is almal redelik veilig binne ’n bekende situasie, maar as hulle uit hulle bekende omgewing geruk word, is dinge nie meer so maklik nie. Om binne ’n nuwe konteks ’n stem te kry is die uitdaging. En om te skree en te baklei is natuurlik ook nie ’n kenmerk van ’n sterk vrou nie.
Kyf kan enigeen, maar om te weet waar jou innerlike kompas sit en om te leef volgens jou oortuigings, al is die wêreld rondom jou anders, is die teken van ware innerlike krag.
Vertel ons meer van jou manlike hoofkarakter, Chrisjan Cronjé.
Ek het ’n baie sagte plek vir ou Chrisjan. Hy is tekenend van baie Afrikaners van daardie tyd: Het nie werklik geleenthede gehad nie, het nie eintlik geld nie, het nie eintlik enigiets anders as harde werk en ’n pligsbesef om hulle vorentoe te dryf nie. Maar Chrisjan is ’n man met onkreukbare beginsels, wat die regte ding doen omdat dit die regte ding is om te doen, al kyk niemand nie.
Hy is, in vergelyking met Catherine, ’n regte plaasjapie. Hy ken nie musiek nie, hy ken nie letterkunde nie, hy verstaan skaars die Shakespeare-sonnet wat sy vir hom voorlees. Maar hy het daardie amper ondefinieerbare ding wat elke ware held moet hê: inbors. En dit is natuurlik presies wat Catherine nodig het.
......
“Kyf kan enigeen, maar om te weet waar jou innerlike kompas sit en om te leef volgens jou oortuigings, al is die wêreld rondom jou anders, is die teken van ware innerlike krag.”
......
Hulle ontmoet mekaar reg aan die begin van die verhaal wanneer Catherine letterlik op straat beland, en omdat hy is wie hy is, neem hy haar onder sy vlerk. Sy is vir hom ’n algehele vreemdeling, maar hy is ordentlik genoeg om aan haar ’n heenkome te bied en is wys genoeg om te weet hy kan dit net doen deur met haar te trou. En al raak hy op haar verlief – wie kan dit dan nou verhelp om op die mooie Katryn verlief te raak? – is hy ook edel genoeg om te weet hy moet haar van die huwelik vrystel wanneer sy sou kies om hom te verlaat.
Jou verhaal speel grotendeels op die plaas, Kanaän, af. Hoe belangrik is die ruimte in hierdie verhaal?
Die storie sou eintlik nie op ’n ander plek kon afspeel nie. Die karakters wat in hierdie storie optree, sou net op ’n plaas en net in 1944 almal gelyktydig deel van ’n verhaal kon wees.
Die plaas as ruimte speel ’n groot rol in Afrikaanse letterkunde. Ek het die ruimte gekies, nie in aansluiting by die literêre plaasroman nie, maar in aansluiting by die liefdesverhale wat in my jeug populêr was. ’n Boer was per definisie ’n held. Hy was altyd die stil, sterk tipe, en die heldin was ’n onbeholpe stadsmeisie wat nie kon water kook nie.
Kanaän se hoofkarakters is in hierdie opsig albei stereotipes, maar ek wou juis ’n storie skryf waarin my karakters uit hulle stereotipes klim en menslik word. Hulle moes helde wees, maar omdat hulle bereid is om uit hulle geblikte karakterisering te klim en die moeilike werklikheid te leef.
Op dieselfde manier as wat ou liefdesverhale die plaaslewe gemitologiseer het, is die Afrikaner se geskiedenis gemitologiseer. Ek het grootgeword in apartheid se hoogty, en ek is geïndoktrineer met die idee dat die Afrikaner ’n edel soort wese was wat dit op ’n manier verdien het om polities bevoordeel te word. Veral die Afrikaner se verbondenheid met grond het ’n groot rol gespeel in dit wat ek oor Afrikanerskap geleer is.
My voorouers is selfs “Boere” genoem – mense wat weens hulle grondbesit ’n volksidentiteit gekry het (ons hoor dit vandag nog uit sekere ideologiese kringe). En Afrikaners was in hierdie mitologie eensgesind, hoor. Almal ras-eg, almal verbind tot ’n enkele ideaal. So het ek geleer. Wat natuurlik louter snert is, Afrikaners was in hulle gebeente ’n spul dwarstrekkers. Is vandag nog.
Wat nie beteken dat ons nié helde kan wees nie. In ons gewoonheid, en in ons menslikheid het ons dit in ons om die regte ding te doen. As Kanaän dan nou enige ander soort boodskap het, buiten dat die lewe altyd beter is as die liefde seëvier, is dít die boodskap: Selfs Afrikaners kan helde wees. Selfs in hierdie land waar ons groot onreg teenoor ons landgenote gepleeg het, kan ons helde wees. Ons moet net uit ons geblikte karakterisering klim en bereid wees om die moeilike werklikheid te leef.
Grondonteiening is ’n baie aktuele tema. Het jy enige huiwering ervaar om ’n plaas as jou verhaalruimte te gebruik?
Nee, geen huiwering hoegenaamd nie. Ek het die ruimte met ’n rede gekies, soos ek hier bo gesê het, en ek het bedoel dat dit moet aansluit by die ongemak wat hierdie onderwerp vir ons as wit Afrikaners veroorsaak. Nie om die ongemak aan te blaas nie, maar om te illustreer waarom ons nie teen die ongemak moet baklei nie.
Ek wou nie van die storie ’n seepkis maak nie, dit was nie die bedoeling van die verhaal nie – dis werklik net ’n lekker storie. Maar ek wil hê ’n leser moet raaksien dat vooroordeel en die blinde aanname dat een ras of volk ’n groter bestaansreg as ’n ander het, tot die allerverskriklikste vergrype lei.
......
“As Kanaän dan nou enige ander soort boodskap het, buiten dat die lewe altyd beter is as die liefde seëvier, is dít die boodskap: Selfs Afrikaners kan helde wees. Selfs in hierdie land waar ons groot onreg teenoor ons landgenote gepleeg het, kan ons helde wees.”
......
Grond is ’n groot deel daarvan, ja, maar dit gaan in Kanaän oor meer as besittings. Dit gaan oor bestaansreg. Dit gaan oor ’n sin van hoort en van geborgenheid. Dit gaan oor wat ons onsself veroorloof om ander aan te doen. Dit gaan oor wie ons naaste is, oor wie aan ons tafel mag sit en oor wie ons mag liefhê. Die onreg wat ons mekaar aangedoen het, en steeds aandoen, in daardie opsigte, is net so verskriklik, indien nie méér verskriklik nie, as wat met grondbesit gebeur het.
Kanaän is jou eerste historiese verhaal. Het dit ’n invloed op jou skryfproses gehad?
Ek moes heelwat meer leeswerk vir hierdie storie doen. Gewoonlik skryf ek net die storie, en ek moet oor kleinighede gaan seker maak – hoe lank ’n gebreekte arm vat om te genees, of hoe ver ’n bepaalde dorp van ’n ander is. Met hierdie storie moes ek behoorlike navorsing doen oor gebeure en datums sodat ek nie bog in die storie inskryf nie.
Gelukkig leef my pa nog, en daarom kon ek baie van die inligting oor die plaas by hom kry. Sy oupa het ’n plaas in Senekal se distrik gehad waarop hy as jong seuntjie gaan kuier het. Hy onthou nog helder hoe die plaas bestuur is en kon baie help met wat op daardie tyd byvoorbeeld in die huis en op die werf sou gewees het.
Wat was die grootste struikelblokke en/of hoogtepunte wat jy tydens die skryf van die verhaal ervaar het?
Die lekkertes van skryf bly altyd dieselfde – karakters wat mekaar vind, die liefde wat seëvier, mense wat ’n stem en ’n plek kry. Dieselfde soort gevoel wat ’n leser kry wat die storie lees, kry ek as ek die storie skryf.
Die uitdaging vir my is altyd om ’n liefdesverhaal verantwoordelik te skryf. Ek wil nie ’n held of ’n heldin skryf wat nie die titel verdien nie, en in hierdie geval moes ek van wit Afrikaanse grondeienaars helde maak. Binne ’n moderne narratief is hulle almal per definisie boos, en ek moes baie versigtig aan Chrisjan en sy bure skryf dat hulle nie aan die een kant versink in die gewone mitologisering nie, maar ook nie aan die ander kant onwaardige en ongeloofwaardige karakters word net omdat hulle bang is om ’n moderne geslag lesers te affronteer nie.
Jou roman spreek die Vryheidsoorlog aan. Watter navorsing het jy gedoen om hierdie belewenis so getrou moontlik te weergee? Het jy enige huiwering ervaar om oor hierdie oorlog te skryf?
Die verhaal speel ’n geslag ná die oorlog af. Teen 1944 was daar ’n hele paar ander goed wat ook al die verloop van die geskiedenis gestuur het (onder andere die Depressie) en die jongmense van daardie tyd het nie meer ’n persoonlike belewing daarvan gehad nie. Maar ek het in ’n familie grootgeword wat die Vryheidsoorlog aan hulle eie lywe ervaar het – die einste oupagrootjie met die plaas was ’n krygsgevangene op Diyatelawa (nes Chrisjan se pa) – en ek weet hoe intrinsiek daardie oorlog deel gebly het van mense se denke.
......
“Iewers sal ons – en ek bedoel alle Suid-Afrikaners, nie net Afrikaners nie – moet leer om te vergewe en om te aanvaar. En om saam met mekaar om ’n tafel te sit met die wete dat ons almal ewe veel daar hoort.”
......
Die hele verskuiwing in die geskiedenis wat in daardie jare plaasgevind het (in 1943 het Smuts nog die verkiesing gewen; in 1948 het die Nasionale Party aan bewind gekom) is ’n direkte gevolg van Afrikaners se onvermoë (of onwilligheid) om van die onreg van die Vryheidsoorlog te vergeet. Afrikaners het in groot getalle in die idee van nasionale trots ingekoop, en vir baie was Nazisme ’n ding waarby hulle aanklank gevind het. My een oupa het Duitse familie in Namibië gehad, en vir hom was dit ondenkbaar dat ons aan die kant van die Engelse teen die Duitsers moes oorlog maak.
Die verontregting wat Afrikaners oor en tydens die Vryheidsoorlog ervaar het, was werklik. Die vernedering daarvan, en die verontmensliking, was ’n werklikheid. Maar die vraag bly: Wat is die aanvaarbare reaksie op so ’n verontregting? Is wraak geregverdig? Is wrokkigheid? Vir hoe lank? Watter vorm mag die wraak aanneem? En is daar ooit ’n einde aan, of mag ’n mens nou maar net vir tyd en ewigheid aan die onreg vasklou?
Dit het my altyd verstom hoe ons die skakels tussen Nazisme en die opkoms van apartheid miskyk. Is dit doelbewus? Wil ons nie erken dat die boosheid wat in hierdie land gepleeg is, dieselfde boosheid is wat soveel chaos in Europa veroorsaak het nie? Dit help nie ons skram daarvan af weg nie. Dit is die les wat ons uit die geskiedenis moet haal: Wat het ons verkeerd gedoen? Wat moet ons in die toekoms vermy?
En ek het die aanhaling van Primo Levi (’n Italiaanse Jood wat Auschwitz oorleef het) voor in die boek doelbewus gekies omdat dit ons herinner dat ons nie kan dink gruwels gaan nie weer gebeur nie. Die geskiedenis bestaan uit patrone, en as ons nie keer nie, gaan dié patrone hulle herhaal. Net soos wat die wêreld destyds gesteier het onder die opkoms van ’n ongesonde nasionalisme in Duitsland, so het Suid-Afrika later gesteier onder die opkoms van ’n ongesonde Afrikanernasionalisme.
Net so sal die wêreld steier onder ongesonde Chinese of Amerikaanse of Afrika-nasionalisme. As ons nie vir mekaar tyd maak en plek gun nie, gaan die tragedies net bly voorkom, en gaan ons kinders geslag ná geslag soos Gabriella Lerato Bruno van hulle wortels en hulle plek afgesny word. Iewers sal ons – en ek bedoel alle Suid-Afrikaners, nie net Afrikaners nie – moet leer om te vergewe en om te aanvaar. En om saam met mekaar om ’n tafel te sit met die wete dat ons almal ewe veel daar hoort.
Kanaän is hier beskikbaar:
Lees ook
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kantelpunt deur Sophia Kapp