Kantelpunt
Sophia Kapp
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799390919
Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) woon in Pretoria, het ’n man, Hendrik, en drie opgeskote kinders. Sy is ’n bekwame, hardwerkende Afrikaansonderwyser met ’n chauvinis vir ’n skoolhoof en inmengerige skoonfamilie. Sondae gaan sy kerk toe, waar daar op Moedersdag KitKats aan al die moeders uitgedeel word en die dominee die “manne” en hul kinders vermaan om die ma in hul lewens op hierdie een dag ’n breek te gee (87).
Die subtitel van die roman is “Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou”. Die term hipomnemata word vooraf in die “Vrywaring” belig. Dit is ’n Griekse woord wat “herinneringe” beteken. Dit was ’n erkende genre in antieke tye, en het behels dat mense hulle waarnemings en insigte neergeskryf het. Kantelpunt is letterlik Nellie se hipomnemata, en die aanhalings wat sy versamel het, is vir haar bewyse dat haar ervarings en gevoelens geldig is. Sy het dit nodig, aangesien die patriargale stelsel haar stil gemaak en sonder ’n besef van haar eiewaarde gelaat het.
Wanneer Nellie vyftig jaar oud word, moet sy ’n histerektomie ondergaan, en hierdie “lossny” van die “ding wat haar vrou gemaak het” laat haar wêreld kantel. Haar ontwaking begin en sy neem haar plek in haar huwelik, haar gesin en die gemeenskap in oënskou. Sy besef dat sy in ondankbare diens van haar gesin staan en “dit raak vir haar al hoe moeiliker om te dink dis ’n voorreg om haar vir mense af te sloof wat haar deur hul gatte trek” (88). Nog groter is die besef dat sy haar plek in haar huwelik, gesin, werk, kerk en land met haar stilte gekoop het.
Van haar huwelik het min oorgebly. Sy en Hendrik het nie meer veel vir mekaar te sê nie en die bietjie intimiteit wat tussen hul was, het in so ’n mate verdwyn dat sy boonop moet “werk” vir seks. “As jy hom wil hê, sal jy hom moet styf kry,” sê Hendrik vir haar (51). Nellie gehoorsaam – sy weet dit is haar werk om te sorg dat Hendrik gereed is vir seks. Selfs dan verkies hy om in die badkamer te gaan masturbeer, aanvanklik agter ’n toe deur met die stortkraan oopgedraai, maar later met die deur oop en die stortkraan toe.
By die skool stamp Nellie en Tom, die skoolhoof, koppe en raak sy in ’n gestoei met hom en ’n manlike kollega oor die gebruik van die betrokke skoolbussies. Die twee mans eis die voertuie op vir die rondkarwei van rugbyspanne en verwag van haar en haar kollegas om die kinders op eie stoom (en met gebruik van hul eie motors en brandstof) by kultuur- en akademiese aktiwiteite te besorg. Nellie vind haar stem ook hier en sy moet ’n belangrike besluit neem: Gaan sy die formele grieweprosedure teen die hoof begin?
Die kwessies wat in die roman aangespreek word, sluit in rassisme, die Suid-Afrikaanse werklikheid, geliefdes se emigrasie, seksisme, seksualiteit, gesinsgeweld, gender, die kerk en geloof, die huwelik as slagveld, en die patriargale bestel.
Kapp kán ’n storie vertel, en haar waarnemingsvermoë is fyn ingestel. Die alledaagse word raak beskryf. Wie het nie al oë toegeknyp en meer kos probeer optower wanneer ongenooide gaste vir ’n braai-en-rugbykyk opdaag nie? Eweneens die hartseer besoeke aan bejaarde ouers in ouetehuise, asook die ongemaklike jaarlikse ginekologiese ondersoek.
Die skrywer slaag merendeels daarin om die slaggat van stereotipering te vermy. Hendrik se ongelukkige kinderdae word met sensitiwiteit geteken en aspekte van sy gedrag kan aan die hand hiervan verklaar word. Sover dit Nellie se vriendin Selma aangaan, word daar egter gevaarlik na aan stereotipering beweeg. Karakters soos Annabelle, Stefan en Ntando word goed uitgebeeld. Die toneel waar Nellie uiteindelik haar stem teenoor Ntando vind, is ’n hoogtepunt.
Kantelpunt is uiters leesbaar, met genoeg humor om die donker te verlig en taalgebruik wat louter genot is om te lees. Die aanhalings wat Nellie versamel en wat deurlopend in die roman voorkom, kon egter op sommige plekke beter met die storie geïntegreer gewees het. Aan die positiewe kant sal die aanhalings lesers moontlik oorreed om verder na te lees oor die verskynsels wat bespreek word. Daar sal ook lesers wees wat ’n tweede lees van die roman waarskynlik vinnig na die eerste een sal aanpak. Dit getuig van die skrywer se bekwaamheid as storieverteller dat die verhaal meesleurend bly ten spyte van die onderbrekings wat die aanhalings tot gevolg het.
Kapp is ’n gewilde skrywer. Haar vorige roman, Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva, het in 2016 verskyn en is steeds onder Graffiti Boeke se topverkopers. Kantelpunt verkoop ook reeds soos soetkoek. Die roman, wat deur die uitgewer as ’n feministiese roman vir konvensionele vroue beskryf word, kan ook as ’n inleiding tot die feminisme beskou word en sal vroue waarskynlik laat besin oor hul rol en regte in die Suid-Afrikaanse samelewing. Hopelik lees mans saam; Kantelpunt het die potensiaal om die debat oor die patriargie en feminisme behoorlik te laat vlamvat in die Afrikaanssprekende gemeenskap.
Die roman word sterk aanbeveel vir alle Afrikaanssprekende lesers – mans én vroue.
Lees ook:
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kantelpunt deur Sophia Kapp
Kommentaar
Het reeds die boek gelees en dit is ‘n uitstekende resensie!
Dit is ‘n boek wat onderwerpe aanraak wat heelwat vrouens (en mans) tussen die oë gaan tref en Nadia se waarnemings is skerp en in die kol. Na aanleiding vd resensie gaan ek onmiddellik weer die boek lees.
Uitstekende boek! Wou nie ophou lees nie. Beslis 'n moet-lees-boek. Dis die eerste boek wat ek van Sophia Kapp gelees het. Ek het haar al op boekfeeste ontmoet en het besluit dis tyd ... Die boek het met my gepraat. Ek wil haar ander boeke ook nou lees.