Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Kantelpunt deur Sophia Kapp

  • 1

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Sophia Kapp

Sophia Kapp | Foto: verskaf

Sophia Kapp het op 40 begin skryf – toe sy die lewe se oppe en affe beter leer verstaan het. Sy het haar tot dusver toegespits op liefdesromans omdat dit die genre is wat sy self graag lees, maar sy het nog altyd probeer om die verhoudings waarin haar karakters hulle bevind lewensgetrou te hou. Die liefde is nie net lekker of maklik nie, en haar heldinne was nog altyd vroue wat verstaan het dat die lewe soms meer uit ’n vrou tap as wat sy het om te gee.

Kantelpunt is haar eerste roman wat ’n vrou se verhouding met haar omgewing ondersoek, eerder as net haar verhouding met haar geliefde(s). In hierdie storie skryf Sophia die konvensies oop waaronder ’n middeljarige, wit, Afrikaanse vrou gebuk gaan, en die prys wat sy betaal as sy daardie konvensies uitdaag.

Sophia se eerste roman – Die erflating – is in 2007 gepubliseer en is met die ATKV-woordveertjie vir Liefdesromans bekroon. Sy het dieselfde toekenning vir Huis van die wind en Driehoek ontvang. ’n Romanse wat uit haar pen verskyn het, Moeilikheid met n meermin, het in 2017 ROSA se toekenning vir die beste Afrikaanse romanse ontvang.

Sy is benewens skrywer ook voltyds taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, haar pa se kind, haar kind se ma en haar honde se heldin. Sy woon en werk in Centurion.


Opsomming

Kantelpunt; Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou
Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799390919

Kantelpunt is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding. Dalk is dit ’n feministiese roman vir konvensionele vroue.

Nellie is pas 50, ’n konvensionele, wit, Afrikaanse vrou wat haar lewe lank gedoen het wat almal van haar verwag – sy het stilgebly. Met haar stilte het sy haar plek gekoop in haar huwelik, haar gesin, haar familie, haar werk, in die kerk, in die land, in die samelewing.

Dan ondergaan sy ’n histerektomie, en haar wêreld kantel. Sy is losgesny van die ding wat van haar ’n vrou gemaak het, en daarmee saam raak sy bevry van die stilte. Sy begin haar stem terugeis, soms met verreikende gevolge, soms teen ’n ontsettende prys. Sy word gedwing om alles wat sy tot dusver as gegewe aanvaar het, te ondersoek, en in die proses moet sy nie net die mense naaste aan haar se aandeel in haar stryd erken nie, maar ook haar eie aandadigheid aan haar lot bepaal.

Met elke insident, elke veldslag en elke gesprek tree sy verder weg van die geskiedenis en die konvensies wat haar stom gehou het, en kom sy nader aan die vrou wat sy van die begin af veronderstel was om te wees – die een met wie sý in vrede kan saamleef.

Wat maak die boek anders?

  • Kantelpunt is protesfiksie, die protes van ’n vrou wat haar regte ontneem is deur ’n patriargale samelewing én dit toegelaat het.
  • Dis nié ’n liefdesroman nie, maar daar is hoop teen die einde. Die leser word dus nie in ’n put gelaat nie.
  • Kantelpunt is anders as die skrywer se vorige boeke omdat dit feminisme as tema het.
  • Elke vrou wat al gesukkel het om haar plek te vind, as vrou, as mens, as burger, as ma, as eggenote, en steeds te hou van wie en wat sy is, sal by Nellie aanklank vind.
  • Hipomnemata in die subtitel is ’n Griekse woord, wat “herinneringe” beteken. Dit was ’n erkende genre in antieke tye, en het behels dat mense hulle waarnemings, goed wat hulle gelees het, en aanhalings wat vir hulle iets beteken het, in notaboekies neergeskryf het. Hierdie boek is letterlik Nellie se hipomnemata.

Uittreksel 

Vrywaring

Kantelpunt is nie romantiese fiksie nie, dit is die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding.

Dit is ook nie ’n tradisionele roman nie, dit is hipomnemata – ’nversameling insigte wat Nellie bymekaargemaak het omdat dit haar op een of ander manier gevorm, geraak of getroos het. Dis dan ook die rede vir die aanhalings in die teks: Dit dien as prima faciebewyslewering dat haar insigte en ervarings geldig is.

Enigiemand wat al ooit in ’n verhouding met ’n narcissis was, sal verstaan hoe belangrik dit vir ’n mens kan word om te weet jou menswees is geldig. Enigiemand wat al ooit ’n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse tante in hierdie land was, sal weet hoe belangrik dit vir ’n mens kan word om te weet jou menswees is geldig.

Boweal is Kantelpunt is besinning. Sonder nabetragting, sonder oordenking, is ons bloot passiewe ervaarders, sinnelose slagoffers van sinlose chaos. Meer nog: Sonder besinning loop ons die angswekkende risiko om keer op keer slagoffer van dieselfde gebeure te word, want die lewe bestaan uit patrone. Herhalende patrone. Dit is ons kennis van dié patrone, ons insig in die ritmes van ons bestaan, wat ons in staat stel om die chaos te begryp en om alles wat ons oorkom te verwerk.

Die punt van die boek is om te sê: Petronella Jacoba van Aarde het ’n stem. Dit is haar geboortereg en dit is onvervreembaar. Laat niemand hierna ooit weer dink dat hulle die reg het om haar stil te maak nie.

*

Hypomnemata, in the technical sense, could be account books, public registers, or individual notebooks serving as memory aids. Their use as books of life, as guides for conduct, seems to have become a common thing for a whole cultivated public. One wrote down quotes in them, extracts from books, examples, and actions that one had witnessed or read about, reflections or reasonings that one had heard or that had come to mind. They constituted a material record of things read, heard, or thought, thus offering them up as a kind of accumulated treasure for subsequent rereading and meditation. They also formed a raw material for the drafting of more systematic treatises, in which one presented arguments and means for struggling against some weakness (such as anger, envy, gossip, flattery) or for overcoming some difficult circumstance (a grief, an exile, ruin, disgrace).

Michel Foucault, “Self Writing”, in Dits et écrits, pp. 415–430., vol. IV, 1983.

Deus vaccam

The Italian government has been plunged into a constitutional crisis over the fate of a 38-year-old woman who has been in a coma for the past 17 years. Eluana Englaro was left in a vegetative state after a car crash in 1992. After a decade-long court battle, doctors reduced her nutrition on Friday in preparation for removing her feeding tubes, which her father claims would be in accordance with her wishes.

But in an extraordinary turn of events, the country’s prime minister, Silvio Berlusconi, after consultation with the Vatican, has issued an emergency decree reversing the earlier court ruling.

Justifying his campaign to save Englaro’s life, the prime minister added that, physically at least, she was “in the condition to have babies”.

– Michael Day, “Italy faces constitutional crisis over coma woman”, theguardian.com, 08/02/2009.

*

Nobody enjoys disrobing, scooting down the table (just a little farther . . .) and then having their lady business probed with a metal object. On the fun scale, I rank my annual gynecological exam somewhere between cleaning the toilet with a toothbrush and watching C-SPAN for 24 hours. Yet, for women who’ve been sexually assaulted or abused, a routine exam can take on a whole new level of fear and pain. Being sexually assaulted and going in for your annual gyno exam are two very different things and, yet, to your body both can feel like a violation.

Charlotte Anderson, sheknows.com, 11/09/2014.

*

Daar is onteenseglik kakker ervarings in hierdie lewe as ’n besoek aan die ginekoloog, dink Nellie, maar in die halfuur wat sy vir die man moes sit en wag (en haar bes gedoen het om nié te dink aan waarmee hy nou besig is nie) kon sy wragtig nie een daarvan onthou nie. Sy trek haar handsak in die kromming van haar lyf in sodat dit haar skoot bedek en vou haar arms om die koel leer. Dis ’n aanval. Op ’n mens se waardigheid. Op jou privaatheid. Op jou vrouwees.

Mans hoef nie ginekoloë te sien nie. Ja, wanneer hulle op die badkamermatjie begin pie, moet hulle by ’n uroloog uitkom, wat ook ná honderde jare se mediese ontwikkeling en ’n tegnologiese rewolusie slegs ’n mediese oordeel kan vel deur ’n vinger in een of ander selfonbereikbare liggaamsholte te druk. Dis net so barbaars en net so onsinnig.

Maar dis steeds nie dieselfde nie. Dit is flippenwil nie dieselfde nie.

Mans het nie van dertien af hierdie stryd met hulle lywe nie. Daar is nie elke verdomde maand ’n veldslag in hulle buik nie en hulle hoef nie te bloei oor wie hulle is nie. Hulle hoef nie elke jaar oopgespalk te gaan lê sodat hulle kan oorleef nie.

Die twee sakkies waarmee hulle geslag gesinjaleer word, is klein en onopsigtelik genoeg dat dit gerieflik in ’n onderbroek pas. Dit mag hang of skud of swaai nes dit wil. Dit hoef nie aan een of ander gemaakte norm van skoonheid te voldoen nie, en dis nie vir hulle nodig om die goed in ’n kontrepsie te verpak van rebar en ’n materiaal wat deur NASA ontwerp is om ruimtevaarders die heelal in te slinger, net om in die openbaar te kan verskyn nie. Hulle kan mans wees en they can just hang. Vrouens kan nooit net hang nie.

Hoekom het ’n mens in elk geval blerriewil boobs? Jy het dit nodig vir . . . wat? agtien maande all and all? . . . om drie kindertjies met immuunstelsels toe te rus. Hoekom kan die goed nie daarna net verdor en afval nie? Dan hoef ’n mens nie elke jaar hierdie lyding te deurloop nie.

Sy haal diep asem en probeer haar kop wegkry van haar seksistiese gedagtes. Hendrik het al vir haar gesê sy moet ophou om so te maak – elke keer as sy ontsteld is oor een of ander gewaande onreg in haar lewe, klink sy soos haar mannehatende, lesbiese vriendin Selma. Hendrik kan Selma nie verdra nie. Die oomblik as sy oor enigiets by die huis of by die werk kla, sê hy vir haar sy ly al weer aan Selmalitis.

Maar in hierdie oomblikke wil sy op haar stoel klim en elke seksistiese ding wat Selma al ooit kwytgeraak het oor die wagkamer uitbasuin. Selma sou gesê het as ’n man nxarras gehad het, sou een of ander slimme wragtig al ’n ander masjien uitgedink het waarmee ’n mens mammogramme kan doen wat nie seermaak nie. Is daar ’n man op die planeet wat sy knaters vrywillig in so ’n pers sal laat indruk? Nee! Dis omdat vrouens geprogrammeer is om te dink pyn is deel van die prys wat hulle vir vrouwees betaal dat hulle nie staak en weier om verder mammogramme te ondergaan as daar nie tegnologiese vooruitgang kom nie.

Maar hulle kan verdomp nie, want hulle lywe se tekortkoming het hulle aan die tegnologie uitgelewer.

Nellie versit haar handsak en skuif regopper teen haar stoel.

Watter soort man word buitendien ’n ginekoloog? Obstetrie kan ’n mens nog verstaan – dit is per slot van rekening die enigste mediese dissipline waar jy met gesonde mense te doen het, en jy is op een of ander filosofiese vlak besig om aan die heelal terug te gee. Maar ’n ginekoloog . . . Hoe sit ’n man in ’n klas en besluit op ’n dag hy wil sy bestaan maak deur die elastisiteit van vroue se vaginas te bepaal? Iewers in sy kop moet daar iets afs wees.

Nie dat sy in ’n duisend jaar na ’n vroulike ginekoloog toe sal gaan nie. Toe sy hierdie afspraak gemaak het, het die ontvangsdame vir haar gesê ou dokter Beetge, wat al drie haar kinders gevang het en darem nou al die toestand van haar vagina ken, het afgetree en sy kan enige van die ander vennote kies om na toe te gaan. Daar het twee nuwe vroulike dokters by die praktyk aangesluit en enigeen van hulle kan haar binne ’n week inpas.

Nellie het teen die droogheid in haar keel gesluk en vinnig gesê: “Nee, ek sal liewer die man sien. Ek weet nie wie hy is nie, jammer. Ek het sy naam vergeet.” Daar was ’n kort stilte. “Dis dokter De Bruyn. Ek kan vir mevrou ’n afspraak by hom maak, maar dit sal eers oor twee maande wees.”

“Dis oukei, ek kan wag. Dis niks dringends nie, net gewone roetinegoed.”

[...]

Vrou en moeder

baas – Afrikaans for “boss”, the guy holding the braai tongs

*

braaidsmaid – female performing supporting role during a braai, e.g. making salad, marinating meat, making braaibroodjies – “Braaiwords”, braai.com.

*

Does braaing really turn South African men into chauvinists? Does South Africa’s favourite way to make Sunday a fun day really condemn women to a servitude of salad serving and meat marinating, while their men skink a few brandies en coke? Does anyone care?

– “No woman no braai”, channel24.com, 23/09/2008.

*

Nellie vryf oor haar boarms. Dis laatmiddag, en sy mis haar trui.

Dis so tipies van Pretoria hierdie tyd van die jaar. Die dae is lieflik – mild en goud en windstil – maar sodra die son agter die bure se hoë dak ingeskuif het, knyp daar ’n vaalblou koue aan jou vel wat jou daaraan herinner dat die somer haar houvas op hierdie uithoek van die aarde begin verloor.

Sy sou graag die skuifdeure wou toemaak teen die aand wat haar bekruip, maar sy kan nie. Die stoep staan vol mans. Haar kombuis is ook nie vir haar toeganklik nie. Dit staan vol vrouens. Die spulletjie op die stoep se ander helftes. Dis nie baie mense nie, het Hendrik gisteraand gesê toe hy sommer so terloops aan tafel genoem het dat hy mense oorgenooi het om te kom rugby kyk.

Sy het verbouereerd in haar kop rondgekrap op soek na enige soort herinnering dat sy van kuiergaste weet, maar niks daar opgespoor nie.

Die verergde kyk – iewers tussen irritasie en ongeloof – het haar gewaarsku om nie te stry nie. Natuurlik het hy dit vir haar genoem. Vroeër die week, een aand oor aandete. Sy was seker weer in haar kop met skoolgoed besig in plaas van om op te let as hy met haar praat.

Buitendien, hoekom is dit nou so ’n groot issue? Dis net ’n paar ouens van die werk. Kontrakteurs en verskaffers en so aan. En die ontwikkelaar wat vir hom die projek gegee het. ’n Blyk van waardering vir hulle ondersteuning. Hy het daaraan gedink om hulle te nooi vir ’n ete in ’n restaurant, maar as die ouens aan die suip raak, word dit duur. Dis goedkoper en makliker om ’n braai by die huis te hou waar elkeen sy eie drank bring. Goedkoper en makliker vir jóú, ja, wou sy baklei. Vir haar het dit ’n ekstra rit slaghuis toe beteken, op ’n Saterdagoggend aan die einde van die maand boonop. Én die ekstra onkoste van al die vleis, want Hendrik het so ’n nare manier om te vergeet om vir haar die geld wat sy op sy besigheid uitgee, terug te betaal. En sy sê nooit iets nie. Nie meer nie. Aanvanklik het sy probeer vra, maar dit was net makliker om die gat in haar begroting te absorbeer as die taai stiltes wat altyd op so ’n versoek gevolg het.

Daarom het sy hierdie keer ook stilgebly. Net op haar tande gekners en die skottelgoed kombuis toe gedra om dit daar met ’n onnodige gekletter in die wasbak te laat val. Dit help in elk geval nie om met Hendrik oor sulke goed te stry nie, hy sal net aanhou sê hy het haar laat weet en sy is die een wat vergeet het.

Dalk hét sy vergeet. Dalk was hy reg en het sy nie gehoor toe hy vir haar daarvan gesê het nie. Sy is besig by die skool en het te veel hooi op te veel vurke wat sy alles gelyktydig moet vashou, en dis heeltemal moontlik dat haar aandag op ’n ander plek was.

Maar dit het haar Saterdag ontwrig. Sy het beplan om ná vanoggend se toneeloefening by die skool huis toe te kom en tyd aan haar nasienwerk te bestee. Maar toe sy uiteindelik by die winkels uitkom, was dit ’n malhuis en het dit haar ’n halfuur geneem het om ’n parkeerplek te kry.

Die res van die dag het sy gestaan en aartappelslaai maak. En vinnig met die stofsuier oor die sitkamervloer gejaag en die gastetoilet se vloer geskrop en vars handdoeke gaan uithaal en die ekstra eetgerei en glase uit die bokse in die motorhuis gaan haal en dit deur die skottelgoedmasjien gesit. Toe macaronien- kaas gemaak vir die kinders, want sy weet mos die braaiery vat altyd te lank en dan pla die kleintjies se geneul die mans, en toe die tafel in die eetkamer gedek – informeel, soos ’n buffet, sodat elkeen net kan inskep – en toe Spar toe gejaag omdat sy besef het nie almal hou van aartappelslaai nie en dis altyd maar beter om vars bolletjies en lekker konfyt ook op die tafel te hê.

Teen vieruur, toe die eerste gaste opdaag, was sy gedaan. En die nasienwerk onaangeraak op haar lessenaar. Die wrewel wat al van gisteraand af agter haar borsbeen saamtrek, draai ’n kerf stywer. Dalk sal dit help as sy so vir ’n paar oomblikke studeerkamer toe vlug en net daar gaan sit. In die donker, met die musiek aan . . .

“Nettie, wil jy hê ons moet die biltong en goed regsit? Die manne is seker teen hierdie tyd al honger. En as die rugby eers begin, sal hulle nie wil hê ons moet heen en weer voor die TV verbyloop nie.”

“Ja,” sê sy en draai amper werktuiglik terug om die peuselgoed sitkamer toe te dra.

Sy het vergeet dat haar studeerkamer ook nie vir haar toeganklik is nie: Die jonger kinders sit op haar rekenaar en DVD’s kyk. Hendrik het dit vir hulle aangesit, hoofsaaklik om hulle uit die geselskap weg te kry sodat die mans kan skurwe grappe vertel.

Nie dat dit vir haar nodig is om enigiets te doen nie, besef sy toe sy in die sitkamer kom. Die vrouentjies het reeds oorgeneem. Hulle het haar uitstalboeke op die koffietafel onder die tafel ingestoot, haar boek oor Michelangelo wat sy nog op universiteit tydens die koortoer in Rome gekoop het, heel onder.

Die worteldoek wat Irma vir haar uit Nederland saamgebring het, is oor een van die stoele gedrapeer. Die mooi beeldjie van twee dansers uit haar ma se huis staan langs die bank op die vloer.

“Daarsy, nou’s daar plek vir alles,” sê ’n paar rooi lippe op ’n styfgetrekte gesig. Narianka, as sy reg gehoor het. Sy is nie seker nie, want daar was ’n gillery oor ’n onverwagse weersiens tussen dié pops en een van die ander vrouens, en die ontmoeting was verby voor sy kon sê sy hoor nie meer lekker bo-oor ’n geraas nie.

Maar Narianka(?)-met-die-rooi-lippe is duidelik ’n voorvatter, want dis sy wat die arriverende stroom peuselgoed in bakke gegooi en ’n groot koelboks op die toonbank staangemaak het sodat hulle die ys vir die drankies daarin kon sit.

“Jy behoort regtig vir jou ’n ysmasjien aan te skaf, Nettie,” het sy oor haar skouer gesê. “Dis nou die een ding waarvan ’n mens nooit genoeg kan hê by ’n paartie nie.”

“Ja,” het Nellie geantwoord en niks gesê van haar naam nie.

“Ons het een gehad, maar hy het gebreek en ons het nooit . . .” Dit was nie nodig om verder te praat nie. Narianka was reeds besig om haar beste glase uit die uitstalkas te haal en uit te deel. Die wynglase wat op die tafel uitgepak was, het die kinders vir hulle koeldrank gebruik.

En dis einste Narianka wat nou die bakke met eetgoed sitkamer toe dra en dit op ouma Evelina se blinkgepoleerde geelhoutkoffietafel uitpak.

“Ehem, hier is plekmatjies,” keer Nellie net voordat die bak met warm peuselworsies ook op die blink oppervlak beland.

“Orraait, het elkeen ’n stoel? Lemmer, kom julle nou kyk, of wat? Die ref is al op die veld,” skree-vra Narianka deur die skuifdeur. ’n Groot ou in ’n geruite Jeep-hemp en ’n jean wat met ’n leergordel laag om sy boude vasgemaak is omdat daar geen manier is waarop die ding om sy pens sal pas nie, draai om en loer na ’n bonkige horlosie aan sy pols. “Yes, ons is nou daar. Kry solank vir my nog ’n bier.”

Narianka spring weg om die opdrag uit te voer, en die manne lag nog een keer hard en uitbundig voordat hulle ook ingestap kom.

“Mammaaaaaaaa, ek is honger.” Dis een van die kleintjies wat aan ’n ma se baadjiepant kom hang.

“Julle het mos tjippies, Jacques. Het jy vir Boeta gevra om vir jou koeldrank in te gooi?”

“Ek wil nie tjips hê nie,” neul-huil hy en stoot sy onderlip uit. “Ek is honger vir iets anders.”

“Moet nou nie moeilik wees nie, jy weet ons braai eers netnou.” Nellie tree vorentoe, buk en lê ’n hand op sy kop. “Ek het vir julle kos gemaak. Lekker macaroni-en-kaas met spek in. Moet ek vir jou daarvan inskep?”

Jacques ruk weg en druk sy gesig agter sy ma se elmboog in. “Mm-mm,” mompel hy deur die materiaal. “Ek wil biltong hê.”

Daar is kos, wil sy vir hom sê. As jy honger is, eet kos. Biltong is nie ’n maaltyd nie, dis ’n luukse. En heeltemal te duur dat snuiters soos jy daarvan ’n aandete kan maak.

Maar sy sê dit nie, want dis nie die soort ding wat ’n gasvrou vir ’n kind behoort te sê nie, dis ’n ma se werk. Haar ma sou dit vir haar gesê het. Sy sou dit vir haar kinders gesê het. Om die gasvrou die verleentheid te spaar en omdat hulle maniere moet leer.

“Oukei,” hoor sy die ma paai, “hier is biltong. Kom sit hier by ons, dan kry jy vir jou.”

En voordat sy kan keer, het Jacques hom op ’n stoel tuisgemaak met ’n hele bakkie biltong op sy skoot.

Nellie staan en kyk hoe almal gaan sit, hoe Narianka bordjies uitdeel, hoe nog kinders uit die studeerkamer gehardloop kom en op hulle ma’s se skote kom klim, hoe die ander bakkie biltong op nog ’n kind se skoot geparkeer word, hoe die mans hulle bierbottels op ouma Evelina se tafeltjie neersit, hoe Hendrik instemmend knik toe Lemmer sê die Bulle gaan afkak vandag want hierdie fokken dom doos van ’n ref het nie ’n fokken clue hoe om die nuwe onkantreël toe te pas nie.

Hendrik is ’n Lions-ondersteuner, van sy kinderdae af. Maar Lemmer is die ontwikkelaar wat bepaal watter subkontrakteurs op volgende projekte aangestel word. Daarom knik Hendrik net en sluk diep aan sy bier.

Sy draai om en stap eetkamer toe om vir haar ’n regop stoel te gaan haal. Jacques en sy biltong sit op hare.

*

Gaslighting [is a] form of intimidation or psychological abuse, sometimes called Ambient Abuse, where false information is presented to the victim, making them doubt their own memory, perception and quite often, their sanity. Your spouse begins telling you things that never really happened. For instance, he says that last week he told you he was going to go to the bar with his buddies this Monday night, but you never remember him telling you that.

– “Gaslighting”, The urban dictionary.

*

The verb [gaslight] derives from the 1938 stage play Gas Light, in which a husband attempts to convince his wife and others that she is insane by manipulating small elements of their environment. – “gaslight”, Wiktionary.

*

Do not taunt your neighbour with the blemish you yourself have.

– Mas. Baba Metzia 59b, Babilonian Talmud, 500 AD.

  • 1

Kommentaar

  • Hoe lus is ek nou vir die res van hierdie bakgat boek! Sophia, daar gaan my hele begroting alweer!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top