Kantelpunt: ’n onderhoud met Sophia Kapp

  • 8

Kantelpunt; Hipomnemata van ’n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou
Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799390919

Sophia Kapp gesels met Naomi Meyer oor Sophia se boek Kantelpunt.

Sophia, baie geluk met Kantelpunt. Daar is so baie aspekte van die boek waaroor ek jou wil vra, maar hier is 'n paar vrae om agtergrond te skep: Waaroor handel die boek? Wat is die storie, wie is die hoofkarakter?

Die storie handel oor 'n konvensionele, middeljarige, wit, Afrikaanse vrou se soeke na haar eie stem. Dit is nie my storie nie, maar dis die storie van 'n vrou wat in die tyd grootgeword het waarin ek grootgeword het, en geleer het om aanvaarding te "verdien" deur stil te bly — in haar huwelik, haar gesin, haar werkskring, die kerk, die samelewing, in Suid-Afrika. Sy is grootgemaak met die idee dat 'n vrou opoffer, opvreet en stilbly, en solank sy dit doen, bly die strukture waarbinne sy moet leef haar goedgesind. Maar dan ondergaan sy 'n histerektomie, en sy word losgesny van die ding wat konvensioneel van haar 'n vrou gemaak het. Sy moet dan binne hierdie "nuwe" bedeling vir haar 'n nuwe vrouwees skep en haarself herdefinieer. 

Jou boek is nie 'n romanse nie, is dit 'n anti-romanse? Hoe sal jy dit beskryf?

Nee, dit is nie romantiese fiksie nie. Ek weet nie eintlik of dit in 'n netjiese kategorie pas nie. Dit is deels ekspressionistiese introspeksie, deels selfskrywing, deels protesskrywing, deels storieboek. Eintlik wil ek dit nie eers definieer nie, want Nellie behoort nie meer aan my nie, sy behoort nou aan die leser. En elkeen mag van haar maak wat hulle wil. 

Toe ek die omslag sien, met die vrou wat selfversekerd en kwaad daar staan, het ek aan agentskap gedink – sy vertel haar eie storie. In dié land word klem gelê op al die ander stories wat nie gehoor word nie, maar hoekom hierdie wit middeljarige vrou s'n?

Ek het self (meer as een keer in meer as een konteks) beleef dat (ouer) wit, Afrikaanse mans van my verwag om stil te bly omdat ek 'n vrou is. Ek word beskou as uitgesproke omdat ek 'n mening het en dit lug. As ek 'n man was, het niemand 'n oog geknip nie en het ek geen aandag getrek nie. Maar omdat ek 'n vrou is en sê ek is 'n mens en ek het 'n stem, is ek eienaardig. Toe is ek op 'n kol in 'n geselskap waar 'n jong, swart meisie vir my sê ek mag nie aan die debat oor die nuwe SA deelneem nie, want ek is 'n wit, Afrikaanse vrou en ek het my beurt gehad om te praat. 

Die onregverdigheid van die situasie het my soos 'n voorhamer getref: Vir jare lank moes ek stilbly omdat ek was wie ek was (wit, vroulik en Afrikaans), en nou moet ek weer stilbly omdat ek is wie ek is. Nellie se storie is daaruit gebore.

Die storie begin by 'n ginekoloog. Vrouwees is sentraal tot die storie. Wil jy iets hieromtrent sê?

Die storie is saamgestel om Nellie in al die kontekste te plaas waarin sy "minder" gemaak word (en haarself minder maak) om in te pas. Enige vrou weet 'n besoek aan die ginekoloog is die plek waar jy en jou vrouwees oopgespalk word sodat dit onder 'n mikroskoop ondersoek kan word. Jy voel op min plekke so weerloos. Maar dit is ook omdat die vrou se verbondenheid aan haar uterus so sentraal in die storie staan. Reg aan die begin is daar 'n spreuk Tota mulier in utero  wat jare lank die beginsel was waarop geslag bepaal is: Die uterus is die ding wat van jou 'n vrou maak. Die vraag ontstaan dan wat jy is as jy nie meer 'n uterus het nie. Hoe lyk so 'n vrou se vrouwees? Dis Nellie se vraag, en dis haar reis.

Jou persoonlike taalagtergrond: dink jy dit beïnvloed dit ook jou manier van skryf? Vertel asseblief meer van jou werk, van jou elke dag se besigwees met woorde?

Ek is voltyds taaladviseur vir die Virtuele Instituut vir Afrikaans. Dis 'n heerlike, verrykende werk waar ek voltyds met woordeboeke en grammatika besig is. Maar dis ook baie oorheersend linkerbreinwerk. Ek het begin skryf om die sleur van redigering en vertaalwerk te breek en net so 'n slag weer gebalanseerd en emosioneel mens te raak.

Ek lees heelwat aanhalings tussendeur en die titels van elke afdeling spreek boekdele: tota mulier in utero, hipomnemata. Jy is 'n woordmens. Is daar enkele van die aanhalings of woorde waaroor jy iets wil sê? 

Die aanhalings speel in hierdie storie 'n bepaalde rol. In die eerste plek is dit 'n genre: in die storie word die term "hipomnemata" gedefinieer. Die antieke Grieke het notaboekies by hulle gedra waarin hulle alles neergeskryf het wat hulle opgeval het en waaroor hulle moes nadink of besin, en dan is hierdie hipomnemata later omskep in behoorlike verhandelinge waarin hulle die probleem of kwelling sou oopskryf. Kantelpunt is Nellie se hipomnemata. Dis met ander woorde die rou materiaal waarmee sy later 'n behoorlike verhandeling oor haar eie stryd gaan skryf. 

Ek het spesifiek hierdie genre gekies omdat ek van die begin af mense wou stilmaak wat op enige tydstip vir Nellie sou wou sê: "Dis nie so erg nie." Want dis hoe die mense om ons en die samelewing ons stilmaak. Hulle laat jou verstaan jou ontsteltenis is ongeldig of vreemd of kleinlik of dom of mal. Kyk maar hoe maak politici met enigiemand wat hulle kritiseer: Hulle hang by voorbaat etikette om die opponent se nek, sodat niks wat die opponent sê as geldig beskou word nie. "You don' t count, you're fake news." So maak narcissiste: Hulle verkleineer jou sodat jy naderhand dink jy moet maar liewer stilbly. 

Die aanhalings is daar sodat die leser weet niks wat Nellie ervaar en geen reaksie wat Nellie het, is ongeldig nie. Daar is 'n rede waarom sy voel wat sy voel, dink wat sy dink, en optree soos sy optree. Dit beteken nie sy is altyd reg nie, maar dit beteken haar reaksie is geldig.

In hierdie boek is daar heelwat besinnings oor die huwelik — die evolusie van vrouwees, van 25 se selfversekerdheid tot 50 se onsekerheid, byvoorbeeld. Dink jy vroue praat gereeld hieroor, of genoeg hieroor? Of hou almal saam die status quo in stand soos wat dit is?

Dis deel van die hele stilblykwessie. Ek dink vroue praat daaroor, maar met hulle vriendinne of in kringe waar hulle veilig voel. Hulle praat nie kollektief daaroor nie, daarom verander dinge so stadig. Maar Nellie se ondersoek van vrouwees behels meer as net haar plek in 'n huwelik. Sy wonder oor oor haar plek in haar gesin, in haar skoonfamilie, in die kerk, in haar werksplek en in die land. Want oral is daar vir haar 'n netjiese kassie om in te pas en oral gaan sy verwerp word as sy nie inpas nie. En die grootste aanklaers in die verwerpproses is nie mans nie, dis ander vroue.

Tog bestaan jou boek nie uit stereotipiese figure nie. Mans versus vroue, maar tog 'n sagte man ook, soos die ginekoloog — bruin, vriendelik, manlik, 'n mens met deernis. Waar kom jou karakters vandaan? Ken jy sommige van hulle? Of verkies jy om hulle op te maak, uit te dink, te vorm en lewe in te blaas? Wat is jou werkswyse?

Dit sluit aan by bogenoemde: Ons is almal in 'n mindere of meerdere mate slagoffers van 'n bestel wat aan ons oorgelewer is. Ons is almal aandadig aan die oorlewering van die bestel aan die volgende geslag. Nellie staan op die kruispad waar sy moet besluit hoe diep haar aandadigheid lê en wat sy veronderstel is om te doen om dit om te keer.

Weet jy al vooraf, as jy begin skryf, wat presies gaan gebeur? Skryf jy vir jouself agtergrond neer van die karakter en allerlei besonderhede van wie sy is voordat jy met haar begin werk? Of is dit 'n meer organiese proses?

Ek dink die storie klaar voor ek begin skryf. Ek weet nie wat ek in elke liewe paragraaf gaan skryf nie, maar die struktuur is klaar bedink voor ek begin. Die hoofkarakters maak ek ook volledig klaar sodat ek weet presies wie, wat en hoe elkeen is en hoe hulle in die storie inpas. Dis een van die maniere waarop ek keer dat die storie met my weghardloop — dis lekker om karakters te skep, maar as hulle nie vir die storie iets beteken nie, moet hulle afsterf.

Pa's en dogters — ma-dogter-verhoudings, en ouer-kind-verhoudings (ouer kinders). Jou boek handel ook oor die kompleksiteite hiervan. Daar is kommentaar op die kerk, op die konvensionele gesinslewe, en die sosiale kommentaar op die Afrikanervolk. Waar begin jou hoofkarakter se aanvanklike kantelpunt, dink jy? (Ek sal nie oor die laaste kantelpunt vra nie, anders gee dit te veel weg. Maar ek hou van die dubbelsinnigheid van die titel.)

Nellie beleef verskeie kantelpunte deur die loop van die boek. Dis bietjie die aard van 'n ondersoekende ingesteldheid — jy kan nie so word en dan nie elke nou en dan beleef hoe jy in 'n ander rigting gestuur word nie. En ja, haar wêreld kantel nie net een keer nie. Alles wat sy vantevore as konvensionele kennis aanvaar het, kantel. Maar die belangrike is dat sy balans moet hou. Sy sê dit ook: Sy wil nie, omdat sy met die patriargie ontevrede is, 'n mannehater wees nie. Sy wil nie haar bra verbrand nie en sy wil nie haar grimering weggooi nie. Sy wil met ander woorde al die liggame en mense en organisasies en konvensies wat vir haar voorgeskryf het hoe om 'n vrou te wees, stilmaak, ook die linkses en radikales en die woedendes wat oorlog wil verklaar. Sy wil nie die patriargie verruil vir 'n ander stel voorskrifte nie. Sy wil bloot self kan sê wie en wat sy is en hoe haar vrouwees lyk.

Wat geniet jy om te lees? Of andersins: teater, film, kuns?

Ek lees baie min, want as 'n mens 16 uur per dag met woorde gewerk het, is 'n mens naderhand sat daarvoor. Ek vrek oor Aaron Sorkin se TV-reekse (The West Wing is my gunsteling) en ek gaan eendag met Bach die ewigheid in. Maar enigiets wat my siel voed, is vir my kosbaar. Soms is dit om by 'n vriendin op die bank te lê en niks te sê nie.

Sjokolade of wyn?

Albei. En nog brood en kaas en olywe en patee en koffie en likeur en gemmerkoekies ook. Ek leef gulsig. Dis mense wat nie weet dat gulsig en gierig twee verskillende goed is nie, wat met gulsig 'n probleem het.

Jy skryf oor politiek, oor gay verhoudings, oor temas waarvan mense miskien wegskram. Dink jy mense in hierdie land praat en dink graag oor onderwerpe soos waaroor jy skryf? Of is dit jou karakters se leefwêrelde en dit kon nie juis anders nie?

Ek dink ons beweeg in 'n praatfase in. Maar ons moet versigtig wees hoe ons die gesprek voer, want ook in die lospraat en oopskryf van dinge moet daar balans en begrip en deernis wees. Dit help nie ons vervang verstikkende konvensie met verstikkende anargie nie. Dis alles goed en wel om te sê die patriargie moet uitgeroei word (en dit moet), maar dit help nie jy vervang net manlike voorskrywers met vroulike voorskrywers nie. Veral in akademiese kringe is die gendergesprek gekaap deur mense met politieke en sosiale agendas, en daar is 'n verdagmakery en ondermyning aan die gang wat ek nie lekker kleinkry nie. (Ek vermoed dis 'n mishoopding, maar ek is nie "in" genoeg om seker te wees nie.) Uiteindelik is 'n samelewing se storie die somtotaal van al die stories wat uit sy mense kom. Dis al die stemme wat opgaan, nie net dié wat die hardste skree nie. Daarom is Kantelpunt ook maar net een stem. Idealerwys moet daar baie sulke stemme opgaan, wat elk 'n eie storie met 'n nuwe perspektief vertel. Eers as almal se stories vertel is —gay, straight, man, vrou, trans, bi, wit, swart, bruin en al die ander groepe waarvan jy kan deel wees —sal die samelewing se storie behoorlik vertel wees. Dis hoekom dit vir my so ontsettend gevaarlik is om skryfwerk te lewer om 'n sekere narratief, 'n uitgewer se voorskrifte of 'n gemeenskap se voorkeure te pas. Dan is dit 'n stem, maar dis 'n vals profeet!

Ek wou vra: plek-plek is dit 'n woedende boek. Hoekom? Of: is dit? Maar dalk is dit onsensitief om so te vra. So asof 'n vrou nie mag kwaad word nie, maar net mans. 

Ja, Kantelpunt spruit uit my eie woede en frustrasie, en dit was 'n losskryf van my eie ongedurigheid met mense se behoefte om ander minder te maak, kleiner te maak sodat hulle in beheer kan bly. Wat my verstom het, is my konvensionele mansvriende se reaksie op die boek voor hulle dit nog gelees het. Dis asof hulle bang is om nog 'n slag te hoor hoe sleg hulle is, want hulle is al so vuisvoos geabsorbeer aan feministiese aanslae dat hulle begin rebelleer. En dis asof dit nie tot hulle kon deurdring dat ek die reg het om te sê dat ek onbillik behandel is/word sonder dat hulle dit as 'n persoonlike aanval hoef te beleef nie. 

Toe ek dit snap, het ek vir die eerste keer verstaan hoe slagoffers van rassisme voel: Hulle word beledig en verneder, en as hulle sê dit gebeur, is daar ordentlike mense wat sê hulle kan nie meer na sulke uitsprake luister nie, want hulle is vuisvoos en moeg vir die aantygings.

Dit het my laat besef dat 'n wit vrou in 'n baie unieke posisie is: Sy is in die rassedebat die aangeklaagde, maar in die genderdebat is sy die aanklaer. Dit maak haar 'n baie belangrike deelnemer, want sy is die een wat met empatie behoort te kan luister na mense wat verniel is. Sy behoort vanuit haar eie verwysingsraamwerk te weet wat die prys is van voortdurende, ingeburgerde, ingebedde aftakeling en 'n gebalanseerde en oorwoë mening te gee wanneer daar oor diskriminasie op ander terreine in die lewe gepraat word. Sy kan ook, vanuit haar eie ervaring, mense identifiseer en ontmasker wat 'n werklike probleem (soos rassisme, seksisme, genderdiskriminasie) gebruik om 'n gemeenskap te polariseer. Natuurlik kan ander mense ook gebalanseerd wees en empatie hê en sinvol aan die debat deelneem, maar 'n vrou het dit aan haar lyf gevoel. Haar verpligting teenoor haar landgenote is dus anders. Haar verpligting teenoor die lewe is anders. En dis as sy daardie rol vervul wat sy werklik geldig word en haar plek volstaan.

  • 8

Kommentaar

  • Michele Meyer

    Ek bly lees en lees aan KANTELPUNT. Dit katrol my weer en weer in, ek herlees, blaai terug, dink, wonder, maak self notas. Puik gedoen! Ek wens net ek kon selfs meer insig verkry in die karakter van Gaia.

  • Marius Andrews

    Welgedaan Sophia. Ek het Kantelpunt gelees na my oudste suster my vertel het van die boek. Dit is briljant en die tyd kon nie beter gewees het nie. Ek glo elke wit manlike persoon behoort hierdie boek te lees. Ek het hom letterlik in 'n naweek deurgelees. Onderhoud was puik Naomi.

  • Louise Barretto

    Mooiskoot ! Griet het grootgeword, haar kop uit die oond getrek, en veel wyer begin kyk en (af)vra. Mens huil om te dink dit vat 50+ jaar. Ironies genoeg moes Die Vrou eers 'n paar vroulike organe inboet om haar stem te win.

  • Ag hoe heerlik. Kantelpunt sê alles wat ek al jare voel. Praat van verkneukel. Sy doen vir Suid-Afrikaanse vrouens wat Marilyn French jare terug met Woman's Room begin het.

  • Ek kon nie anders as om te reageer nadat ek van die "diefstal" van jou werk gelees het nie.
    Ek dink dis 'n skande.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top