Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran: ’n teaterresensie

  • 1

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran by die Grahamstad Nasionale Kunstefees 2018

Akteur: Dawid Minnaar
Regie:
Phillip Rademeyer
Aangebied deur:
Kunste Onbeperk

Foto: Robert A Hamblin

Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran is oorspronklik ’n Franse roman getiteld Monsieur Ibrahim et les fleurs du Coran deur Eric-Emmanuel Schmitt, na Afrikaans vertaal deur Naòmi Morgan, bekend vir die AfriFrans-projek. Die teks is ook deur haar vir die verhoog verwerk. Die produksie haal verskeie “moet kyk”-lyste en word as een van die top-produksies by vanjaar se Nasionale Kunstefees in Graham­stad beskou.

Hierdie eenmanvertoning vertel die ontroerende verhaal van Moses, ’n dertienjarige Joodse seun wat op die Reu Bleue in die Joodse buurt in Montmartre, Parys, woon. Moses se wêreld is betreklik klein en hy erg verwaarloos. Sy moeder het hom as baba verlaat en hy woon by sy vader, ’n liefdelose advokaat wat hom, in Moses se woorde, meer soos ’n slaaf as ’n seun hanteer. Moses vind aanklank by die oplettende en wyse “Arabiese” kruidenier, Monsieur Ibrahim, by wie hy daagliks die blikkieskos koop (en by tye selfs steel), wat hy vir sy vader moet kook. Dit is dan ook Monsieur Ibrahim wat hom oor Moses, of Momo soos hy vaderlik na hom verwys, ontferm wanneer hy liefde by die dames van die Reu de Paradis probeer koop.

Met die ontwikkeling van hierdie onwaarskynlike vriendskap, ontdek Momo dat Monsieur Ibrahim in der waarheid ’n Soefiese Moslem van Turkye is, nie ’n Arabier nie, en dat die grense wat die samelewing tussen verskillende groepe oprig, dikwels kunsmatig is. Momo som die kompleksiteite van die konflik tussen geloofsgroepe veelseggend op: “Dit lyk my die Jode, Moslems en Christene het eintlik ’n paar sterspelers in gemeen ‒ dis nou voor hulle mekaar bloedneus begin slaan het.” Sy verbasing by die ontdekking dat Moslems ook besny word en dat Monsieur Ibrahim soms vark eet omdat die Soefiste nie klem plaas op die streng handhawing van wette nie, laat selfs die gehoor nadink oor die (wan)persepsies wat hulle dalk oor ander huldig.

By Monsieur Ibrahim leer Momo egter nie net lewenswyshede nie, maar ook basiese oorlewingstegnieke. Hy leer dat ’n glimlag jou dikwels verder bring as ’n nors gesig. Hy besef dat Monsieur eintlik uitgeslape is al lyk hy half aan die slaap. Hy leer ook dat hy sy daaglikse kruidenierswaretoelaag kan rek deur sy pa se spyskaart ’n bietjie aan te pas – lewerpatee en ’n sekere soort hondekos proe verbasend baie dieselfde!

Toe Momo se vader hom versaak en later sterf, ontsien Monsieur Ibrahim geen moeite om die seun aan te neem nie. Momo ken nou vir die eerste keer in sy lewe ’n liefdevolle vader. In ’n treffende oomblik merk hy op dat party woorde, soos “Pappa”, ’n heel ander betekenis kan aanneem en ander emosies ontketen wanneer dit in ’n nuwe konteks gebruik word ‒ waar hy voorheen koud gelaat is deur die woord, voel hy nou die warmte en liefde van Monsieur Ibrahim.

Ná hulle ’n motor aangeskaf en vir rylesse is, gaan dié twee op reis deur Suid-Europa na Turkye opsoek na die kusdorp waar Monsieur Ibrahim gebore is. Aangesien Momo bestuur, beleef hy die landskap deur die waarnemings van Monsieur. Hy “hoor” dus Europa en sien dit nie ‒ ’n verfrissende perspektief. Dit is hierdie reis, Monsieur se vaderlike liefde en die tollende danse van die Derwiste wat die genesing bring wat Momo broodnodig het.

Dawid Minnaar vertolk die rolle van Momo, Monsieur Ibrahim én die dames wat Momo teëkom meesterlik. Deur ’n beweging van sy hand, die buiging van sy stem of ’n fladdering van sy wimpers wórd Minnaar elke karakter. Die minimalistiese stelontwerp ‒ slegs ’n stoel, pakbaadjie en papierblomme op die verhoog ‒ sorg dat die fokus op die vertelling en die verteller bly.

Alhoewel die vertaalde Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran dalk as Bildungsroman of jeugliteratuur geklassifiseer word, is die verwerking vir die verhoog beslis veel meer as ’n jeugverhaal oor tienerkwessies. Die gewigtige temas van ’n soeke na liefde, aanvaarding, geluk en ’n plek om te behoort, is universeel en spreek myns insiens veral tot volwasse gehore. Die swaar oomblikke word dikwels afgewissel met ’n komiese opmerking deur Momo of ’n kwinkslag van Monsieur Ibrahim. Die gehoor kan nie anders as om meegevoer te word deur die kinderlike, onskuldige en soms moedswillige vertellings van Momo nie en treur ook saam met hom wanneer hy weer ’n geliefde verloor.

Ten spyte daarvan dat dit ernstige sake aanroer, laat die toneelstuk ’n mens nie neerslagtig nie, maar stem dit die kyker tot nadenke. Monsieur Ibrahim se wyse woorde en Dawid Minnaar se stem eggo steeds in my gedagtes: “Geluk, Momo, is om langsaam te lewe.”

Lees ook

Resensie: Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Tien vrae: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

The 44th National Arts Festival hits Grahamstown

  • 1

Kommentaar

  • 'n Briljante vertolking van soveel uiteenlopende karakters deur Dawid Minnaar. Stem, intonasie, suggestie, erns, humor en stiltes maak die kyk van die eenmansvertoning 'n verruklike ervaring. Mooi so, Dawid! Geluk ook aan Naomi Morgan met haar puik vertaling.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top