Moederstad gooi haar arms oop vir dialoog van versoening

  • 0

Women Unite in aksie (Foto: Clifford Roberts)

Hierdie Augustus sal die Moederstad weer haar arms oopgooi en ’n kragtige platform vir dialoog, genesing, aktivisme en artistieke uitdrukking bied. Die 20ste jaarlikse Kunstekaap Women’s Humanity Festival skop af onder die hooftema A Place For All, met die betekenisvolle subtema: Women in Action, Vroue in Aksie en Abafazi Kwintshukumo.

Die fees, wat regdeur Vrouemaand strek, bied ’n ryk program van teaterproduksies, dans, musiek, uitstallings, films en openbare besprekings, wat die stilte rondom kritieke kwessies uitdaag en sosiale verandering bepleit.

Vanjaar se feesvieringe dra ’n besonderse historiese gewig. Die fees val saam met die Kunstekaap-teatersentrum se 55ste bestaansjaar, sowel as die 70ste herdenking van die historiese vrouemars na die Uniegebou in Pretoria.

Lees gerus meer hier oor die teaterkompleks se glorieryke geskiedenis en uiteindelike baken van versoening: https://www.litnet.co.za/van-nico-malan-tot-kunstekaap-55-jaar-van-kreatiewe-uitnemendheid/

Woensdagaand het hierdie ryk geskiedenis op ’n unieke wyse saamgesmelt, toe die amptelike feesbekendstelling met die spesiale vrouemars op 8 Julie 1956 se herdenking saamgeval het. Hierdie sameloop van gebeure simboliseer die deurlopende stryd om gelykheid en inklusiwiteit, en die dringende noodsaaklikheid om vrouestemme in Suid-Afrika terug te eis.

Women Unite met Marlene le Roux (Foto: Clifford Roberts)

Vroue van die Women Unite-beweging onder leiding van Thandi Swartbooi, opvoeder, choreograaf en stigter van Women Unite, het in tradisionele drag die gaste buite met tromspel verwelkom en ook binne vertonings gelewer.

Om hierdie mylpale te vier, werk die organisasie Woman Zone se Everywoman Project aan twee tekstielkunswerke wat die 55 jaar van die Artscape-gebou en die 70 jaar sedert die historiese mars uitbeeld, en wat tydens die fees onthul sal word.

Die bekendstellingsaand se gasvrou was Thandi Mlungwana.

“In ’n wêreld waar uitsluiting, geweld en ongelykheid voortgaan om baie stemme stil te maak, bly die Kunstekaap Women’s Humanity Festival daartoe verbind om ’n ruimte te skep waar elke persoon gesien, gehoor en gewaardeer voel,” sê Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap.

“Dit is tyd om beleid in aksie om te skakel.

“Die optog na die Uniegebou het ’n kragtige stelling gemaak. Ten spyte van alle teenstand het duisende vroue hul lewens gewaag om teen die dompas te protesteer. Ons moet onsself afvra: Waar staan ​​ons vandag? Gender-gebaseerde geweld verwoes steeds ons gemeenskappe.

“Mense met gestremdhede bly onsigbaar en uitgesluit. Werksomgewings wat vroue ondersteun, is nog nie die norm nie. Die LGBTQ+-gemeenskap word steeds bedreig. Augustus is die geleentheid vir ons om stil te staan ​​by hoe ver ons reeds gekom het, en watter pad daar nog voorlê om die menseregte vir almal – soos vervat in ons Grondwet –  te verwesenlik.

“Die Kunstekaap Women’s Humanity Festival bly een van Suid-Afrika se toonaangewende kulturele bewegings, wat deur middel van die kunste pleit vir gelykheid, inklusiwiteit en maatskaplike verandering,” sê Marlene.

Een van die groot hoogtepunte is die Women’s Humanity Walk op 9 Augustus om 10:00 vanaf die Burgersentrum na die Kunstekaap-teaterkompleks. Vanjaar se stap sal Sophie Williams-De Bruyn, een van die leiers van die 1956-mars, eer.

’n Verkorte roete van minder as 100 meter is beskikbaar om te verseker dat persone met gestremdhede ook kan deelneem. Na die stap sal deelnemers op die Piazza-trappe vergader vir ’n oomblik van stilte, waarna hulle simbolies die kleeflint van hul monde sal afskeur en “Stop die stilte!” sal uitroep, gevolg deur ’n intergeloofseën.

Jimmy Nevis sal sy nuutste treffer, “Roses & Thorns”, uitvoer.

By die amptelike opening het die bekende mediapersoonlikheid en medestigter en uitvoerende redakteur van Mikateko Media, Ingrid Jones, gesê dit is tyd dat ons die vroue van 1956 nie net met ons woorde eer nie, maar ook met ons dade, en die beste manier om dit te doen is om aan te hou stap. “Stap vir verdere verandering. Ons het al ver gekom, maar daar is nog baie werk.”

Vertonings deur Celeste Matthews Wannenburgh en Lee-Ann van Rooi in Kom fietna saam Mareldia (wat tydens die fees te sien sal wees) en die amptelike opening van die kunsuitstalling oor die mars, was ook deel van die bekendstelling.

Uittreksels uit Dianne Du Toit Albertze se bekroonde roman, Bottelnek breek bek, wat deur Kunstekaap as teaterstuk verwerk word met Basil Appollis as regisseur, is deur Dianne en Riaan Visman voorgelees.

Die amptelike program vir die fees is ook aan gaste bekend gestel.

Die aand is met koorsang afgesluit.

Die feesprogram bied iets vir almal, met sterk plaaslike stories en kragtige stemme, en skop reeds op 30 Julie af met optredes van Divalicious Dames – fopdosser-vermaak vol nostalgie, glans en ’n spesiale huldeblyk aan die legendariese wyle Soli Philander.

Die program (Foto: Clifford Roberts)

Die volledige program is by https://www.artscape.co.za/artscape-womens-humanity-arts-festival/ beskikbaar en kaartjies kan reeds deur Webtickets bespreek word.

Verskeie dokumentêre en boekbekendstellings vorm ook deel van die fees waaronder Bones, ’n dokumentêr oor die repatriasie van Sara (“Saartjie”) Baartman, geïnspireer deur ’n gedig van wyle Diana Ferrus; Falling Forward, Rachel Kolisi se openhartige dokumentêr wat vroue uitnooi om in hul eie krag te staan; en Woman Zone stel twee boeke bekend: jackï job se Choreographing Rebellion en Rusana Philander se memoires, Chasing Deadlines.

Ander hoogtepunte is onder meer Healing the Divide, ’n tweedaagse werkswinkel oor geslagsgelykheid en versoening deur Genderworks; die bekendstelling van die dokumentêr Meer as warm gloede, wat die taboes rondom menopouse takel; ’n paneelbespreking met Sabrina Walter, stigter van Women For Change; en Radio Tygerberg se Sisters-vrouekonferensie op 9 Augustus met sprekers soos Greta Wiid en Jenna-Leigh Bilong.

Onder die vaandel, Voices in Unison, sal kerk-, universiteits- en kamerkore die uitmuntendheid van koorsang huldig.

  • Hierdie fees word moontlik gemaak danksy die ondersteuning van vennote soos die Stad Kaapstad, die Departement van Kultuursake en Sport, die nasionale Departement van Sport, Kuns en Kultuur, en die Suidoosterfees.
Lees ook:

Persverklaring: Kunstekaap stel die 20ste "Women’s humanity festival" bekend met ’n dringende oproep vir aksie; gedenk 70 jaar sedert die geskiedkundige vroueoptog teen ongeregtigheid

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top