
Kunstekaap, ’n ikoniese kulturele baken (Foto uit die Kunstekaap-argief)
Vandeesmaand vier een van Suid-Afrika se mees ikoniese kulturele bakens, die Kunstekaap-teatersentrum (Artscape), sy 55ste bestaansjaar. Wat in 1971 as die Nico Malan-teatersentrum begin het, het oor vyf dekades getransformeer in ’n inklusiewe tuiste vir alle Suid-Afrikaners – ’n lewende bewys dat kuns en versoening hand aan hand kan gaan.

Marlene le Roux (Foto uit die Kunstekaap-argief)
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, reflekteer oor hierdie mylpaal: “Hierdie gebou het ’n lang pad gestap – van ’n ruimte wat die meerderheid Suid-Afrikaners uitgesluit het, tot een wat nou almal aktief verwelkom. Toeganklikheid is vir ons ’n daaglikse verbintenis.”
Ek gaan klop by die sentrum se argivaris, Celesté Reynolds, aan. Sy help met historiese korrekthede.

Nico Malan, links, toenmalige administrateur van die Kaapprovinsie, en een van die argitekte, M Miszewski. (Foto’s uit die Kunstekaap-argief)
Die kompleks in die hartjie van Kaapstad, ’n argitektoniese meesterstuk ontwerp deur die firmas, Kent, Miszewski, Hockley en Vennote en Naudé, Papendorf, Van der Merwe en Meyer, was die visie van Johannes Nicholas (Nico) Malan. As die destydse administrateur van die Kaapprovinsie (1960–1970), was hy die dryfveer agter die projek om drama, ballet, musiek en opera na die mense van die Kaap te bring. Hy was ook vir agt jaar die voorsitter van die Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) – een van die vier provinsiale kunsterade – wat op 28 Februarie 1963 gestig is nadat die regering besluit het om die uitvoerende kunste op provinsiale vlak te subsidieer.
As ’n volwaardige produksiehuis, het die raad vier permanente geselskappe vir opera, ballet, drama en ’n orkes in diens gehad, ondersteun deur hul eie tegniese en administratiewe spanne.
“Die amptelike opening op 19 Mei 1971 het egter met ’n onverwagse kinkel begin. Die beplande opera, Aida, moes weens die siekte van die sopraan, Emmi Renzi, gekanselleer word. In plaas daarvan is die gebou met die ballet, Sylvia, ingewy wat gelei is deur die legendariese prima ballerina, Phyllis Spira. Kort daarna het die drama-afdeling geskiedenis gemaak met Koning Lear, Uys Krige se vertaling van Shakespeare se King Lear, met Cobus Rossouw in die hoofrol. Dit was die eerste keer dat Shakespeare in Afrikaans op dié verhoog geleef het,” verklap Reynolds.
Deur die jare het die wêreld se grootstes hier opgetree. Van operasangers, soos Mimi Coertse en Gé Korsten, tot jazz-reuse, soos Abdullah Ibrahim en Hugh Masekela. Ook name soos Ouma Katrina Esau met Kirvan Fortuin en Coenie de Villiers; Sibongile Khumalo; Sylvia Mdunyelwa; Thandi Klaasen; en Virginia Davids is hier in teaterligte opgehelder.
Shaleen Surtie-Richards se vertolking van Fiela in Kringe in ’n bos bly een van die mees geliefde oomblikke in die teater se geskiedenis. Ander bekende name sluit in David Kramer, Taliep Petersen, en meer onlangs, The Parlotones en die Bolshoi-ballet. Die teater het selfs as gasheer gedien vir internasionale geleenthede soos die International Desmond Tutu Peace Lecture deur president Cyril Ramaphosa in 2018.
Teen die vroeë 1990’s het Suid-Afrika se politieke landskap onherroeplik verander. Vanweë die politieke bagasie van die “Nico Malan”, is daar besluit op ’n nuwe koers. Op 27 Maart 1999 is Kunstekaap (Artscape) amptelik bekend gestel om Kruik te vervang, en in 2001 het die gebou self die naam Artscape Theatre Centre aangeneem. Vandag spog dit met drie hoofoptreeruimtes: Die Operahuis; Die Teater; en Die Arena, waar wêreldklas-talent skitter.
Kunstekaap het die afgelope meer as vyf dekades die stemme van ’n nasie laat opklink.
Sedert 2007 is Kunstekaap die trotse tuiste van die Suidoosterfees. Dié fees, wat deur wyle Jakes Gerwel as “naatloos” beskryf is, gebruik Afrikaans as ’n gemene deler om mense van alle agtergronde saam te snoer. Van sy beginjare in Bellville-Suid tot vandag simboliseer die fees – vernoem na die “Kaapse Dokter” – genesing en hernuwing.
Die 23ste fees het die eerste naweek in Mei plaasgevind en vanjaar is die fees uitgebrei na verskeie buite-venues, om meer inklusief te wees en meer vertonings en gespreksreekse te akkommodeer.
Die werk van die digter en dramaturg, Adam Small, vorm ’n integrale deel van Kunstekaap. Sy baanbrekende stuk Kanna hy kô hystoe is reeds in 1974 opgevoer (nog voor die amptelike oopstelling van die teater vir alle rasse in 1975). Krismis van Map Jacobs is reeds vir bykans 24 jaar ’n instelling by die sentrum en help jaarliks talle hoërskoolleerders om die teks beter te verstaan. Joanie Galant is in 2010 opgevoer.
Small sou vanjaar 90 jaar oud geword het en dis ook 10 jaar sedert hy oorlede is. Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en die Proscenium Dramakompetisie het vanjaar vier produksies onder die titel “Adam Small 90” aangebied: Ongekarteerde drome, Langs die pad uitsak, Tussen vlugte en Waar oekal djy belong om hierdie ikoon van die Afrikaanse letterkunde te eer.
Vier skrywers is genader om enige aspek of aanhaling van Adam Small te neem en na aanleiding daarvan ’n nuwe teks vir jong spelers van die Proscenium Dramakompetisie te skryf. Die idee is om Adam Small se werk te herverbeel en op ’n toeganklike manier met moderne gehore in gesprek te tree.
Marlene le Roux het ook tydens die Suidoosterfees aangekondig dat Kanna hy kô hystoe vanjaar opgevoer sal word en dat Basil Appollis die regisseur sal wees. Basil het die rol van die karakter, Kanna, vertolk in die heel eerste Suidoosterfees 23 jaar gelede en ook in die 1995-produksie by die eerste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn. Die produksie is destyds deur Marthinus Basson geregisseer en word dikwels onthou as een van die mees ikoniese aanbiedings van hierdie klassieke werk.
Om die Kunstekaap se 55-jarige reis te vier, word ’n spesiale program op 19 Mei aangebied onder die tema “’n Plek vir almal”. Die dag skop om 11:00 af met die onthulling van ’n nuwe gedenkmuur: “Kunstekaap in wording – ’n plek hergebore”.
Die publiek word genooi om deel te wees van die geskiedkundige vieringe:
- 12:00: ’n Historiese foto op die trappe van die gebou saam met die gemeenskap.
- Middagete: ’n Gratis konsert met skoolorkeste van Mbekweni CMA, Cedar Hoërskool, Rhodes Hoërskool en die Athlone Skool vir Blindes.
Die 55ste bestaansjaar gaan oor meer as net terugkyk. Die sentrum stel ’n jaarlange program bekend wat fokus op die jeug en die “besigheid” van kuns:
- R55-kaartjies: ’n Beperkte aantal kaartjies teen slegs R55 sal beskikbaar gestel word vir uitgesoekte produksies by die sentrum.
- Loopbaanuitstalling: Op 6 Junie word die kollig geplaas op die ekosisteem agter die skerms – van klankontwerp tot geboubestuur.
- Meesterklasse: ’n Reeks Saterdag-klasse begin op 23 Mei met Fast track to opening night in samewerking met KMH Argitekte.
- Galageleentheid: Op 8 November sal die bekende Basil Appollis ’n herdenkingsgalakonsert regisseer.
Met ’n geskiedenis van skoon oudits en uitnemende bestuur, staan Kunstekaap vandag as ’n nasionale bate. Joe McGluwa, voorsitter van die portefeuljekomitee vir kuns en kultuur, beskryf dit as ’n “lewende simbool van transformasie”.
Vandag fokus Kunstekaap swaar op die jeug, met projekte soos die Youth Jazz Festival, Schools Arts Festival, Youth Classical Concert, Rural Outreach, New Voices, High School Drama Festival en die immergewilde Vlooi-produksies vir laerskoolleerders.
Voorgeskrewe werke in drie tale vir hoërskoolleerders – vanjaar onder meer Krismis van Map Jacobs, Buzani Ku Bawo en Hamlet – kry ook teaterruimte.
Na 55 jaar staan die Kunstekaap-teatersentrum nie net as ’n monument vir die kunste nie, maar as ’n lewende, asemhalende simbool van Suid-Afrika se diverse kulturele reis.
Soos Kunstekaap sy volgende hoofstuk betree, bly die missie onveranderd: om ’n ruimte te wees waar kulture ontmoet, waar die gees van die Grondwet lewe kry en waar elke Suid-Afrikaner kan sê: “Ek behoort hier.”
Lees ook:
Kunstekaap se 55 jaar diep gewortel in uitnemendheid, introspeksie en transformasie

