Lina Spies (1939– )

  • 0

Foto deur Naomi Bruwer

Sêgoed van Lina Spies

In 1994 op ’n vraag of Afrikaners sal oorleef: "Net as Afrikaners hul selftrots terugkry en die waarde van hul taal besef. [...] Niemand het nog vir my gesê wat in hierdie land vir Afrikaanstaliges sal oorbly as ons taal verdwyn nie. Afrikaanssprekendes wat vir hulle ’n gelukkige toekoms voorstel sonder hul taal, besef nie dat dit is jou hele menswees nie. As jy nie kan leef in jou moedertaal nie, leef jy ’n tweedehandse lewe.”

Die beste raad wat sy in haar lewe gekry het: “Om altyd die waarheid te praat, selfs al kan jy nie altyd die volle waarheid sê nie. ’n Mens moet soms ander mense beskerm, maar jy mag nooit probeer om jou uit ’n situasie te jok nie.” (Voorligter, Augustus 1992)

“Ek leef in die wêreld van die woord, maar ek is ook lief vir rugby en musiek, veral sang. Deur die woord ... poësie ... kan ek my belewenisse interpreteer soos wat ander mense dit nie kan doen nie. Dit verminder dalk die pyn wat ’n mens beleef en gee jou ’n mate van beheer oor die situasie.” (Rooi Rose, 11 April 1990)

“Ek dink nie goed soggens nie, want ek is nie ’n oggendmens nie. Ek dink op my beste wanneer ek stap. Ek loop as ’t ware my gedigte uit. Dit help selfs as ek in my huis is en in die gang afstap om vir my tee te gaan maak.” (Sarie, 13 Januarie 1999)

“Dis my moedertaal wat my volkome mens maak.”     

“Die verdwyning van geskrewe Afrikaans sal dié visuele verarming beteken wat mense in die vroeëre kommunistiese lande ervaar het en waarteen hulle hulle moes verset: uit die oog, uit die hart.” (Die Burger, 31 Januarie 1994)

“Deur my poësie wil ek verdere protes aanteken teen ’n charismatiese rigting in Afrikaners se godsdiensbelewing wat ’n ondraaglike familiariteit in die omgang met God teweeg bring. So ’n goedkoop, familiêre godsdiens grens aan die godslasterlike. In hierdie opsig is ek ’n totale postmodernis. Mense besef dit nie, hulle plaas my in ’n ouer generasie, maar ek glo ons het net tekste en nie een van ons weet wat agter daardie tekste lê nie. Daarom het ek respek vir ’n ondeurgrondelike God.” (Rapport, 11 April 2004)

Oor ’n hunkering na die verlede: “Ek is nie besig om te sit en treur nie. Natuurlik treur ek, maar nie op so ’n wyse dat die toekoms onbelangrik raak nie. ’n Mens moet leer om in die hede te leef.” (Rapport, 11 April 2004)

Oor die skildery van Adriaan van Zyl op die buiteblad van Duskant die einders en ’n vraag of dit in aansluiting is by Hennie Aucamp en Braam de Vries se verliesliteratuur: “Dit is nie ’n bewuste navolging nie, maar aan die ander kant is dit ook nie toeval nie. Ek, Abraham en Hennie behoort tot dieselfde generasie. Ek het ook ’n plaas in my verlede. Voeg daarby die stimulasie van herinnering: as ’n mens jonk is, is dit nie so belangrik waar jy vandaan kom nie. Dit is later in jou lewe dat jy bestekopname doen.” (Rapport, 11 April 2004)

“Dié een daad wat van ons geverg word om die Afrikaanse boek te red, behoort ons egter helder voor oë te staan: Ons as Afrikaanstalige lesers moet boeke koop. Elke Afrikaanstalige wat Afrikaans liefhet, behoort minstens Jaap Steyn se biografie oor NP Van Wyk Louw op sy rak te hê. Die voorwaarde vir die koop van boeke is uiteraard ’n liefde vir die letterkunde; ’n liefde wat gestimuleer moet word deur ouers en die skool. ’n Mens wat lees, word ’n leeftyd lank innerlik verryk.”

"Ek het ook ’n hartstog vir die musiek en ek moet erken byna uitsluitend vir klassieke musiek. Dit is dan seker ook die rede waarom ’n gedig by my eintlik altyd by ’n versreël begin en alhoewel ek hoofsaaklik die vryevers beoefen, is die ritmiese struktuur vir my van die allergrootste belang. Wanneer daar iets met die ritme haper, hinder dit my en sal ek alles in my vermoë doen om dit reg te stel." (Johann de Lange se blog)

"Wat ek veral van Opperman as mens onthou, is sy kompromislose eerlikheid en sy integriteit. Hy was ’n 'man for all seasons' en deurentyd was sy belangstelling in my digterskap vir my ’n steun en ’n inspirasie. Die herinnering daaraan vervul nog steeds vir my hierdie funksie." (Johann de Lange se blog)

Oor haar liefde vir Nederland en Amsterdam spesifiek: "Amsterdam is ’n bruisende stad en ek is daar altyd onmiddellik tuis. Ek dink ek kan met goeie reg sê dat ek in Amsterdam opnuut gebore is. Dat dit juis Amsterdam en nie een van die ander beroemde stede van Europa is nie, het baie met die taal te make. Ek praat vlot Nederlands en ’n stad maak jy nie jou eie voordat jy nie die taal van sy mense leer praat en hulle aard leer ken het nie. Amsterdam is die stad van my hart en Nederland is nie my 'tweede land' nie – ek dink nie so hiërargies nie – maar my 'ander land'. (Johann de Lange se blog)

Oor haar liefde vir reis: "Reis is dus vir my ook ’n tuiskoms op verskillende mooi aardse plekke. Teenstellings en paradokse behoort tot die wese van die poësie wat seker ook die rede is waarom die spanning tussen verskillende tuistes ’n sterk kreatiewe stimulus vir my is." (Johann de Lange se blog)

"Die ontstaan van ’n gedig is selde by my ’n spontane vloei van woorde. Dis my gedigte wat ontspring aan visuele waarneming wat ek spontaan en maklik skryf, soos 'Versadiging' (in Sulamiet). My strewe om so konkreet as moontlik te skryf en abstrakte bewering tot die minimum te beperk, kom dikwels neer op ’n taai worsteling met woorde. By die neerskryf van die eerste reël van ’n gedig word ek bewus van ’n plan in my kop waarvolgens ek die gedig struktureer." (LitNet)

Sou mens kon sê die digter as mens en sy of haar teks is onlosmaaklik deel van mekaar? wou Jean Oosthuizen weet: "Die persoonlike aard van my gedigte is al dikwels deur resensente en kritici beklemtoon. Ek ontken nie dat ek oor mense wat ek ken, dig nie, maar daarmee sê ek nie dat ek belydenisverse skryf wat suiwer bewerend is en van metafore afsien nie. (...) By die skryf van gedigte moet jy jou eie stem vind voordat jy jouself met reg ’n digter kan noem. In dié sin is jy as digter onlosmaaklik verbonde aan jou teks, maar jou menswees kan jy nooit ten volle uitsê in jou poësie nie." (LitNet)

"Vertaling is veeleisend, maar tap nie soveel kreatiewe energie as die skryf van ’n gedig nie, omdat die 'vrees vir wit papier' afwesig is: die woorde is al daar; jy moet hulle net in jou eie taal herontdek. In albei gevalle weeg jy dus woorde om jou twee verskillende bedoelings te verwoord. Vertaling verryk inderdaad my eie poësie en is ook ’n opskerping van my woordvaardigheid." (Versindaba)

Oor die toekoms van Afrikaans: "Dit is vir my voor die hand liggend om met liefhebbers van Afrikaans te praat oor die toekoms van die taal en uiteraard is digters die grootste liefhebbers, want watter uitvoerende kunstenaar is daar wat nie sy instrument lief het nie? Daarom praat ek in my verse ook met digters. Hulle is boonop nie so naïef om te glo dat solank ’n taal gepraat word, dit sal oorleef nie. Verdwyn Afrikaans as taal van hoëronderwys sal dit mettertyd ook uit laeronderwys verdwyn en sal die literatuur wat daarin geskryf word langsamerhand kwyn totdat dit saam met die taal ten dode opgeskryf sal staan. Intussen kan ek nie anders as om in Afrikaans te leef en te dig nie en sal ek soos Breyten ’n keer aan my gesê het die lot van Afrikaans solank ek leef singend uit volle bors tegemoet gaan." (Versindaba)

"Ek het nog nooit in my lewe op ’n dag besluit vandag gaan ek nou ’n gedig skryf en voor ’n papier gaan sit en woorde neerskryf nie." (Die Burger, 6 Maart 2019)

Oor die skep van gedigte: "Dis nie ’n bonatuurlike ding nie. Dis iets wat jou aangryp, iets wat jy sien, wat jy hoor, ’n koerantberig wat jou boei. Dit kom op alle maniere na jou. Ek dink in versreëls. Daar kom ’n reël by my op na aanleiding van ’n waarneming of ’n ervaring." (Die Burger, 6 Maart 2019)

Gebore en getoë

Carellina Pieternella (Lina) Spies is op 6 Maart 1939 op Harrismith in die Noordoos-Vrystaat gebore. Sy word groot as ’n “eenlingskind” met twee susters: Elmien, ses jaar jonger as sy, en Cornelia, tien jaar jonger. Drie jaar na Lina se geboorte is die gesin vir twee jaar na Stellenbosch, omdat haar pa verder wou gaan studeer. Sy vertel aan Nina Smit: “Ek noem dit altyd ’n ingryp van Bo, omdat my pa se koms na Stellenbosch die beslissendste gebeurtenis in my lewe was, want anders het ek nooit op Stellenbosch kom studeer nie en het ek nooit vir [DJ] Opperman ontmoet nie. Ek voel dit moes so gewees het.”

Sy vertel in Volksblad dat daardie “kinderlewe-sonder-maats ruim vergoed is deur die lewe van fantasie”. Haar pa, Joggie Spies, was hoof van die plaaslike laerskool en ’n groot poësieliefhebber. Hy maak haar groot met EC Pienaar se Digters uit Suid-Afrika, en toe Lina tien was, word haar eerste gediggies in Die Kinderstem, die skoolkoerant van die inspekteursomgang van die Noordoos-Vrystaat, gepubliseer. Lina onthou ook hoe haar pa agter die stuurwiel altyd vir hulle gedigte voorgedra het om die lang pad korter te maak. Haar pa is op 11 April 2000 oorlede.

Lina is baie familievas en het spesiale verhoudings met haar susters se kinders gehad.

Lina se liefde vir musiek en haar sangstem kom van haar ma se kant af. Haar ma, wat in 1992 oorlede is, was meer ’n agtergrondpersoon met ’n meer introverte geaardheid as dié van Lina en haar pa. Haar ma was baie musikaal en het met musiek grootgeword. En Lina het eers na haar dood besef hoe belangrik haar ma vir hulle was.

Uit haar jeug onthou Lina die Kersfeeste op haar ouma Lina en oupa Christiaan de Jager se plaas Leeukop in die Noord-Vrystaat. “Kersfees is vir my mý ouma: die warm breë, ekstroverte vrou wie se naam ek dra en wat ek met middeljarige nostalgie herken as die geluksgodin wat oor my kinderjare geheers het.”

Lina se liefde vir die Vrystaat kom uit hierdie jeugjare, vertel sy aan Johann de Lange, en dit is streekgebonde. "Ek was gelukkig genoeg om op my geboortedorp Harrismith my hele skoolloopbaan te deurloop. My kindertyd en vroeë jeug was dus nie soos wat Sheila Cussons ’n keer aan my gesê het oor haar grootwordjare ’n “nagmerrie van verhuising” nie. Ek gebruik die woorde direk in 'Bereide plekke' (Oorstaanson) wat die sterkste uitdrukking is van my gelukkige jeug. Harrismith aan die voet van Platberg in die Oos-Vrystaat met sy tafelberge en Leeukop, my grootouers aan moederskant se plaas, geleë in die heuwellandskap van die Noord-Vrystaat, was my kinderparadys. Dit bly ’n landskap wat my aangryp, maar ek woon, wat my betref, op die mooiste dorp in die land, Stellenbosch, en ek is verknog aan die Boland. Ek het ’n Kapenaar geword."

Oor haar liefde vir poësie vertel Lina aan De Lange dat dit alles by haar pa begin het. "Dit is ’n liefde wat hy ook aan my twee susters oorgedra het. Hy het gereeld vir ons gedigte voorgelees uit die destydse bloemlesing van EC Pienaar, Digters uit Suid-Afrika. Pienaar het natuurlik by die vroeë Afrikaanse poësie vasgesteek en dus was my eerste kennismaking met die Afrikaanse poësie die werk van die sogenaamde 'Driemanskap', Totius, Celliers en Leipoldt. Veral die oorlogsliriek van Leipoldt en sy natuurpoësie het ’n onuitwisbare indruk op my gemaak. Wat baie belangrik was vir my eie ontwaking as poësieliefhebber en sekerlik ook van my digterskap, was dat my pa baie van sy geliefkoosde verse uit sy hoof geken het. As ons op reis was, het hy dit van agter die stuurwiel opgesê. Hierdie voordragte het my hiperbewus gemaak van versritme. My pa se liefde vir die poësie het ook Engelse gedigte ingesluit. Hy het die verhaal van ’n Engelse gedig vertel of die inhoud opgesom en dit dan voorgedra en terwyl ek die meeste woorde nie kon begryp nie, het die ritme en die klank my meegevoer."

Lina matrikuleer in 1957 aan die plaaslike hoërskool op Harrismith.

Verdere studie en werk

Van 1958 tot 1962 studeer Lina aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar MA-graad behaal met ’n skripsie oor “Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers”. Sy verwerf haar UOD aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en gee twee jaar lank onderwys aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein. In 1966 word sy aangestel as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Port Elizabeth (UPE, nou NMU), ’n pos wat sy tot 1971 beklee.

Van 1968 tot einde 1970 onderbreek sy haar werk in Port Elizabeth tydelik om met studieverlof na Nederland te gaan, waar sy aan die Vrije Universiteit in Amsterdam vir haar doktorale eksamen in die Nederlandse taal- en letterkunde studeer. In November 1970 lê sy die eksamen suksesvol af met as deel van die eksamen haar skripsie oor “Die religieuse moment in die poësie van Martinus Nijhoff met spesiale verwysing na sy sonnette-siklus Voor dag en dauw”.

Terug in Suid-Afrika aanvaar sy weer in 1971 haar betrekking aan die UPE. Na ’n jaar word sy aan die Universiteit Stellenbosch aangestel as lektrise in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en vanaf Januarie 1982 tot Julie 1983 as senior lektrise. Sy promoveer in April 1982 aan die Universiteit van Pretoria onder AP Grové met haar proefskrif getiteld “Weefsel en web: Heilige beesteNegester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok van DJ Opperman binne die verband van sy oeuvre”. Dit is later onder die titel Kolonnade gepubliseer. Vanaf Julie 1983 is Lina senior lektrise aan die Universiteit van Pretoria en op 1 Januarie 1986 word sy bevorder tot medeprofessor. In Julie 1987 keer sy terug na haar alma mater, waar sy professor is in die Departement Afrikaans en Nederlands tot haar aftrede in 1999.

Lina vertel aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1992 dat sy altyd gedroom het dat sy eendag ’n skrywer sou word. “[M]aar dit was eers op Stellenbosch in 1960 toe [ek] met DJ Opperman kennis gemaak het, dat [ek] in alle erns begin skryf het. In my derde jaar het DJ Opperman ons klaskamer binnegestap en my gelei tot in die kamer van my hart. Hy het wete en bewussyn gebring: in my was ’n vreemde kreatiewe impuls waaroor ek nie op eie meriete beskik het nie. Soos nooit voorheen nie het ek daaraan gedink as ’n gawe – ’n gawe wat ’n mens los van jouself kon en moes sien. Opperman het my daarvan bewus gemaak dat ek werklik talent het, maar hy het my ook ’n lang ruk teruggehou van publikasie.”

Sy was ook lid van Opperman se eerste letterkundige laboratorium. Net voordat sy vir die eerste keer Nederland toe is, wou sy publiseer, maar Opperman het haar oorreed om te wag en nog nuwe gedigte te skryf. Met haar terugkeer uit Nederland in 1970 was sy gereed om te publiseer en verskyn Digby Vergenoeg. Opperman het haar gehelp om haar digwerk werklik haar erns te maak en Lina beskou hom as ’n belangrike leidende figuur in haar lewe.

Oor Opperman se invloed op haar lewe brei Lina meer uit teenoor Johann de Lange: "As my pa vir my die vlam van die poësie aangesteek het, dan het Opperman dit laat brand. Dit bly vir my ’n ope vraag of ek werklik in alle erns my aan die digterskap sou gewy het as Opperman nie in my derde studiejaar professor aan die Universiteit van Stellenbosch geword het nie. As professor in die Afrikaanse letterkunde het hy met sy eerste kreatiewe skryfkursus in die derde jaar begin. Dit het al my moed geverg om vir hom twee van my gedigte te gee om in sy eerste 'bloemlesing' uit die werk van derdejaars op te neem; natuurlik anoniem. Dié verse van sy eerste 'Letterkundige Laboratorium' is daardie jaar, 1960, nog in die groot klas bespreek. Van die volgende jaar af is die derdejaars in twee groepe verdeel; diegene wat in taalkunde en diegene wat in letterkunde wou spesialiseer.

"Opperman het egter alle aspirant-digters tot sy Letterkunde Spesiaal-kursus toegelaat saam met die toppresteerders in die letterkunde. Wat ek ten eerste wil noem, is dat Opperman deur sy leiding gesorg het dat die gedigte altyd simpatiek bespreek is. Hy het nooit afbrekende kritiek of persoonlike opmerkings toegelaat nie. Dit is natuurlik ook verhoed deurdat hy vooraf die gedigte gekeur het, wat dan getik en ingebind is in die vorm van ’n 'bundel'. Sy benadering was om eerstens die lewende kern in ’n gedig te soek en dan kon daar kritiese kommentaar gelewer word. Op dié manier het studente ook geleer wat ’n goeie en wat ’n swak vers is.

"Opperman het nooit die gesprekke oorheers nie, maar heeltyd dialoog gestimuleer. Die belangrikste wat ek op menslike vlak oor die poësie van hom geleer het, is om nie te bly steek in die persoonlike nie en om veral te besef dat die liefde en die godsdiens die twee moeilikste onderwerpe is om oor te dig. Hy het veral nadruk gelê op die belangrikheid van ’n digter se sintuiglikheid; dat die digter moet leer om sintuiglik te lewe en hom met iemand anders te vereenselwig; in sy woorde: 'om in iemand anders se vel te kruip'. Ek het langsamerhand begrip gekry van wat hy oor die poësie geglo het en die eerste keer wat ek my met iemand anders vereenselwig het, was met Anne Frank. My gedig 'Vir Anne Frank van Het Achterhuis' was dan ook die eerste gedig van my wat Opperman in sy geheel goed gevind het. Ek glo dan ook vas dat my digterskap in alle erns by daardie vers begin het."

Digby Vergenoeg is die resultaat van tien jaar se werk. Van Lina se gedigte is gereeld in Standpunte en Stiebeuel II gepubliseer. Sy ontvang die Ingrid Jonker-prys vir 1973 en die Eugène Marais-prys vir 1972 vir hierdie eerste bundel van haar. Uys Krige, wat die Ingrid Jonker-prys aan Lina oorhandig het, het die volgende gesê: “’n Digter moet ’n oorspronklike eie stem hê. Maar oorspronklikheid is dikwels ’n gejaagdheid. As jy jouself is, is jy reeds anders – oorspronklik; Lina Spies is in haar gedigte haarself.”

Op haar 80ste verjaardag in 2019 vertel Lina vir AJ Opperman dat Digby vergenoeg vir haar nog altyd een van die sterkste bundels van almal is. "Dit gaan nie by mense verby nie, want hulle bloemlees aanmekaar (die verse) - '’n Paternoster vir Suid-Afrika' en 'Vir Anne Frank van Het Achterhuis'."

Lina vertel aan Nina Smit dat sy in haar eerste skeppingsfase, 1960 tot 1970, baie suiwer was. “Skryf was vir my ’n spontane iets, maar ek het by Opperman geleer om hard aan ’n gedig te werk. Aan sommige gedigte soos ‘Paternoster vir Suid-Afrika’ het ek baie min veranderinge aangebring. Miskien skryf ’n mens die beste gedigte spontaan. Aan ander gedigte het ek baie lank gewerk, byvoorbeeld die gedig oor Rembrandt – ek was verruk oor sy skilderye. Die tyd toe ek in Nederland was, het ek oor hom gedink, na ’n film oor hom gekyk, maar dit het nog steeds nie ’n gedig geword nie. Terug in Suid-Afrika het ek een aand weer ’n film oor Rembrandt gesien. Toe kon ek skielik skryf.”

Daar word na Lina verwys as die “Stellenbosse digteres” en sy beskou die dorp met sy mense as haar grootmenslojaliteit. Maar die Vrystaat sal altyd haar kinderlojaliteit bly. “Daar is geen botsing tussen die twee lojaliteite nie, behalwe dit wat van buite af veronderstel, opgelê en afgedwing word. In my bestaan die twee in harmonie. [...] Die belangrike invloed van Harrismith en die Vrystaat op my menslike en digterlike vorming vind mens terug in die latere beeldewêreld van my poësie.”

"’n Paternoster vir Suid-Afrika" gryp heeltemal terug na haar Vrystaatse kinderwêreld. Ook in Winterhawe (1973) kom die Vrystaatse kind momenteel terug, en in Dagreis (1976), waar sy “die misterie van menswees binne groter dimensies probeer peil ... en probeer deurdring tot die magte wat die mens vorm (die kinderwêreld, familieverhoudinge)”, maak die Vrystaat onwillekeurig weer sy verskyning: byvoorbeeld die dorp van haar jeug, haar ouma, en in die gedig "Verblyf" waar “ek my lewe probeer sien as ’n voorlopig volmaakte geheel: die Vrystaat en die Boland twee sirkelsluitende helftes”.

In 1982 word Lina tot diaken van die NG Gemeente Stellenbosch verkies. In dieselfde jaar ontvang sy ook ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria. Lina dien ook in die kerklike kommissie vir die omdigting van die Psalms.

Lina voel baie sterk oor die bydrae van die vrou tot die poësie en in 1982, tydens die Universiteit Stellenbosch se Herfsskool, vra sy of daar by die beoordeling van die poësie van digteresse, naas die aanlê van algemeen-geldende maatstawwe vir die digkuns, ook spesifieke norme wat met die geslag van die outeur te doen het, in spel kom.

In 1996, tydens die sewende hoofkongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Bloemfontein, sê Lina: “Die geslag van die digter kan nie in die lees van poësie buite rekening gelaat word nie. Sedert die jare sewentig bestaan wêreldwye belangstelling in die vrouedigter en vroueskrywer. ... Die onderskeiding tussen ‘digters’ en ‘digteresse’ is heeltemal kunsmatig as dit net berus op die geslag van die outeur en geensins verband hou met die inherente eienskappe van hul poësie nie. Vroulikheid en manlikheid behoort tot die verwikkelde en nooit enkelvoudig verklaarbare verhouding tussen die werklikheid van die teks, die lewe en die kuns” (Volksblad, 19 September 1996).

In 1987 word Van sjofar tot sjalom gepubliseer wat redelik vurig gekritiseer word deur onder andere Lucas Malan (“dit is grootliks die dokument van ’n gefrustreerde mens”), Ernst Lindenberg (“dit is aanmatigend”) en Joan Hambidge (“verwys na literêre kitsch en ’n snedige toon”).

Hieroor sê Lina in ’n onderhoud met Romi van der Merwe in Rooi Rose van 11 April 1990: “Ek het die kritiek sedertdien te bowe gekom en die bundel word nou in ’n ander lig beskou. Verlede jaar was ek een van drie finaliste vir die Ou Mutual-prys vir digkuns, danksy Sjofar tot sjalom. Hoewel ek die hele petalje nie weer wil beleef nie, is ek oortuig van die intrinsieke waarde van die gedigte.”

Hierdie bundel verbeeld haar heimwee vanuit Pretoria terug na haar geliefde Stellenbosch en sy maak stellings oor Pretoria wat redelik heftige reaksies uitgelok het. Lina verweer haar deur te sê dat sy nooit “’n persoonlike verbintenis met dié stad gevoel het nie. [...] Pretoria het ’n kunsmatige skoonheid ... ek vind God se hand nêrens nie. [...] Ek kon ook geen eensgesindheid met die wolkekrabbers ondervind nie.” Met haar terugkeer na Stellenbosch in 1987 voel sy vryer en word sy nie meer beperk deur die wêreld wat visueel alles moontlik vir haar gegee het nie.

In 1990, tydens ’n toer na Nederland en Amerika, bedank Lina in die openbaar uit die Afrikaanse Skrywersgilde na aanleiding van die omstrede kultuurboikot. “Ek het met verbystering kennis geneem van die jaarberaad van die Afrikaanse Skrywersgilde en van die uitsprake van sommige van my geëerde en geliefde medeskrywers. Die pynlike gevolgtrekking wat ’n mens weer eens moet maak, is dat Suid-Afrika hom steeds in so ’n mate van isolasie bevind dat selfs sy skrywers en literatore nóg hul land, nóg hul moedertaal, nóg hul letterkunde in wêreldkonteks sien.”

Sy bring op hierdie toer ook ’n besoek aan Amherst in New England in Amerika waar Emily Dickinson gewoon het. Die digkuns van dié enigmatiese Amerikaanse digteres word vir Lina ’n toenemende passie, en Dickinson se werk gryp haar aan, soos vir talle ander tydgenootlike digters, ook in ander tale. Lina vertel aan Etienne Britz dat sy haar eie konflik in Emily Dickinson herken. Emily het haar ook verset teen die Calvinisme wat die “mens onderskat en onteer”.

Lina se liefde vir die Amerikaanse poësie dateer van voor haar eerste bundel in 1971 toe sy bekend geraak het met die werk van Robert Frost, en sedert die publikasie van Dagreis in 1976 toon sy veral belangstelling in Amerikaanse digteresse soos Sylvia Plath, Anne Sexton en Erica Jong. Die neerslag van hierdie belangstelling kan duidelik in haar vierde bundel, Oorstaanson,gesien word.

In 1992, vyf jaar na Van sjofar na sjalom, word Hiermaals gepubliseer. Lina dra hierdie bundel aan die filosoof Johan Degenaar op. Sy vertel in De Kat van Augustus 1992 aan Etienne Britz dat “[n]iemand my in lewensbeskoulike opsig so sterk beïnvloed [het] as Johan Degenaar, die ‘filosoof van die hiermaals’, nie. Ek het drie jaar in sy klas op Stellenbosch gesit. Op ’n oggend lees hy uit GK Chesterton se Orthodoxy. ‘God sê elke oggend vir die son om op te kom. God word nooit moeg om vir die son te sê om op te kom nie. Omdat God nie gesondig het nie, is God jonger as ons.’ Dié aanhaling het my geprikkel om Orthodoxy aan te skaf. My eie geloofsoortuiging sit baie vaster aan Orthodoxy as aan die Calvinisme. Aan Johan Degenaar het ek miskien my hele lewensuitkyk in Hiermaals te danke.”

Lina se volgende bundel, Die skaduwee van die son, word in 1998 gepubliseer. Oor hierdie bundel skryf HJ Pieterse in Beeld van 11 Januarie 1999 dat “[w]at wel nuwer en protesterend skerper is, is die elegiese toon, die sterkerwordende besef van verganklikheid en afskeid, wat reeds deur die bundeltitel aangekondig word. [...] Uiteindelik bly die elegiese toonaard en die uiters empatiese behandeling van temas, geskryf in ’n fyn digtershand, ’n mens by en lewer die bundel, saam met Hiermaals, genoegsame bewys dat daar inderdaad lewe ná Van sjofar tot sjalom is.”

In 2004 word Lina se agtste bundel, Duskant die einders, uitgegee. Fanie Olivier sê van hierdie bundel dat dit “’n ryp, beleë versameling gedigte [is] wat ’n belangrike toevoeging is tot die oeuvre van Lina Spies en die gesprek oor ons menswees, wat alle beduidende letterkunde kenmerk, verder stimuleer.”

Volgens Bernard Odendaal in Volksblad van 14 Julie 2004 “versterk [hierdie bundel] Spies se profiel as unieke, nie-modieuse digter. [...] Hare is ’n dadelik herkenbare digterskap wat agting afdwing.”

Vir Henning Snyman is die bundel “ietwat van ’n raaisel. Enersyds is daar bedrewe en gevoelige verse wat talle lesers groot leesgenot sal bied. Andersyds is daar te veel voorbeelde van cliché’s en ’n steriele gestileerdheid.”

Lina is bekend vir haar liefde vir katte en sy skryf gereeld gedigte oor katte. Sy het nie probleme met die feit dat mense na haar verwys as die katdigteres nie. Sy vertel aan Suzette Truter dat sy haar, wat dit betref, in die geselskap van die heel grotes bevind – TS Eliot, Baudelaire en Rilke, wat almal oor katte geskryf het.

Lina voel ’n spesiale geneentheid teenoor Nederland en die Nederlandse letterkunde. Haar ouma aan moederskant was van Nederlandse afkoms en sy het ’n onderwyser gehad wat versot was op die Nederlandse boek. “Toe ek my studie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam voortgesit het, het ek baie gou aangepas en tuis gevoel. Nou nog, as ek soontoe gaan, is ek binne ’n week weer volkome tuis. Dis soos ’n tweede vaderland, ek sou môre daar gaan woon.”

Naas letterkunde is Lina se ander liefdes musiek en reis. “Ek sou glad nie sonder musiek kan wees nie,” vertel sy aan Suzette Truter. “Klassieke musiek is die mooiste iets op aarde. Ek het my doktorale proefskrif geskryf met musiek op die agtergrond. Maar dit moet instrumentele musiek wees, soos ’n simfonie van Mozart. Om na sang te luister neem al my aandag in beslag; ek kan dan nie op werk konsentreer nie.”

Oor geloof vertel Lina aan Nina Smit in Die Voorligter van Augustus 1993: “Geloof is seer sekerlik nie van emosie afhanklik nie. My hele lewe word nog altyd deurstraal deur my geloof. Ons kan nie net vir hierdie lewe op Christus hoop nie. Ek word gemotiveer deur die gedurige besef dat ek moet probeer beantwoord aan ’n groter doel – dat dit wat ek op my klein manier doen, êrens dalk sin het binne ’n groter bestel van dinge. Met ander woorde as ek klas gee, gee ek goed klas omdat ek ten diepste gemotiveer word deur die doel dat ek dit goed doen vir God. Ek is elke dag in sy diens. Ek wil dié dinge wat ek doen, góéd doen omdat ek dit wil doen tot eer van God.”

Lina vertel aan Tobie Wiese (Insig, Desember 2003) dat sy nie kan onthou wanneer sy laas in die kerk was nie. Sy kan dit nie langer regkry om saam met die res van die gemeente daar te staan en die eeue oue woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis na te sê nie. Sy kan nie, want sy glo dit nie meer nie. “Ek het ’n nuwe ervaring van Jesus, van sy menslikheid. Hy is nie vir my God nie. Hy is wel ’n gesig van God, dié gesig wat ek die beste ken, maar nie die enigste gesig nie. Hy het ook nooit gesê Hy is die Seun van God nie. Ja, die belydenisgeskrifte sê so en die dogmamakers sê so en die Skrifgeleerdes wat Hom voor Pilatus gedaag het, het Hom daarvan beskuldig, maar Hy het nie daarop aanspraak gemaak nie. Ek kan Jesus wat op aarde gewandel en gewerk en gesterf het, nie vereenselwig met die ewige, onsienlike en alomteenwoordige God nie. Dit is waar my breuk met die tradisionele godsdiens kom. [...] Soos Van Gogh gesê het: ‘Ik ben een gelovige in mijn ongelovigheid.’ Ons weet dat ons nie weet nie. Wat my irriteer van die kerk, is die aandrang op sekerheid. Hoe kan jy seker wees van die Onsienlike? En as jy seker is van alles, het jy geen geloof nodig nie. Geloof berus juis op nie-weet, op hoop, op vertroue, op onsekerheid. Daarom is geloof ’n sprong in die duisternis.”

Lina se kritiek op die kerk terwyl sy aktief was in die nuwe berymings van psalms vir die nuwe liedboek van die kerk is nie vir haar ’n teenstrydigheid nie. Sy vertel op 11 April 2004 aan Rapport: “Juis my werk saam met die psalmkommissie het sekere dinge vir my duidelik gemaak. Ek het dinge ontdek wat geskud het aan my godsdienstige wêreldbeskouing. Ek het agtergekom ek kan niks doen met die gesange nie, dat dit die psalms is wat praat oor God soos ek oor God wil praat. Ek voel my tuis in ’n Ou Testamentiese wêreld. Daarom pla dit my dat die kerk deesdae so ’n eensydige fokus op die Nuwe Testament plaas. Die klem is volledig op die persoon van Jesus en op dié wyse sentreer Christene se godsdiensbelewing om ’n vermenslikte God wat in alle kleinmenslike behoeftes voorsien.”

Lina is ’n vurige voorstander van Afrikaans en Afrikanerskap. In 1996 spreek sy haar soos volg in ’n artikel in Die Burger van 29 April uit: “Die fout wat die Afrikaner vir die soveelste keer in sy geskiedenis begaan, is om homself, sy kultuur en sy taal in ’n eksakte definisie te probeer vasvang. Hierdie unieke Afrikaner-eienskap is verstaanbaar omdat die Afrikaner nog nooit in hierdie land ’n blywende rusplek vir die holte van sy voet kon vind nie: soos in die verlede word sy bestaan nou weer bedreig. Om egter ’n bepaalde volksaard en ’n eie kultuur te probeer definieer, is noodlottig omdat dit verskynsels is wat hulle nie laat definieer nie.”

By die Versindaba in 2007 lewer Lina die Dana Mouton-gedenklesing, getitel “Wat is poësie?”. In 2011 word sy gevra om die DJ Opperman-gedenklesing te lewer met die titel “God, die magtige magneet: die religieuse motief in die poësie van DJ Opperman”. Die Woordfees het Lina in 2014 met ’n profielaanbieding vereer.

Lina se eerste volwaardige gedig (en die eerste gedig van haar wat DJ Opperman volgens haar sonder meer goed gevind het) was “Vir Anne Frank van Het Achterhuis” wat in die tydskrif Inset verskyn het en waarmee sy ’n belangstelling in die geskiedenis van die Jodevervolging in die Tweede Wêreldoorlog toon – ’n belangstelling wat uiteindelik uitloop op Die agterhuis: dagboekbriewe 12 Junie 1942 – 1 Augustus 1944 (Protea Boekhuis, 2008), haar vertaling van Anne Frank se boek.

In ’n onderhoud met Gerrit Brand vertel Lina dat dit belangrik vir haar was om die boek in Afrikaans te vertaal, omdat dit in 60 tale vertaal is en “dit ’n soort status aan Afrikaans gee dat dit nou ook in die taal wat die naaste is aan die taal waarin Anne dit geskryf het, vertaal is”.

Lina sê in ’n lesing oor hierdie vertaling dat dit in samehang met haar uitvoerige inleiding hopelik kan bydra tot ’n bestryding van die onkunde oor die dagboek self, maar veral ook oor die skryfster daarvan. “Die een is onlosmaaklik verbonde aan die ander. Vir my was die vertaling van Anne Frank se dagboek die vervulling van ’n lewensideaal. Uiteindelik kan die Afrikaanse vertaling staan naas die tallose vertalings waarin die dagboek verskyn het sedert die eerste publikasie daarvan in 1947 in die oorspronklike Nederlands onder die titel Het Achterhuis.”

Lina vertel dat ’n uitspraak oor Anne se droom om skryfster te word, deur die beheer oor haar emosies wat sy tydens die vertaling streng gehandhaaf het, gebreek het. Op 21 April 1944 skryf Anne naamlik aan Kittie: “Ek wil een van my sprokies na De Prins stuur, natuurlik onder ’n skuilnaam, maar omdat my sprokies tot nog toe te lank is, dink ek nie dat ek veel kans het dat hulle dit sal publiseer nie.”

Lina vertel: “Die tragedie van Anne Frank het nêrens sterker tot my gespreek as uit hierdie voorneme om een van haar sprokies uit die boek waarin sy, benewens die hou van ’n dagboek, verhale, gebeure uit die Agterhuis en sprokies geskryf het, vir publikasie voor te lê nie. Wat dit by my tuisgebring het, was dat Anne Frank ’n gewone meisie was, weliswaar ’n meisie wat haar ideaal om skryfster te word nie kon verwesenlik nie, omdat sy moes sterf net omdat sy Joods was. Dit is die tragiese. En dit was die een oomblik tydens my vertaling soos ’n oomblik op ’n koue grys dag in November 1968 in Anne Frank se kamer wat ek beleef het as hartverskeurend; ’n oomblik wat ek onlangs herbeleef het in Paul Auster se beskrywing daarvan in sy ‘The book of memory’ (deel 2 van The invention of solitude): ‘As he stood in Anne Frank’s room, the room in which the diary was written, now bare, with the faded pictures of Hollywood movie stars she had collected, still pasted to the walls, he suddenly found himself crying. Not sobbing, as might happen in response to a deep inner pain, but crying without sound, the tears streaming down his cheeks, as if purely in response to the world.’”

Volgens Lina is die groot tema van Anne se dagboek die leegte, en by haar is dit dubbel erg deur die afsondering. “Sy’t die leegte volgeskryf. Dis geen bakvissie-Nederlands wat jy lees nie. Die ontstellende is dat ’n gewone meisie met talent dít moet belewe. En dat sy leef deurdat sy gesterf het. En die onvoltooidheid van haar dagboek.”

In sy resensie van Die agterhuis skryf Stoffel Cilliers in Volksblad: “Dit is aan Lina Spies te danke dat ’n vertaling van hierdie klassieke werk ná al die jare nou in besonder keurige Afrikaans beskikbaar is. Iets van Anne Frank se voortdurende optimisme, haar lewensblyheid, haar verdraagsaamheid in die slegste omstandighede bly die leser lank by. Daarom verdien hierdie dagboek om deur lesers van alle ouderdomme in Afrikaans ontdek – of herontdek – te word.”

In 2010 doen Johann de Lange ’n samestelling uit Lina Spies se agt bundels. Dit word gepubliseer onder die titel Die skyn van tuiskoms.

Oor die ontstaan van die bundel en die eindresultaat vertel Lina Spies aan Johann de Lange dat sy baie dankbaar is oor die publikasie van hierdie keur uit haar werk. Sy sou nie dieselfde verse gekies het nie, maar sy was aangenaam verras met De Lange se keuse. "So ver as wat ek gelees het, het ek gedig vir gedig jou keuse hartlik beaam. Ook met jou teks op die agterblad waarin jy my werk karakteriseer, kan ek nie anders as my volle instemming betuig nie. Tweedens en nie minder belangrik nie, is ek diep dankbaar oor hierdie erkenning deur Human & Rousseau. Ek is ook besondere dank aan Alida Potgieter verskuldig met wie ek en jy nou saamgewerk het. Wat kan ’n mens sê oor ’n digterskap van veertig jaar, behalwe dat jy dankbaar is dat jy oor so ’n lang periode kon aanhou skryf? Om jou uit te leef oor soveel jare heen in die kunsvorm wat jy beoefen, is ’n buitengewone voorreg."

De Lange sê hy kan Lina Spies nie as ’n godsdienstige digter tipeer nie, hoewel godsdiens ’n belangrike aspek van haar digkuns is. Hy het haar gevra om vir hom die verband tussen godsdiens en kuns te verduidelik en ook hoe haar siening oor die godsdiens deur die jare verander het. "Ek is baie bly dat jy my nie ’n 'religieuse digter' noem nie; allermins wil ek ’n 'Christelike digter' genoem word. Die redes lê voor die hand. Ons het in Afrikaans te veel skryfsters (vroueskrywers) wat met ’n vooropgestelde Christelike doelstelling skryf. My gedigte het meermale ’n religieuse ervaring as tema of impuls, maar dit word nooit met ’n evangeliese oogmerk soos om die 'blye boodskap' te verkondig of om 'van Jesus te getuig' geskryf nie.

"Daar is ’n dun membraan tussen die poëtiese en die religieuse. Om eenvoudig te verduidelik wat ek daarmee bedoel: Ons kan slegs in metafore oor God praat, want God is transendent. Omdat die poësie, tensy dit in alledaagsheid verval, altyd iets van die transendente verwesenlik omdat dit die onsêbare probeer sê, kan ek nooit ’n ateïs wees nie. My godsdiens-ervaring het deur die jare radikaal verander. Ek het baie werke van vooraanstaande teoloë wat geen tradisionaliste is nie, gelees. John Shelby Spong, ’n Episkopaalse Amerikaanse biskop, het naas Karen Armstrong – om my maar by twee te hou – my denke verander. Spong sê dat die Christelike kerk uiteenval in 'literalists' en 'dropouts'. Diegene wat nie meer die Bybel letterlik kan lees nie – waaronder ek my bevind – word meesal 'dropouts', met ander woorde ateïste, maar dit is nie die enigste alternatief nie. ’n Mens kan die Bybel ook anders lees en anders glo. Ek is ’n Bybelsgevormde mens en digter. Ek kan die Bybel nooit prysgee nie. Ek wil dit daarby laat. Hoe anders ek begin glo het, sal wel uit van my jongste verse blyk wat hopelik in ’n volgende bundel sal verskyn."

Ses jaar ná die verskyning van Duskant die einders sien Lina Spies se volgende boek, Tydelose gety, die lig.

Op haar blogspot skryf Joan Hambidge dat die titel, Tydelose gety, op sowel “tydelik” as “tydloos” inspeel, die hier én die ewige. Hierdie spanning is te bespeur in feitlik al Spies se bundels, maar spesifiek in Hiermaals, waar die gesprek tussen die aardse en die Ewige bestaan ’n digterlike onderwerp word.

"Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog. By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing. (...)

"Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ’n Vers soos 'Gewoon' (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op.

"Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ’n herdigting van Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers.

"Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel."

Bernard Odendaal is die resensent van Tydelose gety op Versindaba. Die meeste van die gedigte in die eerste afdeling, skryf hy, het hulle ontstaan te danke aan ’n (onverwagte) liefdeservaring in die lewe van die ongetroud vrou in haar sewentigerjare. Hy skryf verder: "Sy vrees, luidens die bundelopeningsgedig, dat dit 'in hierdie halfwas land […] bejammerenswaardig' geag word 'om na dertig ongetroud te wees/ en ondenkbaar om na sestig verlief te raak'. Die spreekster se belewing van laasgenoemde toedrag van sake is klaarblyklik eg, en dit bring ’n skrynendheid in die treffendste gedigte in die bundel teweeg. 'Voorjaarsversoek', 'Skyn', 'Heelal', 'Moment', 'Gewoon' en dalk ’n paar ander uit hierdie afdeling gryp ’n mens aan. (...)

"In die res van die bundel is dit egter juis die geykte, die retoriese wat in die pad van egte inlewing deur die leser kom staan – of dit nou die idealisties-behoudende blik op familiale, stamverwante herkomste en op die verbondenheid aan land en taal van die tweede afdeling betref, of die huldigings van vereerdes van die derde afdeling, of die religieus getinte bemoeiing met leerstellighede en met uiterste beproewings van die slotafdeling.

"Geykte uitdrukkings – wat enersyds styltamheid tot gevolg het, andersyds, net soos die apostrofiese aansprekings van en/of opdragte aan afwesige of gestorwe beroemdes, pralerig aandoen – deurspek die grootste deel van die bundel. (...)

"Maar die hoofsaaklike onbesieldheid waarmee die retoriese grepe en wendings op mekaar gestapel word in groot dele van Tydelose gety, werk fnuikend. Selfs die verwoordings van uiterste menslike lyding in die slotafdeling word hierdeur ontkrag – júis opmerklik gemaak deur die trefkrag van die enkele uit Duits vertaalde gedigte van Paul Celan en Pavel Friedmann wat in dieselfde afdeling naas Spies se eie staan. Dis dan besonder ironies – en jammer – dat sy haar in dié poging so ryklik gaan bedien het van die bombas."

In Literator (Augustus 2011) sluit HP van Coller sy bespreking van Tydelose gety so af: "Spies het ’n voorkeur vir die gedrae toonaard en die formele register wat soms in swaarwigtigheid kan verval. Wat my egter sal bybly van Tydelose gety, is die wyse waarmee die laat liefde en erotiese gevoelens hier onder woorde gebring word. Die Afrikaanse poësieleser is al gewoond aan geriatriese temas by ouerwordende digters; selde egter aan gerontiese gedigte waarin daar nog die sprankel van die jeugdige liefdeservaring is."

Ses jaar ná die publikasie van Tydelose gety word Spies se volgende bundel, Sulamiet,deur Naledi Uitgewers uitgegee. Dit is haar tiende digbundel en op LitNet verduidelik sy in ’n onderhoud aan Jean Oosthuizen dat sy by DJ Opperman die kuns geleer het om te wag totdat sy in die gedigte wat sy geskryf het, ’n bundel kon "herken". Sy meen dit is die rede hoekom daar tussen die verskyning van haar bundels gewoonlik etlike jare verloop.

Sy vertel aan Oosthuizen dat al die gedigte in Sulamiet "baie kreatiewe energie en harde werk geverg het, daarom glo ek dat dit die peil van die beste gedigte in my oeuvre ewenaar. Die ontvangs van die manuskrip deur Naledi en die wyse waarop die kritiese beoordeling en tegniese versorging van die teks verloop het, was ’n inspirasie en het aan al die verwagtings wat ek van ’n uitgewer koester, voldoen: geesdrif gepaard met ’n oorwoë kritiese sin."

Die betekenis van die titel sal volgens haar dalk nie vir almal duidelik wees nie, "maar ek veronderstel dat dit ten minste as ’n persoonsnaam herken kan word en dat dit ’n prikkel sal wees vir lesers om die betekenis binne bundelverband te agterhaal. Diegene wat vertroud is met die Ou Testament, sal die titel egter uit Hooglied herken en die verwysing na Hooglied 1:2 by die titelgedig, 'Belydenis van ’n Sulamiet', sal minder kundige lesers na die betekenis lei: 'Laat hy my kus met kusse van sy mond …" (...)

"Salomo en Sulamiet is metafore vir ’n man en ’n meisie se belydenis van hulle liefde vir mekaar waarin die meisie deurgaans die botoon voer. Die liefdesbelydenis het ’n sterk polemiese strekking deurdat die Sulamitiese meisie haar voorkoms en haar smagting na haar beminde se liefkosings verdedig teen haar broers en die meisies van Jerusalem.

"’n Polemiese strekking kenmerk ook die belydenis van die Sulamiet as spreker binne die Afrikaanse kulturele konteks van my gedig: Sy lewer ’n pleidooi vir die opheffing van die taboe op fisieke aanraking; ons Noord-Europese Protestantse erfenis in ’n sonnige, suidelike klimaat, ooreenkomstig aan die klimaat van Katolieke Suid-Europa, waar dié taboe nie geld nie.

"Aan die grond van dié pleidooi lê haar verset teen ’n ouer generasie se gewoonte om te soengroet en dan op ’n kil, afstandelike manier sonder enige fisieke aanraking."

Die uitgewers het in hulle inligtingstuk van Sulamiet die bundel beskryf as een oor "medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoen, die skoonheid van die natuur en ook die kunste". Lina som die onderliggende tema van die bundel as volg op: "Bogenoemde dinge kan as alledaags en algemeen by ons verbygaan, maar kan by ’n digter momente van verskerpte bewussyn word om tot nuwe lewe te wek in die gedig. Dié motiewe kan mens saam skaar onder een oorkoepelende tema: ons onlosmaaklike verbondenheid aan die lewe en die aarde.

"Dié tema het die eerste keer pertinent tot uitdrukking gekom in my sesde bundel, Hiermaals (1992). As antoniem van hiernamaals ontgin ek met ander aksente opnuut die “hiermaals” in my nuwe bundel as die gerigtheid op hierdie lewe in plaas van op die lewe hierna. (...) ’n Mens is in jou laaste lewensfase meer as ooit bewus van die behoudende krag van die liefde, omdat niemand op die lange duur verlies deur dood en vervreemding gespaar bly nie. By dié bewussyn is my skeppende skrywe steeds gerig op die herskepping van die verlore tuin van Eden deur die liefde, soos in Hooglied. Dit is die oorkoepelende tema van Sulamiet." (LitNet)

In Beeld (16 Januarie 2017) skryf Tom Gouws: "Spies gebruik hierdie simboliese vrouefiguur [Sulamiet] 'op die ongekaarte reis van liefhê', maar ook as fokusfiguur van die Joodse buitestanderskap." Hy skryf voorts dat hoewel Lina Spies in 1962 haar MA-verhandeling getiteld “Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers”geskryf het, sy die "bewerende deel in haar eie digkuns nog nie self bemeester [het] nie. Maar, haar beeldende vermoë bly sporadies die leser verruk.

"Kritici het oor ’n vorige bundel genoem van die gedrae toonaard en die formele register wat soms in swaarwigtigheid kan verval – híér dra dit by tot ’n ou-wêreldsheid, wat my steeds bekoor. Ongelukkig is steeds 'te vee, van my verse/ ... pleisters op eie wonde’, maar tog is dit deel van die intieme tongval van Lina Spies se idiolek

Daniel Hugo is die resensent van Sulamiet in Rapport van 19 Februarie 2017. Hugo sien Lina Spies as ’n digter wat sienings het oor onderwerpe wat later deel van haar digterlike raamwerk geword het – onderwerpe soos "die onbetroubaarheid van die liefde tussen mense, in teenstelling tot die vertroostende teenwoordigheid van katte; die ware geloof versus kerklike dogma; Judaïsme versus Christendom; haar dubbele lojaliteit aan Suid-Afrika en die Lae Lande, en daarmee saam aan Afrikaans en Nederlands; haar afkeer van onreg, veral teenoor kinders; haar liefde vir die Bolandse natuur; haar stryd om die dood te aanvaar, en haar koestering van die 'hiermaals' in teenstelling tot die hiernamaals."

Hierdie temas is, behalwe die katte, weer te vinde in Sulamiet, en soos altyd maak sy geen geheim daarvan wat haar menings omtrent die temas is nie.

Hugo sluit af: "Die digter identifiseer haar in hierdie bundel dus op ’n paradoksale manier met sowel die donker Sulamiet, die geliefde, as met die blonde Margarete, die skuldbewuste Christen. Anders as Blum en Auden glo ek wel dat ’n digter opinies mag hê en volgens ’n plan mag werk. Dit hang net af van hoe subtiel en oortuigend hy dit hanteer. Lina Spies is as ambagsvrou vaardig genoeg om die leser nog steeds te kan meevoer en verras."

Jean Oosthuizen wou by Lina weet of sy dit moeilik vind om te dig en of deursettingsvermoë ’n rol te speel het wanneer sy dig. Haar antwoord hierop was: "Om ’n talent te hê, is ’n kosbare besit, en om dit te ontwikkel en te beoefen, bring vir die ontvanger ’n besondere bevrediging mee, veral as die erkenning nie uitbly nie. Ek dink nooit aan my skrywe van gedigte as 'moeilik' nie. Dit sou egter vir my ongeveer alle sin verloor as my gedigte nie gelees word nie. Geen digter skryf vir homself nie. Die Amerikaanse digteres Emily Dickinson kon in haar leeftyd van 56 jaar net tien gedigte gepubliseer kry. Met ’n vaste geloof in haar talent het sy aanhou skryf met die oog op nadoodse roem, en vandag is sy wêreldberoemd met ’n oeuvre van ongeveer 1 700 gedigte. Talent vra om deursettingsvermoë en harde werk."

Oor hoe sy voel oor die ontvangs van ’n nuwe bundel en die kritiek wat daarop kan volg, is Lina heel filosofies: "’n Digter het seer seker oomblikke van angs oor die verwydering en misverstand wat jy kan skep tussen jou en die mense wat die naaste aan jou is deur wat jy skryf aan die openbare oog prys te gee. Die vrees het ek beslis ervaar met die publikasie van Sulamiet, maar op die ou end vertrou ek maar weer op die poësie om weer eens die 'vreemde, vertroude ompad en kortpad' te wees tussen my en diegene wat die naaste aan my is." (LitNet)

Joan Hambidge skryf oor Sulamiet: "Vir my is die korter, meer gedronge verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ’n onderwerp of persoon, loop dikwels hier die gevaar om te wydlopig of woordryk te raak – soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ’n kwessie van smaak. (...)

“Spies is ’n polemiese persoon én digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die lot van die enkelvrou – 'huidhonger' of body loneliness word eerlik beskryf.

"Dit is ’n bundel met ’n ryke tematiek waarin ’n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel." (Woorde wat weeg)

Met haar 80ste verjaardag op 6 Maart 2019 gesels AJ Opperman met Lina Spies (Die Burger, 6 Maart 2019) en sê sy vir Opperman dat dit vir haar baie frustrerend is dat daar na haar poësie verwys word as baie persoonlik, "want", sê sy, "persoonlike verse kom tog in enige vrouedigter se werk voor. Jy kry temas by hulle almal wat by die belydenisvers skakel. Met hul kinders, in my geval waar ek nie kinders het nie, die huishouding. En tog is al my bekendste verse, wat my ’n plek in die Afrikaanse literêre tradisie gegee het, persoonlik."

Publikasies:

Publikasie

Digby Vergenoeg

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1978

ISBN

079810645X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

  • Eugène Marais-prys 1972
  • Ingrid Jonker-prys 1973

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Winterhawe

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1976

ISBN

0798103302 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dagreis

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798106999 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Ontmoetings

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012670 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oorstaanson

Publikasiedatum

1982

ISBN

079811455X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Van sjofar tot sjalom

Publikasiedatum

1987

ISBN

0798121580 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Hiermaals

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129298 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kolonnade: ’n studie van DJ Opperman se bundels Heilige beeste, Negester oor Ninevé en Komas uit ’n bamboesstok binne verband van sy oeuvre

Publikasiedatum

1992

ISBN

0798129751 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Tesis (literêre kritiek)

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die enkel taak: die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson

Publikasiedatum

1995

ISBN

01874901333 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Literêre kritiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die skaduwee van die son

Publikasiedatum

1998

ISBN

0798138661 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Duskant die einders

Publikasiedatum

2004

ISBN

0798144068 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die skyn van tuiskoms: ’n keur uit haar gedigte. Saamgestel deur Johann de Lange

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798151443

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Tydelose gety

Publikasiedatum

2010

ISBN

9781869193836 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Sulamiet

Publikasiedatum

2016

ISBN

9780928316476 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Naledi

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 Lina Spies as samesteller

Lina Spies as vertaler

 

Artikels deur Lina Spies beskikbaar op die internet

Artikels oor Lina Spies beskikbaar op die internet

 

Besprekings van individuele gedigte deur Lina Spies

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top