Christen buite die kerk

  • 0

Hoe het dit gebeur dat ek buitekerklik geword het en uiteindelik in 2013 na die Woordfees amptelik uit die kerk bedank het?

Ek het uiteraard ’n lang weg afgelê totdat ek my lidmaatskap van die NG Kerk amptelik opgesê het. Of ek daarmee my band met die kerk heeltemal verbreek het, lyk skaars moontlik waar ek op twee agtereenvolgende Vrydae in die oggend aan ’n gesprek oor die kerk deelneem. Hoe dan ook, ek wil kortliks stilstaan by die vernaamste gebeurtenisse in my lewe wat daartoe gelei het dat ek ’n buitekerklike, andersdenkende Christen geword het wat my nie meer binne die kerk tuis voel nie.

1.

Boeke wat my nuut laat dink het oor die Christelike geloof:

Jesus for the non-religious deur John Shelby Spong

Koop dit by Kalahari.com.

 A new Christianity for a new world deur John Shelby Spong

Koop dit by Kalahari.com.

Why Christianity must change or die deur John Shelby Spong

Koop dit by Kalahari.com.

The reluctant parting: How the New  Testament’s Jewish writers created a Christian book deur July Galambusch

Koop dit by Kalahari.com.


Op ooghoogte: Portret van een postmodern geloof
deur Herman Wiersinga

Ek begin by ’n vanselfsprekende vertrekpunt: my opvoeding. My vader was ’n skoolhoof, ’n uitstekende onderwyser en ’n wyse opvoeder. Hy het by huisgodsdiens twee maal per dag, soggens en saans, ’n kort samehangende gedeelte uit die Bybel gelees, sonder persoonlike voorkeure, beginnende by Genesis met die bedoeling om te lees tot by Openbaring. In die godsdienstige opvoeding van sy kinders was my pa sterk formalisties. Ons het nooit oor ons geloof, die godsdiens of dogma gepraat nie. Aan die opregtheid van my ouers se geloof het ek nooit getwyfel nie. In die godsdiens het hulle kennelik die beginsels gevind waarvolgens hulle gelewe het. Ek het eenvoudig aanvaar dat ek, soos hulle, ’n gelowige Christen was.

2.

My eerste aanvegtings van dié gemaklike geloofsekerheid het ek as student op Stellenbosch ervaar. Die godsdiens het in die koshuis ’n essensiële funksie vervul: CSV, kringbyeenkomste, godsdiens voor aandete, koshuisbidure. Die vraag of jy sekerheid het dat jy gered is, het gereeld aan bod gekom en jy is voortdurend daarop gewys dat jy vir Jesus moes getuig.

Langsamerhand het daar verset by my posgevat teen al die godsdienstige aktiwiteite, veral teen die godsdiens by aandetes, omdat dit vir my al hoe meer ’n uiterlike vertoon van vroomheid geword het.

My verset het egter grotendeels latent gebly, terwyl my studie in die filosofie my lewensbeskouing ingrypend beïnvloed het. ’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Wat blywend by my ingeskerp is deur die filosoof Johan Degenaar, aan wie se voete ek vir drie jaar gesit het, en deur DJ Opperman, wat in my derde jaar professor in die Afrikaanse letterkunde aan die US was en my mentor geword het, is my waardering vir die aardse, liggaamlike en konkrete. My waardering het steeds sterker geword, omdat ek al hoe meer besef het hoe sterk my digterskap daarmee gemoeid is.

3.

Miskien was die belangrikste faktor in my uiteindelike breuk met die kerk my twee Amsterdamse studiejare in die Nederlandse taal- en letterkunde aan die Vrije Universiteit. Soos die toeval of die beskikking dit wou hê, het ek in dié tyd ingewoon by ’n Joods-Nederlandse vrou wat Auschwitz oorleef het.

Die vernietigingskampe van die Nazi’s wat vir die meeste Afrikaners ver en onwerklik is, het so na aan my gekom soos die getatoeëerde nommer op my hoogs gekultiveerde hospita se arm. Auschwitz het al hoe meer tussen my en ’n naïewe geloof te staan gekom, veral ná my uittrede, toe ek steeds meer boeke oor die teologie ná Auschwitz gelees het. Die direkte aanloop daartoe was dat ek tydens ’n periode in Nederland as gasdosent aan die VU ’n boek deur CJ den Heyer, Ruim geloven, present gekry het van ’n vriend wat in die teologie aan die Universiteit van Nijmegen studeer het,

Ek was soos ’n dorstige woestynreisiger wat uiteindelik by water uitkom en antwoorde op godsdienstige kwelvrae kry. Ek gaan nie nou in op die antwoorde nie, maar noem net die titels van enkele hoofstukke waaruit die aard van die antwoorde blyk: “Op zoek naar Jezus”, “De joodse achtergrond van het Nieuwe Testament”, “Jezus de jood”, “Geloven na Auschwitz”.

Ek het met Joodse oë na Jesus leer kyk; nie net deur Den Heyer nie, maar onder andere ook deur Andries van Aarde se boek Fatherless in Galilee: Jesus as child of God. Die onontkombare implikasie van so ’n siening van Jesus is dat ek nie meer in die Christelike dogma kon glo nie. Dat dit daarop neergekom het dat ek bande met die kerk verbreek het, is by my tuisgebring deur die kommentaar van een van my mees geliefde jong vriende, Johannes de Villiers, op die gedig “Verlies”, wat ek geskryf het ná ’n besoek aan die Yad Vashem, die Holocaust-museum, in Jerusalem in 2011:

Skuifelend in die stikdonker
van die laaste kamer van die Yad Vashem
klem ek my aan die reling teen die muur
terwyl een ná die ander liggie aanslaan
by elke opklinkende naam wat agterhaal
kon word van die kind en kleuter
wat nie anoniem gesterf het
in die helkampe van die Nazi’s nie.

Die trane wat ek nie kan keer nie
loop af langs die bolwange
van my eertydse Kinderkransgesiggie
wat meteens ’n Ariese aanskyn kry:
Laat ons skyn vir Jesus
met ’n helder glans;
skitter soos die sterre
aan die hemeltrans

Dit was volgelinge van dié Jesus
wat die moordenaars van kinders was.

Buite onder ’n son wat blaak
’n uitsig op die tempelberg:
“Kyk”, sê die gids,
“die geboorteplek van drie gelowe.”
Dis ’n troos; ’n erkenning van
waarby sy aanneem dat ek hoort,
maar ek weet die Joodse rabbi
na wie ek soek, is nie te vinde
in die moskee, die sinagoge of die kerk nie:

By ’n kruispad het ons hom kwytgeraak.

Ná ’n ete in die Wynhuis in die winter van 2011 het Johannes met verwysing na die gedig vir my gesê: “Prof Lina, besef jy dat jy met die kerk gebreek het?” Dit was die oomblik van erkenning van die afskeid wat ek lank reeds in myself van die kerk geneem het.

Nogtans het dit nog byna twee jaar geduur voordat Jean Oosthuizen se ontslag deur Kerkbode die impuls geword het wat my die moed gegee het om dié afskeid amptelik te maak. Dié Kerkbode-debakel het my op baie maniere geraak; ek bly by dié een wat verband hou met my geloofsreis: Ná Auschwitz het die kerk en die sinagoge met mekaar in gesprek getree, ’n gesprek wat hier nog skaars ’n rimpel gemaak het, en dit was oor die vraag wat Jean aan die orde wou stel, naamlik of die God van die drie monoteïstiese gelowe – die Christelike geloof, die Islam en die Judaïsme – dieselfde God is. Ek dink ’n mens hoef maar net te kyk na wat tans in die wêreld gebeur om te besef hoe noodsaaklik so ’n oop gesprek is. Die NG Kerk het Jean die slagoffer gemaak van hul poging om met die Woordfees van 2013 die oop gesprek dood te druk, omdat, soos later verklaar is, die kerk mense nie wil lei na twyfel nie, maar deur twyfel na geloof. Dit was die geleentheid vir my om die erkenning waartoe Johannes my gedwing het, uiteindelik amptelik te maak.

Naskrif:

52 Sondae van die jaar ’n Kategismuspreek: Jy kom nooit weg van sonde, oordeel en genade/vergifnis nie: Om te weet hoe groot jou sonde en ellende is en hoe jy daarvan verlos kan word. Ek is ’n Bybelsgevormde mens en ’n digter. Die Bybel is ’n wonderlike, menslike boek; die Boek agter die boeke. Met die Bybel onder my arm het ek uit die kerk uit gevlug. Leon Fouché het toe ek dit vir hom gesê het, geantwoord: “Dan is jy nou volkome gereformeerd”.

Hierdie bydrae vorm deel van 'n geloofsgesprek wat by die Universiteit Stellenbosch onder die vaandel van Eenheid vir Morele Leierskap plaasgevind het. Lees Jean Oosthuizen se oorsig van die geleentheid.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top