DJ Opperman 100 jaar: Lina Spies se bydrae

  • 0

Die digter DJ Opperman sou op Maandag 29 September 2014 honderd jaar oud geword het. Onlangs het die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch 'n feesvieringsgeleentheid in die Wilcocksgebou op die kampus aangebied waar sy menslike nalatenskap geëer is. Lina Spies deel haar bydrae by dié geleentheid.

Ondanks my jeug en my lewensblyheid was ek ’n regte klein wildewragtig toe ek my eerste Aprilvakansie by my oom en tante in Kaapstad gaan deurbring het.

Lewensblyheid inderdaad, maar ook lewenslomp en lewensku. My styfgekrulde hare – twintig jaar voor die Afro-styl – was die resultaat van ’n plattelandse tuiskarteling – ’n onnodige voorbereiding vir die universiteitslewe. Geen haarborsel kon my red nie! Maar my tante het die mens agter die verskynsel met liefde en hartlikheid ontvang.

Een Saterdagmiddag is ons na ’n matinee: ek en my tante saam met haar vriendin Marié Opperman en haar twee dogtertjies Trienke en Heila, op dié tydstip ’n wesenlike tien jaar jonger as ek. ’n Rolprent-weergawe van die Giselle-ballet, uitgevoer deur die beroemde Russiese Bolshoi, is vertoon. Ek het nooit ’n groot balletliefhebber geword nie: van die treurige liefdesverhaal vergestalt in gestileerde liggaamsbewegings op maat van musiek onthou ek vandag net ’n wit warreling. Miskien is my indrukke by voorbaat uitgewis deur my opwinding oor die vooruitsig om vir die eerste keer in my lewe ’n digter te ontmoet! Die werk van DJ Opperman was weliswaar in die die stadium vir my letterlik ’n geslote boek. Ek was nog by Marais, Cilliers, Totius en Leipoldt. Die digter het ons na die vertoning met sy motor kom haal en ons is na hulle destydse huis, Kraaines, in Tamboerskloof. Hy het sy dogters goedig geterg oor hulle traangeswolle gesiggies, ’n duidelike getuienis van ontroering oor Giselle. Ek glo nie ek het die aand meer as tien woorde gepraat nie. Ek was met stomheid geslaan, maar eintlik was daar geen rede vir die stille verwondering nie: al wat ek waargeneem het, was ’n gewone, besonder opgeruimde gesin met wie ek saamgeëet het. Na die ete het mevrou Opperman vir my haar jaaroud baba gaan wys, die pragtige slapende Diederi, en haar man het saam met my op die balkon uitgestap dat ek die liggies van die stad kon sien. Vandag dink ek aan die gewoon menslike gebare terug as volwasse toereikendheid vir die ontoereikendheid van ’n jongmens; ’n tegemoetkoming van my sosiale onhandigheid, ongemak, verleentheid. Ek het as eerstejaarstudent saam met ’n digter gekyk na sy stad se “korf van soet en goue ligte”, maar my eerste herinnering is aan die mens, nie aan die digter nie.

In my derde jaar het Opperman professor in die Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch geword. Op ’n dag het sy voorlesing met ’n oproep begin: alle studente wat verse skryf, moet hulle werk vir hom bring. Hy sou dit laat tik, afrol en in boekvorm laat bind vir klasbespreking. Alles streng anoniem het hy ons verseker, die identiteit van elke gevoelige aspirant-digter sou volkome beskerm wees. Ek het ’n volstrekte “nee “ gedink, maar Opperman het die ontwikkeling van die skeppende talent as deel van sy leeropdrag beskou en hy was verbete.

Een oggend het ek met ’n kloppende hart en bewerige bene my na professor Opperman se kantoor begewe. Toe hy uitkom, het ek twee verse, in my beste handskrif oorgeskryf uit daardie geheime boek, in sy hand gedruk, iets gemompel van dat ek nie dink dit beteken veel nie ... en min of meer weggehardloop. ’n Onherroeplike daad. Ek het medewerker geword aan DJ Opperman se eerste “Letterkundige Laboratorium”.

“Kom weg van die eie ek,” het professor Opperman geleer, “laat staan die selfbeheptheid en kyk na die wêreld om jou; leef deur die sintuie.”

Die ingrypende invloed van Dirk Opperman  op my lewe en denke het ek besef en ek was dankbaar. Deur hom weet ek dat daar ’n soort liggaamlike intuïtiewe begryp van die lewe en die wêreld is, helderder as die koue intellektuele verstaan van kale woorde.

Hy het my geleer soos net ’n ware meester dit kan doen. Hy het my geleer dat ek die wêreld met opgeskerpte sintuie moes ontdek, dat ek moes kon kruip in die vel van my medemens en hom met ’n sesde sintuig moes aanvoel, dat die oop oog en oop hart nodig is en nie die toemaak in die eie klein binnewêreldjie nie. Dit alles beteken vir die digter harde werk om waardig te wees vir die bedryf.

Geïnspireer soos ek was deur die “Letterkundige Laboratorium”-lesings, was ek nogtans vasbeslote om my nagraadse studie in die filosofie voort te sit en nie in die Afrikaanse letterkunde nie. Ten slotte het ek met gemak my onderskeiding in die filosofie gekry en dit in Afrikaans-Nederlands nooit gehaal nie. Voor gradedag en my vertrek van Stellenbosch vir die lang somervakansie het ek professor Opperman gaan groet. Wat ’n verleentheid toe die groet en die dankwoord nie sommer binne minute by die voordeur gespreek word nie, maar ek my meteens met Pa e Ma en twee oumas in die sitkamer van die Oppermans se huis, Kiepersol, in Thibaultstraat bevind. Asof ek die eerste mens is wat ’n armsalige BA-graad kry! ’n Hele gedoe – familie en al. Ek was warm en ongemaklik. Van Kraaines tot Kiepersol – en ek was steeds onwys en onhandig. My gasheer en gasvrou begrypend en menslik soos altyd. Mevrou Opperman het koffie bedien. Professor Opperman wou weet wat ek volgende jaar gaan doen. Met skielike oormoed het ek die BA-honneurs in filosofie aangekondig. Ek het nie so ’n onmiddellike en heftige reaksie verwag nie.

“O nee, juffrou, dit gaan jy nie doen nie. Jy gaan loop óf die onderwysdiploma óf die honneurs in Afrikaans-Nederlands.”

Ek was stomverbaas. Professor Opperman het in elk geval nie gewag op ’n antwoord nie.

“Kyk, ek ken die versoeking aan die lyf. Toe ek klaar was met BA wou ek ook verder studeer in die abnormale sielkunde, maar sielkunde en filosofie is die terrein van die abstrakte denke – dodelik vir die poësie.”

Hy kyk my reguit aan: “En ek werf nie studente nie.”

Die finale woord. Dit laat geen twyfel nie. Die integriteit van die hele persoonlikheid van Dirk Opperman dring hom in elke situasie aan mens op. En al voel ek nog die hunkering na die filosofie, sit ek binne ’n halfuur in my professor se studeerkamer en skryf ’n voorlopige literatuurlys vir die honneurskursus in Afrikaans-Nederlands neer. Hy begelei die name van boeke met stukkie skort kommentaar wat elke keer my wange laat warm word. Hy het my dopgehou in die letterkundige Laboratorium”-klasse. Warren en Wellek: Theory of literature. Gesien hoe my hande sweet. Hoe ek dit afdroog aan my rok. Vooruit blaai om te sien hoe ver dit van my verse af is. Shipley: Dictionary of Literary Terms. Maar daar is mooi dinge in. Lewende kerne.

Ek het die honneurskursus in Afrikaans-Nederlands deurloop. Die volgende jaar het ek professor Opperman se assistent geword en onder sy leiding begin skryf aan ’n MA oor die “bewerende en beeldende vers by Elisabeth Eybers”. Die metafoor was my erns.

In daardie jare het professor Opperman verse wat ek vir hom geneem het om te bekyk sonder my medewete na Standpunte gestuur. Dit is gepubliseer en toe ek na my opwinding hom gaan bedank, was sy kort, saaklike antwoord: “Dit is op meriete geplaas.”

So ken ek Dirk Opperman: eerlik, opreg. Menslik en ruim, volkome vry van artistieke pretensies, maar diep binne-in altyd intens betrokke by die poësie, besorg oor Afrikaans. Ek is een van talle wat hy grootgemaak het om waardig te wees vir die bedryf.

As my vader met kindertydverse die vlam van die poësie vir my aangesteek het, dan het Dirk Opperman dit laat brand.

Lees ook Wium van Zyl se bydrae.
Lees ook Etienne Britz se bydrae.
Lees ook Joan Hambidge se bydrae
.
Lees ook Chris van der Merwe se bydrae.

Lees ook Dorothea van Zyl se bydrae.
DJ Opperman 100 jaar: In klank en beeld.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top