Die Bybel as interteks in die Afrikaanse poësie: Lina Spies in gesprek met Pieter de Villiers

  • 0

Lina, jou navorsing toon watter beduidende rol godsdiens in die Afrikaanse digkuns gespeel het. Waaraan skryf jy die verskynsel toe?

Om jou vraag te beantwoord, wil ek die woord “godsdiens” met “Bybel” vervang, sonder om die rol van die godsdiens in die Afrikaanse digkuns te misken. Ook wil ek die verlede tyd verander na die teenwoordige tyd. Die Bybel neem nog steeds ’n sentrale plek in binne die Protestantisme waarbinne die Afrikaner grootgeword het en speel in die Afrikaanse poësie as sodanig ’n beduidende rol. Maar soos die Bybel en die Christelike godsdiens tot die Westerse wêreld behoort, strek die betekenis daarvan veel verder as die Afrikaanse poësie en die poësie as kunsvorm en is dit van wesenlike betekenis in die Europese en Amerikaanse letterkunde.

In die Westers-Christelike wêreld is die Bybel inderwaarheid deur die eeue heen die “Boek agter die boeke”, maar dit is ewe seer waar van al die kunste, oa die beeldende kunste (skilder en beeldhou) en musiek. Dink maar aan die skilderye van Rembrandt, soos Petrus verloochent Christus en Jeremia, treurend over de ondergang van Jeruzalem, en die beelde van Michelangelo, soos die beroemde Dawid-beeld en die Johannes- en Matteus-passie van Bach en Mendelssohn se oratorium Elia. Bybelse verhale en figure gryp kunstenaars aan. Uiteraard kan ’n mens nie die Bybel van die Christelike godsdiens of geloof skei nie, maar dit vind in die poësie neerslag uit die Woord en nie uit die dogma nie.

Hoe belangrik is die godsdienstige konteks vir ’n voldoende of toereikende verstaan van die Afrikaanse digkuns? Ontsluit dit insigte wat andersins nie werklik na vore sou kom nie? Word genoeg navorsing oor die rol van die godsdiens in die digkuns gedoen? 

Die vrae hang ten nouste met mekaar saam. Om dié drie vrae sinvol te beantwoord, staan ek stil by die ontwikkeling van ’n poësietradisie in Afrikaans waarbinne die verskil in aard en inhoud van die poësie van opeenvolgende generasies ook tot gevolg het dat die Bybel op verskillende wyses in hulle werk neerslag vind.

Afrikaans is ’n jong taal met ’n literatuur wat in die laat 19de eeu ontstaan het. Dit was die smarte van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) waardeur die Afrikaanse taal en sy digkuns volwassenheid bereik het in die oorlogsliriek van Jan FE Celliers, Totius en Leipoldt. Leipoldt was die belangrikste en mees individualistiese digter van dié sg Driemanskap by wie die Afrikaanse digters wat in die 1930’s aan die woord gekom het, die sterkste aansluiting kon vind, by name die belangrikste digters, WEG Louw, NP Van Wyk Louw, Uys Krige en Elisabeth Eybers.

Die Dertiger-broers WEG Louw en NP Van Wyk Louw se religieuse verse is ’n belangrike komponent van hulle oeuvres. WEG Louw keer ná sy debuut terug na die kerk soos die verlore seun in Jesus se gelykenis in “Ek sal opstaan” en in sy siklus oor die lydingsgeskiedenis van Christus, “Die passie van ons Heer”. Van Wyk Louw spreek sy geloof in God en die goddelike uit sonder dat dit direk verband hou met die Christelike belydenis, onder meer in sy dramatiese alleensprake “In waansin het ek gevra” en “Die profeet”.

Elisabeth Eybers se klassieke gedig “Maria” is getrou aan die evangeliese siening van ’n menslike moeder se onbegrip van haar goddelike Seun se voorbestemde kruisiging. Eybers het vroeg reeds haar sin vir die religieuse soeke verloor en agnosties geword. Haar konflik oor hoe haar dominee-vader sy “teer hart” kon versoen met die “harde stellings” van Calvyn se predestinasieleer het sy by herhaling in haar latere werk verwoord.

Die generasie van Dertig word gevolg deur die Veertigers met as belangrikste verteenwoordigers DJ Opperman, Ernst van Heerden, SJ Pretorius, GA Watermeyer en SV Petersen. Die Veertigers skryf weg van die persoonlike belydenisvers van die Dertigers na die beeldende vers. Opperman is die belangrikste digter van dié generasie in wie se werk die Bybelse invloed ook die sterkste is, soos die titels van twee van sy bundels te kenne gee: Negester oor Ninevé (1947) en Engel uit die klip (1951). Om te sê wat hom aangryp deur die metafoor, die literêre verwysing of ’n gestalte met wie hy hom vereenselwig, het Opperman diep geput uit die Bybel as oorvloedige bron. So vereenselwig hy hom in die gedig “Jona” (Negester oor Ninevé) as digter met die profeet in die Ou Testamentiese boek met dié naam.

Vir Opperman is Ninevé die grootstad; die “grysland” wat die mens se siel verongeluk. Waar Jona in die Bybelse verhaal ontvlug van Ninevé deur ’n skeepvaart na Tarsis, reis die digter in sy ontvlugting uit die “grysland” in streke van die gees gedurende die nege maande van sy vrou se verwagting van hul eersteling. So versaak hy sy profetiese roeping, maar word herbore as digter in die slot van die gedig “Moederstad” as hy voor Kaapstad staan as ’n “God-erbarmde Ninevé”. Kaapstad is as Ninevé simbool van die 20ste-eeuse stad as woestyn. Opperman vereenselwig hom in “Mériba” (Engel uit die klip) met Moses wat in die woestyn op God se bevel water uit die rots laat breek. So moet die digter Opperman in sy ongemaklike verhouding met sy volk soos Moses met die immer murmurerende Israeliete deur die gedig sin haal uit alles wat tot sy volk en land behoort.

Die ontginning van die Bybel skakel nie vir Opperman, of enige digter, ander bronne uit om uit te put vir die skryf van beeldende verse nie. Die religieuse gedig waarvan die bron die Bybel is, vra egter kennis van die tersaaklike Bybelse verwysingsveld vir die toereikende verstaan van die gedig.

Op jou vraag of daar genoeg navorsing oor die rol van die Bybel in die digkuns gedoen word, moet ek helaas antwoord dat dit in die algemeen nie gebeur nie. Op die uitsonderings kom ek later terug. In die Afrikaanse literatuurgeskiedenisse en literêre kritiek word daar meermale nie indringend ingegaan op Bybelverwysings in digters se werk nie. Literatore spesifiseer merendeels bloot die tersaaklike Bybelse teks sonder om enigsins in te gaan op die tekstuele verband tussen die literêre en die Bybelse teks.

Wat my eie navorsing in dié verband betref, wil ek wys op my belangstelling in die teologie ná my uittrede as professor aan die Universiteit Stellenbosch. Naas Afrikaans-Nederlands was filosofie my hoofvak vir die BA-graad, en ná my uittrede het my passie vir die filosofie deur persoonlike kontakte met teoloë spontaan oorgegaan op die teologie. Ek het baie en intens gelees. Die Bybel het vir my nuut geword en binne Bybelse raamwerk ook die poësie van meerdere digters. Kennis van die Bybel is die voor die hand liggende rede vir navorsing oor die neerslag daarvan in die digkuns.

Jy het uitgebreide blootstelling aan die Nederlandse letterkundige wêreld. Hoe sou jy hulle digkuns met godsdienstige temas vergelyk met die Afrikaanse digkuns daaroor?

Naas die Afrikaanse letterkunde is dit wat betref die kennis van die letterkunde van ander tale inderdaad die Nederlandse letterkunde wat ek die beste ken. Dit is vanselfsprekend, omdat ek met studieverlof as jong dosent aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) aan die Vrije Universiteit in Amsterdam in die Nederlandse taal- en letterkunde gestudeer het. Ek het deur die beheersing van Nederlands as spreektaal wat van my vereis is, die Nederlandse poësie toe eers werklik leer ken. Ook het ek toe reeds ’n belangstelling gehad in die invloed van die godsdiens en die Bybel op die poësie, en het my skripsie vir die Drs Litt (nou die meestersgraad) geskryf oor die digter Martinus Nijhoff se sonnettesiklus “Voor dag en dauw”, met spesiale verwysing na die religieuse moment in sy poësie.

Die liefde vir die poësie is ’n leeftyd se ontdekkingsreis, maar ’n leeftyd is te kort vir ’n literator om meer as net enkele digters se poësie grondig te leer ken. Ek kan my dus net uitspreek oor die ooreenkomstige godsdienstige temas in die poësie van Opperman en Nijhoff wie se verwantskap meer as die gedeelde ontginning van die Bybel insluit. Jaap Goedegebuure, emeritus professor aan die Universiteit van Leiden, het ’n drieluik oor die invloed van die Bybel op die Nederlandse letterkunde geskryf: De schrift herschreven (1993), De veelvervige rok (1997) en Wit licht (2015). ’n Mens kan dus aanvaar dat Afrikaanse en Nederlandse digters en skrywers meer aanklank by mekaar sal hê op grond van die Christelike geloof en die Bybel. Ondersoek daarvan lê dus voor die hand.

My kennis van die jongste Afrikaanse poësie skiet te ver te kort vir my om te sê of godsdiens in die digkuns van ’n jonger geslag digters nog ’n rol speel. In ’n gesekulariseerde samelewing soos die Nederlandse word die kerk gemarginaliseer en die Bybel ’n geslote boek. Jaap Goedegebuure het in die onlangse verlede aan my gesê dat hy sy studente die Bybel laat lees om die letterkunde te verstaan. My indruk is dat daar ook by die jonger en die jongste Afrikaanse digters nie ’n sterk invloed van die godsdiens en die Bybel uitgaan nie. Ek kan egter verkeerd bewys word, maar dit lê nie aan my om dit te doen nie. In my literêre navorsing hou ek my by die digters wie se werk ek van binne-uit ken. Jou vrae oor die jongste Afrikaanse poësie laat ek dus onbeantwoord. 

Is daar verskille tussen die rol van godsdiens en die rol van die kerk in die Afrikaanse digkuns?

Ek het reeds ingegaan op die rol van die godsdiens op die Afrikaanse digkuns deur daarop te wys dat dit onlosmaaklik verbonde is aan die Bybel. Die kerk en die verkondiging genereer nie sonder meer poësie nie. Die Nederlandse Tagtigers het die Nederlandse poësie in die Romantiek tot Europese peil verhef uit die beklaenswaardige dieptepunt waartoe dit gedaal het deur die predikantedigters se domineespoësie. Verkondiging as interpretasie sou ’n impuls kon wees vir ’n gedig. Die kerk speel net ’n rol in die poësie van predikante of teoloë wat op literêre verdienste tot die literêre kanon van ’n letterkunde gereken kan word. In die Afrikaanse poësie is dit Totius en IL de Villiers. Dit is, helaas, ’n feit dat ’n predikant nie dikwels ook ’n goeie digter is nie. Daar kan meerdere redes voor wees. 

Hoe prominent is die nie-Christelike godsdienste in Afrikaanse digkuns?

Ook op dié vraag moet ek jou ’n antwoord verskuldig bly. Ek is eenvoudig nie geïnteresseerd in ander godsdienste nie, behalwe in die Judaïsme, wat in elk geval die “ouer” van die Christelike godsdiens is. Weliswaar is die Zen-Boeddhisme ’n sterk invloed op die poësie van Breyten Breytenbach, maar deur sy woordmeesterskap is verwysings so geïntegreer in sy verse dat die leser onbewus is van ’n ontglippende betekenisnuanse en kan hy die gedig in sy geheel verstaan en waardeer. Daarvan is die Bybelverwysing in sy liefdesvers “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif” ’n sprekende voorbeeld. Die rooiborsduif is die boodskap wat die geliefde veilig sal bereik, “want niemand sal ’n boodskap wat rooi is skiet nie”. En hy “weet al die jagters sal dink dis die son”. Die daaropvolgende reëls, “Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder/ en waar hy vlieg daar skitter oseane”, is ’n subtiele verwysing na Prediker 1:5: “En die son gaan op en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.” Breyten se baie Christelike verwysings is deel van sy Afrikaanse woordeskat. Hy is inderdaad ’n majeure digter. 

Hoe het jou eie opvatting van godsdiens in jou gedigte ontwikkel? Wat is op die oomblik prominente godsdienstige temas in jou eie werk?

Hier kombineer ek twee verwante vrae uit jou oorspronklike vraelys. Inderwaarheid vra jy my om my uit te spreek oor “eie werk” – ’n hoë eis waarmee elke digter wat ’n substansiële bydrae tot sy/haar literêre tradisie gelewer het, vroeër of later gekonfronteer word. Ek is ’n Bybelsgevormde digter, opgevoed in ’n ruim Calvinisme met ’n vader wat as ware opvoedkundige by oggend- en aandgodsdiens ’n sinvolle gedeelte uit die Bybel voorgelees het. Die sterkste religieuse gedigte in my oeuvre van tien bundels staan in my derde bundel, Dagreis, en my tiende en jongste bundel, Sulamiet. Reeds in my gedig “Curriculum vitae” in Dagreis het ek geskryf oor Jesus die Jood, en in die ontwikkeling van my godsdiensbeskouing het ek al hoe meer met Joodse oë na hom begin kyk. Ek kan my godsdiensbeskouing nie beter formuleer as wat ek dit gedoen het in die kort karakterisering van Sulamiet op die bundel se agterbladteks nie: “Binne die perspektief van die herwonne paradys, staan Jesus nie sentraal as die Gekruisigde en Wonderwerker nie, maar as die Joodse rabbi wat die koms van die Koninkryk reeds op aarde verkondig het. God is vir my transendent: die hiëroglief, die ontwykende aan wie ons verbonde is in ons woordeloosheid en deur die musiek.”

Jou artikel oor Ina Rousseau het op die oog af ’n verrassende invalshoek op haar digkuns ontsluit. Hoekom het jy die artikel geskryf?

Ek het die artikel geskryf om opnuut aandag te vestig op die belangrikheid van Ina Rousseau se klein oeuvre waarin die deurlopende tema van die verlore paradys my opgeval het soos wat die titel van haar debuut, Die verlate tuin, reeds te kenne gee. By die skryf van my artikel het dit vir my geblyk dat waar dié tema in sekere gedigte nie eksplisiet uitdrukking vind nie, dit misgekyk word en die interpretasie nie reg laat geskied aan die integrasie van al die elemente in die gedig, dus in sy volle aanbod, nie. Ek het met my interpretasie daarop ’n korrektief probeer gee. My aangetrokkenheid tot Rousseau se poësie – soos by Opperman en Nijhoff – lê daarin dat die Bybel en die godsdiens, weg van die direkte belydenis, subtiel uitdrukking vind in haar werk.

Ten slotte: terugkeer tot die vraag of die neerslag van die godsdiens en die Bybel genoegsaam in die literêre kritiek ontgin word.

Wat my eie poësie betref, is dit aan teoloë dat ek dank verskuldig is vir hulle genoegsame verstaan van my religieuse verse, juis omdat hulle ’n dieper insig het in die rol van die Bybel in my werk. Een van die teoloë is Andries van Aarde van die Fakulteit Teologie van die Universiteit Pretoria. Ons voortgaande gesprek oor die teologie en die poësie is vir hom as teoloog, maar veral vir my as digter, van besondere betekenis. Sy boek Fatherless in Galilee: Jesus as child of God het my gedig “Ontdaan” in Tydelose gety (2010) geïnspireer soos die opdrag van die vers aan hom te kenne gee.

Met ’n aanhaling uit sy genoemde Jesus-boek belig ek die sentrale tema in die religieuse verse van die vierde afdeling van Sulamiet (2017). Ek kan nie nalaat om hier ook besondere erkenning te gee aan Christo Lombaard van Unisa nie. Hy het twee van my gedigte in Sulamiet, die titelgedig “Sulamiet” en “Sacrifcium”, in Engels vertaal en in twee internasionale lesings bespreek: “Sulamiet” in verband met Hooglied en “Sacrificium” in verband met Genesis 22, oor die offerande op Moria. Groter erkenning vir my religieuse gedigte deur sy insig wat literatore meermale ontbreek, kon ek nie gekry het nie. My dank gaan ook uiteraard aan jou vir die geleentheid wat jy my gee om vir LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) artikels te skryf waaruit ek enorme werksbevrediging en vervulling put.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top