Die skyn van tuiskoms teken 'n beeld van die digter

  • 0

Die skyn van tuiskoms: ’n Keur
Lina Spies
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN:9780798151443
Prys: R160
 

Klik hier en koop Die skyn van tuiskoms: ’n Keur nou van Kalahari.net!

 

“A poem begins with a lump in the throat,” lui die bekende aanhaling van Robert Frost, “a home-sickness or a love-sickness. It is the reading out toward expression; an effort to find fulfillment. A complete poem is one where an emotion has found its thought and the thought has found the words.”

Dít is Lina Spies se poësie vir my: emosie wat op slim, liriese en soms ook speelse manier in woorde gegiet is en die leser nie onbetrokke laat nie. Dit laat jou nuut beleef, nuut waarneem, en maak jou deel van die spreker se ervarings. Spies se gedigte is intiem en persoonlik sonder dat dit ooit vasval in ’n gewroeg van die persoonlike. En tog teken dit onwillekeurig ’n beeld van die digter self.

Spies se oeuvre strek oor byna veertig jaar en agt digbundels. Die skyn van tuiskoms bevat van haar sterkste verse wat só eiesoortig is dat dit dadelik herkenbaar Spies is. In haar gedig “Sigeuner” lees ons: “Opsom is slegs vir prosodie,/ die vers wil fyner ryg en rank” – wat dan wel in haar gedigte gebeur. Haar verse is tegnies vaardig met slim woordspel, kinderrympies en inspelings op gedigte van onder meer haar mentor Opperman, Eybers en Van Wyk Louw. Hierdie verse is ritmies, byna musikaal, en vra om hardop voorgelees te word. In een van die verslae wat Spies vir LitNet se skryfskole skryf, sê sy dat “ritme die asem van poësie” is, ’n inspeling op haar gedig “Manifes”:

en my verse kan leef
omdat die verlange
die asem is van die poësie.

Met sulke musikale verse is dit byna vanselfsprekend dat musiek, soos die skilderkuns, een van die deurlopende temas van haar werk is. Vergelyk maar gedigte soos “Scherzo by sonhoogte”, “Brief aan Mozart” en “Musiek”. Hierdie gedigte getuig van ’n fyn oor, want “(d)ie skepping verleen sy oudiënsie/ net aan wie die fynste luister” (“Verwondering”). Die leser het hier te doen met nie net ’n fyn luisteraar nie, maar ook ’n fyn waarnemer. Haar verse is ryk en amper barokagtig met woordslim beskrywings van onder meer die landskappe van haar jeug, die Lae Lande en haar geliefde Stellenbosch. Heel dikwels stel sy die natuur, die hier en nou van haar ruimtes, gelyk aan die hemel of voorkeurend bo die hemel. Tog skilder sy nie net ’n sublieme, nostalgiese landskap nie; sy is ook bewus van die “skuilende onheil” (soos Camille Paglia ook beskryf in haar boek Sexual Personae. Art and Decadence form Nefertiti to Emily Dickinson):

Die natuur is hier getem;
die aarde is ’n knus, kunstige lappieskombers,
’n geborduurde, gesellige prentjie:
      huisje, boompje, beestje
Veilig diep gebêre lê die wete van geweld;
alle skuilende onheil; alle dreigende drif:
      rotsstortings, orkane, aardbewings
      opstand, verkragting, verset
Hoe geborge is ek, hoe bly.

Spies is ’n digter wat vanuit die landskap dig met ’n onlosmaaklikheid aan die ruimte waarin sy haar bevind. Haar verbondenheid aan Amsterdam en Stellenbosch, die Lae Lande en Suid-Afrika, en die verskeurdheid wat sy hiervolgens voel, plaas haar as ’n tipe tussenganger-figuur altyd op reis van die een na die ander. Is sy in Amsterdam, hunker sy na die Bolandse Stellenbosch, die Vrystaatse landskap van haar kinderdae. Bevind sy haar in Stellenbosch, verlang sy weer na Amsterdam, “stad van my hart” (“Wat ver is en naby”), soos beskryf in “Tweespalt”:

Van al die lande
van die aarde
is daar vir my maar twee:
dis die Boland
en die lae landjie by die see.
Vertoef ek in die een,
is die ander ’n gemis:
dis daarom dat dié hart van my
so vertroud met die verlange is.

Die verbondenheid aan twee wêrelde, twee landskappe, hang saam met ’n gevoel van ontheemding en ’n soeke na vastigheid en ’n plek waar die spreker “behoort”: “ek behoort nie meer vanself/ maar moet steeds dieper na my wortels delf” (“Heemkeer”). Hierdie soeke na vastigheid vind ook neerslag in ’n soeke na betekenis in die hiermaals en die hiernamaals, die ruimtes en die tyd waarin die spreker haar bevind. Vir Spies is landskap onlosmaaklik gekoppel aan identiteit. Sy teken haar lewensreis deur middel van verskeie landskappe (sien “Vooruitsig”) wat nou verbind word met nostalgiese jeugherinneringe en sy vind troos in byvoorbeeld die Vrystaatse landskap (“Liewe Antjie Krog”):

Jy het my getroos hierdie bitter somer van ’82,
met die roep van korhane en patryse
en die enkele fluite van skaars sangvoëls,
jy het my opnuut geleer
dat die aarde om sy prag ontwil
die waarmerk van ons lewens bly.

Byna alle emosies en ervarings word direk met ’n ervaring binne die landskap verbind. Wolke word byvoorbeeld “tolke van verlang” (“Belofte van reën in die Boland”), en wanneer die spreker “hom gevind het”, hunker sy in Suid-Afrika na “groothartige” Amsterdam, die stad wat die geliefdes “veilig in moet sluit/ want onder hierdie hemel hoort ons liefde nie:/ daarvoor is die lig te skerp, staan die bome te bloot,/ leef die huise te naak” (“Wat ver is en naby”). By ’n mislukte verhouding kan sy oor die liefde treur “met my eie donker oë, verwonde hart,/ eindeloos in my ruim land/ wat skerp kontoere van die hartseer maak” (“Lou Andreas-Salomé: ’n selfportret”). Want oplaas is die spreker (en die leser) hier “op reis nie na ’n stad met gragte/ maar na ’n mens met ledemate” (“Impasse 1978”).

Spies verwoord soos geen ander digter in Afrikaans nie die posisie van die enkellopende, kinderlose vrou. Sy dig met groot deernis oor die eensaamheid, die vervreemding, die soeke na ’n maat wat benewens intellektuele gesprekke ook ’n boom voor die venster kan plant (“Kuur vir die kuusheid”). Sy beskryf die “gewoonheid van alleen-wees” vanuit die posisie van een vir wie die “protokol van anders-wees” ontsien is: “jy hoort nie by ’n lesbiër-klub nie,/ speel nie brug nie,/ word gewoonweg aangeteken/ op die gastelys van die familietroue” (“Vrygesel”). Vir só ’n vrou is daar slegs die troos van ander se kinders wat maar ’n “buitebeentjie van my” kan wees en van die spreker ’n “nooit-vanselfsprekende altyd-bevoorregte” maak (“Twee verse vir Marileen”). Miskien juis vanweë die spreker se kinderloosheid vind ons van die mooiste elegiese verse vir en oor kinders (“Op die dood van Riëtte”, “Bogrympie vir Cárolie”, “Voorjaarsboodskap”, “Klein ewemens”). Spies ondersoek die weerloosheid, die broosheid en kwesbaarheid van kinders en gee ’n besondere stem aan die klein stemloses wat ly onder geweld, oorlog en mishandeling. In haar gedigte vind die leser telkemale die hunkering na ’n kind en die geborgenheid wat saam met so ’n verbintenis kom:

Hy kon jou wat ek so begeer het
nie uit my verlos nie
net maar die vers.
(Uit “Drie laelandse verse vir die nie-ontvangene nooit-geborene”)

Die spreker se keuse, hoe noodgedwonge of (on)bewustelik ook al, is die woord en haar digterskap bo kinders. So word haar posisie as enkellopende ook verder geproblematiseer wanneer sy daarvan beskuldig word dat sy woorde eerder aanhang (“Woordspel I”):

Goed dan, ek hang aan woorde
bo die afgrond van my bestaan:
ek speel daarmee en ek spoeg dit uit
en ek ken alleen die wraak van woorde
as hulle met my owerspel kom pleeg
tot my reddig en my reinheid telkemaal.

Terwyl haar digterskap ’n redding is, word dit dikwels ook ’n hindernis. Maar uiteindelik is dit binne die poësie dat hierdie spreker haar tuiste vind. Soos die agterblad van die bundel tereg sê, word “taal (dan uiteindelik) ’n landskap op sigself, ’n tuiskoms”.

Spies het werklik ’n uitsonderlike stem. Haar liriese en elegiese verse spreek van heimwee en nostalgie, die ontnugtering van afskeid en verlies, maar is ook ’n viering van die lewe, die aarde en aardse, en die landskappe waarin ons ons bevind. Die nostalgiese toon van haar verse, die eerlikheid en weerloosheid van die spreker veroorsaak ’n byna meditatiewe, intieme leeservaring. Die leser vind van die mooiste liefdesegedigte in hierdie bundel, verse wat die liggaamlike verken, wat heimwee en verlies, afstand en alleenwees verwoord.

In haar boek Break, Blow, Burn skryf Camille Paglia dat die poësie ’n spirituele ervaring is – vir sowel die digter as die leser: “Poets have glimpses of other realities, higher or lower, which can’t be fully grasped cognitively.” ’n Goeie gedig tap in by ’n primitiewe energie, dit breek skanse af en lewer kommentaar op ons waarneming. “Animated by the breath force (the original meaning of ‘spirit’and ‘inspiration’), poetry brings exhilarating spiritual renewal.” Ons kan veel sê oor die doel en uitwerking van goeie poësie. Maar na álles bly die lees – en veral die oordeel – van poësie erg persoonlik en subjektief. Die skyn van tuiskoms is vir my ’n besonderse bundel wat reg laat geskied aan ’n besonderse digter, en dit laat my uiteindelik met Frost se “lump in the throat”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top