Tirza: Die moderne mens se bestaanskrisis

  • 0

tirzavertaal240

Tirza
Arnon Grunberg (vertaal deur Lina Spies) 
Protea Boekhuis
ISBN: 9781869198244

Arnon Grunberg, een van Nederland se belangrikste eietydse skrywers, is op 22 Februarie 1971 in Amsterdam gebore as die seun van Joodse migrante, oorspronklik uit Duitsland. Hy debuteer in 1994 op 23-jarige ouderdom met Blauwe Maandagen, verower dadelik ’n literêre prys en is sedertdien voortdurend op radarskerms. Sy nagenoeg 15 romans (waarvan twee onder die skuilnaam Marek van der Jagt), rubrieke, literêre artikels en televisieoptredes getuig van ’n byna ongeëwenaarde werkywer. Tirza, sy jongste roman, verskyn in 2006 en verower in 2007 twee van die belangrikste literêre pryse in Nederland, naamlik die Goue Uil- en die Libris Literatuurprys. Na vele herdrukke en ’n film in 2010 is die boek in 2014 uiters keurig deur Lina Spies in Afrikaans vertaal.

Tirza, ’n eksistensiële roman, roep onmiddellik Jean-Paul Sartre (1905–1980), se motto, “Existence before essence”, op (Honderich 1995:791–4). In die afwesigheid van vaste strukture en waardesisteme, waaronder tradisies, religie, kultuur en geskiedenis, voorheen belangrike verwysingspunte om die essensie van ’n menslike lewe te bepaal, staan die individu as afsonderlike entiteit, sy behoeftes en begeertes nou sentraal in elke situasie (348). Die uitoefening van sy vrye wil is nou fundamenteel tot singewing (Kierkegaard). Ten einde ’n idee van sy bestaan te vorm moet die individu, ten minste van buite gesien, staatmaak op ander mense se menings oor homself (156 en 349). Wanneer hierdie verhoudings om die een of ander rede versteur is en hierdie menings niks anders as verwronge spieëlbeelde is op grond waarvan die individu ’n eie identiteit moet konstrueer nie, lei dit tot ’n bestaanskrisis wat aansluit by Sartre se opmerking “Hell is the other” (No Exit, 1943, bl 65).

Die teenwoordigheid van ander plaas ook ’n verdere beperking op die individu se vrye wilsuitoefening deurdat hy meermale vasgevang word in situasies waaroor hy geen beheer het nie, byvoorbeeld die land of gemeenskap waarin hy woon, die heersende politieke bestel, sy gesin, afwykende gedrag van gesinslede, ens. Die aanwesigheid van hierdie gemeenskapsbeperkings lê die individu se vrye wilsuitoefening aan bande (Heidegger in Honderich 1995:257–61). Adorno, wat hoofsaaklik oor Beethoven se musiek in sy laaste jare gewerk het, se argumente rakende vooropgestelde en dus “aanvaarbare vormgewing” wat kreatiwiteit aan bande lê, sluit hierby aan (Tirza bl 280). Volgens die eksistensialistiese uitgangspunt moet besluite, of keuses, altyd gegrond wees op innerlike oortuiging en nie omdat dit deur die een of ander waardesisteem afgedwing word nie. Hofmeester is ’n onderskrywer van hierdie argument, want hy het byvoorbeeld aan sy kinders geleer dat hulle niks moet aanvaar nie, alles moet betwyfel, maar boweal, op niks anders as eie intelligensie moet vertrou nie (224).

Temas wat in hierdie veelvlakkige roman onder die loep geneem word, is onder andere ’n lang huwelik, die posisie van vroue in die samelewing, liggaamlike verval en verlies, uitbuiting, taal en kommunikasie, ouer-kind-verhoudings, en wat normale gedrag is. Vir hierdie artikel word egter kortliks gefokus op temas wat verband hou met filosofiese denkwyses of wêreldbeskouings wat aanwending vind binne die roman. Saam met eksistensialisme ondersoek Grunberg ook die moderne humanistiese wêreldbeskouing en die uitwerking daarvan op ’n individu wat in ’n bestaanskrisis vasgevang is.  Hofmeester word as ’n onbetroubare karakter  geteken en die skrywer meng op geen wyse in by sy optredes en besluite nie. Leemtes in die teks word oorbrug deur die inkorporering van intertekstuele bronne en verwysings. Dit bly natuurlik elke leser se verantwoordelikheid om hierdie bronne en verwysings te identifiseer en by te werk vir behoorlike interpretasie van die roman, anders bestaan die gevaar dat lesers, net soos die hoofkarakter, aan die einde van die verhaal vervreemd en ontredderd gelaat word.

Grunberg tregter elemente uit verskillende eksistensiële en humanistiese denkrigtings as agtergrond, raamwerk of begronding vir die stof wat hy aanbied. Hiernaas kan sy hoofkarakter net nie die tyd vind om die ekspressionistiese digters te vertaal wat hy hom ten doel gestel het nie, waarskynlik as gevolg van die feit dat laasgenoemde se lewens- en wêreldbeskouing juis die teenoorgestelde van ekspressionisme suggereer (Blumer, 94–6). Uit hierdie drie denkrigtings word Hofmeester se lewens- en wêreldbeskouing bevestig, en sy optredes en besluite gemotiveer en dus meer geloofwaardig en verstaanbaar. So byvoorbeeld verwys die skrywer onder andere na een van Jean-Paul Sartre se bekendste opmerkings in sy drama No Exit (1943), betrek hy Madame Bovary, ’n roman deur Gustave Flaubert, en hark ander filosowe en skrywers, onder andere Adorno en Tolstoi, by. ’n Aanhaling van Adam Phillips, ’n bekende Britse psigoanalis, as motto voor in die boek, belig ook Hofmeester se perspektief op gebeure. Elkeen van hierdie intertekstuele verwysings en bronne vervul ’n baie spesifieke rol in die roman en kan daarom nie geïgnoreer word nie. Tog is die belangrikste intertekstuele verwysing waarskynlik Dostojewski se Notes from the Underground, omdat dit ’n direkte parallel vorm met die stof wat in Tirza aangebied word. Hierdie werk, wat net voor die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog in 1944 gepubliseer is, word allerweë as die eerste eksistensialistiese roman beskou (Degenaar 1992:91–2).

Die laaste stelling hier bo is natuurlik aanvegbaar. Reeds in die Klassieke periode in Griekeland verwys literêre werke na singewende elemente. Só byvoorbeeld argumenteer Sophokles dat die enigste sinvolle lewe wat bestaansreg het, dié is van ’n individu wat voortdurend die basis (waardesisteem) wat sy besluite en optredes motiveer, binne die groter menslike kondisie ondersoek (Plato, The Apology).

’n Eksistensialistiese lewens- en wêreldbeskouing is ’n direkte uitvloeisel wanneer die wêreldorde om die een of ander rede versteur is en daarom het verskeie literêre werke met hierdie tema gedurende en veral na die Eerste en Tweede Wêreldoorloë verskyn. Grunberg wys egter in sy roman daarop dat ook persoonlike gebeurtenisse in ’n individu se lewe tot so ’n bestaanskrisis kan lei, of ten minste momentum daaraan kan verleen. Jörgen Hofmeester deel verskeie insidente uit sy kinderjare met die leser wat ’n invloed op sy vormingsjare en latere lewe het en gehad het. As kind is hy aangerand, want hy het dikwels gebloei (121); hy is op skool (154) en selfs op universiteit geboelie (332) en aan trauma blootgestel wat sy kindergemoed beïnvloed het. “Hoe meer hy gesien het, hoe meer het die gedagte by hom opgekom wat nooit met die wêreld gedeel kan word nie. Om dié rede sou dit hom goed te pas gekom het as hy blind was” (204). Reeds op vyftienjarige ouderdom was sy buitestanderskap gevestig en het hy aan niks deelgeneem nie (334). In sy ouerhuis is geleer dat alleen harde werk jou teen die ellendes van die lewe beskerm. Niemand kon hom die “regte manier van lewe” leer nie. Rolmodelle was afwesig en die menslike kondisie waaraan hy blootgestel was, het geen uitkoms of ondersteuning gebied nie. Inteendeel; hierdie omstandighede was aanleidend tot die volwassene waarin hy ontwikkel het. (Miskien verklaar dit die leser se empatie en deernis regdeur die verhaal.) “So het hy die man geword wat op die grond kyk as hy ’n straat oorsteek, ’n man wat na sy skoene staar as hy met ’n waentjie deur die supermark slenter, ’n man wat die blikke van ander vermy asof hy bang is dat sy geskiedenis op sy gesig geskryf staan. Die geskiedenis as ’n skurfagtige wond. ’n Merkteken” (210).

Ons leer Jörgen ken as die “ideale” vader, koning van sy huishouding (vandaar sy naam) en besig om die beste partytjie van alle tye vir sy dogter, Tirza, te reël na die voltooiing van haar hoërskoolloopbaan. Dit is pateties om te ervaar hoe Hofmeester, wat probeer om deel van die partytjie te wees, se buitestanderskap eerder bevestig word. Die hoofgereg wat hy as hoogtepunt van die partytjie beplan het, kry geen aftrek nie. In plaas van oorwinning en die smaak van sukses in sy mond moet hy toekyk hoe sy vrou, wat pas na drie jaar se afwesigheid weer by sy huis opgedaag het, halfnakend op Dolly Parton se musiek ’n ontkleedans op die eetkamertafel uitvoer (297) en met minderjariges flankeer. Boonop daag Tirza laat by die partytjie op, maar dit lyk nie juis asof iemand haar gemis het nie. Pas na haar aankoms deel sy hom mee dat sy Choukri, haar migrantevriend, as metgesel op haar reis na Namibië saamneem. Haar afhanklikheid van hom as vader en die gesagsverhouding tussen ouer en kind word nou geherdefinieer. As volwassene neem sy haar eie besluite en sy hoef dit nie aan iemand te verduidelik nie. Hierdeur word Hofmeester ontneem van sy identiteit as ’n “suksesvolle vader”. Net soos die koning in Shakespeare se King Lear weier Hofmeester om die natuurlike veranderings in ’n ouer-kind-verhouding wat met volwassewording gepaardgaan te aanvaar en hierdie feit teken die begin van sy finale ondergang.

Die skrywer vestig reeds met die aanvang van die roman aandag op die destruktiewe gevolge van versplinterde verhoudings en beklemtoon dat dit die belangrikste oorsaak is dat die individu eensaam, vervreemd en geïsoleerd is (225). So byvoorbeeld sê Hofmeester op bl 45 dat hy maar min van ander mense begryp en hy keer al hoe meer in homself. “Soveel dinge was vir hom onverstaanbaar: mense, sy eie gesin, mense se opvattings, onverstaanbaar en onbekend. Hy kon nie tot hulle deurdring nie. Nie tot hul opvattings nie en nie tot die mense self nie” (134). Hierdie gevolgtrekking lei tot verdere vervreemding en isolasie, want Hofmeester wil nie weet wat die name van mense is nie, want dan raak dit persoonlik, begin dit soos familie voel (120). Selfs “die eggenote” bly naamloos, wat nogal veel sê van hul verhouding.

Omdat Hofmeester net nie daarin kan slaag om sinvolle verhoudings aan te knoop nie, vier selfsug en eiewaan in Tirza botoon, ander karakters word deur Hofmeester se oë geskets en dan op ’n tipies humanistiese manier. Hulle moet die skuld dra vir dit wat van hom geword het. Hy het nie veel erg aan hulle emosies of hoe sy optrede/besluite hulle lewens geraak en in die proses verwoes het nie. Op bl 80 verwyt die eggenote hom byvoorbeeld dat hy haar lewe verwoes het. Eintlik is dit regdeur die roman die gevolg van sy optrede. Hy slaag uitmuntend daarin om die lewens van die mense wat die naaste aan hom is, permanent te verwoes, of hulle daarvan te ontneem. Hy oorweeg ook nie eens die moontlikheid dat hy self die oorsaak van Tirza se dieetsiekte kan wees nie. Hy gebruik hierdie tragiese voorval eerder as nog ’n geleentheid om sy persepsie van homself in die oë van ander te promoveer. Hy wat Hofmeester is, staan sentraal en dit is al wat vir hom belangrik is, en wanneer Ibi saam met haar migrant ’n nuwe lewe in ’n ander land begin, kan dit hom nie veel skeel wat verder van haar word nie. Hy weer haar gou uit sy lewe om eerder sy aandag te fokus op die volgende slagoffer en haar bydrae tot singewing van sy lewe. Hy skenk nie eens oorweging aan die moontlikheid dat Tirza haar eie weg wil baan nie, maar blameer onmiddellik ’n buitestander. Verhoudings, waarna onder andere Kant en Sartre verwys as singewende elemente in die individu se lewe, is skeefgetrek. In plaas daarvan dat dit waarde tot sy lewe byvoeg, is dit eerder die bron van sy uiteindelike ondergang. Dit spel tragedie en Tirza is die vergestalting daarvan in ’n moderne wêreld.

Wanneer ’n sinvolle lewe die individu bly ontwyk en hy toenemend verward, eensaam en ongeborge voel, neem hy sy toevlug tot ’n skeefgetrekte humanistiese denkwyse, volgens Grunberg die “vigs” van ons tyd (455). Eerder as om toe te laat dat die bereiking van individuele potensiaal die basis van eiewaarde vorm, definieer die individu sy identiteit op grond van eksterne faktore soos materialisme, mag, sy beroep, posisie in die samelewing, ens. Self sê Hofmeester dat status vir hom essensieel is (14).

Allan Phillips (2013) argumenteer dat die individu in die moderne era vastigheid soek in verbruikerskapitalisme waarin “om jouself te ken” gewoon beteken om te weet wat jy begeer en daar moet onmiddellik aan hierdie begeertes voldoen word. Die fokus val op verkryging van die objek en verkieslik sonder om enige prys daarvoor te betaal. As jy dus kan wegkom met iemand se spaargeld, is dit jou wins. Volgens Phillips is ons afgeleide sekerhede niks anders as ’n illusie van alwetendheid nie, nie alleen van wat jou begeertes is nie, maar ook van dit waarvan jy wil ontsnap.

Wanneer hierdie eksterne faktore ook nie die gewenste oplossing bied nie, kruip die mens weg agter maskers en ’n voortdurende rollespel waarin hy later só vasgevang word dat hy nie meer kan onderskei tussen realiteit en die front wat hy voorhou nie. Mense vertolk ’n karakter met ’n oënskynlik ideale, suksesvolle lewe, maar ver verwyderd van hul eie belewing van die werklikheid. Hierdie maskers waaragter mense leef, veroorsaak net meer isolasie, vereensaming en vervreemding, soms tot so ’n mate dat geen interaksie met ander mense meer moontlik is nie. Soos in ’n toneelstuk word insidente in afsonderlike tonele verdeel en daarom meer leefbaar gemaak, pyn meer hanteerbaar. So byvoorbeeld vertel Hofmeester stuk-stuk hoe hy sy werk verloor het, hoe hy die huiswerker uit Ghana verkrag het, van Tirza wat weggegaan het, van die moord op haar en Choukri, ens. Later weet die karakters in die “drama” (Hofmeester in hierdie geval) ook nie meer wie of wat hulle self is nie, omdat hulle so vergroei het met hul rolle dat hulle nie besef dat daar ’n alternatief is nie.

Hofmeester wil op Tirza se partytjie ’n “presentabele en sjarmante indruk maak” van iemand wat ’n sinvolle lewe lei (12). Hy skets homself as die “ideale” vader van ’n “hoogs, hoogs begaafde” dogter. Hy woon in ’n gerekende woonbuurt; hy het, wel tot onlangs, ’n gerespekteerde beroep beoefen, alhoewel hy voorgee dat dit nog steeds die geval is; hy het ’n neseier bymekaargemaak, is getroud – weliswaar ongelukkig, maar ook dit is standaard – en probeer om, ten minste na buite, aan te sluit by die gemeenskap se siening van ’n suksesvolle persoon. Die leser kom vinnig agter dat alles maar net ’n rookskerm is, ’n rollespel waaragter hy sy onsekerheid wegsteek. Hy het nie die partytjie vir Tirza gereël nie, maar eintlik vir homself. Haar vriende, maar ook onderwysers, moet sien hoe ’n goeie vader hy vir haar is en was: geen skoolvergadering misgeloop nie, aangedring op die beste opvoeding, tjellolesse, die beste behandeling toe sy ’n dieetsiekte opgedoen het. Hy lees reeds vanaf ’n vroeë ouderdom vir haar voor uit romans wat, volgens hom, riglyne verskaf vir menslike oorlewing en woon kookkursusse by sodat hy die beste soesji wat menslik moontlik is, op haar partytjie kan bedien. Hy kan darem ook nie nalaat om te vertel van die insident wat moet bevestig dat hy verdraagsaam teenoor migrante is nie, natuurlik solank dit net nie te na aan hom persoonlik kom nie. Hy maak groot gewag van die feit dat hy op sy laaste werksdag die migrantewerker wat as skoonmaker in dieselfde gebou as hy gewerk het, vriendelik gegroet het. Om sy goedheid te beklemtoon voeg hy verder by dat hy nog die hele tyd daarvan oortuig was dat die werker vir die Taliban werk, maar hy het nooit sy gevoelens uitgespreek nie, omdat hy nie die werker wou benadeel nie. (Vergelyk hierdie insident met dié van sy huiswerker: beide word verhaal alleen omdat dit ’n bepaalde funksie in die verhaal vervul.)

Ten spyte van die front wat hy voorhou, of miskien juis as gevolg daarvan, steier arme Hofmeester van een vernedering na die volgende. Sy vrou vind hom onaantreklik, eintlik weersinwekkend (182); hy het nooit oor die vermoë beskik om haar seksueel te bevredig nie; en hy het sy werk op ’n uiters vernederende wyse verloor. Daagliks waai hy totsiens vir onbekende reisigers op Schiphol, of maak asof hy hulle ontvang. Meer pateties kan dit kwalik, maar mettertyd besef die leser dat Hofmeester nog nie náby die einde van sy vernederings gekom het nie. Hy verloor sy menswaardigheid in fases, dikwels vooraf bekend aan die leser, maar waarvan Hofmeester geen idee het nie, omdat hy net klein losstaande insidente beskryf. Hy beleef egter die droesem van vernedering wanneer hy letterlik met sy broek op sy knieë deur Tirza en haar onderwyseres betrap word tydens ’n seksdaad met ’n ongenooide minderjarige gas in die buitekamer. Hofmeester se optrede hierna versterk net sy isolasie, afgestomptheid en verdere vervreemding. Hy is reeds só vervreemd van sy eie werklikheid dat die impak van persoonlike vernedering en die veragtelike daad grootliks by hom verbygaan. Hy gaan doodgewoon voort om sardiens vir die gaste te braai nadat hy Ester in die buitekamer beetgekry het, asof daar niks ongewoons gebeur het nie. Veral nie iets waaroor hy hom behoort te skaam nie.

Verder moet daar ook nog aangepas word by een van die mees destruktiewe uitkomste van eksistensialisme, naamlik gebrekkige, of eerder afwesige, kommunikasie. Grunberg span Madame Bovary as intertekstuele bron in om hierdie tema te ondersteun, want Hofmeester se insigte rakende sekere kerntemas kan nie verwoord sonder om aan die geloofwaardigheid van die vertelling skade te berokken nie, veral in gevalle waar hy nie eens daarvan bewus is nie. Flaubert gebruik in genoemde roman ’n verskeidenheid tegnieke om aan te toon dat taal dikwels daaraan mank gaan om die bedoelde boodskap oor te dra en dus aanleiding kan gee tot verkeerde interpretasies. Emma kan net nie daarin slaag om haar ware gevoelens aan Rudolph se verstand tuis te bring nie. Charles weer verstaan duidelik nie die ware boodskap van haar briewe nie. Uiteindelik lei haar leuens tot die gevolgtrekking dat woorde meer dikwels die waarheid blokkeer as wat dit ’n bydrae lewer tot sinvolle kommunikasie.

Wanneer Hofmeester uiteindelik vir Kaiza in Namibië raakloop (of eerder, sy vir hom), bereik die effek van gebrekkige kommunikasie ’n hoogtepunt. Sy vervul, sonder dat sy daarvan bewus is, die leemte wat Tirza in sy lewe gelaat het. Hy versorg haar met deernis en liefde en beleef vir ’n fraksie, volgens sy eie persepsies, sinvolle kommunikasie. Vir die eerste maal kry hy die gevoel dat hy waarlik met iemand kontak maak, maar die ironiese feit is dat sy geen snars verstaan van wat hy sê nie, omdat, ten minste vir haar, kommunikasie afwesig is. Taal blokkeer die ware boodskap/waarheid wat Jörgen Hofmeester vir die eerste maal onder woorde bring. Hy deel sy diepste emosies met haar, maar sy staar maar net na die sterrehemel bo hulle koppe. Sy hoor net onsamehangende geluide, ’n taal waarvan sy niks verstaan nie. Teen hierdie agtergrond is haar voortdurende vraag: “Do you want company, sir?” soveel meer skreiend, want in Hofmeester se lewe het net hy self as enkeling oorgebly. Uiteindelik laat hy ook vir haar in Namibië agter.

Saam met die uitgangspunt dat die uitoefening van ’n vrye wil fundamenteel tot singewing is, word ook veronderstel dat die individu verantwoordelikheid vir sy eie bestaan en dus dade en besluite moet aanvaar. Hofmeester weier eenvoudig; trouens, hy is reeds so vasgevang in die web wat hy vir homself gespin het dat hy nie eens oorweging skenk aan so ’n uitkoms nie. In sy poging tot selfregverdiging blameer hy ander baie vinnig vir negatiewe uitkomste. So byvoorbeeld blameer hy irrasioneel Tirza se vriend vir die feit dat hy sy moeisaam opgeboude neseier verloor het; sy vrou omdat hul huwelik ’n mislukking is en sy nou net weer sy lewe van vooraf kom omkrap; eksterne faktore omdat hy nooit sy proefskrif voltooi het nie (101). Hy verdryf sy eie dogters en huweliksmaat sonder om vir ’n oomblik sy eie aandeel in hierdie mislukkings te ondersoek. Aan die einde van die roman moet Choukri, net soos wat dikwels die geval is met migrante in Nederland of elders, die skuld dra, met ander woorde, die verantwoordelikheid vir mislukkings wat Hofmeester nooit in sy lewe wou aanvaar nie (240).

Na die moord op Tirza en haar vriend aanvaar Hofmeester ook nie verantwoordelikheid vir sy daad nie. Die voldoening van persoonlike behoeftes staan voorop. Vir hom was die daad bevrydend en in die afwesigheid van die “probleem” voel hy soos ’n nuwe mens, volkome in beheer van die situasie. Hy gaan koop wegneemetes op die dorp en leef hom só in sy rollespel in dat hy aan sy lesers vertel hoe hy vir Tirza en haar vriend op die lughawe gaan aflaai en daarna huis toe gery het asof dit die natuurlikste ding in die wêreld was. Hy is saam met sy vrou diep bekommerd wanneer hulle niks van Tirza hoor nie. Hy neem sy spel so ver dat hy homself begin glo en na Namibië vertrek om sy verdwene dogter en haar vriend te gaan soek. Hy loop haar gewaande spore na en wys selfs haar foto aan vreemdelinge in ’n poging om haar te probeer opspoor. Wanneer dit lyk asof Hofmeester tog aan die gevolge van sy dade begin dink, beplan hy selfdood, maar dit geluk hom nie. Ook hierin is hy ’n mislukking. Net soos spore wat binne ure doodwaai in woestynsand, verdwyn hierdie voorneme soos mis voor die son wanneer Kaisa, die negejarige kinderprostituut, hom terugtrek na die lewe toe. Selfs wanneer sy vrou hom in kennis stel dat Tirza en Choukri se lyke gevind is, haas hy hom huis toe en staan die media te woord soos wat van ’n akteur in ’n drama vereis word. Hofmeester kry uiteindelik erkenning, ’n totaal skeefgetrekte regverdiging vir sy bestaan. Noudat hy homself ken, hoef hy nooit weer alleen te wees nie, want op bl 209 sê hy: “As jy ’n misdaad gepleeg het, is jy nooit weer alleen nie. Waar hy ook al gaan, gaan die misdaad met hom saam.”

Grunberg ondersoek ook die middele wat ’n individu aanwend wanneer hy begin besef dat die basis waarop hy sy identiteit en menswaardigheid gebou het, besig is om onder hom weg te kalwe en hy nie oor die vermoë beskik om die gety te keer nie. Gebrekkige kommunikasie neem in Tirza sulke afmetings aan dat Hofmeester doelbewus besluit om emosies af te sweer. Swakheid van ander mense was nog altyd vir hom ’n groot bron van irritasie en uiteindelik kies hy sy eie kommunikasiemiddel, wat selde verkeerd geïnterpreteer kan word. Aanvanklik word taal vir Hofmeester een groot frustrasie, omdat hy nie meer daarin kan slaag om mense in ’n hoek te verf met sy woorde en hulle dus kan oorwin deur beheer oor hul lewe te neem nie. Onmag, dus gebrek aan taal as ’n uitdrukkingsmiddel, dryf hom tot oorgawe en daarom kommunikeer hy deur middel van geweld. “Die dier in hom het gepraat en die dier praat nie in woorde nie. Die taal van die dier is woordloos. Hy byt en hy lek, hy spoeg en skeur oop. Maar praat soos wat mense praat, nee nie dit nie” (302).

Hierdie toevlug tot geweld lei tot die grootste bestaanskrisis van sy lewe, juis omdat hy nooit daarin kon slaag om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar nie. Hy het nooit die basis wat sy bestaansreg regverdig, ondersoek nie en daarom nooit broodnodige veranderings aangebring nie. Nadat sy vrou hom vir drie jaar verlaat het omdat hy haar lewe hel gemaak het, is haar eerste waarneming dat hy niks verander het nie (180). Reeds van die begin van die roman af is dit duidelik dat Hofmeester sy toevlug tot geweld neem as sake nie wil uitwerk nie. Dit word sy middel tot kommunikasie en kontrole: “die klou van Hofmeester” (p.90). Hy slaan sy vrou, klap sy dogters en slaan ’n staanlamp stukkend op sy huurder se kop. Ten einde laaste lei frustrasies en ’n gebrek aan selfbeheersing dat hy sy menswaardigheid prysgee, dat hy ’n fundamentele grens oorsteek. Vir die eerste maal weet hy waartoe hy in staat is en sê hy vir Kaisa: “Jy weet nie wie jy is totdat jy beheer verloor nie. Eers dan dring dit tot jou deur” (475).

Hofmeester wend hom, net soos Emma in Madame Bovary, tot die seksdaad om sy mag oor ander uit te oefen en sodoende sy sin te kry. Seks as magsuiting en nou verwant aan die primordiale dier, word nou sy wapen waarmee hy ander verneder. (Vergelyk ook die aanhaling van Allen Phillips as motto voor in die boek.) So byvoorbeeld buit hy die onbenydenswaardige posisie van sy migrantehuiswerker uit. Met hierdie herhaaldelike verkragting word sy keer op keer op die afskuwelikste manier denkbaar verneder. Hofmeester is deeglik hiervan bewus, want hy ervaar persoonlike vernedering wanneer sy dogters voor sy oë “op ’n aggressiewe wyse” deur migrantemans “geneem” word. Sy slagoffers se vernedering word nou sy vernedering, sy verlossing (455).

Verontrustend egter is die feit dat Grunberg die wêreld wat hy as realiteit aanbied, teken asof dit heeltemal normaal is. Almal het daaraan gewoond geword, niemand bevraagteken meer die afwesige waardesisteem nie en elke individu is gefokus op voorsiening in sy eie behoeftes as tekens van ’n sinvolle lewe, sonder om enige gevolge of die invloed van so ’n lewensuitkyk te verreken. Hierdie stelling word veral ondersteun deur Sartre se eksistensiële drama No exit (Huis Clos, oorspronklike Franse titel, wat “in kamera” beteken) wat in 1943 geskryf en opgevoer is. Sartre gebruik drie karakters om aan te toon dat middelklas persone wat nie hul essensie voortdurend ondersoek of bevraagteken nie, hulle, net soos Hofmeester, in ’n kamer sonder ’n deur bevind. (Jan Rabie se kortverhaal “Droogte” word in herinnering geroep.) Ontsnapping is moontlik slegs as hierdie selfgeskepte hel eiehandig afgebreek word. Wanneer Hofmeester in sy kantoor sit en uitkyk op die boom in die binnehof voordat hy sy kantoor ontruim, word sy gedagtes so verwoord: “Die hel was nie ander mense nie. Hy was dit self. Die hel het diep binne-in hom gesit. Veranker, verborge en onsigbaar, maar wel lewend en warm” (191). In plaas daarvan dat Hofmeester hom verset het teen hierdie dier in sy binneste, sy selfgeskepte hel afgebreek het, het hy dit eerder gekoester en versorg, dit eiehandig tot groot hoogtes gevoer en sodoende sy ondergang bewerkstellig.

Soos in enige eksistensiële werk bied Grunberg geen antwoorde nie. Hy vestig eerder die leser se aandag op die belewing en uitkoms van ’n enkele individu se lewe as hy hom tot so ’n mate laat vasdraai in die strewe na gewaande normaliteit en erkenning dat hy voeling verloor met die werklikheid. (Vgl Tolstoi se siening oor die futiliteit van kuns.) Hoe ’n individu hierdie donker, negatiewe wêreld wat hy self geskep het, beleef, en wat die gevolge daarvan is, word ’n spieël waarin elke leser die essensie van sy eie bestaan moet ondersoek. In die moderne era van eiewaan en selfsug/beheptheid kan niemand bekostig om hierdie universele roman van Arnon Grunberg te ignoreer nie.

Bibliografie

Adorno, TW. 2013. Aesthetic theory. Londen: Bloomsbury Publishing Plc.

Blumer, ANG. 1992. Ekspressionisme. In Cloete 1992.

Cloete, TT. 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Haum-Literêr.

Degenaar, JJ. 1992. Eksistensialisme in die literatuur. In Cloete 1992.

Dostojewski, F. Notes from the underworld. As e-boek beskikbaar. http://www.planetpdf.com (30 Mei 2015 geraadpleeg).

Galop, D (vertaal). 1997. Plato: Defence of Sokrates, Euthyphro, Crito. Oxford: Oxford University Press.

Grunberg, A. 2014. Tirza. Pretoria: Protea Boekhuis. (Vertaal deur Lina Spies.)

Heti, S. 2013. Missing out. In praise of the unlived life. New York Times, 18 Januarie 2013.

Honderich, T (red). 1995. The Oxford companion to philosophy. Oxford: Oxford University press.

Kaufman, W. 1956. Existentialism is Humanism. In Existentialism from Dostoyevsky to Sartre. Meridian Publishing Company, 1989.

Phillips, A. 2013. Missing out. In praise of the unlived life. Londen: Penguin Books.

Rabie, JS. 1956. Een-en-twintig plus. Kaapstad: Human en Rousseau (Edms) Bpk. (Tweede druk, 2004.)

Sipowicz, M. 2012. Jung – The reluctant modernist. Philosophy after dark. Aanlyn beskikbaar: http://philosophyafterdark.com/2012/12/jung-the-reluctant-modernist (1 Junie 2015 geraadpleeg).

SparkNotes: Madame Bovary: themes, motifs and symbols. Aanlyn beskikbaar: http://www.sparknotes.com/lit/bovary/themes.html (30 Mei 2015 geraadpleeg).

Tolstoi, L. On the significance of science and art. As e-boek beskikbaar. Online-literature.com.

Woodward, K. 2010. The most famous thing Jean-Paul Sartre never said. Aanlyn beskikbaar: http://rickontheater.blogspot.com/2010/07/most-famous-thing-jean-paul-sartre.html (1 Junie 2015 geraadpleeg).

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top