Die volgende twee artikels oor Afrikaanse musiek het onderskeidelik die afgelope tyd in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) verskyn: "Musikale betekenis en metafore van liminaliteit in die liedkuns van Coenie de Villiers" deur Joanita Erasmus-Alt en Martina Viljoen en "Vermaak of verset? ’n Ondersoek na die sosiokulturele rol en sosiopolitieke betrokkenheid wat weerspieël word in die oorspronklike liriekweergawe en die gepaardgaande beeldmateriaal van 'Dis ’n land' (1987), asook in latere herskeppings daarvan" deur Mathilda Smit en Ronel Foster.
In onderstaande artikel berig Ilza Roggeband oor die onlangse Liefde by die Dam-musiekfees.
Dit was iewers in 1999 wat ek na Willie Kühn, toe redakteur van Huisgenoot, se kantoor gestap het. Ek was terug by Huisgenoot ná amper vyf jaar by Sarie. Die eerste KKNK is in 1995 gehou en ek was gelukkig genoeg om as deel van Sarie se span die fees in 1998 by te woon. Huisgenoot het nog nie ’n teenwoordigheid gehad nie en ek het gedink dis tyd, het ek vir hom gesê. Kom met voorstelle, dan praat ons, het hy gesê.
(Byt vas, daar is ’n rede hoekom ek hierdie alles vertel in ’n artikel oor Liefde by die Dam wat op 1 November by Meerendal in Durbanville gehou is.)
Op daardie stadium was Jeanette Hughes deel van Nasionale Tydskrifte, soos dit toe genoem is, se bemarkingspan. Ek het met haar gesels en sy het vertel dat die saal by die KKNK waar hulle intekenare gewerf het, ’n klein verhogie in die hoek gehad het waar iemand so nou en dan kom sing het.
En dit was die saadjie wat tot die geboorte van Huisgenoot se verhoog in 2000 by die KKNK en ook later die jaar by Aardklop gelei het. Die Huisgenoot-verhoog was ’n enorme sukses. Dit het jaar na jaar gegroei en op sy toppunt het die konserte saans op die sportgronde in Oudtshoorn en Potch derduisende mense getrek. Of dit deel was van die opbloei van Afrikaanse musiek, is natuurlik debatteerbaar, maar dat dit loopbane gevestig en gegroei het, kan nie teen gestry word nie.
Toe ek mense begin soek om die program vir daardie heel eerste Huisgenoot-verhoog by die KKNK vol te maak, was dit ’n gesukkel. Die musiekbedryf was nie naastenby wat dit later jare geword het nie en die werkende Afrikaanse kunstenaars kon skaars ’n klein skoolbussie volmaak.
Ek het vir Lydia Winchester geken, omdat sy publisiteit en bemarking vir Decibel gedoen het en ek soms pryse by haar vir Sarie se promosieblaaie gekry het. Ek het haar gebel en vertel van die plan met die verhoog en gevra of sy van enigiemand weet wat by die KKNK is.
“Ons bring ’n jong sanger wat pas ’n Zoeloe-gospel-CD vrygestel het,” het sy gesê.
Ek was vir ’n oomblik stom.
“Lydia, dis die KKNK. Ek weet nie of dit gaan werk nie.”
“Man, sy naam is Dozi, maar sy regte naam is Henk Opperman. Ek belowe jou hy gaan werk,” het Lydia gelag.
En hy het. Hy en ’n ander jong onbekende sanger wat pas sy eerste CD vrygestel het – Theuns Jordaan. Al twee het hulle tande vir jare in kuierplekke geslyp en was gewoond om voor gehore op te tree en dit het gewys.
By Huisgenoot se eerste verhoog by Aardklop, ook in 2000, sing Kurt Darren ’n keer of wat. Op daardie stadium verdien hy sy brood en botter deur op plesierbote te sing. In 2001 word die album Net jy alleen – sy eerste in Afrikaans – vrygestel en is hy op Huisgenoot se verhoog by die KKNK. Hy wikkel vir die eerste keer sy heupe voor ’n gehoor toe hy “Meisie meisie” sing en in 2002 ontvang hy sy eerste goue plaat, juis op daardie einste verhoog, ná Net jy alleen herdoop word en as Meisie meisie hervrygestel is.
Juanita du Plessis, Karen Zoid, Emo Adams, Gian Groen, Bok van Blerk, Eden, Jan Blohm, Nicholis Louw, Shine 4, Robbie Wessels, Ricus Nel, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ray Dylan, Snotkop, Lianie May, Romanz, Die Melktert Kommissie, Jay, DNA Strings en nog ’n magdom meer het van hulle eerste treë voor ’n groot gehoor op Huisgenoot se verhoog gegee. Goeiste, Bobby was nog op skool toe hy ’n voorvertoning vir Dozi gedoen het!
Huisgenoot se verhoog by die KKNK en Aardklop raak gesog vir kunstenaars én platemaatskappye. Nie net is dit uitstekende bemarking nie, dis ’n goeie manier om te sien op wie die gehore reageer. CD’s van gewilde kunstenaars verkoop ná vertonings teen ’n stinkspoed en van hulle staan nog vir ure later vir foto’s saam met aanhangers. Ek kan een jaar by die KKNK onthou waar ek ’n Checkers-sak moes gaan soek vir al die kontant wat die een kunstenaar met CD-verkope gemaak het.
Nog iets groots is in daardie tyd begin: Skouspel. Die eerste konsert in 2000 was nog met backtracks, maar vinnig was daar ’n simfonieorkes, asook ’n volle backline – kitaarspelers, klawers, ’n drommer en dies meer – deel van die konsert. Dit groei van een konsert op ’n Saterdagaand tot sewe konserte oor twee naweke.
Huisgenoot se verhoog word ’n voedingsbron vir Skouspel en nuwe kunstenaars word as’t ware na die Superbowl bevorder, waar alles groter – die klank, die oomblik, die gehore, die impak – is. Later is die konserte ook vir TV en DVD’s opgeneem. Ek kan nie dink aan een wat nié die toets geslaag het nie en vermoed dis omdat elkeen hulle skoolgeld betaal het.
Op haar webblad skryf Laurika Rauch:
Ek het soveel goeie herinneringe van die jare waarin ek by Huisgenoot Skouspel opgetree het. Skouspel het my as mens en kunstenaar tot op die droesem beproef. ’n Mens moet goed wees in soveel dissiplines om te kan bybly en ’n goeie vertoning te lewer. Soveel mense is betrokke en ons is almal inter-afhanklik van mekaar vir elkeen van die ses of sewe vertonings wat plaasvind oor ’n tydperk van twee weke. Ek sal ook nooit die gehore vergeet nie. Wat ’n voorreg om deel te kon wees van hierdie ervarings!
Liefde by die Dam hierdie jaar was, soos die vorige drie jaar wat ek dit bygewoon het, ’n jol. Ons (ek en my 23-jarige seun Zac) was betyds om 10:45 Dozi se volle optrede te sien en het gebly tot Early B die laaste noot so amper 19:30 gesing het.

Dozi (foto: Leigh Groenemeyer)
Dozi is ouer en (moontlik) wyser, en met sy stem en verhoogpersoonlikheid is daar steeds niks fout nie. Schalk Bezuidenhout, die seremoniemeester vir die dag, het hom voorgestel as “die oom wat musiek maak sedert die begin van klank”. Die jong gehoor het duidelik nie omgegee nie. Ook in die gehoor was daar ’n paar oueres wat noot vir noot saamgesing het op liedjies soos “Pennies op die spoor”, “Tussen jou en my” en “Maybe my baby”. Soos hulle sê: You can’t keep a good song down.

Kurt Darren (foto: Leigh Groenemeyer)
Kurt het ge-Kurt en die gehoor het gehop-hop. Die grootste gentleman in Afrikaanse musiek en ’n man wat nog nooit sy sukses as vanselfsprekend aanvaar het nie. Ek gun hom elke treffer en is opgewonde om te sien waarheen sy loopbaan gaan noudat hy ouer word.

Loufi (foto: Leigh Groenemeyer)
Van die jonger kunstenaars het Loufi en Appel my die meeste beïndruk. Appel word net al beter en die feit dat hy met ’n volle orkes sy eie werk doen, laat hom nog meer in my estimasie styg. Ricus Nel, wat ek die eerste keer ontmoet het toe hy in Dozi se band gespeel het, se jare in die agtergrond (ook as musikant op Skouspel) het hom uitstekend voorberei vir sy sololoopbaan.

Karlien van Jaarsveld (foto: Leigh Groenemeyer)
Die mooie Bobby was ’n lekker verrassing toe hy by Karlien aangesluit het; die Heuwels is altyd fantasties en vir Francois van Coke en Early B sal ek deur vuur loop as dit moet.

Early B (foto: Leigh Groenemeyer)
So hoe kom hierdie lang storie oor Huisgenoot se verhoog en Skouspel by Liefde by die Dam uit?
’n Reuseverhoog met reuseklank voor ’n reusegehoor kan genadeloos wees. Maak dit nog op die koop toe in die buitelug, en dit gaan elke, maar elke liewe skewe noot uitwys. Sommige kunstenaars gaan dit áltyd beter regkry as ander. Dit het nie noodwendig te doen met talent nie. Soms is dit net ondervinding en dis hier waar die gemis van die verhoë – net nie Huisgenoot s’n nie – op die vele feeste gevoel word.
En Skouspel. Moenie die fout maak om Skouspel met konserte soos Krone en Afrikaans is Groot te vergelyk nie. Ja, daar is ooreenkomste, maar Skouspel (die OG) was van meet af daar om gevestigde sangers tot hulle volle potensiaal te gebruik, maar ook vir die gebruik en voorstel van nuwe stemme, die diversiteit van ons land se ongelooflike talent en ’n kombinasie van musiekstyle. Ook die oomblikke in die konsert wat tot in die fynste detail beplan is, of dit nou ’n ongewone kombinasie van stemme is of ’n ongewone verwerking van ’n liedjie. Daardie tye waar mense spontaan opgespring het of aan die huil gegaan het, omdat die emosie net te veel was. Dit was meer as net vermaak; dit was iets uitsonderliks.
Ek het hierdie droom van ’n nuwe Skouspel. Die konsert gaan begin met ’n donker verhoog. Vier kolligte begin skyn en verlig vier vleuelklaviere. By die klaviere sit Emma van Heyn, Frieda van den Heever, Karen Petersen en Luna Paige. Weet jy nie wie hulle is nie? Net nog meer rede ...
........
Terug na Liefde by die Dam. Pierre Greeff, Jana de Beer en die res van die span van 200, baie dankie vir ’n heuglike dag van musiek en plesier. Julle mag maar.
........
Terug na Liefde by die Dam. Pierre Greeff, Jana de Beer en die res van die span van 200, baie dankie vir ’n heuglike dag van musiek en plesier. Julle mag maar. Dankie dat julle in ’n bedryf wat die afgelope tyd soveel slegte publisiteit gekry het as gevolg van mense wat minder eties is, voorloop met julle fakkel omhoog. Die feit dat kunstenaars, borge én kaartjiekopers julle jaar na jaar ondersteun, wys julle toewyding en integriteit. Mag julle tiende Liefde by die Dam volgende jaar by Meerendal weer ’n enorme sukses wees. Ek en Zac – hy met sy Suid-Afrikaanse vlag en die wit vlag met die rooi hart – is volgende jaar die eerste in die ry om kaartjies te kry.
Lees ook:
Musikale betekenis en metafore van liminaliteit in die liedkuns van Coenie de Villiers
Rondom "Die Land", Steve Hofmeyr, vryheid van spraak, en wie se taal is Afrikaans in elk geval?
Ilza Roggeband: "Boek skryf is nogal ’n skrikwekkende ding ..."


Kommentaar
Afrikaanse musiek is deesdae so oppervlakkig, vervelig en irrelevant.