Ilza Roggeband: "Boek skryf is nogal ’n skrikwekkende ding ..."

  • 0

Die skrywer Ilza Roggeband se eerste roman, Noot vir dood, het onlangs verskyn. Sy beantwoord enkele vrae.

Koop Noot vir Dood by Kalahari.com.

Goeiedag, Ilza. Hoe gaan dit?

Dit gaan goed, dankie. Nog bietjie voos ná Aardklop, maar ek hou. Ek is dankbaar dat ek werk het en dat die son vandag in Melkbosstrand skyn.

Hoe ervaar jy reaksie (in die breë en spesifieke sin) op Noot vir dood tot dusver?

Die terugvoer is goed – ek vermoed die mense wat nie daarvan gehou het nie, swyg – en ek is baie dankbaar. Natuurlik het die goeie resensie op die boekeblad van Die Burger, Beeld en Volksblad ’n huppel in my stap gesit en ek is dankbaar (goeiste, ek is by die tweede vraag en ek het al drie keer die woorde “dankbaar” gebruik!) vir al die publisiteit wat die boek kry. Ek bly (amper gebruik ek weer “dankbaar”) dat ek ’n boek geskryf het wat mense geniet om te lees. Dit is wat ek gehoop het dit gaan wees, en toe mense vir my begin sê dat hulle tot drieuur of vieruur in die oggend gelees het, was ek baie verlig.

Boek skryf is nogal ’n skrikwekkende ding. Ek was bang mense dink dis voorspelbaar en ongeloofwaardig. Ek was bang mense sien die kinkels al op ’n myl. Dis steeds vir my ’n bisarre ding dat ek verlede jaar by Open Book Week met Etienne Bloemhof gepraat het en hy die saadjie vir die boek geplant het, en vanjaar by die Open Book Week was ek deel van ’n paneel wat oor misdaadfiksie gepraat het. Daar is tye wanneer ek dink: Hoe op dees aarde het dit gebeur? Of in my 11-jarige seun se woorde: Waddehel?

Baie is al gesê oor jou ervarings in die musiekbedryf en die rol wat dit gespeel het in jou skryf van Noot vir dood … Veral die kwessies van ego’s en natuurlik geld kom in ’n groot mate ter sprake in die roman. In watter mate is dit ’n akkurate weerspieëling van hoe mense met mekaar werk in die bedryf? Watter elemente hiervan was vir jou die interessantste en wat het jy besluit om eerder uit te laat?

Ek dink (hoop?) dis realisties. Daar is byvoorbeeld ’n groep sangers met wie dit goed gaan, maar daar is ook dié wat sukkel om naam te maak en amper enigiets sal doen om daar te kom. Dis vir my interessant om te sien hoe die musiekbedryf die afgelope 13 jaar verander het. Die oomblik wanneer daar groot sukses is, sal daar altyd mense wees wat ook deel daarvan wil wees.

Ek het niks doelbewus uitgelaat nie. Ek het ’n storie begin skryf en dit geskryf waarheen dit my gelei het.

Dis duidelik dat jy geïnteresseerd is in die teenstrydighede wat binne mense leef en woed – die hoofkarakter Carel Strydom tree amper as ’n gesant in sy persoonlike lewe op, maar hy neem ook impulsiewe besluite en het ’n geheim wat hom jaag. Ook die sanger Riana Kruger, wat bykans koddig lyk met die eerste bekendstelling, het ’n komplekse verlede wat haar tot dié soort optrede dryf. Hoe het jy te werk gegaan om hierdie elemente te skep en te verken? Wat het jy die meeste omtrent dié proses geniet?

Ek het dit geniet dat die storie homself vertel het. Met Carel én Riana het ek nie hulle verlede vooraf beplan nie; dit het gebeur terwyl ek geskryf het. Ek het byvoorbeeld van die begin af nie van Riana gehou nie, maar toe ek my weer kom kry, toe skryf ek haar lewensverhaal, en toe ek dit klaar geskryf het, het ek teruggesit en gedink: “Foeitog, g’n wonder die vrou is wat sy is nie.” Ek het ook gehoop ek skep karakters wat mens kan sien het hul eie foute. In die musiekbedryf (en dis seker so met enige persoon vir wie mens ’n heldeverering het) is daar soveel mense wat amper aanbid word. In hul aanhangers se oë kan hulle niks verkeerd doen nie, maar hulle is ook maar mense soos die res van ons.

Intrige en pas is uiteraard kenmerkend van die misdaadroman – hoe het jy in hierdie opsig te werk gegaan om die wêreld van Noot vir dood saam te stel?

Ek weet nie. Eerlikwaar, ek weet nie. Ek het gesit en begin skryf en die storie het sy eie loop geneem. Die eerste hoofstuk, waar ons die obsessiewe aanhanger die eerste keer ontmoet, en die tweede hoofstuk, waar die skinderjoernalis vermoor word, het eerste by my opgekom. Ek het ’n redelike idee gehad waar ek wou eindig, maar ek het eers na ’n paar hoofstukke op die moordenaar besluit. Toe ek besluit het wie dit is, was ek baie versigtig om niks te verklap sodat die leser dit moet uitvind nie. Ek skryf nog altyd vinnig en ek het al gewonder of dit nie dalk deel was van die sukses nie – die feit dat ek kom sit het, geskryf het soos die storie na my toe gekom het en klaargemaak het. Daar was nie gewroeg nie en hoewel ek soms oorval is met ’n vreeslike onsekerheid, het ek nie te veel gekarring nie. Ek moes ná die keurdersverslag min verander aan die oorspronklike manuskrip. Dit was een van die grootste komplimente wat ek nog gekry het – die keurdersverslag het juis gesê dat daar min aan die struktuur moet verander.

Kwessies wat, al is dit plek-plek vlugtig, aangeroer word in die roman, voel asof dit die skrywer na aan die hart lê – rassisme, homofobie ensovoorts. In watter mate speel hierdie kwessies steeds ’n rol in die plaaslike musiekbedryf, en hoe het jou beplanning verloop ten opsigte van hoe sterk jy dit by die storie wou inwerk?

Dis beslis nog daar en dit was vir my belangrik om dit uit te lig. Ek is dalk ’n idealis, maar ek glo daar is ’n plekkie onder die son vir ons almal.

In ’n onderhoud met Danie Marais in By noem jy Carel se groot kruistog – en om seker te maak dat ouer musikante wat in ’n minder winsgewende tyd gewerk het, nie op hul oudag geldelik moet ly nie, is ook jou “fight”. Wat pla jou omtrent die wyse waarop ouer kunstenaars beskou en behandel word, en wat is die oplossing?

Die maklike oplossing is seker ondersteuning van die staat vir mense wat in die kunste (nie net musiek nie) gewerk het. Ek het toe ek 50 Stemme geskryf het, met mense – gróót name – gepraat wat vertel het hoe hulle in die 1970’s en 1980’s voltydse werke gehad het en net oor naweke gesing het. Daar was nie ’n ding soos musiek as ’n voltydse loopbaan en ’n bus met jou gesig op nie. Carike Keuzenkamp het vertel dat haar man haar “borg” was. As dit nie vir hom was nie, sou sy nooit kon gesing het nie. Gert van Tonder het vertel hoe hy voldag gewerk het, ná werk in sy kar geklim het en van Johannesburg af Bloemfontein en terug gery het om vir ’n paar rand te gaan optree. Ek weet nie of daar vandag sangers is wat dit sal doen nie.

Maar om terug te kom na wat gedoen kan word: musikante het, soos Suid-Afrikaanse akteurs die TBF (Teaterbystandsfonds) het, ook ’n fonds nodig sodat mens ten minste kan help waar daar baie nood is. En ek praat nie net van wit en Afrikaans nie. Iemand soos Solomon Linda, wat “The Lion Sleeps Tonight” geskryf het, is as ’n baie arm man dood. Ja, dit was reeds in 1962, maar ek dink dit gebeur steeds.

Gepraat van oplossings – jy noem ook dat Riana Kruger nie Sunette Bridges is nie, maar dat daar raakpunte is. Riana se regse uitlatings word deur bykans al die karakters in die boek verpes, maar tog het sy ’n groot aanhang. Gewilde kunstenaars is inderdaad invloedryk – wat moet kunstenaars, volgens jou ervaring, in gedagte hou in hierdie opsig met hul uitsprake? Wat kan ander kunstenaars en/of die media doen om kunstenaars wat dié soort ideologie aanwakker en versprei, te paai tot nuwe insigte (of ten minste nuwe openbare optrede)?

Laat weet my as jy weet, want ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat die meeste van die musikante en sangers wat ek ken, vredeliewend is en net die beste vir die land wil hê. Maar dan weet ek ook dat mense soms soos skape kan wees. Hulle kan maklik op ’n wa spring. As hulle sien (argumentsonthalwe) ’n liedjie soos “De la Rey” werk, skryf almal skielik liedjies op dieselfde trant. Hulle dink hulle kan intap in mense se vrese en daaruit geld maak. Dit werk nie altyd nie. Om die waarheid te sê, daar is baie min copycats wat sukses behaal. Ek kan maar net hoop dat enige bekende mens, of hulle sing en of hulle rugby speel, dink voor hulle praat en hul bekendheid en invloed gebruik dat dit ten goede van die hele Suid-Afrika is. Maar soos ek al gesê het: ek is ’n idealis.

Wat lê voor vir jou as skrywer in die nabye en verre toekoms?

Ek hoop daar is nog ’n boek. Ek het eers gedink dit gaan in ’n ander trant wees, maar ná ’n gesprek met Karin Brynard begin ek al meer dink dit sal dalk weer ’n misdaadroman wees. Die idee is reeds daar en ek het een karakter, moontlik twee, maar om die tyd (lees: geld) te kry, is ’n ander storie. Ek moet werk om brood op die tafel te sit en op hierdie stadium is die enigste ding wat ek en JK Rowling gemeen het, ons verjaardag. Daar is ook ’n idee vir ’n jeugroman vir seuns, ’n resepteboek, en ’n bundel kortverhale. Intussen geniet ek elke oomblik van alles wat met Noot vir dood gebeur, al voel dit soms nog met tye onwerklik.

Wat is die sin van die lewe?

Ek is nou so moeg ná al jou moeilike vrae dat ek eers bietjie op my arms wil rus.
Al wat ek kan sê oor my eie lewe en die sin daarvan, is dat ek die meeste van alles wil maak terwyl ek hier is en die beste moontlike mens (my kind) vir die wêreld wil nalaat. En sonder om soos ’n soetsappige versie op Facebook te klink: ek glo regtig dat mens meer moet gee as wat jy ontvang. “Pay it forward” en al daai. En dink voor jy praat en doen. My lewensfilosofie is: “Wag net so bietjie”, en daarmee bedoel ek dat mens nie net moet dink wat die beste vir almal sal wees voor jy ’n ding doen of sê nie, maar dat jy ook so nou en dan moet stop en net leef. Ek hou ook van die Rolling Stones se woorde: “You don’t always get what you want, but sometimes you get what you need.” And if all else fails: “Scaramouche, scaramouche, will you do the fandango?”


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top