Lewensviering van Christiaan Diedericks

  • 1

Die kunstenaar Christiaan Diedericks is oorlede. Aretha du Rand, 'n goeie vriendin, het by sy lewensviering gepraat. Sy deel haar huldeblyk by die geleentheid met LitNet.

21 Februarie 2026, Breytenbach-sentrum, Wellington

Ek staan nie hier as kurator of kunskenner nie. Bloot as iemand wat Christiaan geken het – en wat vandag saam met julle sy lewe en werk betree.

Ek het Christiaan nie baie jare geken nie. Tog het ons spontaan en oombliklik op ’n diep vlak ’n konneksie ervaar. In ons geval het dit nie gegaan oor tyd nie, maar oor herkenning. Dit was dan ook juis sy kuns wat ons by mekaar uitgebring het. Vanweë my belangstelling in dieptepsigologie, is ek aangetrokke tot ’n simboliese lewe. Tipies Christiaan – wat een van die mees vrygewige mense was wat ek ken – het hy destyds uit die bloute vir my ’n geraamde kunswerk by my huis laat aflewer. Die gebaar van vrygewigheid, asook die simboliek van die spesifieke werk het my onbeskryflik diep geraak. Na byna twee maande se wroeg het ek uiteindelik vir hom ’n ellelange brief gestuur waarin ek die simboliek verken van die geskenkwerk, asook ander werke van hom wat my diep geraak het. Ons spesiale vriendskap was geseël. Dit het my diep geraak toe ek gedurende die opruiming van sy studio ’n hardekopie van hierdie brief in sy kassie vol geheimenisse ontdek het.

Christiaan was ’n besondere mens met baie skakerings; altyd genuanseerd in sy optrede en denke; ’n fyn waarnemer met ’n deernisvolle aanvoeling vir ander wat dikwels na vore gekom het in sy vermoë om mense se onuitgesproke emosies raak te sien. As multimediakunstenaar, was hy veelsydig. As internasionaal erkende drukgrafiese kunstenaar, was hy tegnies uitnemend. Wat egter minder bekend is oor hom, is dat hy ook ’n uitmuntende fotograaf en gepubliseerde digter was. Vanoggend wil ek graag met julle gesels oor Christiaan as mens, as kunstenaar en as digter.

Christiaan – die mens

Op 13 Februarie verlede jaar het Christiaan 60 geword en heeltemal teen sy aard het hy die Saterdag ’n handvol naaste vriende genooi om dit saam met hom in De Waterkant te vier. Dié van julle wat vir Christiaan geken het, weet dat hy glad nie een vir groepe was nie, maar dat hy diep lief was vir die mense in sy lewe. Om dus saam met ’n groepie vriende onder die ou bome te sit en kuier was ’n ongewone voorreg. Ulrica het nog sy verjaardagkoek spesiaal laat bak en versier. ’n Uitsonderlike kunswerk op sigself wat Christiaan geweldig waardeer het, omdat dit so ’n persoonlike viering van hom as kunstenaar uitgebeeld het.

10 dae later het hy die naweek by my kom oorbly en ons het die Sondag Breyten se lewensviering hier by die Sentrum bygewoon. Op 30 April het ons saam na Breyten se Verwelkingslied gaan kyk gedurende die Suidoosterfees. Dat dit gepas is om sy lewensviering hier by die Sentrum te vier, het ’n lang aanloop gehad. In Maart 2016 het Anne-Ghrett vir Breyten en Yolande aan Christiaan voorgestel in sy studio in Woodstock. Hulle het onder andere gesels oor kuns, die lewe en die lot van ons planeet. Christiaan het groot bewondering gehad vir Breyten as mens, kunstenaar en digter en het hom ’n bron van inspirasie gevind. Vir die Altyd Breyten-uitstalling het hy ’n unieke werk geskep wat ’n dialoog is tussen een van Christiaan se sadhus en Breyten se Boeddha, Boetatjie van die Kaap. Hierdie werk is verkoop voor die uitstalling nog geopen het. Dit het Christiaan se hart diep bly gemaak. Ons wat hom geken het, weet dat hy dankbaar en geëerd sou voel dat dit juis by die Breytenbach-sentrum plaasvind.

Ek het reeds genoem dat hy grensloos vrygewig was. Wanneer hy van oorsese reise teruggekom het met sakke vol klere en juwele en parfuum en ek hom aangepraat het, omdat hy sy geld op my en ander spandeer en nie op homself nie, het hy altyd gesê: "Sussa, jy weet mos dis vir my lekker." Sy hande was altyd en nie-diskriminerend oop vir gee – selfs ten koste van homself. Hierdie vrygewigheid was nie ’n uitsondering nie, maar ’n lewenshouding.

Christiaan was absoluut verslaaf aan reis. En het dit as ’n noodsaaklikheid gesien vir nie net sy eie kreatiwiteit nie, maar ook as suurstof vir hom as mens. Hy het probeer om minstens een keer per jaar te reis. Ek onthou hoe erg dit vir hom gedurende Covid was toe hy nie kon reis nie. Sy reise het altyd gedraai om museums en galerye en kerke en katedrale. Honderde en honderde foto’s is steeds te sien op sy Facebook-blad. Dié foto’s was nie net om sy avonture te dokumenteer nie, maar het ook dikwels hulle pad gevind na van sy kuns.

Christiaan was ’n gewoontedier. Hy het dieselfde koffiewinkels oor en oor besoek. Selfs in dieselfde hotelle gebly op buitelandse reise wanneer hy kon. Oral waar hy gegaan het, het hy betekenisvolle konneksies met mense gemaak. Juis omdat hy mense met soveel liefde en respek behandel het. Toe ek in 2024 saam met hom in Zanzibar vakansie gehou het, het die hotelpersoneel ons behoorlik soos koninklikes behandel bloot omdat hulle hom so goed geken het. Wanneer hulle enigsins kon, het hulle selfs sy gunstelingtafel vir ons gereserveer.

Christiaan was van jongsaf ’n baie sensitiewe siel. Sy pad met sy eie seksualiteit vind neerslag in sy kuns. Van vroeg af het hy ’n opstandigheid gehad met die samelewing se verwagting van die “tipiese man”. Met die hele idee van rugbykultuur. Cowboys don’t cry. Dit teenoor die diep verwonding waarmee baie mans rondloop. Destyds se dienspligera het ook diep spore op hom gelaat. As iemand wat ’n weersin gehad het aan alle vorme van geweld, het hy sterk standpunt ingeneem daarteen dat jong seuns verplig was om wapens te hanteer en teen ander te gebruik. Vir hierdie standpunt moes hy selfs een nag in polisieselle deurbring.

........
Destyds se dienspligera het ook diep spore op hom gelaat. As iemand wat ’n weersin gehad het aan alle vorme van geweld, het hy sterk standpunt ingeneem daarteen dat jong seuns verplig was om wapens te hanteer en teen ander te gebruik. Vir hierdie standpunt moes hy selfs een nag in polisieselle deurbring.
........

Christiaan was iemand wat nie kon wegkyk nie. Toe Rusland die Oekraïne binnegeval het in 2022, onthou ek hoe ontsteld Christiaan was. Hy het ure en ure aaneen na Al Jazeera se beelde gekyk wat oor sy skerm flits. Dit het hom in ’n donker put laat val. Asof hy die pyn en lyding aan sy eie lyf kon voel. Hy het diep deernis gehad en intens meegeleef met mense wat op die rand van die samelewing staan. Mense teen wie gediskrimineer word op grond van ras, geslag, seksuele oriëntasie, geloof, of wat ook al, kon altyd weet dat Christiaan aan hulle kant sou staan. Hy het ’n broertjie dood gehad aan ongeregtigheid en ongelykheid.

Die persoonlike en individuele pad wat Christiaan gestap het met die teenstrydige pad van manlikheid het neerslag gevind veral in sy vroeëre kuns. Ek dink dat dit juis hierdie pad van hom is wat van hom die feminis gemaak het wat hy was. As daar ’n vlieg teen die muur sou gesit het met baie van ons gesprekke, sou dit totaal verward gewees het oor die man wat so opstaan vir vroueregte, terwyl ék dikwels die een was wat probeer diep delf het om versagtende omstandighede vir sekere mans te vind en probeer waak het teen veralgemenings. Hy het dikwels gesê hoe lekker dit vir hom is om homself met sterk vroue te omring. Die Amasones waarna hy graag verwys het. Soveel begrip as wat hy gehad het vir die verwonding van mans, het hy gehad vir die konstante innerlike toutrekkery in baie vrouens wat deur die samelewing beskou word as “te veel”, “te sterk”. Hy het die vermoë gehad om die sagtheid in die sterkste vrou raak te sien.

Dit is uit hierdie mens – met sy sensitiwiteit, sy woede oor onreg, sy liefde vir die randfigure – dat die kunstenaar Christiaan voortgekom het.

Christiaan – die kunstenaar

Soos ek reeds genoem het, is ek nie ’n kunskenner nie. Ek het wel ’n lewendige belangstelling in simboliek as taal van die psige. Ek het altyd gevoel dat Christiaan die vermoë het om deur sy kuns in die kollektiewe onbewuste te tap. Sy beelde en simbole het baie individue diep geraak, omdat dit aspekte uit die kollektiewe onbewuste na bo gebring het, sodat mense se innerlike prosesse kon begin om te integreer in bewussyn.

Temas wat aanvanklik dikwels in sy werk voorgekom het, sluit in: manlikheid, vroulikheid, homofobie, dood, vriendskap, rou, persoonlike siekte en die misbruik van mag. Later het hy ook die mens se geweld teenoor mekaar, die aarde en die mees weerlose wesens verken. Omdat hy ’n wêreldreisiger was, het hy ’n opregte waardering en respek vir ander kulture ontwikkel. Kulturele oorloë het hom diep ontstel, en waar hy kon, het hy altyd probeer om te begryp eerder as om te verdoem.

Selfs al was dit moeilike onderwerpe, het hy met sy skerp humorsin en diep deernis baie van sy swaar of donker werke toeganklik gemaak. Sy uitgesprokenheid in sy kuns kon intimiderend wees, maar dit het dikwels die verbeelding van die kyker aangegryp. Hy het ’n sterk morele woede gekoester teen alle vorme van skynheiligheid en onmenslikheid.

........
Christiaan was nie net ’n visuele kunstenaar nie. Hy was ook ’n intellektueel en ’n filosoof.
........

Christiaan was nie net ’n visuele kunstenaar nie. Hy was ook ’n intellektueel en ’n filosoof. Sy kunstenaarsverklarings het dikwels sy fyn aanvoeling vir woorde en beelde getoon. Elke verklaring het ’n lees- en intellektuele ervaring geword. Sy kuns het vrae gevra, ondersoek ingestel en dikwels die status quo uitgedaag. Hy was onverskrokke en onapologeties en het nie gehuiwer om kommentaar te lewer op universele politieke en sosiale kwessies nie.

Vir Christiaan was egtheid, outentiekheid die kern van sy skeppings. Hy het nie ’n herkenbare styl gevolg nie; elke uitstalling moes nuut wees en ons as kykers verras. Ek onthou toe kunsmatige intelligensie nog in sy kinderskoene was en hoe Christiaan dit ure lank bestudeer het. Hy moes leer om aanwysings te skryf en te herskryf. Om dan sy unieke stempel daarop af te druk. Ek onthou hoe hy uiteindelik iets geskep het wat hom beïndruk het en dit toe met daardie tipiese, kinderlike opgewondenheid met ons gedeel het. Dit het nie net sy kreatiewe gees getoon nie, maar ook hoe hy gespeel en geleer het en voortdurend sy tegniek en aanslag vernuwe het. Om sy eie ondersoekende gees tevrede te stel móés hy doodeenvoudig met KI eksperimenteer. Hierdie eksperiment het hy deeglik gedoen. Soos met al sy tegnieke. Maar na die eksperiment het hy verkies om terug te beweeg na die meer tradisionele drukwerk, omdat hy dit as meer outentiek ervaar het.

Sy kennis en vaardighede het hy graag gedeel, veral met jong kunstenaars. In hierdie verhoudings was hy eg en ondersteunend, nie net op kunsvlak nie, maar ook op persoonlike vlak. Hy was ’n mentor wat nie net tegniek oorgedra het nie, maar ook wysheid en deernis. Baie studente uit sy klasgeedae was getroue volgelinge en hy het dikwels erkenning gekry wanneer van sy studente bekend geraak het. Dit het vir hom baie beteken.

Christiaan het nie vir populariteit geskep nie. Sy binnewêreld, sy wroeginge en eksistensiële vrae het dikwels op sy mediums uitgespeel. Dit is hierdie egtheid wat sy werk so kragtig en relevant gemaak het. Sy kuns het nie net gevra om te kyk nie, maar om te voel, te besin en soms selfs ongemaklik nader te kom aan die wêreld.

Sy visuele kuns het diep vrae gevra, maar sy woorde het dit nog nader gebring en dikwels selfs intiemer gemaak. Dit bring ons by Christiaan – die digter.

Christiaan – die digter

Min mense het geweet dat Christiaan nog altyd ’n digter was. Reeds op universiteit het hy ’n prys vir sy digkuns gewen. In sy privaatversameling notaboeke vind ek vandag nog gedigte; jare gelede geskryf in beide Engels en Afrikaans. Dit bly vir my kosbaar.

Christiaan was kinderlik opgewonde toe sy en Melanie Grobler se digbundel Vlindervreter in Junie 2024 deur Naledi gepubliseer is. Hoewel dit Melanie se soveelste bundel was, was dit Christiaan se digdebuut. Wat hierdie bundel besonders maak, is dat dit 21van sy sadhu-geïnspireerde kunswerke insluit. ’n Ware versamelstuk.

Christiaan het oor baie jare ’n diep verbintenis met die sadhus van Indië ontwikkel. Hy het hulle gefotografeer, by hulle geleer en hom deur hulle eenvoud, toewyding en spiritualiteit laat raak. Hierdie ontmoeting het sowel sy visuele kuns as sy digkuns diep beïnvloed.

Vlindervreter is nie net ’n bundel gedigte nie, maar ’n reis. Deurspek met persoonlike belewenisse en met wat in die wêreld gebeur – verlies, oorlog, wanhoop – maar dit bly nie daar vassteek nie. Dit neem die leser saam op die pad van ’n soeker: iemand wat deur pyn en onsekerheid beweeg, nie om dit te ontken nie, maar om dit te integreer.

Wat my getref het van Christiaan se poësie, is dat transformasie altyd sentraal bly. Selfs waar daar donkerte is – bloed, seer, geweld – is daar ’n voortstuwende energie.

Behalwe vir Vlindervreter, het Christiaan ook gedigte gepubliseer op Versindaba en LitNet. En drie van sy gedigte is opgeneem in Merang, die pragtige bundel wat saamgestel is deur Neil Cochrane en Alwyn Rossouw en uitgegee is deur Naledi.

In Augustus 2024 was Christiaan en ek saam met vakansie in Zanzibar. Gedurende twee luilekker weke op die eiland het ek met verwondering beleef hoe hy sy passie vir woorde en beelde uitgeleef het. Anders as meeste digters, het Christiaan al sy skryfwerk op sy foon gedoen. Hy het ’n onverskrokkenheid gehad waar dit by elektronika kom. Tydens die vakansie is hy letterlik meegesleur deur woorde en het hard gewerk aan sy eerste solobundel. Saans, terwyl ons oor die see uitkyk, het hy vir my gedigte voorgelees. Zanzibar, met sy sensoriese oorlading, leef voort in vele van sy gedigte – die reuke, die geure, die kleure het aan hom eindelose plesier verskaf.

Ek onthou spesifiek een aand toe ek behoorlik in vervoering was oor die onbeskryflik geurige kerriegereg wat ek bestel het. Ek wou die sjef persoonlik bedank en komplimenteer. Dit het toe in ’n ligte en diep spesiale tafereeltjie ontaard. Die volgende aand het Christiaan vir my ’n gedig voorgelees wat hy juis daaroor geskryf het. Met sy eie interpretasie, natuurlik. Dis aan my opgedra en sal in die solobundel verskyn. Ek wil graag die gedig vir julle voorlees.

Zanzibar

Vir Aretha

sy vra vir ’n oudiënsie
met Jembe die toornaar-sjef

met neergeslane oë
verklap hy sy geheim:

mango-blatjang 
sper-papaja 
brandrissie-atjar 
steranys 
naeltjies, kardemom 
en saffraan

geure sypel
soos offerandes

volg die kraaie –
oor die kneusblou

waar die witborswagter 
lastige bedelaars verwilder,
bring Omar vir Madam nog speserytee 

Ek moet net bysit dat ons ’n heerlike gesprek gehad het, omdat hy na my as “Madam” verwys het!

Al gun ek Christiaan nou die pynvrye rus waarin hy hom bevind, bly dit vir my een van die hartseerste gedagtes dat hy nie sy eerste solobundel self in sy hande sal hou nie. Wanneer Naledi die bundel later vanjaar publiseer, sal ons namens hom feesvier. Dit is verseker.

Hoewel Christiaan ’n uiters ervare en bedrewe grafiese kunstenaar was, het hy hom in sy poësie met opregtheid en nederigheid as leerder opgestel. Hy het diep respek gehad vir Marlies Taljaard en Nini Bennett-Moll, wat waardevolle insette op sy gedigte gelewer het. Elke kommentaar en aanbeveling het hy met erns en dankbaarheid ontvang. Hy kon nie uitgepraat raak oor hoeveel hy by hulle geleer het nie.

Christiaan was diep hartseer dat sy vriend, Johann de Lange, oorlede is voordat hy die gedigte vir sy solobundel kon lees. Oor jare het hy talle omslae vir Johann se bundels ontwerp. Johann se dood was ’n verlies wat hom stil en diep geraak het.

Afsluiting

Christiaan het nie net kuns nagelaat nie, maar maniere van kyk, luister en voel.

Vanaand begin hierdie retrospektiewe reis – nie om hom vas te pen nie, maar om hom toe te laat om steeds met ons in gesprek te wees. Hierdie uitstalling is nie ’n monument nie, maar ’n lewende spoor. Dat ons hom nie net onthou nie, maar hom weer ontmoet – op doek, in woorde, in stilte.

Mag ons sy werk met dieselfde eerlikheid betree as waarmee dit geskep is.

Aretha du Rand, 21 Februarie 2026

Lees ook:

In memoriam: Christiaan Diedericks

Die stil rivier in my hand

Inploffing

Die selfdood van bidsprinkaan

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top