
Inploffing
ter nagedagtenis aan Eugène Marais
gaasvlieë lê eiers
in die oker oksels
van die veld
kwepers krepeer
langs die modderdam
op die beesmisvloer
dikmelk gespil
sjablone seepvet uitgekook
glip deur die agterdeur
ons kudde vrek van
bek-en-klouseer
in ’n massagraf verbrand
sonder gebed of blom
bidsprinkane kniel
voor skaars groen spriete
’n hordes muggies meniengal
op pampoene wat vrot
’n bataljon ysballe
stroop die geil
koringlande kaal
knetterende masjiengeweer
voor die droewe kamervenster
draai pa sy
verdriet toe in kaalgaar
katoen en ’n rooi rissiepit


Kommentaar
Liewe land, hoe karring hierdie beelde nou aan 'n mede-plaaskind se hart ...
Ek is bly jy het my gedig waardeer Wilma! Met waardering!
Jou derde, (oudste) sib het toe uiteindelik ook jou werk hier kom opsoek! Wat 'n pragtige nostalgiese terugblik... jou onthou is myne ook, Boet. Veral die hartseer episodes nadat die hael 'n ryp koringland gestroop het, uitmergelende droogtes en die dood van 'n geliefde stoetbul.
Ek onthou darem die mooi en uitsonderlike ook: daardie goudgeel land vóór die storm, die groen en wit katoendeken oor 'n swart turfland (en ons gehoes en proes tydens rissie-oestyd!)
Wat 'n voorreg om daar gevorm te kon word...