
Foto: Canva
Die selfdood van die bidsprinkaan
die lig se skerp mes
sny deur die luik
waar skadu’s nog
half in drome sluimer
die dagbreek ruik
soos bloed
jou hart was ’n trom
wat nie die ritme
van lewe kon hou nie
’n vonk het verdrink
in die keel van die donker
my melancholie is
toegedraai in ’n spiraal
soos ’n slang wat sirkel
om die spoor
van sy eie gif
die laaste asem
van die vers wat homself
nie kon onthou nie
het te swaar gesluk
aan vergete lug
nou gis jy op my tong
soos ou nagmaalbrood
brokkelsuur tussen my tande
soos ’n gebed
te lank gekou

