
Die grafika op die boek Vlindervreter (uitgegee deur Naledi) is deur Christiaan Diedericks geskep.
Die kunstenaar Christiaan Diedericks is oorlede. Ilana Maree, drukkunsopvoeder by die PJ Olivier-kunssentrum in Stellenbosch, het by sy lewensviering gepraat. Sy deel haar huldeblyk by die geleentheid met LitNet.
Ek is Ilana Maree, drukkunsopvoeder by die Kunssentrum PJ Olivier in Stellenbosch. Ek staan vandag hier as liefhebber van Christiaan as mens en kunstenaar.
As ’n kunsopvoeder is ons altyd op soek na kunstenaars en kunswerke in ons vakgebied wat ons leerders kan inspireer en van wie hulle kan leer, nie net vir visuele teorie-doeleindes nie, maar ook vir praktiese klasse.
Christiaan se temas in sy werk, asook sy ongelooflike tegniese vaardigheid in die skep van die drukkunsplaat en die proses van die plaat druk, is een van die redes hoekom hy vir altyd een van die topkunstenaars sal wees wat ons in die drukkunsklas bestudeer.
Christiaan het ’n indrukwekkende CV. Hy het erkenning vir sy werk van regoor die wêreld gekry en hy het ook regoor die wêreld uitgestal. Hy het aan meer as 30 internasionale Biënnales deelgeneem en meer as 50 residensies voltooi. Die belangrikheid van sy werk word ook versterk deur die insluiting daarvan deur groot kunsversamelings, soos die Museum of Modern Art in New York. Hy het in 2006 die Kanna-toekenning vir beeldende kunste ontvang.
Wat sy werk so betekenisvol maak, is dat hy sy kunstenaarstem gebruik om identiteit, geregtigheid en menseregte uit te beeld. Sy werk is nie net ’n weergawe van hoe hy die wêreld sien en beleef nie, maar sy werk is gelaai met simbole en beelde wat kwessies aanspreek in ’n visuele taal wat mense regoor die wêreld kan verstaan. Dit is ook die rede hoekom Christiaan se werk betekenisvol is in ’n kunsopvoeding-situasie. Die werk is nie net ’n kopie van ’n foto nie, maar is gevul met deurdagte navorsing en beplanning van simbole en beelde om sy storie te versterk.
Sy werk lok emosies uit en die kyker bevraagteken die simbole wat hy gebruik om kwessies rondom menswees uit te lig.
Christiaan het self gesê: “’n Kunstenaar [is] eerstens die gewete van die samelewing op enige gegewe tydstip.”
Behalwe vir die temas in Christiaan se werk wat tot meeste gehore spreek, was hy die meester van merkmaak. Ek het al ure van my lewe voor sy werke deurgebring om na sy gebruik van lyn met die kerfmes of etsnaald te kyk. Hy het merkmaak verstaan en het presies geweet hoe om dit te gebruik, of dit was om tekstuur te verkry, of ’n sekere gevoel by die kyker oor te dra.
Wat sy werk ook opwindend maak, is dat hy nie net tradisionele drukprosesse gebruik nie. Hy het dit gekombineer met onder andere tekenmediums, skilder en digitale tegnieke. Hy was altyd innoverend en elke uitstalling was nuut met nuwe temas en ’n nuwe kombinasie van mediums en tegnieke.
Ons het ’n liefde gedeel vir drukwerk wat tegnies presies is. Daar is nie plek vir vuil vingermerke of swartgerolde ink op ’n linosnee wat iewers ligter gedruk het nie.
Christiaan het raad gehad vir alles wat problematies was in die drukkunsklas. Hy het onder andere ’n harder linoleum en ander kerfmesse voorgestel. Hy het ook geweet watter tipe ink die beste werk vir al die verskeie drukkunstegnieke. Hy het altyd opgevolg om te hoor of sy voorstelle gewerk het.
Die proses om ’n drukkunswerk te maak bestaan uit twee dele. Deel een is die maak van die plaat en deel twee is die ink en druk van die plaat op papier. Die kunstenaar skep die plaat deur die gebruik van verskeie druktegnieke. Vir ’n linoleumdrukwerk kerf die kunstenaar in linoleum of ’n harder medium soos Marley-vloerteël, of jy kan graveer- of krapmerke maak in koperplaat of Perspex. Jy kan ook skilder op ’n plaat, wat ’n monodruk genoem word. Daar is nog verskeie ander druktegnieke, soos litografie, syskermdruk, cyanotype, objekdruk en nog vele meer.
Die tegnieke wat Christiaan gebruik het waarmee ek meeste vertroud is, is linosnee en etswerk. Terwyl ’n mens die plaat skep vir hierdie tegnieke, werk die kunstenaar verkeerdom of in spieëlbeeld van die eindproduk op die plaat. Die kunstenaar kan ook nie ’n uitveër gebruik om van merke ontslae te raak nie. As ’n kunstenaar werk met woorde en letters, moet die woorde ook verkeerdom gekrap of gekerf word sodat dit reg verskyn in die finale kunswerk. As jy met linoleum werk, is al die lyne wat jy kerf, wit (of die kleur van die papier wat jy gebruik) in die eindproduk. Met etswerk is al die lyne wat jy krap met die etsnaald, swart (of die kleur van jou ink) in die eindproduk. Die kunstenaar moet kophou gedurende die maak van die plaat en dit is tot voordeel om reeds die eindproduk te visualiseer.
Deel twee, die drukproses, word nie altyd gedoen deur die kunstenaar wat die plaat skep nie. Die drukproses is ’n wetenskap van sy eie. Die drukker verstaan verskillende papier, drukkersink en die drukpers. Ons noem hulle meesterdrukkers. Christiaan is opgelei as ’n meesterdrukker in Frankryk.
Christiaan het verstaan watter tipe merke hy kan maak en hoe fyn of grof hy kon werk, want hy het geweet hoe die ink en drukpers sal reageer op sy merkmaak. Dit is ook die rede hoekom hy so ’n fantastiese mentor en leermeester was, want hy het beide prosesse verstaan en bemeester.
Ek sal Christiaan altyd onthou as iemand wat nie die waarheid sou prysgee vir mooi prentjies nie. Sy kunswerke wat moeilike temas aangepak het, lees soos ’n storie van sy lewe.
Lees ook:
Nuut by Naledi: Vlindervreter deur Melanie Grobler en Christiaan Diedericks

