Landskap met kerk: ’n resensie van Op die spoor van kerkargitek Wynand H Louw

  • 0

Op die spoor van kerkargitek Wynand H Louw, ’n reisverhaal
Albert B Geldenhuys
Naledi (2026)
ISBN: 9781997476498 

Mies van der Rohe het gesê: “Argitektuur is die wil van ’n epog in ruimte vertaal.”

Kerktorings en -geboue is seker van die kenmerkendste bakens wat die Suid-Afrikaanse landskap definieer, soms dominerend en ander kere as stille getuies van geskiedenis en van ’n epog. Dat ons dikwels ongevoelig is vir die invloed wat hierdie strukture op ons het en oor hoe ons gebruik daarvan vormend op ons inwerk, vorm dalk ’n uitnodiging dat ’n ruimtelike bewussyn nog sterker by ons kan ontwikkel.

Albert Geldenhuys gaan op reis op die unieke spoor van sy oupa se kerkargitektuur in ons landskap. Hy soek soveel as moontlik van die geboue oral in Suid-Afrika op en vind in die proses uit hoe om jou tyd te koördineer sodat jy ’n kerkgebou kan oop kry. So dokumenteer hy van die meer as 160 kerkgeboue en -sale wat Wynand Louw Argitekte oor 50 jaar ontwerp het. (Hierdie argitekmaatskappy het oor die jare in verskillende weergawes bestaan.)

Dis ’n merkwaardige nalatenskap van ’n argitek wat ook verantwoordelik was vir die ikoniese Old Mutual-gebou in Darlingstraat, Kaapstad, en vir die kampusuitleg van Stellenbosch-universiteit. Hulle was ook verantwoordelik vir die ontwerp van geboue soos die Dagbreek-manskoshuis. Kleinseun Albert het selfs ’n M-verhandeling in argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat oor sy oupa se lewenswerk gedoen.

En dis vir my, soos skynbaar ook vir Albert, belangrik om te fokus op die uiteindelike hande- en bouwerk, asook spesifieke ontwerpskeuses wat in die proses gemaak is, teen die agtergrond van die tyd waarin dit gelees moet word, die konteks waarop dit reageer het, en die blywende bydrae wat dit dus maak. Daarvoor is die kort oorsig oor die geskiedenis van kerkontwerp, die inbedding van Louw se werk in die ontstaan van die kerk aan die Kaap, en Geldenhuys se uiteindelike “besinning” dus waardevol.

Fotograaf David Goldblatti verdeel die kerkargitektuur van Afrikaner-Protestantisme breedweg in drie kategorieë: die neogotiese boustyl waar die kerkgebou die “baken” is waaromheen kerkdorpe tot stand gekom het; die “megafoon”-styl tydens die hoogbloei van nasionalisme en modernisme (vanaf die vroeë 1940’s); en die “laer” vanaf die sewentigs van die vorige eeu wat ’n mens sommer monumente aan Corobrik kan noem met hulle ouditoriumstyl en feitlik geen horisontale uitsig nie.

Louw word die eerste Afrikaanssprekende wat aan die nuutgestigte en eerste argitekskool van die Britse Ryk, die Architectural Association, gaan studeer (31). Terug in Suid-Afrika word hy een van die belangrikste skeppers van die “volkseie” Suid-Afrikaanse of Afrikaanse kerkboustyl. Dit poog om dramaties af te wyk van Carl Otto Hager se Griekse en Romeinse kruisvorme asook die neogotiese mode van die Britse Ryk. As voorhoede tot die modernisme eksperimenteer Louw met ’n meer funksionele boustyl wat in die proses eg Gereformeerd moes wees, asook gewortel in die Suid-Afrikaanse landskap.

Sy fokus is meer op die interne ruimte as op die uiterlike van kerkgeboue (293), maar kenmerke kom gou in sy werk te voorskyn, met ’n klem in kerkverstaan op die domus eccleseia (waar die mense vergader) eerder as die domus Dei (huis van God / ’n god). ’n Agthoekige gebou, sirkelvormige banke, roosvensters en drie voordeure is alles tipies van Louw se kerke. In reaksie op ’n besinning van die impak wat die vernuwende uitleg op gemeentelede in die vroeë 20ste eeu sou gehad het, sê ’n vriend van Geldenhuys dat hulle ’n sterker gemeenskapsgevoel sou ervaar.

Geldenhuys verwys na die onverkwiklike maniere waarop nuwe gemeentestigting soms plaasgevind het, wat dan tot kerkbou gelei het. Verder moet Louw se werk in die nasleep van die Anglo-Boereoorlog geplaas word, met snelle verstedeliking wat tot stedelike gemeentestigting gelei het. Terwyl hy nie netjies inpas in Goldblatt se megafoonstyl tydens die hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme nie, praat laasgenoemde van die “Afrikaner-renaissance” wat aangekondig is deur onder meer die oprigting in die 1940’s van wat slegs “ambisieuse kerkargitektuur” genoem kan word:

Vertically bold, often powerfully triangular, they redefined the landscape. If the Gothic churches of the previous generation dominated with some grace, these did so aggressively.

Goldblatt vervolg:

The paradox of ultra-conservative religious bodies still imbued with a pre–1789 world view embracing an extremely radical architecture was no paradox. Theirs was a modern message with a radical core: apartheid.

Terwyl Louw wel geplaas kan word in die periode van die opbou van hierdie nasionalisme waarvan ’n latere kollega, Gerhard Moerdyk, met sy ontwerp van die Voortrekker-monument meer tekenend sou wees, het Louw nog ander beklemtonings gehad waarvan sy waardering van die Kaaps-Hollandse styl vernaam is. Mens kan nog nie heeltemal praat van ’n demokratisering van die kerklike binneruimte nie, aangesien al die aandag op die predikant as interpreteerder van die Skrif geplaas word, wat ook sou inspeel op die beheer wat deur Christen-nasionalisme uitgeoefen is.

Daar is dinge wat haper:

  • ’n Te lang lys voorgeslagte aan die begin van die boek belemmer effens die leesbaarheid daarvan.
  • Daar is ’n groot aantal klein foto’s van ’n kerkgeboue, wat seker op geen ander manier die visuele kan weergee nie, maar ek sou die foto’s nie na die rand toe laat bloei het nie, omdat dit hulle verder verklein.

Ek hou van die uiteindelike vraag waarmee Geldenhuys jou laat oor die kontemporêre moontlikhede vir die gebruik van hierdie ruimtes. En ek wil by Geldenhuys, wat bekend is vir ’n loopbaan waarin hy leiding gegee het in ingenieursfirmas, maar ook as medestigter en voorsitter van Marche Media verantwoordelik was vir films soos Johnny is nie dood nie en Kanarie, die vraag laat: Sal van hierdie geboue wat ons landskap bly definieer, dalk ten beste in ’n dokumentêre TV-reeks tot hul reg kom?

Nota:

(i) Goldblatt, D. 1998. South Africa: the structure of things then. Kaapstad: Oxford University Press.

Lees ook:

Die Oudgriekse argitektuur (deel 1)

Die Oudgriekse argitektuur (deel 2)

Kan fleksie-argitektuur die kunste red?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top