Die Oudgriekse argitektuur (deel 1)

  • 1

In hierdie opstel wil ek die Oudgriekse argitektuur (< Latyn architectura < Grieks archê + tektôn, “die eerste skepper/maker”) in sy wydste omvang behandel. Dit het in alle opsigte ’n lang en gesofistikeerde groei op die Griekse moederland én sy aanliggende Peloponnees gehad, reeds uit die Mukeense tydvak van 1550 tot 1200 vC. Reg aan die begin van hierdie opstel wil ek egter eers ’n uitgesoekte literatuurlys gee vir diegene wat meer oor die onderwerp te wete wil kom. Hieroor is daar inderdaad al veel geskryf.

Literatuuraangawe

A Marquand, A Handbook of Greek Architecture (1909); T Fyfe, Hellenistic Architechture (1936); DS Robertson, Greek and Roman Architecture (2de uitg, 1943); B Dinsmoor, The Architecture of Ancient Greece (2de uitg, met bibliografie, 1953); AW Laurence, Greek Architecture (2de uitg, Pelican History of Art, 1967); R Martin, Manuel d’Architecture grecque (1965); BA Barletta, The origins of Greek architectural orders (Cambridge, 2013); J Summerson, The Classical Language of Architecture (The MIT Press, 1992); Henri Stierlin, From Mycenae to the Parthenon (Taschen, 2004); John Boardman, Jose Dorig, Werner Fuchs & Max Hirmer, The Art and Architecture of Ancient Greece (Thames & Hudson, 1967); Marian Moffett, Michael Fazio & Laurence Wodehouse, A World History of Architecture (Lawrence King Publishing, 2003); Marian Moffett, Michael Fazio & Laurence Wodehouse, A World History of Architecture (Lawrence King Publishing, 2003); Banister Fletcher, A History of Architecture on the Comparative Method (Elsevier Science and Technology, 2001); FC Penrose, “The Orientation of Greek Temples” (in Nature, v 48, n 1228, 2005); Örjan Wikander, “Archaic Roof Tiles: The First Generations” (Hesperia, 59(1):285–90, 1990); William Rostoker & Elizabeth Gebhard, “The Reproduction of Rooftiles for the Archaic Temple of Poseidon at Isthmia, Greece” (Journal of Field Archaeology 8(2):211–2, 1981).

Die Mukeense tydvak

Die vroegste argitektuur hier is dié van Mukene (en die nabygeleë Tiruns), dws die bouwerke van Homerus se Achajers (Achaioí) wat in Troje gaan veg het in die 12de eeu vC. Dit bestaan hoofsaaklik uit die beroemde Leeupoort van Mukene wat toegang verleen tot die Akrópolis op die heuwel daar, en die byekorf-tombes (oftewel tholoí, “koepeldakke”) daarbuite.

Die Mukeners was die klassieke Grieke hier ver voor met hul megalitiese bouwerk van die siklopiese Leeupoort. Eintlik herinner hulle bouwerk aan dié van die eertydse Kreta, waar sir Arthur Evans (1851–1941) die “Paleis van Minos” opgegrawe het, wat ons weer op sy beurt terugvoer na die Ou-Egiptiese bouwerke by Karnak aan die regteroewer van die Nyl, waarvan ons die reste vandag kan sien by Luxor en Thebe aan die Bo-Nyl.

Dit was Heinrich Schliemann (1822–90) wat die eerste opgrawings by Mukene op die Peloponnees uitgevoer het: sien sy Mycénae van 1878. Ons het hier ’n opeenstapeling van groot veelkantige rotsblokke, tussenin gestut deur kleiner klippe, om die muur van daardie vesting te kon gebou het. Die massiewe Leeupoort voor die Akrópolis van Mukene is prakties ’n vierkantige gebou, 3,15 m hoog, en 2,75 m wyd. Dit bestaan uit twee enorme vertikale pilare waarop ’n reuselatei (draagbalk) rus. Die twee leeuwyfies in reliëf wat op hierdie latei rus, staan op hulle agterpote en gluur mekaar aan, terwyl hulle voorpote op twee altare rus. Hulle koppe is vandag geskend of het verweer omdat dit uit ’n ander, minder duursame boustof geskep was. Hierdie twee leeuwyfies van Mukene word vandag beskou as die heel vroegste voorbeelde van die Griekse kuns. Die afwerking van die beelde én bouwerk is hier nog ru en kantig. Die aanvoerder van Homerus se Achajers teen Troje (1193–84 vC), Agamemnon, het sy paleis hier gehad. Oor die simboliek van hierdie twee leeuwyfies wat mekaar aangluur, is al veel gegis. Daar is dié wat meen dat dit die koninklike insignia van Mukene aandui, of selfs ’n religieuse betekenis het. Na my mening verteenwoordig dit die twee uiters naasliggende Mukene en Argos op die Argos-vlakte daarnaas. In die Oudgriekse mitologie en (daarmee) tragiese digting, soos Schliemann dit reeds uitgewys het, is die name Mukene en Argos dikwels uitruilbaar (met aanwysing eintlik van dieselfde plek uit verskillende tye).

Die reste van nege thólos-graftombes is ook in die onmiddellike suidoostelike omgewing van Mukene te vind. In hierdie koepelgeboue is die stoflike oorskot van belangrike gestorwenes weggelê. So het Schliemann hier die Skatkamer van Atreus ontdek (soos hy dit genoem het) wat die besbewaarde en imposantste van almal is. Atreus was naamlik die vader van Agamemnon, koning van Mukene. Hierdie graftombe is feitlik teen die heuwel van Mukene gebou. Die ingang (drómos) daarvan is oor die 30 m lank en 6 m breed. By die deur van die graftombe is die mure meer as 9 m hoog. Die deur self is 6 m hoog. Die deur is oordek met ’n latei wat bestaan uit twee plat reusagtige rotsblokke, waarvan die binneste een na berekening oor die 100 ton weeg. Dit moes bo van die helling af met behulp van rollers in posisie geskuif gewees het. Bo die lateie was ook ’n driehoek (soos by die Leeupoort) uitgebou, natuurlik om die gewig van die muur hoër op na die vertikale deurposte te verplaas. Die binnehoogte van die koepelkamer is by die 15 m. Die dak van die koepelvormige gebou is met stene in die vorm van ’n byekorf na binne toegebou. Die laaste opening is met ’n groot plat steen bedek. Die dakmuur was oorspronklik versier met goue en vergulde rosette, waarvan die tapgate vandag nog te sien is. ’n Paar treë regs van die ingang is daar ’n opening wat tot ’n tweede, veel kleiner sykamertjie lei. In die middel van die thólos is daar ’n vierhoekige grafput waar die liggaam van die gestorwene te ruste gelê is. In konstruksie herinner hierdie graftombes aan die bekende Thólos van Delphi uit die klassieke era (5de/4de eeu vC) wat hierdie keer met granietpilare opgerig is – een van die mooiste monumente wat vir ons in Griekeland oorgebly het (vgl E Bourguet, Les Ruines de Delphes, 1914).

Klassieke Griekeland

Die argitektuur van klassieke Griekeland loop oor etlike eeue heen waar dit aanvanklik in eenvoud begin ontplooi het totdat die Akrópolis van Athene in die 5de eeu vC versier is deur Perikles en sy opvolgers, en die monumente by Delphi (en elders) ook hulle vorme aangeneem het. Hier gaan ek eers die bou van die muur van die Atheense Akrópolis bespreek, en daarna die bou van tempels, (opelug-)teaters, stoaí (suilegange), die uitleg van die Oudgriekse pólis en Agorá, stadia, gimnasia, mausolea (praalgrafte), openbare geboue (soos die bouleutêrion, oftewel Raadhuis), asook die bou en uitleg van private huise.

Die muur van die Akrópolis

Die Akrópolis van Athene het ’n baie lang, ononderbroke geskiedenis. Reeds sedert die begin van die 3de millennium vC was dit ’n Neolitiese vesting. In 1922 het die Italiaanse argeoloog D Levi besliste tekens van verre prehistoriese habitasie aan die noordelike hange van die Akrópolis gemaak. Dit was egter eers na die vestiging van die Achajers teen 2 000 vC (in die Middel-Helladiese tydvak) dat die eerste groot paleis op hierdie heuwel gebou is. Dit was waarskynlik binne in die konstruksie van hierdie paleis dat, volgens Homerus, die vroegste pôros-tempel, oftewel vulkaniese-tufsteen-tempel, op die Akrópolis opgerig was. Nadat die verering van die godin Athena op die Akrópolis gevestig geraak het, is private wonings geheel en al uit haar témenos, of tempelgebied, (templum) verwyder.

Gedurende die 6de eeu vC is die eerste bouwerke van Solon, Peisistratos en Kleisthenes op die Akrópolis uitgevoer, soos die Tempel van Athêná Poliás (die Stadbeskermer), die oer-Parthenon, die argaïese Própulon (voorhof van Athena se tempel en entree tot die Akrópolis), asook vele ander kleiner tempeltjies. Na die Atheense Akrópolis van die goue tydvak van Perikles in die 5de eeu vC sal ek weer volledig terugkeer.

Daar word vandag drie fases onderskei in die skep en bou van die muur van die Akrópolis, naamlik die ou Pelagiese muur (die Pelasgers was die oorspronklike inwoners van Griekeland), die Mukeense muur (à la die Mukeense argitektuur op die Peloponnees), en die eintlike Klassieke muur.

Die Pelagiese muur, waarvan die presiese loop vandag uiters hipoteties vas te stel is, het die Pelasgers (as ou Griekeland se Seevolk) reeds in die Neolitiese tydvak opgerig, dws teen die 3de millennium vC. Dit was in die verre Oudheid bekend as die Negepoort-muur (tò enneá-púlon by Homerus).

In die Middel-Helleense tydvak is die Mukeense muur van die Akrópolis gebou, waarvan gedeeltes vandag nog te sien is. Dit was ongeveer 9,75 m hoog en 4–6 m breed. Eintlik het dit bestaan uit twee mure waarvan die tussenruimte opgevul is met los klippe. Hierdie muur is gebou met reusagtige rotsblokke van kalksteen wat onafgewerk op mekaar gestapel is sonder enige bindmateriaal, behalwe kleiner klippe om die openinge tussenin mee op te vul.

Die Klassieke muur is na die Tweede Persiese inval en stroping van Athene in 480 vC (met die slag van Marathon) gebou. Om die oppervlakte van die Akrópolis met tot 300 by 150 treë (omtrent 275 by 135 m) te vergroot, is die kromminge van die ou Mukeense muur uitgesny met meer reguitlynige bouwerk, veral aan die suidelike hang. Die nodige opvulling is gedoen deur die ruïnes van die ou tempels en standbeelde daarin te berg. Op verskeie punte aan die noordelike, oostelike en suidelike hellings het die klassieke bouers daarvan selfs hierdie materiaal vir die “aangesig” van die muur gebruik as ’n ewigdurende herinnering aan die Persiese inval onder Xerxes in 480 vC. Sien hier RL Scaranton, Greek Walls (VSA-uitgawe, 1941).

Die twee Piraeus-mure

Nog voor die aanbreek van die Peloponnesiese Oorlog (431–404 vC) het die stratêgós (militêre bevelhebber) Themistokles nie alleen die Atheense vloot opgebou nie, maar ook twee Groot Mure (tà skélê: “die Bene”) laat bou tussen die Akrópolis en die Atheense hawe, die Piraeus, om so oor land ’n vrye toegang tot die see te behou. Dit was reeds in die jare 461–56 vC. Dit het gestrek oor ’n afstand van ongeveer 6,5 km land in, na die stad Athene self, en die mure was 60 m uitmekaar. Hierdie muur het die Spartane later onder Lusandros (na afloop van die Peloponnesiese Oorlog wat Athene verloor het) laat afbreek, maar Kimon het dit laat herbou. Dit was die Romeinse aanvoerder Sulla wat dit later weer volkome sou uitwis 300 jaar nadat dit gebou is. Dele daarvan kan egter vandag tog nog geïdentifiseer word. Die Piraeus-hawe het uit drie onderdele bestaan, naamlik die oostelike Zea en Munichia vir oorlogskepe, en die westelike Kantharos, oftewel mégas limên, “die groot baai”. Al drie hawehoofde het smal ingange gehad wat met kettings afgeseël was. Eertyds het Athene Phaleron ten Ooste van die Piraeus ook as hawe gebruik. Maar dit was te onbeskerm. Sien hier weer RL Scranton, “The fortifications of Athens at the opening of the Peloponnesian War” (The American Journal of Archaeology, 1938, ble 525 vervolgens). Megara aan die Saroniese Golf, ten suide van Attika, het later ook sý hawe met mure probeer beskerm om nie sy toegang tot die see te verloor nie.

Die Oudgriekse tempel

Dit is sekerlik in hulle tempelbou dat die ou Grieke hul ware kunssinnigheid die beste geïllustreer het. Hier het hulle die kuns verstaan om grootse eenvoud met hul sin vir proporsie te vergestalt, en om ’n volmaakte perspektief binne ’n allesomvattende harmonie te handhaaf. Voorbeelde van groot Oudgriekse tempels, geskend soos dit bewaar gebly het, vind ons dwarsoor die Griekse wêreld vanaf die 5de eeu vC, soos die tempel (Parthenon) van Athena op die Akrópolis in Athene; die tempel van Apollo op Delphi; die tempel van Zeus by Olumpia op die Peloponnees; die tempel van Artemis in Efese; die tempel van Hera op die eiland Samos; die tempel van Poseidon by Kaap Suneion in Suidelike Attika; die tempel van Poseidon by Paestum in Suid-Italië aan die Mare Tuscum; die tempel van Artemis of Britomartis (vgl Pausanias 2.30.3 en Solinus 11.8, waar gesê word dat die naam van hierdie godin in Kretensies “sweet maid” beteken) by Aphaia in Aigina; die tempel van Bassai in Arkadië op die Peloponnees; die tempel van Hephaistos aan die Atheense mark; die tempel van Erechtheus, ook op die Akrópolis, en die klein tempel van Athena Níkê (die Athena van Oorwinning), nogeens op die Akrópolis.

Tempel van Erechtheus | Foto: Jebulon, CC0, Wikimedia Commons

Al hierdie tempels gaan nie nou afsonderlik bespreek word nie. As meestervoorbeeld van Oudgriekse tempelbou sal egter die tempel van Athena op die Akrópolis van Athene geneem word, en die ander bygebring word waar dit ter sake is. Voordat egter hiermee begin word, moet die drie ordes van tempelpilare eers gedefinieer word.

Die Doriese pilaar (wat die meeste gebruik is) groei op pikante wyse dikker vanuit sy voetstuk op die stilobaat waarop dit staan tot by sy kapiteel, oftewel suilehoof. Dit het ’n bakvormige kopstuk met ’n vierkantige platsteen daarop. Dit is die stewigste en origens bonkigste van die ou Griekse pilare. Origens skep dit die indruk van volmaakte eenvoud. Dit is die pilaar wat op die Griekse moederland (die Parthenon in Athene) en by die Griekse kolonies in Suid-Italië (Magna Graecia) gebruik is. Die Doriese pilaar is sonder voetstuk, en die vertikale groefwerk daarvan is vlak en wyd.

Die Ioniese pilaar is heelwat dunner as die Doriese pilaar, wat dit nogal heel elegant maak. Die kapiteel daarvan het sywaartse (volute) krulle soos ramshorings en is meer ornaat. Die vertikale groefwerk daarvan is diep en smal waar die suiltromme aanmekaar gebind word. Hierdie pilaar is veral in die oostelike (Klein-Asiaties) Griekse wêreld en op die eilande in die Egeïese See op pad daarheen gebruik.

Die Korinthiese pilaar is, aan die kapiteel, omgekeerd klokvormig, ook dunner as die Doriese pilaar, maar teen die kapiteel versier met die blare van die ákanthos, die disteldoring. Hierdie pilaar is selde in die Griekse wêreld gebruik, maar word veral gesien in die Romeinse wêreld wat gevolg het op die klassieke Griekse era. Dit is eers in die later 5de eeu ontwerp, en volgens tradisie deur die beeldhouer Kallimachos, waarskynlik ’n gebore Athener: vgl Vitruvius, De Architectura 4.1.9-10.

Die belysting van Oudgriekse tempels

Vir die belysting van Oudgriekse tempels in Athene, Olumpia, Delphi en elders, sien L Shoe, Profiles of Greek mouldings (1936), asook sy Profiles of Western Greek mouldings (1952).

Voordat ons na die individuele Oudgriekse tempels kyk, moet ons eers sien hoe ’n Griekse tempel tegnies met sy verskeie onderdele inmekaar sit.

’n Tipiese Oudgriekse tempel het die volgende argitektoniese onderdele:

die krêpidôma: die heel eerste (onderste) fondament waarop die ganse bouwerk van die tempel rus, met gewoonlik drie trappe wat na die “vloer” van die tempel lei

die stilobaat: die direkte onderbou van die tempel waarop die pilare van die tempel rus

die suil of pilaar self, wat op hierdie stilobaat staan, saamgestel uit suiltromme wat deur kannelures, oftewel geutvormige groewe, aanmekaar gevoeg word

die kapiteel of suilhoof, waarin die onderskeie stylordes tipies verskil: Dories, Ionies en Korinthies

die echînos: ’n soort “bus” van steen of metaal waarmee die suilhoof van ’n pilaar aan die pilaar self geheg word

die argitraaf as onderste deel van die tablatuur en balkwerk wat op die suile rus

die fries, oftewel beeldhoustrook, wat op die argitraaf rus en waarbinne grootse skulptuur in reliëf aangebring is

die metope (metôpa) as die frontaangesig binne die skulptuur van die fries wat deur trigliewe verdeel word – stene met drie gleuwe wat hierdie beeldhouwerk op die fries verdeel en laat afwissel

die kroonlys (tò gheîson) wat as oorstekende dekrand die entablement afrond

die pediment, oftewel driehoekige gewel, wat uiteindelik na bo spits.

Die Oudgriekse tempel was die tuiste (témenos: “afgebakende domein” > templum) van ’n bepaalde godheid (of meer as een, soms selfs drie). Dit was eintlik ’n katedraal, maar aanbiddingseredienste is nie gereeld daarin gehou nie.

Binne die tempel was daar altyd die beeld van die betrokke godheid wat daar aanbid is. Dit was die naós (intransitief by naeîn, “om te woon”) genoem. Dit het die heel binneste van die tempel uitgemaak. Hier is die godebeeld aanbid in die sin dat dit daar beskerm en bewaar is.

Die Griekse tempel het altyd oos gefront, in die rigting van die opkomende son. Hierdie oos-wes-koördinasie had dus ’n religieuse sin. In die Ooste is die Songod (Hêlios) indertyd ook druk aanbid, soos by die Oosterse Mithraïsme en die Zoroastrianisme.

Onmiddellik voor die tempel was daar die offeraltaar waarheen kosbare offers gebring is. Die Grieke had ’n ou tradisie dat individue in nood as smekelinge daarheen kon vlug om beskerming by die betrokke godheid te vra. Dit was dan ook ’n ongeskrewe wet dat smekelinge daar met rus gelaat sou word. Reeds in prehistoriese Griekeland het hulle hierdie offertafels vir bloedoffers gehad (net soos die Inkas in Suid-Amerika, asook die bouers van Stonehenge in Suid-Engeland). Bloedoffers is hier gebring (soos ook by die ou Jode in Israel). Mettertyd is spesiale aandag egter aan die bou van hierdie altare by tempels gegee. In Ioniese Klein-Asië is offeraltare hoog opgebou sodat dit met trappe bestyg moes word. Die Altaar by Pergamum was byvoorbeeld 12 m hoog, terwyl dit by Sirakuse in Sicilië en Parium in die Troas selfs ’n stádion (600 Griekse voet, of 185 m) hoog was. Aanvanklik is altare in die vorm van vierkantige blokke gebou. Later (in die Hellenistiese tyd) was ronde altare ook algemeen. In die Oudgriekse kultuur was daar drie vorm van altare, naamlik die bôma (soos by Handelinge 17:23 in die NT); die eschára, oftewel brandaltaar vir ’n held of halfgod; en natuurlik die hestía as haard- of huisaltaar. Sien hier CG Yavis, Greek altars (VSA-uitg, 1949).

Die heel basiese element van ’n tempel was natuurlik sy naós (cella in Latyn), die binnekamer waarin die betrokke kultus se godebeeld of godebeelde geplaas was. Dit kon verskeie vorme in die Oudheid aangeneem het. Dit kon vierkantig, langwerpig en selfs rond gewees het. In die preklassieke Mukeense tydvak het ons die mégaron (“groot hal”, soos by ’n paleis) gehad wat van Minoïes-Egiptiese afkoms was. Na die intog van die Doriërs uit die noorde (in 1104 vC volgens Thoukudides) het hierdie konstruksie van die Achajers verdwyn.

Die wydte van ’n ou Griekse tempel was gewoonlik een helfte van sy lengte. Oor die algemeen was Griekse tempels betreklik klein (soos die een van Athena Níkê op die Atheense Akrópolis) as ons dit sou vergelyk met die tempels van Egipte en die Ooste. Die tempels van Artemis by Efese, Hera op Samos, en die Olimpiese Zeus wat Peististratos vir Athene beplan het, was weer buitengewoon groot. So ook die tempel van Zeus by Agrigentum (moderne Agragas) aan die suidkus van Sicilië. Sulke colossi was in die Oudgriekse wêreld maar raar.

Die Oudgriekse tempel het ook sy heiligdom (hierón) in die naós gehad naas sy offeraltaar (bômós) daarvóór. Dit was die skatkis van die tempel (soos by Athene en Delphi) waar geld (die staatskis) en ander kosbaarhede bewaar is.

’n Griekse tempel kon ook ’n áduton, dws ontoeganklike binneste, gehad het waartoe net die hoogste priester toegang gehad het. Dit kan vergelyk word met die “Allerheiligste” in die ou Joodse tempels (ágter die katapétasma, oftewel voorhangsel).

Griekse tempels kon verder ’n pró-naos en ’n opisthó-domos gehad het, dws ’n voorhal en ’n agterkamer. In eersgenoemde was daar die beeltenis van die godheid, en in laasgenoemde, agter die naós, is weer eens die skatte van die betrokke pólis (stadstaat) in veilige bewaring gehou (soos by Athena se Parthenon op die Akrópolis in Athene).

Griekse tempels was gewoonlik sonder ’n dak, afgesien van die naós (cella). Dit was slegs omring deur een of meer suilegange, waar distyle in antis die gebruik was by kleiner tempels, dws met twee suilegange tussen die antae of eindes van die symure daarvan, dws die naós self. Die portiek (oorgewelfde ingang) by die ou Griekse tempels kon ’n verskeidenheid van vorme aanneem. Daar was Oudgriekse tempels wat sekerlik ook dakke op gehad het wat op die suilegange gerus het. Eertyds was dit nie (groot) teëls nie, maar dakke van hooi of gras (vgl hier AT Hodge, Woodwork of Greek roofs, 1960). As teëls gebruik is, was dit nie net daar as ’n dekoratiewe element nie. Hierdie pilare van marmer en kalksteen was baie eie aan ’n Oudgriekse tempel. Die los tromme waaruit die pilare bestaan het, is deur uitgekapte groewe aanmekaar geheg.

’n Latere ontwikkeling by Griekse tempels was die aanbou van vleuels (pterá: “vlerke”) aan die nukleus van die tempel. En die naós – die sentrale binnevertrek – kon ook nog ’n kleiner vertrekkie (naiskós) by gehad het wat vir ’n spesiale doel van die betrokke kultus aangewend is.

’n Oudgriekse tempel kon selfs ’n “gewel”, oftewel kroonlys, met ’n driehoekige pediment daarop, gehad het waarbinne ’n túmpanon (vgl die tympanum fastigii in Latyn) aangebring was. Dit het die vorm van ’n pouk (ronde slaginstrument) of keteldrom gehad: vir die Romeine vgl hier Vitruvius, De Arhcitectura 4.7.5.

In die heel vroegste tye was tempelpilare van hout, waarvan sommige vir baie lank diens gedoen het, soos Pausanias van die 2de eeu nC getuig in sy “Reisgids van Hellas” oor wat hy by Olumpia in die Peloponnees waargeneem het.

Terwyl die vroegste Griekse tempels nog baie eenvoudig van konstruksie was (soos in Homerus se tyd, dws die 9de eeu vC), het die tempelargitektuur oor die volgende drie eeue oor die hele Griekse wêreld heen geweldig vindingryk ontwikkel, soos in Athene self (Parthenon en Erechtheion), asook by Delphi en Olumpia op die Peloponnees. Die name van die groot argitekte hier is vandag vir ons welbekend, soos Kallikrates, Iktinos en Mnêsiklês, onder andere.

Die interieure kolomme (suilegange) by die Oudgriekse tempels was meermale in twee rye gerangskik, soos by die tempel van Aphaia op Aigina (waarvan die skulptuur van die pediment vandag in München, Duitsland, te sien is). Dit was ook die geval met die tempel van Poseidon op Paestum in Suid-Italië aan die Mare Tuscum.

Geheg aan ’n tempel kon daar ook meer as een stoá bygebring gewees het. ’n Stoá (ook stoiá gespel) is ’n bedekte suilegang of porticus waarbinne rustig gewandel kon word. Athene had selfs die Stoá Poikilê (“Beskilderde Suilegang”) op sy mark (Agorá) gehad waar Zeno van Kition in Siprus sy “Stoïsynse” filosoweskool gestig het.

Die Parthenon van Athene

Hoewel die Parthenon op die Atheense Akrópolis na ’n strakke meetkundige komposisie lyk met reghoeke en reguit lyne, is dit alles ’n illusie. Die antieke argitekte daarvan, Kallikrates en Iktinos, het verskeie truuks gebruik om die oog te kul. Die hoekpilare van hierdie tempel is effens dikker as die ander, om dié aan die einde van ’n ry nie dunner te laat lyk nie. Die pilare loop ook nie ewe spits na bo nie. Dit swel effens vanuit hulle voetstukke, en word van die middel af weer dunner. In Grieks word hierdie verskynsel éntasis genoem. Alle horisontale lyne in hierdie bouwerk, soos die stilobaat, argitraaf en kroonlys, loop met ’n delikate konvekse kurwatuur, wat dit in die middel omtrent 10 cm  hoër maak as aan die ente. Die aslyn van die pilare staan ook nie absoluut loodreg nie. Dit hel aan die bokant met ’n inbuiging van ongeveer 19 cm na binne oor. Daar staan vandag ’n presiese replika van die Atheense Parthenon in Nashville in die VSA.

Die Parthenon was die tempel van Athênâ Parthénos, die “Maagd Athena”, beskermgodin van Athene. Dit was gebou op die hoogste punt van die Akrópolis, net suid van waar die eerste argaïese tempel van Athena gestaan het. Vir die Atheners was dit uiteindelik die simbool van hulle inherente pietas (vaderlandse liefde, trou en eerbied) asook hul militêre mag. Daar is in 447 vC begin bou aan die Parthenon. Die tempel en sy kultus is in 438 vC gewy, maar die werk daaraan, veral van die skulptuur en pediment, het voortgegaan tot 432 vC. Aan hierdie tempel was eintlik alreeds begin bou voor die Persiese inval van 480 vC (seeslag van Salamis, en finale landslag in Plataia van 479 vC) waartydens groot verwoesting aan die Akrópolis aangerig was. Met modifikasie is daarna op die bestaande fondamente voortgebou. Behalwe Iktinos en Kallikrates was ene Karpion ook ’n mede-argitek. Die bouwerk is in die geheel oorsien deur die beroemde beeldhouer Pheidias in opdrag van Perikles. Die pilare (46 altesaam) was ontwerp volgens die Doriese orde, gebeitel uit die marmer van die nabyliggende Pentelikos-berg (sowat 16 km noordoos van Athene). Hierdie marmer was melkwit en het mettertyd tot goudbruin verkleur (terwyl die Pariese marmer, van die eiland Paros in die suidelike Egeïese See, meer geblink het).

Die Parthenon is nagenoeg 69,5 m lank en 30,5 m breed vanaf die boonste trappie van die stilobaat. Dit het agt kolomme in plaas van die meer algemene ses aan die eindes daarvan, en 17 kolomme aan die kante. Die groter oostelike kamer het ’n dubbele binnekolonnade wat nie sydelings loop nie, maar rondom die westelike einde, agterom die kultusstandbeeld.

Die skulptuur van die Parthenon is verreweg meer elaboraat en samebindend in die mitologiese temas daarvan as wat die geval is by die ander ou Griekse tempels wat vir ons bewaar gebly het. Dit alles was die skepping van die vermaarde beeldhouer Pheidias.

Die volgende werke, meer spesifiek oor die konstruksie, versiering en kultus van die Parthenon, kan geraadpleeg word: A Michaelis, Der Parthenon (1871); AS Murray, The sculptures of the Parthenon (John Murray, Londen, 1903); CJ Herrington, Athena Parthenos and Athena Polias (1955, veral vir die kultus van Athena); PE Corbett, The sculpture of the Parthenon (1959); F Brommer, Die Skulpturen der Parthenon-Giebel (1963); Idem, Die Metopen der Parthenon (1967).

Die metope van die Parthenon

Daar was oorspronklik 92 metope aan die voorkant of front van die entablement van die Parthenon wat op die balkwerk bo die argitraaf van die perístulon (suilegang rondom die naós, met sy voor- en agtersaal) gerus het (met die pediment weer daarbo). Hierdie paneeltjies, elk van vier vierkante voet, het uit hoogreliëf bestaan en is deur trigliewe (’n steun met drie gleuwe en afgeskuinste kante) van mekaar geskei. Dit het ’n hele reeks mitologiese gevegte voorgestel: aan die ooste het ons die stryd tussen die gode en die Titane; aan die weste die stryd tussen die legendariese Kéntauroi (wesens met die bolyf van ’n mens en die onderlyf van ’n perd) en hul Thessaliese bure, die Lapíthai, asook die oorwinning van die Grieke oor die Amazone; en aan die noorde en die suide het ons weer tonele uit die Trojaanse Oorlog van 1193–1184 vC.

’n Paar metope is vandag nog in hulle oorspronklike plekke, terwyl die grootste deel daarvan in die vroeë Christelike tydvak verwyder is. ’n Klompie suidelike metope, 15 altesaam, is vandag in die Britse Museum as deel van die sogenaamde Elgin Marbles (wat Thomas Bruce, alias lord Elgin, in 1806 reeds na Engeland verskeep het en 10 jaar later in die Britse Museum opgeneem is). Die westelike hoek van die noordwestelike metoop aan die noordelike suilegang is later, in die Christelike tydvak, geïnterpreteer as ’n voorstelling van die Aankondiging aan die Heilige Maria (soos ons dit het in die Christelike NT, Lukas 1:26–38). Dit is dan waarskynlik ook die rede waarom dit later in loco bewaar gelaat is.

Die fries van die Parthenon

Die fries (Latyn frisium, “fraiing”) is net die drie voet (byna 1 m) hoë beeldhouwerk in vlakreliëf rondom die bomuur van die naós wat net onder die kroonlys (tò gheîon) geloop het. Die oorspronklike lengte daarvan was 160 m, waarvan 75 m nou, “danksy” lord Elgin, ook tans in die Britse Museum te sien is. Dit het ’n grootse en breedvoerige voorstelling van die pan-Atheense prosessie gebied. Dit was een van die groot Atheense feeste in Juliemaand, veral tà megála Panathênia, ’n agtdaagse fees wat elke vier jaar gehou is. Dit was ter ere van die godin Athena, en die hoogtepunt daarvan was die prosessie op die laaste dag van die fees waarby ’n nuwe kleed (péplos) van saffraangeel stof en ryklik versier met motiewe uit die Oudgriekse mitologie (asook lewende persoonlikhede daarby) op die mas van ’n skip op wiele (hê panathênaïs skáphê) deur die Agorá van die stad na die Akrópolis getrek is om daar die xóanon, oftewel olyfbeeld van Athenâ Poliás (die skutgodin van Athene) in die ou tempel weer nuut te gaan klee. Die prosessie hier het bestaan uit die skáphê waarop die péplos vervoer is, gevolg deur jong meisies met mandjies in die hand (waarin die offerimplemente geberg was), die offerdiere, jong seuns met offerbekers in die hand, musikante, ou mans wat olyftakke gedra het, enkele strydwaens, en ’n kavalkade van jongmanne op vurige perde. Die fees is dan voltooi met ’n hekatómbê (’n offer van 100 beeste was dit veronderstel om te wees). ’n Gedeelte van die westelike fries was het vir ons in situ bewaar gebly. Dit toon jongmanne met hul perde wat besig is om hulle gereed te maak vir die optog, terwyl ander al reeds ingeval het.

Die Parthenon op die Akrópolis van Athene staan nou al, helaas heel gehawend, vir 24 eeue daar. Tot 1687 was dit nog redelik ongeskonde. Maar dit het intussen radikaal van funksie verander.

Die vroegste letsels aan die Parthenon lê vandag voor die deur van Alexander die Grote (Macedonië 356 – Babilon 323 vC). In die argitrawe onder die pediment, en veral in die oostelike argitraaf, sit nog die gate waaraan hierdie Alexander die vergulde skilde laat ophang het wat hy in 334 vC in die slag van Granikos gebuit het. Hy het dit egter as ’n geskenk vir die Atheners aangebied.

In 439 nC het keiser Theodosius die Grote, stigter van die Universiteit van Konstantinopel, ’n edik uitgevaardig (bk 16 van die Theodosiaanse Kode), waarin hy die Griekse pagane, en daarmee die Olimpiese godsdiens, verbode verklaar het. En na nege eeue was die Parthenon nie meer Athene s’n nie. Dit het later ’n Christelike (Grieks-Ortodokse) kerk geword op gesag uit Konstantinopel.

In 630 nC was die Parthenon eers gewy aan Sint Sophia, en daarna het dit die “Kapel” geword van die Heilige Maagd Maria (vgl weer die westelike hoekmetoop hier). Die Parthenon was nou die setel van die biskop van Athene. Die laaste Grieks-Ortodokse biskop hier was niemand anders nie as Michael Choniates, ’n man wat weer in alle erns belang begin stel het in die Oudgriekse literêre erfnis.

Na die val van Konstantinopel in 1453 nC aan die hand van die Ottoman-Turke het die Parthenon weer nuwe base gekry. In 1460 nC is die Parthenon in ’n moskee omskep met ’n minaret op die suidwestelike dakhoek. Die perístulon was toe alreeds toegebou.

Die grootste ongeluk het die Parthenon egter in 1687 nC getref toe die Venesiërs onder Francesco Morosini dit beleër het. Hulle het ’n bom teen die Turke vanaf die Heuwel van die Muses (waar ons vandag die praalgraf van die Siriese prins Philopappos het) afgevuur wat die Parthenon volskoot getref het, met katastrofiese gevolge – na soveel eeue van ’n roemryke bestaan.

Die spyker in die doodskis van wat oorgebly het, was lord Elgin se roof in 1806 van die Parthenon wat oorgebly het, en vandag (sedert 1816), honderde kilometer daarvandaan net in die Britse Museum te sien is.

Die Parthenon soos dit vandag daar staan, en spesifiek die buitenste kolonnade, is die produk van grootskaalse restourasie wat die Griekse self (met Amerikaanse hulp) net na hul groot Vryheidsoorlog (1821–29/33 nC) onderneem het.

Die Erechtheîon

Die Erechtheîon op die Akrópolis van Athene is mede ook een van die belangrikste bouwerke wat daar opgerig is. Dit is na die dood van Perikles in 429 vC gebou. Die bouwerk daaraan het begin tydens die Vrede van Nikias in die Peloponnesiese Oorlog, dws ná Maart 421 vC. Met die noodlottige Siciliaanse ekspedisie van 415–13 vC is die bouwerk weer onderbreek, en dit is eers in 406 vC voltooi. Wie die argitek van hierdie tempelkompleks, in Ioniese styl, was, weet ons nie. Daar is dié wat meen dat dit (soos die Propúlaia, oftewel entree-met-trappe, tot die Akrópolis) ook die werk van Mnêsiklês was. Hier sou hierdie Atheense boumeester egter ’n uiters moeilike taak gehad het, omdat die grondoppervlak daar baie ongelyk was en hy binne ’n beperkte ruimte ’n ingewikkelde kompleks moes oprig wat só saamgestel was dat die afsonderlike dele daarvan elkeen op ’n tradisionele ligging moes staan.

Naas as ’n tempelkompleks, het die Erechtheîon eintlik as ’n museum gedien. Dit is gebou reg op die plek waar die tradisionele wedstryd tussen Athena en Poseidon om besit van Attika plaasgevind het. Die olyfboom het daar gestaan wat Athena vir die Atheners geskenk het om die wedstryd te wen, en Poseidon sou ook net daar sy soutwaterfontein laat ontspring het. En dan was daar ook nog die rots wat Zeus met sy bliksemstraal op die Akrópolis getref het. Hierdie tempelkompleks moes dus die heel oudste religieuse relikwieë van Athene huisves.

Ons kan vandag nie met absolute sekerheid die verskillende komponente van die kompleks, soos Pausanias (’n Griekse reisbeskrywer van die 2de eeu nC) dit aangee, plaas nie.

In die oostelike deel van die kompleks was waarskynlik die cella van Athênâ Poliás geleë. Dit was waarskynlik hier dat die xóanon (olyfhoutbeeld) van Athena gestaan het nadat dit uit die ou tempel van die godin op die Akrópolis wat in 480 vC deur die Perse onder Xerxes verwoes is, daarheen oorgebring is (selfs opnuut gemaak as dit in die slag gebly het).

In die westelike deel van die kompleks was waarskynlik weer die Altaar van Poseidon-Erechtheus. Die verband tussen Poseidon en Erechtheus is obskuur. Erechtheus, oorspronklik in die vorm van ’n slang gebore, wat ’n prehistoriese legendariese koning van Athene. Hy sou teenwoordig gewees het by die stryd om Attika tussen Athena en Poseidon, en sou ook ten gunste van Athena gestem het. In Homerus se Ilias (2.547, vervolgens) word van sy aanbidding deur die Atheners melding gemaak. Homerus praat ook van Athene as “die sterk huis van Erechtheus”. Na sy dood is Erechtheus toe tot god verhef. In die vloer van hierdie deel van die tempelkompleks was ook die soutwaterfontein van Poseidon, god van die see. Pausanias weet te vertel dat as die suidewind van die see af gewaai het, die geklots van die golwe in hierdie fontein gehoor kon word. Die merke in die rots waar Poseidon se tríaina (drietand) die Akrópolis-rots getref het, was glo ook duidelik sigbaar.

Ten weste van Poseidon se heiligdom (dws onmiddellik daarvóór) was die Pandroseion, gewy aan Padrosos, die dogter van Kekrops, tradisioneel die eerste koning van Athene. Binne hierdie templum het Athena se heilige olyfboom ook gestaan. Die oorspronklike boom is in 480/79 vC deur die Perse afgebrand. Maar dit het daarna weer nuut uitgeloop en so nuwe hoop in die harte van die Atheners geplaas. Die een wat vandag daar staan, is deur ’n Amerikaanse argeoloog geplant ten herinnering aan sy mistieke voorganger. Hier, in die Padroseion, was ook die Altaar van Zeus Herkeios, die beskermer van huis en haard.

Ten noorde van die hoofkompleks van die Erechtheîon was die sogenaamde noordelike portiek, oftewel oordekte suilegang. Dit het die plek oordek waar Zeus se bliksemstraal die Akrópolis-rots getref het. Aangesien die donderslag uit die hemel gekom het, is die gat daarvoor in die dak daar oopgelaat reg bo die merke van Zeus se bliksemstraal.

Ten suide van die hoofkompleks was weer die sogenaamde Portaal van die Karuátides. Die dakkonstruksie van hierdie portaal het gerus op ses pilare, elkeen in die vorm van ’n jongmeisiefiguur gekleed in ’n lang gewaad. Karuátides beteken eintlik “die jongvroue van Karúai”, laasgenoemde ’n dorpie in Peloponnesiese Lakonië. Hierdie standbeelde, as pilare gebruik, kon toeriste in antieke Athene herinner het aan die dansende meisies by die jaarlikse fees van die godin Artemis in Lakoniese Karúai. Die tweede meisie (kórê) van links in die voorste ry is vandag ’n namaaksel. Die oorspronklike is in 1806 deur lord Elgin verwyder en staan nou eensaam in die Britse Museum. Die noordelike van die twee oostelike kórai is ook moderne reproduksies. Hierdie pilare by die Erechtheîon is uniek in die ganse Oudgriekse wêreld.

In die vroeë Bisantynse tydvak was die Erechtheîon op ’n keer omskep in ’n Christelike kerk. Gedurende die Turkse besetting het dit weer gedien as die residensie van die pasja. Die noordelike portiek is in 1827 nC gedeeltelik verwoes tydens die Griekse Vryheidsoorlog van 1821–29/33.

Die Erechtheîon is met marmerblokke van die nabygeleë Pentelikos-berg gebou, met die friese van swart steen uit Eleusis. Wilhelm Dörpfeld is waarskynlik reg as hy beweer dat die Erechtheîon (oorspronklik) ’n lang vierkantige gebou was.

Vir die Erechtheîon spesifiek, sien GP Stevens & JM Paton, The Erechtheum (VSA, 1927).

Lees ook:

Die Oudgriekse argitektuur (deel 2)

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top