Die Oudgriekse argitektuur (deel 2)

  • 0

Die teater in Delphi | Foto: Leonidtsvetkov, CC BY-SA 2.5, Wikimedia Commons

Die Oudgriekse teater

Die antieke Griekse drama, oftewel teaterkultuur, het reeds teen 700 vC op die voorgrond begin tree, met Athene wat mettertyd die middelpunt daarvan geword het, eers vir die tragedie (teen 500 vC) en kort daarna ook vir die komedie. Hier het die drie groot Atheense tragiese dramaturge van die dag (Aischulos, Sophokles en Euripides) opgetree, asook Aristophanes van die Ou Komedie en Menandros van die Nuwe Komedie. Athene het indertyd die middelpunt geword van die Oudgriekse kultuurlewe (as gevolg van sy politiese en oorheersende militêre mag). Vanuit Athene is die Oudgriekse drama-opvoerings uitgevoer na haar kolonies en bondgenote. Die Oudgriekse dramatiek was reg van die begin af ten nouste verbind met die wyngod Dionusos (gebore uit die dy van Zeus nadat hy tot as vermurwe was deur ’n bliksemstraal wat Hera van Zeus aangevra het). Sy godheid was aanvanklik nie in Athene erken nie, maar sy dwelmbesete volgelinge, die Bákchoi (Bakchante), het sy kultus later daar gevestig. Hy was oorspronklik ’n Thrasiese godheid wat ekstase en mistisisme in die Oudgriekse kultuur ingevoer het. Die Grieke het hom geïdentifiseer met die Egiptiese Osiris en die Romeine met hul wyngod Liber. Dionusos was uiteindelik ook die god van alle vrugbaarheid. Dit is nie vandag vir ons moontlik om met sekerheid te sê waarom sy vrugbaarheidskultusse die basis gaan vorm het van die Oudgriekse tragedie en komedie nie. Aan die suidelike hang van die Atheense Akrópolis was daar vir hom die teater van alle teaters gebou, naamlik ’n opelugteater, die Teater van Dionusos. Dit is gedoen nadat die Perse in 490 vC (met die slag by Salamis) met sy landtroepe die Atheense Akrópolis geweldig groot skade aangedoen het en ’n herbouing daarvan nodig was.

Die basiese onderdele van die Oudgriekse teater was die volgende:

die orchêstra: die koorsirkel en dansplek van die Koor (chorós) wat gewoonlik ’n middellyn van nagenoeg 24 m gehad het

die thumélê: die altaar in die middel van die orchêstra

die théatron: die sitplekke (waarvan die prohedríai of thrónoi, heel voor; bedoel vir die priesters en ander hooggeplaastes); gekap uit ’n heuwel, wat later die oorspronklike houtsitplekke vervang het. So ’n teater kon tot 14 000 toeskouers huisves. Théatron in Grieks beteken letterlik ’n “skouburg” waar handeling “gesien” word (< theáomai, “ek aanskou in verwondering”)

die skênê: die toneelskerm waarteen die toneel afspeel, oorspronklik ’n eenvoudige houthuis (vgl Engels “scene”) wat ook ’n tweede verdieping kon gehad het

die próskenion: die verhoog voor die skênê (prò tês skênês) waarop die akteurs optree

die logeîon: die spreekgestoelte, oftewel die verhoog voor die proskênion waarop die akteurs opgetree het

die paraskênia: die kleedkamers aan weerskante van die skênê

die episkênion: die verdieping bo die skênê, agter die logeîon

die parodoí of eisodoí: die geboë ingange na die teater vir die toneelgangers, en ook die ingangpaadjies aan weerskante van die verhoog vir die Koor en akteurs na die koorsirkel en die verhoog

kerkídes: die “speke”, “wîe”, of oplopende blokke waarin die ouditorium opgedeel word deur klîmakes, dit is die opgangweë in die teater

die diazômata: die horisontale blokke waaruit die teater bestaan.

Die volgende toneelwerktuie is gebruik:

mêchanê: ’n hyskraan waarmee die deus ex machine uit die bloute op die toneel kan neerdaal

ekklúklêma: ’n meganisme (platform) wat die binnekant van ’n huis of kamer kan uitdraai sodat die toeskouers dit kan sien

pínakes: portrette wat vir atmosfeer teen die mure van die episkênê opgehang kan word

thúrômata: ’n kamer met meer as een deur, of net ’n deur met sy raamwerk

phalloí: rekwisiete wat deur die saterspelers aangeheg kan word om Dionusos se vrugbaarheid te simboliseer

prósôpa: maskers – die belangrikste item vir elke toneelspeler (hupokritês) om op die verhoog te dra. Dit was heel eie aan die Oudgriekse toneel, veral waar dit tipes voorgestel het. Hierdie ikoniese uitvinding word aan Aischulos toegeskryf. Professionele skeuopoíoi, oftewel vervaardigers van maskers, was vir hierdie kuns verantwoordelik. Maskers, lig ten opsigte van gewig, was gemaak uit organiese materiaal soos linne, leer, kurk en selfs hout. Pruike is van mens- of dierhare gemaak. Vir die gehoor was dit belangrik dat die ontwerp van die ore en mond daarvan delikaat genoeg gemaak word, want visie en spraak is deur die masker belemmer. Helmmaskers is grootliks vermy. Die mondopeninge was ook betreklik klein, maar is ook ontwerp as ’n ideale resonator van klank. Bitter min maskers het vir ons bewaar gebly. Hoe die maskers gelyk het, kan ons eintlik net op vaastekeninge sien, soos dié op die Prónomos-vaas vir die maskers van saters. Gesigte van vreesaanjaende maskers is op vindingryke wyse ontwerp sodat dit selfs die toeskouers vreesbevange gelaat het – soos die maskers van die Erinúes, oftewel wraak- of skikgodinne by Aischulos se “Eumenides”, asook dié van Penteus en Kadmos by Euripides seBacchae”. Alle maskers is uiteindelik gewy aan die altaar Dionusos nadat die vertoning verby was. Maskers moes dikwels bekende persone in Athene karikaturiseer, soos vir Sokrates met sy sateragtige aanblik en voorkoms.

Aangesien alle rolle in die Oudgriekse teater net deur mans alleen gespeel was, moes hulle dan ook dikwels ’n vroulike voorkoms hê. Op hulle bors het hulle dan ’n postérneda gedra en op die maag ’n progástreda. By die tragedie het alle spelers kóthornoi (hoogreikende toneellaarse wat aan beide voete ewe goed gepas het) gedra, terwyl dit ’n soccus was by die komedie. Geen moorde is ooit op die Oudgriekse verhoog voltrek nie. Slegs die krete kon daarbuite gehoor word, waarop die liggame daarna met ’n ekklúklêma vir die toneelgangers ingedra is.

Voorbeelde van Oudgriekse opelugteaters

’n Telling van die Oudgriekse opelugteaters in die antieke Griekse en Hellenistiese wêreld waarvan ons vandag nog oorblyfsels het, en sommige daarby substansieel, lewer 88 op. Ons vind dit in Attika en Athene, Sentraal-Griekeland en Euboia, Thessalië en Epirus, Macedonië en Thracië, die Peloponnees, die Egeïese eilande, Sicilië, Suid-Italië (Magna Graecia) en Klein-Asië.

Die teater van Dionusos in Athene

Hierdie Atheense teater is opgerig binne die témenos (heiligdom) van die wyngod Dionusos aan die oostelike muur van die Akrópolis. Opgrawings het aangetoon dat vanaf die vroegste tye verskeie opelugteaters mekaar hier opgevolg het. Die eerste permanente teater hier is gebou teen die begin van die 5de eeu vC nadat (so word vertel) ’n ongeluk plaasgevind het deurdat die houtsteierwerk daarvan inmekaargetuimel het en van die toeskouers beseer is. Teen die middel van die 4de eeu vC was dit egter weer herbou.

Die sitplekke van die ouditorium is teen die Akrópolis-rots uitgekap en ook met klip uitgebou. Die heel voorste ry sitplekke (die thrónoi), gebeitel uit die nabygeleë berg Pentelikos se marmer, was gereserveer vir die hoëlui en die priesters. Reg in die middel hier was die spesiale stoel van die Priester van Dionusos.

Bronne sê hierdie teater het sitplek vir tot 15 000 mense gehad. Die orchêstra se danshalfrond het ’n middellyn van nagenoeg 24 m gehad (wat nogal heel groot was).

Dit was in hierdie teater dat die groot Atheense dramaturge (van tragedies en komedies) se werke opgevoer was. Dit was dan ook versier met die standbeelde van hierdie digters. Onder hulle het getel die drie groot Atheense treurspeldigters Aischulos, Sophokles en Euripides, asook die standbeeld van Menandros, digter van die Nuwe Komedie. Maar Aristophanes, digter van die Ou Komedie, s’n was blykbaar nie daar nie.

Agter in die teater, teen die Akrópolis-muur, was daar verskeie choregiese monumente aangebring. Die chorêgós was die persoon op wie se onkoste ’n bepaalde Koor van ’n drama (tragies of komies) afgerig, toegerus en gekleed was as ’n vrye volksdiens (leitourgía) wat aan ’n welgestelde Athener opgedra was. Onder hulle het die standbeeld getel van Thrasullos, een van die ongelukkige generaals wat na die slag van Arginousai teen Sparta, enige eilandjies suid van Lesbos aan die Asiatiese kus, in 406 vC na Athene teruggeroep is en summier tereggestel is omdat hy (en ses ander generaals) nie genoeg gedoen het om die verslane Atheners uit die stormsee te red nie. As ’n welgestelde Athener geweier het om die onkoste van ’n bepaalde opvoering te dra, kon hy iemand anders daarvoor voorstel. As dié ook geweier het, kon daar gevra word dat die twee besittings moes omruil – ’n vindingryke truuk van die staat wat ’n antídosis genoem was.

In hierdie teater is nie net dramas opgevoer nie; dit is ook gebruik vir verskillende ander funksies, soos volksvergaderinge en seremonies van die staat. Dit was, volgens Ploutarchos, in hierdie teater dat die Atheense veldheer Phokion in 318 vC ter dood veroordeel is ná die herstel van die Atheense demokrasie. Hierdie Phokion was 45 keer in sy lewe as generaal (stratêgós) aangestel. Deur ’n ernstige misrekening het hy toegelaat dat die Spartaanse aanvoerder Kassandra (onder bevel van Nikanor) die Piraeus beset het. In sy “Die lewe van Phokion” beeld Ploutarchos hom uiters simpatiek uit as patrioties, wys en verantwoordelik, en ’n man van ware inbors.

Die Ô(i)deîon van Athene

Die Odeion was ’n konsertgebou wat Perikles laat oprig het vir musiekwedstryde gedurende die pan-Atheense fees in Julie van elke jaar. Dit is andersins ook gebruik vir die voordragte van rhapsô[i]doí, oftewel voordragkunstenaars, van Homerus se eposse, die Ilias en die Odusseia van die 9de eeu vC. Die oud-Homeriese sangers (barde) self, wat die eerste was om die Homeriese sange aanmekaar te sit, was aoidoí genoem. Koorrepetisies (tragies en komies) is ook hier gehou, asook bepaalde hofsake.

Anders as al die ander (opelug) Oudgriekse teaters was die Odeion van ’n koepeldak voorsien. Dit moes dus ’n goeie akoestiek gehad het, waarvan geluide van buite ook uitgesluit was. Spottenderwys is na hierdie koepelgebou verwys as “Perikles se kop”. Die gebou self was waarskynlik sirkelvormig, so word ons vertel, as ’n nabootsing van die tent van die Persiese koning Xerxes, die Oosterse vlootaanvoerder wat deur die Grieke in die tweede Persiese Oorlog van 480 vC verpletterend verslaan is met die seeslag van Salamis.

In 86 vC het die Romeinse generaal Sulla die Odeion as geregverdigde straf vir Atheense weerstand laat afbrand, maar 25 jaar later het Ariobarzanes, koning van Kappadocië in Klein-Asië, dit laat heropbou. Die fondasies daarvan is vandag nog nie volkome opgegrawe nie.

Ploutarchos (Pericles 13) beskryf die Atheense Odeion as een wat baie sitplekke moes gehad het. Dit sou herinner het aan die Telestêrion (misterietempel) van Eleusis. Vitruvius (5.9) vertel dat Perikles sy Odeion met klippilare versier het, asook met die maste en spane wat hulle met die Persiese botsing by Salamis gebuit het.

Athene het later twee ander Odeia bygekry, naamlik dié van Herodes Atticus aan die suidwestelike hang van die Akrópolis, en dié van Agrippa op die Agorá (vgl Pausanias 7.20.6). Die Agrippeion is, volgens Philostratos (Vitae Sophistarum 2.5.4, 2.8.3-4), deur die Sofiste gebruik om hele lesings in te hou. Sien hier IT Hill, The Ancient City of Athens (1953), ble 72 vervolgens, en 110 vervolgens.

Literatuuraangawe by die Oudgriekse teater

Philip Freund, The Birth of Theatre (Londen, 2003); Margaret Bieber, History of the Greek and Roman Theatre (Princeton, 1961); AE Haigh, The Attic Theatre (1907, 3de uitgawe, hersien deur Pickard-Cambridge); AW Pichard-Cambridge, The Theatre of Dionysus in Athens (Oxford, 1946); Peter D Arnott, An Introduction to the Greek Theatre (New York, 1965); WB Dinsmoor, The Athenian Theatre of the Fifth Century (Saint Louis, 1951); A von Gerkan en W Müller-Wiener, Das Theater von Epidauros (Stuttgart, 1961); Paul Cartledge, “’Deep Plays’: Theatre as Process in Greek Civic Life” (in PE Easterling (red), The Cambridge Companion to Greek Tragedy, Cambridge, 1997); Eli Rozik, The Roots of Theatre: Rethinking Ritual and other Theories of Origin (Iowa, 2002); Gerald F Else, The Origins and Early Forms of Greek Tragedy (Cambridge, Massachusetts, 1965); Graham Ley, A Short Introduction to the Ancient Greek Theatre (Chicago, 2006); Idem, The Theatricality of Greek Tragedy: Playing Space and Chorus (Chicago, Londen, 2007); Rush Rehm, Greek Tragic Theatre (Londen, New York. 1992); Donato Loscalzo, Il pubblico a teatro nella Grecia antica (Roma, 2008); Christiane Sourvino-Inwood, Tragedy and Athenian Religion (Oxford, 2003); David Wiles, Greek Theatre Performance: An Introduction (Cambridge, 2000); Idem, The Masks of Menander: Sign and Meaning in Greek and Roman Performance (Cambridge, 1991); Idem, Mask and Performance in Greek Tragedy: From Ancient Festival to Modern Experimentation (Cambridge, 1997); Jennifer Wise, The Invention of Theatre in Ancient Greece (Ithaka, 1998); Philip Wentworth Buckham, Theatre of the Greeks (Londen, 1827).

Die Stoá

Die Stoa vorm ’n Oudgriekse kolonnade, gewoonlik met ’n dak op en met ’n volle muur aan die een kant. Dit is opgerig in die Agorá van stede soos Athene vir algemene gebruik deur die Grieke, maar spesifiek ook by die mégaron (groot hal) van tempels en gimnasia. Dit was gewoonlik aan ander geboue geheg, maar was ook aparte bouwerke uikt eie reg. Dit was ’n gesofistikeerde ontwerp vir beskerming teen son, wind en reën.

Argaïese voorbeelde van die Stoa vind ons vandag nog op die eiland Delos en in die Hereaum van Samos (sien Ath Mitt 1957, ble 52 vervolgens). Groter diepte is soms aan hierdie Stoai verleen deur die invoeging van ’n binnery van kolomme wat gewoonlik in die Ioniese orde opgestel was, terwyl die buitenste kolom in die Doriese orde was.

Die Stoaí van Athene het die beste en langste geskiedenis. In 460 vC is die Stoá Poikílê op die Agorá opgerig. Hierdie “Beskilderde Stoa” was versier met die tekeninge van Polugnotos waarin die verwoesting van Troje deur die Achajers in die 12de eeu vC voorgestel was. Dit was hier waar Zeno van Kition in Siprus sy filosofiese skool van die “Stoïsisme” aan die einde van die 4de eeu vC gestig het. Dan was daar ook die Stoá Basíleios op die markplein, oftewel “Koninklike Stoa”, ook die Stoa van Zeús Eleuthérios (die “Vrymakende Zeus”) genoem, waar die hoofarchon sy setel gehad het oor godsdienstige kwessies van die stad. In Athene is ook in moderne tye die Stoa van Attalos II herbou, wat tans as ’n Museum dien.

In die Hellenistiese era het dit die gewoonte geword om Stoas (Stoaí) van groot lengtes te bou omdat dit so elegant voorgedoen het. Die suidelike Stoa by Korinthe is ’n goeie voorbeeld hiervan (sien Corinth, vol 1.4, VSA). Tweeverdieping-Stoas is ook gebou, soos by Pergamum in Klein-Asië. Gewone woonhuise kon ook later beskeie Stoas gehad het. Sien hier R Marin, Recherches sur l’Agora grecque (1951), en RE Wycherley, How the Greeks built Cities (2de uitg, 1962, ble 110 vervolgens.

Die Stádion

Die Stadion was ’n ren- en resiesbaan wat by sommige Oudgriekse stede aangelê was. Wedlope is daar gehou vir mans en perderuiters. Dit was ’n renbaan in die vorm van ’n parallelogram, gemiddeld nagenoeg 183 m lank en 27 m breed. Daar kon ’n enkelbaanresies op gehou word, of meerbanige resies, wanneer aan beide eindes skerp gedraai moes word by pilare wat daar opgerig is – een vir elke hardloper in die resies. Indien moontlik is dit gebou tussen twee heuwels aan weerskante met sitplekke daaromheen vir die toeskouers. Die vier besbewaarde Stadia vind ons vandag by Delphi, Olumpia, Eipidauros en Athene. By Delphi dateer die teenswoordige struktuur uit die 2de eeu nC as ’n geskenk van Herodes Atticus, wat ook die Stadion van Athene herbou het met rye van 46 pilare van marmer en wat 50 000 mense kon huisves. By Epidauros is daar ook ’n kleiner een met pilare sowat 30 m van mekaar langs die baan, asook ’n klipkanaal wat water verskaf het.

Die Stadion van Athene was buite die stadsmuur geleë, oos van die Olumpieion (die heiligdom van Olimpiese Zeus), aan die linkeroewer van die Ilussos-riviertjie. In moderne tye het Athene die Olimpiese Spele daar aangebied. ’n Massiewe kunsmatige platform is hier gebou van ongeveer 205 by 128 m waarop die tempel van die Oppergod gebou was. Peisistratos het met die bouwerk daarvan begin, maar dit onvoltooid gelaat. Daarna het Antiochus Epiphanes dit in 174 vC dit op eie onkoste ook onsuksesvol probeer voltooi. Die Romeinse generaal Sulla het van die pilare daarvan na Rome laat wegneem. Keiser Hadrianus het dit egter later, in die vroeg-keiserlike tydvak, uiteindelik voltooi. Een van die grootste Griekse tempels het hier gestaan, by benadering 108 by 41 m. Dit was omring deur Korinthiese pilare, elk 17 m hoog. Net 15 van hierdie pilare het oorgebly.

Die Stadion van Olumpia op die Peloponnees het seker die mees beroemde geword, want dit was daar waar die antieke Griekse Olimpiese Spele elke vierde jaar gehou is, waarvan die rekords vanaf 776 vC vasgelê is. Die resiesbaan is hier net buite die Altis aangelê. Die Altis was ’n buurt of wyk van Zeus net buite die dorpie Olumpia (vgl Pausanias 5.10.1). Die renbaan hier was 600 Griekse voet (185 m) lank, afgetree, volgens tradisie, deur die held Herakles, wat ietwat langer was as die normale Griekse tree. Baie standbeelde is hier aangebring van atlete en perdetelers. Daar was ook die standbeelde van ander beroemde mans uit die Oudheid, soos Aristoteles, Alexander die Grote, Gorgias, Purrhus van Epirus, Philippos van Macedonië, Hieron van Sirakuse en Lusandros van Sparta, asook Mummius, die oorwinnaar oor Korinthe in 146 vC. Sien hier EN Gardiner, Athletics of the Ancient World (1930).

Gumnásia

Athene het drie groot gimnasia as sport en gimnastiekskole buite die stad gehad, naamlik die Akadêmeia, Lukeîon en Kunósarges. ’n Groot deel van die Atheense lewe het ook buite die stadsmure afgespeel, en wel in hierdie gimnasia. So ’n gimnasium was net vir mans bedoel, waar hulle gumnós, kaal, of skamel gekleed, beweeg het. Dit was ’n omsuilde hof waarbinne daar oefengeriewe vir elke sportsoort van die tyd aangebring was, badgeriewe inkluis. Sedert die nederlaag by Chaironeia in Beosië in 338 vC, waar die Atheners en die Thebane deur Philippos van Macedonië verslaan is, het die Atheense éphêboi (pubertas, wat manlike leeftyd bereik het tussen 18 en 20 jaar oud) hier ook hulle militêre opleiding ontvang.

Die Akadêmeia

Dit was eintlik oorspronklik die naam van die olyfbos aan die Kêphisós-riviertjie (wat 3 km ten noordweste van die stad Athene verbygeloop het) waar hierdie gimnasium geleë was: so vernoem na en ook gewy aan die mitologiese held Akadêmos. Hier, in die 5de eeu vC reeds, het die Atheense veldheer Kimon ’n park met geriewe uitgelê.

Plato het hier sy filosoweskool, die Akadêmeía (“Akademie”), in 387 vC gestig. En hier is hy ook 40 jaar later begrawe. Die Romeinse generaal Sulla het met sy beleg van Athene in 86 vC die bome van die Akadêmeia, as straf vir Atheense verset, laat afkap. Dit moes egter spoedig weer gegroei het, want die Romeinse skrywer Horatius, wat later aan Athene gaan studeer het, vertel ons (Epistolae 2.2.45) dat die “Bos van Akadêmos” weer welig uitgegroei was.

Die Lukeîon

Hierdie gimnasium was weer ten ooste van die stad geleë, digby die Ilissos-riviertjie. Dit is die Lukeîon genoem na en gewy aan die god Apollo Lúkeios (< Grieks lúkos, Latyn lux, “lig”, want hy was ook die god van profesie). Apollo het ’n heiligdom (témenos, “eie domein” > templum) daar digby gehad.

Aristoteles het sy filosofiese skool daar gestig, in Latyn bekend as die Lyceum. By die Grieke was dit bekend as die Peripatetiese Skool van Aristoteles, omdat hy so op en af gestap het (peripateîn) terwyl hy klasgegee het.

Die Kunósarges

Hierdie gimnasium, wat gewy was aan die held Herakles, het ook ten noordooste buite die stad gelê. Dit was die gimnasium vir die gebruik van jongmans wat nie van suiwer Atheense bloubloedafkoms was nie.

Hier het die filosoweskool van die Sinici later hul tuiste gehad. Dit is so genoem na Diogenes van Sinope, stigter van hierdie skool, wat ook bekend was as die “Hond”, in Grieks kúôn (met genitief kunós). Van daar die naam van die skool.

Geboue op die Agorá van Athene

Sekerlik net so indrukwekkend was Athene se openbare geboue op die Agorá, soos die Bouleutêrion (Raadhuis, waar die Uitvoerende Raad van 500, die Boulê, sy sittings gehad het); die Thólos (’n koepelgebou waar die 50 prutane, as hoogste owerheid, vir staatsake vergader het en hulle eetplek gehad het – en waar ook ’n stel standaardgewigte bewaar was); die Hêlaía (’n volksgeregshof uit Solon te tyd wat na die hervormings Ephialtes die hoogste Atheense gesag geword het); die Mêtrô[i]n, oftewel tempel van Kubélê (waar die staatsargiewe, geskryf op papirus en perkament, bewaar is, met sy lang omheinde pedestal waarop die bronsstandbeelde van die eponieme, oftewel naamgewende, helde van die tien Attiese volkstamme gestaan het); en die Stratêgeîon (die Verdedigingshoofkwartier, waar die statêgoí, oftewel militêre bevelhebbers, vergader het).

Die privaat huise van Athene

Net so goed beplan as wat al hierdie amptelike geboue was, net so beskeie en eenvoudig, in vorm én konstruksie, was die huis van ’n privaat Atheense burger, reeds sedert argaïese tye. Dikaiorchos van Messene (wat ’n leerling van Aristoteles was) het by geleentheid opgemerk dat ’n vreemdeling by die aanblik daarvan mag wonder of dit nou eintlik Athene kan wees wat hy sien (afgesien, natuurlik, van die teenwoordigheid van die Akrópolis). Die huisies was vierkantig met gras- of teëldakke, sonder enige vertoon. En die antieke Atheense se strate was ook maar stowwerig, smal, gekronkeld, en vol stegies – sonder enige beplanning.

Die Atheense huis van die 5de, 4de eeu vC is gewoonlik met ongebakte stene op ’n stewige sokkel (suilvoet) gebou. Dit kon ’n grasdak gehad het, of een met terracotta-teëls wat op houtbalke gerus het. Platdakhuise het ook gereeld voorgekom. Huise was gewoonlik ook aan die buitekant afgepleister en afgewit, terwyl die mure aan die binnekant meer dikwels ru en rou gelaat was. Die Atheners het hulle huise, heel ongewoon, sonder enige simmetrie gebou. Hulle huise het kaal grondvloere gehad, met uiters selde in die Oudgriekse wêreld voorsien van ingelegde mosaïekpatrone (soos later by die Romeine, te sien by die opgrawings van Pompeji). Dit het stoorkamers gehad, kombuise en klein badkamertjies. Die toiletgeriewe by die Oudgriekse huis het veel te wense oorgelaat. Wel het dit ondervloerse watersisternes gehad. Natuurlik het elke huis ook sy vuurherd of -haard (hestía) gehad waar die huis se vuur altyd aan die brand gehou moes word. Die rook hiervan moes maar alleen deur gate in die dak ontsnap. Skoorstene (die kápnê of opê by die komediedigter Aristophanes) het tog wel ook voorgekom. Aan die straatkant het die Atheense huis sy deur en enkele klein vensters (natuurlik sonder glas) gehad, sonder enige poging tot ’n mooi fasade wat na die straat wys. BC Rider, The Greek House (Cambridge, 1916), het tot dusver vir ons die beste rekonstruksie, met sketse, van die Griekse huis gegee.

Die Griekse huis het soms eers ’n buiteportaal of portiek (próthuron) aan die straatkant gehad voordat by die hoofdeur (thúra) ingestap kon word. Na hierdie deur is soms verwys as die balanôtê thúra (grendeldeur) of die métaulos thúra wat uitloop op die aulê, oftewel binnehof, van die huis wat gewoonlik suid gewys het (half uit die pad van die opkomende son). Die huis het aparte slaapkamers gehad vir die mans en die vrouens, die sogenaamde Andronitis en Gunaikontis onderskeidelik: vgl hier die Latynse skrywer Vitruvius se De Architectura 6.9. Die vrouens het in so ’n dubbelverdiepinghuis altyd (vir beskerming) bo gebly. Die ameublement van die huis was gekenmerk deur eenvoud, waar die klismós, ’n soort leunstoel, die elegantste was.

Die Atheense huis was meerdoelig. Dit kon dien as ’n winkel, hotel, skool of werkplek van ’n ambagsman. ’n Gegoede huis kon ’n spesiale andrôn (mannevertrek) gehad het waarin die mans hulle eet-en-drink-partytjies gehou het. Huise op die Griekse/Attiese platteland was soms meer ruim uitgelê: vgl JE Jones, LH Sackett en AJ Graham, Annual of the British School at Athens, 1962, ble 75 vervolgens.

Die belangrikste loci, argeologies gesproke, van die huis in die Oudgriekse wêreld (veral in die latere Hellenistiese tydvak) vind ons by Olunthos, noord van Potideia, op die Chalkidiese skiereiland (vgl DM Robinson, Excavations at Olynthus, VSA, 1929–52); Priênê,’n Ioniese stad met oorspronklike Thebaanse verbintenisse by die voorgebergte van Mukalê, aan die monding van die Maiandrosrivier in Klein-Asië (vgl M Schede, Die Ruinen von Priene van 1934); Larisa aan die Hermosrivier in noordwestelike Klein-Asië (vgl AW Lawrence, Greek Architecture van 1962); en Pella, die hoofstad van Macedonië ten noorde van ou Griekeland (vgl Arch Delt [in Grieks], 1960, vol 1, bl 72 vervolgens); en Dêlos, ’n histories-belangrike eiland in die Egeïese (Middellandse) See, suid van die Griekse moederland, in die middel van die sogenaamde Sporádes (vgl Exploration archéologique de Delos (in 25 vols, 1909–61).

Hippodamos van Milete as vroegste stadsbeplanner

Dit was eers die uitleg van die Piraeus, Athene se hawe, wat as dorp/stad beplan is. En die man wat hiervoor verantwoordelik was, was Hippodamos van Milete. Hierdie Hippodamos is teen 500 vC gebore. Antieke skrywers praat van sy némêsis (“geordende en verdelende uitleg”) van dorpies en stede. By die Piraeus is daar vandag nog tekens van die grensstene wat hy laat oprig het. In 443 vC sou hy ook die stad Thurii (Subaris) in Suid-Italië (Graecia Magna) in ’n reghoeke uitgelê het. Strabo (14.2.9) maak melding van ’n tradisie wat bestaan het dat die “argitek” van die Piraeus ook op die eiland Rhodos in die Suid-Oostelike Egeïese See, vir sy stadsuitleg bekend was. Aristoteles (Politeía 2.5) praat van die slordige persoonlike voorkoms wat hierdie Hippodamos sou gehad het, en hy sê ook dat Hippodamos die grootte van ’n ideale stad op 10 000 gestel het. Sien hier F Castagnoli, Ippodomo di Mileto e l’urbanistica a pianta ortogonale van 1956.

Lees ook:

Die Oudgriekse argitektuur (deel 1)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top