Lady Di ontvang self haa blomme

  • 0

Mettie onlangse untimely deaths van kunstenaars en groot kreatiewe geeste issit opnuut wee ’n reminder dat mens te gewoond geraak het aan mense ees waardee wannee hulle nie mee met ôs issie. Dan willie salutes en huldblykes inrol ennie dankbaarheid en waardering wôd te laat express. Ek is dankbaa dat Diana Ferrus onlangs vir haa lewensbydrae erkenning gekry het byrie 13de kykNET Fiëstas op 9 Maart 2023.

Diana Ferrus byrie 13de kykNET Fiëstas op 9 Maart 2023 (Foto: Menán van Heerden)

In ’n land soes ôs s’n waa daa elke dag ’n nuwe storie briek, ennie anbeweeg ná die sterfte van ’n geliefde kunstenaar ampe te vinnig kô, issit ’n breath of fresh air om ’n voorloper te kan vier tewyl hulle noggie pad stap en steeds stof opskop.

Ferrus is ’n internasionale digter, skrywer, aktivis, kunstenaar, maa soes ek haa wil noem ’n megaphone vi marginalised groups ennie wakkermaker van slapende honne. Sy is in 2022 ’n eredoktorsgraad deurie Universiteit Stellenbos toegeken. Dit issie degree Doctor of Philosophy (DPhil), honoris causa. Ek hoefie eintlik vi jou te noem wat Diana Ferrus in haa loopbaan al bereik hettie, maa kô ôs vat ’n blitsvinnige trippie down memory lane. Gebore in Augustus 1953 in Worcester. Haa wêk is wyd gepubliseer in Afrikaans en Engels en sy het begin digkuns skryf oppie ouderdom van 14. Oor dit sê Ferrus innie Cape Argus: “My work always had at its core the concern of the condition of my people and what caused it and how it can be changed. I come from a politically conscious family, a family that has been through so much like many other oppressed people, and this family kept on reminding me that we need to strive for justice.”

Sy het in 1972 gematrikuleer en is in 1973 na die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), maa moes haa studies pause weens protests. Intussen het sy gewêk en het in 1988 haa studies part-time by UWK resume. In 1993 maak sy haa BA degree klaa met industrial psychology en sociology as majors. In 1999 voltooi sy haa honneursgraad in women’s and gender studies, daarna toe voltooi sy haa meestersgraad, waa die thesis topic, “Black Afrikaans women writers: the joy and frustration of the writing process” was. In 1998 skryf Ferrus haa bekendste gedig, “I’ve come to take you home”, ’n tribute aan Sarah Baartman, ôs eie Khoi-voormoeder wat weggevat is yt ôs land om as ’n freak show attraction gedisplay te wôd in Europe.

My ouma het altyd gesê moenie lat jou naam jou vooryt loepie, maa in dié geval issit ’n goeie ding. Ferrus se skryfwêk en digkuns en aktivisme van toeka se jare is steeds relevant en maak steeds ’n gevoel binne-in jou wakker, juis omdat sy gesels en skryf en opstaan virrie kwessies wat soe belangerik is virrie marginalised groups. Dit gannie vi Ferrus net oorie healing en engagement met social issues en human rights nie, maa oek die kwessie en belangerikheid vannie moedertaal. Sy is lief vi Afrikaans en embrace allie variante daarvan oek.

Op Afrikaans.com sê sy: “Natuurlik klop my hart in Afrikaans, maar dis ook belangrik om te sê dat ek al die variante embrace. Ek is positief oor die voortbestaan van Afrikaans en al die variante. Dit maak my opgewonde om te sien dat iemand soos Olivia Coetzee ’n volledige boek, Innie shadows, in Kaaps geskryf het. Jy kan net nie Afrikaans met ’n stywe draad wil rig en lei nie. Ons moet toelaat dat Afrikaans gebuig word; dit is nog al die jare gebuig.”

Diana Ferrus is belangrik, nie net virrie oorlewing van Khoi-, bruin en swart stories nie, maa sy dien as bewyse dat dit moontlik is om ’n baanbreker te wies en jou eie baan te create. Sy wys dat ou brood steeds die lekkeste frikkadelle maak, want kyk, hie sit en gesels ôs nog altyd oor “ou” gedigte soes “I’ve come to take you home”.

Diana, dankie tog jy is byrie hys
Waa ôs vi jou sing
Want jy het vryheid gebring
Want jy het vryheid gebring.

Ôs ammel ken die saying, “Give them their flowers”, maa wat baie belangerik is om in ag te niem is wat bygevoeg moet wôd: “Give them their flowers while they are here.” Die waarde van wat iemand soes Diana Ferrus bygedra het, nie net tot die wêreld van digkuns nie, maa die verryking van bruin en swart mense se lewens, is sonder prys. Die manier hoe haa wêk jou dwing om introspeksie te doen en te beslyt wat presies jy wil wies hiesô op aarde, maak ’n veskil. Jy kan óffie stereotypes perpetuate, óf jy kan streef na ’n bieter, inklusiewe, vindingryke en ’n mee verdraagsame toekoms wattie verlede ienik lat skaam raak vi sy gedrag.

Ferrus het vi Sarah Baartman hys toe gebring. Dankie tog ôs kon haa nog haa blomme gie tewyl sy hie is.

Lees ook:

Persverklaring: Twee kultuurlegendes vereer by 13de kykNET Fiëstas

Sarah Baartman: Hoekom sy, hoekom haar graf?

Saartjie Baartman vir die Baardman

Sara Baartman, hulle spot my oek

#Je suis Saartjie

"Ons beleef ’n gesonde digkuns-era": ’n onderhoud met Diana Ferrus

Innie shadows: ’n onderhoud met Olivia M Coetzee

Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top