Die kortlyste is bekend gemaak vir vanjaar se kykNET-Rapport Boekresensent van die Jaar-pryse waarmee erkenning gegee word aan uitnemende Afrikaanse resensies wat in 2018 verskyn het. Drie pryse van R25 000 elk is op die spel vir Afrikaanse resensies oor Afrikaanse fiksie en niefiksie onderskeidelik sowel as langer, tipies akademiese resensies.
Dié jaarlikse pryse is ingestel om die belange van boeke en die leesgenot van boekliefhebbers te bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.
Vanjaar se keurders was die boekjoernalis en digter Bibi Slippers, joernalis en skrywer Jomarie Botha en Bibi Burger van die Universiteit van Pretoria.
Die kortlyste is in alfabetiese volgorde soos volg:
Fiksie:
- Willie Burger – “ʼn Nuwe woordeskat vir koerslose Daan” (oor Die Dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis, Media24-dagblaaie, 21 Mei 2018)
- Jean Meiring – “’n Moeisame maar verbluffende debuut” (oor Stof deur Alettie van den Heever, Media24-dagblaaie, 29 Oktober 2018)
- Deborah Steinmair – “Baldadig en boheems soos ’n Russiese serp” (oor Liefde in die tyd van die internet deur Fransi Phillips, Rapport Weekliks, 29 Julie 2018)
Niefiksie:
- Johann Kriegler – “Skaakspel tussen NP, Mandela ontvou” (Die tronkgesprekke: Nelson Mandela en Kobie Coetsee se geheime voorpunt-diplomasie deur Willie Esterhuyse en Gerhard van Niekerk, Rapport Weekliks, 28 Oktober 2018)
- Jean Meiring – “Holderstebolder boek oor Chris Barnard stel teleur” (oor Hartebreker deur James-Brent Styan, Rapport Weekliks, 4 Februarie 2018)
- Herman Wasserman – “Goeienag, Generaal?” (oor Die Seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn), Rapport Weekliks, 19 Augustus 2018)
Langer resensies:
- Charl-Pierre Naudé – “Hellebek se windmeulens draai nou ook in Afrikaans” (oor Tussen die abjekte en die eteriese: ʼn keur uit die poësie van Michel Houellebecq vertaal deur HJ Pieterse, Versindaba, 2 Julie 2018)
- Elzette Steenkamp – Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay (LitNet, 22 November 2018)
- Helize van Vuuren – Gesant van die mispels en In die stille agterkamer deur Marlene van Niekerk: ’n LitNet Akademies-resensie-essay (LitNet, 8 Augustus 2018)
Volgens die sameroeper van die keurpaneel, Bibi Slippers, was die gehalte van die inskrywings vanjaar weer eens baie hoog. “Uit ’n gros baie goeie resensies was daar in elke kategorie vier absolute uitskieters wat nek-aan-nek met mekaar gelê het. Veral die niefiksiekategorie kan uitgesonder word as een waarin daar dié jaar bitter sterk kompetisie was. Die redakteurs van die boekeblaaie het voortreflike werk gedoen om die regte boeke aan die regte resensente te gee, en die resensies was skitterend. In vanjaar se fiksiekategorie is dit die uitsonderlike skryfstyl van die resensente wat sommige resensies bo die ander laat uitstyg het. Met die langer, essay-styl-resensies bly die uitdaging vir skrywers om enduit die leser se aandag te behou – en die resensies op die kortlys het ons gefassineer met interessante insae en inligting.”
Die wenners word op Saterdag 14 September 2019 saam met die wenners van die kykNET-Rapport-boekpryse op Stellenbosch aangekondig.
Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

