kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Dean Balie

  • 0

Die kykNET Fiëstas, wat vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem is, vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Ten spyte van ’n uitdagende jaar, is daar besluit om steeds die kunste en kunstenaars te vereer. Hier is ’n lys van die wenners.

Dean Balie

Die akteur Dean Balie het ’n Sinjatuur-toekenning by vanjaar se kykNET Fiëstas ontvang. Hy praat met Naomi Meyer oor die toekenning.

Baie geluk met jou kykNET Fiësta-toekenning! Die ondenkbare het gebeur: hierdie virus.  Hoe het die afgelope tyd se Covid-situasie jóú lewe en wêreld beïnvloed? 

Dankie vir die gelukwense. Ons as ’n span is baie trots! Die wêreld is nog steeds vir my vreemd. Met die onsekerheid van lockdown, en die swaar trek om die randjie drie keer om te draai, is veral vir my en soveel ander baie moeilik. Dis ook maar op en af met my emosies. Een dag is ek “all smiles” en gemotiveer om alles aan te pak, maar die volgende dag huil ek soos ’n babatjie! Ek het vriende wat ouers verloor het, vriende wat hul werk verloor het, en die stryd om positief en veilig te bly word nie makliker nie. Ek het ook nooit besef hoe afhanklik ek is van menslike interaksies nie. As ’n kunstenaar sit mens baie van jouself nie net op die verhoog in nie, maar ook in die aanmoediging van jou vriende en familie. Ek moes leer hoe om myself kreatief besig te hou. Ek moes onthou dat ek nie spesiaal is nie. Covid en lockdown gebeur met almal. Tog glo ek ons is veerkragtig. Dat in die aangesig van die swaarste, staan ons as mense die sterkste. Daarom glo ek ons sal deur dit kom.

Ek het jou pas oor die verwoestende effek van die Covid-maatreëls gevra. As die geld op is, is dit op. As die teaters leeg is, is daar niks. Nou vra ek jou oor alternatiewe en nuwe maniere van dink. Wat moes jy doen om te oorleef die afgelope tyd? En hoe sien jy ’n nuwe, of andersoortige, hibriede kunstewêreld?

Ek is baie geseënd met ’n wonderlike verloofde, Bianca Flanders, en ons het wonderlike familie en vriende. Ek glo dis met hulle hulp en omgee dat ek die afgelope tyd oorleef het. Ek het my besig gehou met musiek, met skryf, en ek kon so nou en dan alleen in ’n donker kamer Vers en klank vir RSG doen. Daar was ook lekker filmwerk wat my die geleentheid gegee het om te speel en te act. Tog verlang ek na die verhoog!

Teater gaan sterker en nog beter terugkom!

Wat beteken ’n toekenning soos hierdie een vir jou juis in ’n tyd soos hierdie?

Dit is altyd ’n wonderlike gevoel om erkenning te kry vir die werk wat jy doen. Ek staan nederig in diens van die uitvoerende kunste en my waardering vir die eer is groot. Die boodskap van die Fiëstas hierdie jaar was baie duidelik: Ons as ’n industrie staan saam, en mag ons nooit vergeet hoe ’n groot rol kunstenaars speel in ons samelewing nie. Veral in die tyd waarin ons nou lewe, beteken dit vir my so baie. Dit is motivering om nog harder te werk en daardie stories te vertel wat nie ’n platform het nie.

Lees ook:

kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Jana Hattingh

kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Cintaine Schutte

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top