Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd.
Skrywer Carina Stander vertel meer oor die eerste weke van die inperking en lees voor uit Die Bergengel (Protea Boekhuis, 2017):
“Together alone in ons eie PRIVATE UNIVERSE” deur Carina Stander
Afsondering is vir die meeste skrywers natuurlik. Mens kies immers om ’n skrywer te word omdat jy buitengewoon lief is vir stiltes en stories. Daaraan het ons in hierdie dae nie ’n tekort nie en dit sou skynheilig van my wees om te ontken dat ek groot waarde in kwarantyn vind.
Gerrit is ’n berghardloper, hy smag na die wildernis, maar hy het ’n roete in ons erf uitgewerk waarop hy homselwers moeg kan hol. Die seuns klouter die hoogste bome in die tuin uit sodat hulle die berge kan sien waar ons eendag weer sal stap. Al mag ons nie op die strand wees nie, ruik ons soggens die seemistigheid en saans hoor ons die branders. Soms kom daar ’n rebelsheid oor my, dan wil ek die slotte en grendels van hierdie tyd breek en die woude in vaar, maar my drie manne hou my op die straight and narrow. Vir hulle is die binnebly ’n soort meelewendheid met die mensdom: Hoe kan ons vryhede vir onsself toe-eien waarna almal smag? Waarom sal dit reg wees as ons in die see baljaar, maar as vyftig ander gesinne besluit om dieselfde te doen, is dit verkeerd? So predik hulle vir my en ja, ek stem saam. Sover gedra ek my vreeslik voorbeeldig. Ek het nog net een aand uit die erf gesluip en op die sypaadjie voor die huis in die lig van die supermaan gaan staan.
Ek durf nie kla nie - ek het ’n sypaadjie, ek het ’n huis, ek het ’n tuin. En ek deel dit met die drie siele op aarde van wie ek die heel meeste hou: Gerrit en ons telge van twaalf en nege jaar oud. Die seuns is ’n seën – daar is geen ander manier om dit te sê nie. Hulle bederf ons elke week met heerlike geregte wat hulle kies uit resepteboeke van kosskrywers soos Niël du Bois, Carmen Niehaus, Francois Ferreira en Errieda du Toit. Want jonk soos hulle is, weet hulle kos is nie net eet nie, kos is ook die stories agter die resepte en die geskiedenis van die bestanddele. Om dit hardop uit die kosboeke te lees terwyl jou disse prut, is ’n lekkerte. So tel ek my seëninge: Die kinders is lesers! Hulle lees fanaties, stapels en stapels boeke. Hulle is ook vir ure elke dag in die buitelug, waar hulle boomklim, vleisbraai, ’n nuwe foefie slide bou, balskop, hokkie speel, kersiekoejawels oes, klei uitgrou vir kuns, papiervliegtuie die lug in woer. Ek het drie weke laas ’n skottelgoedwasser uitgepak – hulle maak beurte, hou hulle kamers netjies, pak hulle wasgoed weg. Ek voel hoegenaamd nie uitgemergel en afgesloof nie. Inteendeel, ek erken hand op die hart dat my waardering vir my trop nuwe hoogtes bereik het.
My waardering vir die internet het ook die hoogte in geskiet. Om te dink ons is hier in ’n straatliglose kusdorpie en kan steeds ontelbare skakelings met familie en vriende regoor die wêreld geniet danksy die internet! Hierdie week het ons twaalfjarige sy eerste Zoom-kitaarles gehad en ook by ’n uitstekende aanlyn skool begin. Ons het nog nooit ’n televisie gehad nie, maar vroeg vanjaar het ek ’n projektor en seilskerm van 3 x 2 m op uitverkoping aangeskaf, min wetend dat ’n tyd van inperking wag waarin dit vir ons heerlik gaan wees om flieks te stroom en springmielies op die skoot te kyk na Star Wars, The Lord of the Rings, David Attenborough en dies meer – lewensgroot in ons sitkamer!
Ek durf nie kla nie, maar ek durf ook nie lieg nie. Hierdie tyd is spesiaal, maar nie sonder seer nie. Ek bekommer my oor die werklose, honger skares. Ons het seker gemaak ons drie-oggende-per-week-huishulp is versorg, maar is sy veilig? My hart breek oor die grysaards in ouetehuise wat nog eensamer is as tevore en die kleuters ingehok in plakkersgehuggies of beknopte woonstelle. Die Tuinroete waar ons woon, is gewortel in toerisme en baie van die permanente inwoners is finansieel geknak weens die virus. Ek self het heelwat inkomste verloor – boekbekendstellings en kunstefeeste wat afgestel is, reisartikels wat ek nie kan skryf nie. My liewe 83-jarige ma het bloedkanker. Dis dormant soos ’n slapende reus en sy voel springlewendig, maar ek verlang om haar te sien. Sy en my pa sou nou, in April, by my gekuier het. Die vlugte moes uitgestel word tot Oktober. Kort voor Paasfees kry ons die nuus dat my pa hartversaking het. Vir ’n week lank is hy 24 uur per dag op suurstof by sy huis. Toetse is nodig om die oorsaak van die versaking te bepaal, maar dinge is so deurmekaar by die hospitale dat daar nie ’n bed vir hom beskikbaar is by kardiologie vir die komende maande nie. My ouers woon in die Bosveld, en ek kan hulle nie fisiek bereik nie. Ek en my sibbe woon almal in verskillende provinsies – ons binnestes breek by die gedagte dat ons pa dalk kan sterf sonder sy geliefdes naby hom. Een middag verlede week laat ek myself toe om te huil. Ek gee my sommer oor aan die droefheid van die mensdom. My twaalfjarige seunskind kom sit op die bed langs my: “Oupa en Ouma se legacy leef in Mamma, net soos wat Mamma se legacy in my leef. Selfs al sterf Oupa, sal sy legacy voortleef in ons.”
Ek wil nie hoor van dood nie, fluister ek vir hom. Tog laat die kind se woorde my regop sit, want ek hoor meer as oorlewering daarin. Ek hoor oorlewing. Ek hoor die oorlewingsinstink wat geslagte lank in ons ingeteel is. Geneties, maar ook deur werklike gebeure. In my kinderjare het ek gesien hoe ’n storm my ouers se mango’s vermorsel die week voor oestyd, hulle jaarlikse inkomste daarmee heen. Hulle het saam gehuil en gebid by die kombuistafel, moue opgerol, atjar gemaak van die groen mango’s, die ryp vrugte versap. Dit was steeds ’n enorme verlies, maar voor die einde van daardie verdoemende week was daar weer ’n gelag in die stoor. Geen vloed of droogte, ramp, plaag of virus was genoeg van ’n verskoning om so ver na binne te tuimel dat jy verlore is vir die mense wat jou nodig het nie. Dis hoe ek grootgemaak is, dis hoe ek my kinders sal grootmaak: Ween oor wat jy verloor het, woeker met wat jy oor het. Moenie net oorleef nie, leef lewenslustig met elke grein van jou gees, siel en verstand.
Ek hoef nie eers ver te soek vir genade in die ongenade nie: Na ’n week het my pa nie meer die ekstra suurstof nodig nie en hy voel by die dag sterker. My ouers woon op ’n pragtige aftreelandgoed waar hulle bure en vriende vir hulle geskenke aandra; ’n verpleegster maak twee maal per dag ’n draai by hulle huis; my vasvatter-ousus bel die lyne blou om seker te maak hulle is versorg; klaargaar etes word afgelewer. My ma vertel van ’n njala wat so mak is dat sy die kombuisdeur vinnig moet toedruk voordat die bokkie inglip.
My pa sê sy groentetuin groei fluks. My ouers is rotsvas in hulle geloof, hoop en liefde vir mekaar en vir God. “Al die jare dog ek dis ’n goeie ding om ’n groothartige ou te wees, toe hoor ek dis dodelik!” grap my pa. “Ek wou nie nou al slaplê onder die grond nie!”
Oor die afstand heen bly ons familie – soos soveel ander families in hierdie tyd – vervleg deur ’n leeftyd van liefhê, daaglikse WhatsApps en gebede wat ons soos stuifmeel na mekaar toe blaas.
Selfbejammering is ’n luukse, giftige drankie waaraan mens in hierdie dae jou lippe nie moet sit nie.
Ek durf nie kla nie, maar nou is my skrywershand regtig moeg. Ek spaar dit vir die slotboek in die trilogie, Die Waterplek, waaraan ek soos ’n warrelwind werk. As julle my sal vergewe, gaan ek die res van die prentjie hier onder inkleur met uitknipsels uit my Facebook-dagboek en met my gunsteling-memes.
10 April
Wie van julle onthou “Private universe” van die groep Crowded House op die album Together alone? In die 1990’s het ons dit op repeat geluister en toe ek dit gisteraand na al die jare weer opspoor, dog ek dis ’n mooi temaliedjie vir hierdie grendeltyd. Genadiglik leef nie almal in ’n Crowded House nie, maar ons is almal Together Alone. Hier’s ’n paar kiekies wat ek die laaste ruk geneem het in ons eie Private Universe van boomklim, foefie slide bou, skaak speel, boeklees, braai, broodbak, legkaart bou, kat snoesel, kuns maak, balskop en langasem kuiers.
*
Highest branch on the apple tree
It was my favourite place to be
I could hear them breaking free
But they could not see me
I will run for shelter
Endless summer lift the curse
It feels like nothing matters
In our private universe
I have all I want, is that simple enough?
A whole lot more I’m thinking of
Every night about six o’clock
Birds come back to the pond to talk
Talk to me, birds talk to me
If I go down on my knees
I will run for shelter
Endless summer lift the curse
It feels like nothing matters
In our private universe
And it’s a pleasure that I have known
And it’s a treasure that I have gained
Luister:
4 APRIL
In die begin van die jaar, toe die koronavirus nog net ’n fluistering in die Ooste was, het ons een naweek ’n vertrek in ons huis as ’n leeskamer / klein biblioteek ingerig. Gerrit het genoeg rakke ingebou; ons het die mure oorgeverf; ek en Aden het van voor af die boeke volgens genres en alfabet rangskik; ons het ’n gerieflike bank en wiegstoel soontoe geskuif, gesorg vir goeie leeslig en siedaar! Nou is dit een van ons gesin se lekkerste uithangplekke. In hierdie lockdown tye, is ek dankbaarder as ooit vir my lesende geliefdes.
3 APRIL
Be a smart shopper. Stay sane. (Gerrit is opgewonde oor sy heel eerste inkopiedag, bewapen met sy onderbroek masker. #kwarantyneissytol 😬😆)
Memes teen malheid
Hier onder is van my gunsteling-memes in hierdie tyd. Galgehumor – in elke sin van die woord. 🤣
Waar is Willie was nog nooit so maklik nie. 🙂
Luister na Carina se voorlesing uit Die Bergengel (Protea Boekhuis, 2017):
Lees ook
Lees meer oor Carina se werk
Die Bergengel deur Carina Stander: ’n LitNet Akademies-resensie-essay