Kwarantynketting: "Die jaar toe ons herfs gemis het" deur Theo Kemp

  • 2

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. 

Skrywer Theo Kemp vertel meer oor sy ervaring van die Fase 5-inperking:

“Die jaar toe ons herfs gemis het” deur Theo Kemp

I

Toemaar, troos ek die kinders (en myself), ons gaan elke aand ’n ander land besoek. Dit is ure voor lockdown begin. Ons staan in ’n oorvol Checkers in Stellenbosch. Alles voel vir my taaier as gewoonlik, almal se gesigte bang. Ek gryp gort en bone, sopvleis en pakke hoender. “Friends don’t let friends panic buy,” sing Hannah, ons dogtertjie, Pick n Pay se liedjie. Ek los alles en druk my weg oop tot waar die Tacho’s is. Ons gaan vanaand Meksikaans eet, kondig ek trots aan.

Die aand dek ons by die buitenste tafel. Ek steek die lampe op; soek vir Meksikaanse musiek. Die kinders speel kelners. Dit is laat Maart, die herfson gaan vinnig onder. Dit is koel en donker, maar ons sit lank nadat die kinders al gaan slaap het.

Magdel por my gereeld aan om meer met ander skrywers te gesels, om minder alleen te voel in hierdie vreemde ambag. Op Facebook lees ek ’n skrywer raak wat sê dat die tyd van inperking tog te lekker is om net te kan skryf. Onverstoord. Ek vra of sy dan nie gepla word deur die duisende mense wat reeds die slagoffers is van die COVID-19-virus nie? Dan praat ek nie eers van dié wat reeds gesterf het nie. Nee wat, kom die antwoord vinnig. As ’n mens ouer is soos sy, kan jy op meer as een ding fokus. Alles gaan aan, die sperdatums wag vir niemand. Ja, lewer ’n bekroonde skrywer sy kommentaar, hy stem saam. Die enigste aanpassing vir hom is dat hy nie met sy hond langs die strand mag stap nie.

Vir my is dit anders. Hoe versin jy nóú stories? Ons luister Laurie Levine, skink spaarsamig wyn (iets wat voorheen nooit sou gebeur nie) en sit in stilte. Ek en Magdel hoef dikwels nie te praat nie – veral nie as ons dink nie. Of afskeid neem, soos vanaand. Ons wonder wat alles gaan verander, maar ons weet, ons wéét, die wêreld gaan nooit weer dieselfde plek wees nie. Ons is paniekerige getuies van die aarde wat vervel; wat regmaak vir ’n nuwe seisoen.

II

Het ek en Magdel baklei gisteraand? Nee. Iets groters. Iets verskrikliks het gebeur. So word ek elke oggend wakker soos iemand met ’n groot babelas. Die eerste paar dae stoei ek met die vraag rondom relevansie. Ek sukkel om ’n notule klaar getik te kry vir ’n vergadering wat gehou is in die Wêreld VK (voor korona). Almal skarrel om e-vergaderings te hou. Ek is nog by Skype – almal anders is al by Teams en Zoom. Met beelde wat verstar en blikkerige stemme is daar mense wat wil kontak hou. Ek nie. Ek wil inkeer.

Ek voel aardig, maar kan dit nie verwoord nie. Teen skemer staan ek voor die opwasbak en staar na die deel van die pienk berg wat ek uit ons kombuisvenster hier uit Voëltjiedorp kan sien. Die seder in ons voortuin, ongesteurd deur seisoensveranderinge, lyk vir my groter. Die delicious monsters langs die swembad is groener as voorheen; die hibiskus in volle blom.

Saans luister ons na ou CD’s waarvan ek al vergeet het. “Welcome to the cruel world,” sing ek saam met Ben Harper. Een oggend kom die besef as ’n sanger “It is well with my soul” op Facebook (hoe breek ek die verslawing?) sing. My aardigheid, weet ek toe, gaan gepaard met ’n diepe ontvanklikheid vir klank, kleur en woorde.

Dit ís ’n goeie tyd vir skryf, besef ek. Miskien was die twee skrywers nie so verkeerd nie. My sintuie was laas só oop toe ek navorsing in Pollsmoor gedoen het vir Strafjaart.

III

Ek tel nie die dae af nie, ek eet ook nie rou eiers nie. Maar ek is soos die res van my Facebook-vriende: Ek bak en kook onophoudelik. Ek bel my ma gedurig in Jeffreysbaai – sy is alleen ingegrendel. Ons praat ure lank oor niks en oor alles, maar veral oor resepte. Dit bring vir my ongekende vertroosting om my gesin te sien weglê aan my boontjiesop, skaapboud, roosterkoek en pannekoek. Ek pluk daagliks tiemie en basiliekruid, roosmaryn en salie uit die klein kruietuin wat ek VK aangeplant het.

’n Deel van my kruietuin waar ek daagliks pluk vir my geregte.

Magdel skep roetine: Ons hou skool, ons gym in die agterjaart, ons werk, maar saans lê ek tot wie weet watter tyd en binge op Netflix. Ilja Leonard Pfeijffer se Die mooiste meisie van Genua is langs my bed. Ek het dit nog by die Woordfees gekoop, min wetende dat ek die boek gaan nodig kry om onder my duvet na Italië te kan reis. Dié mooie land wat nou in rou is.

Hierdie boek laat my onder die duvet na die mooie Italië reis wat nou deur soveel hartseer gaan.

Magdel skep roetine in die huis. Gym is een van die daaglikse aktiwiteite wat ek graag probeer omseil.

“Jou kosmaak vertroos nie net nie, dit is deel van die roetine,” sê Magdel. Om die etenstafel vra sy vir elkeen waaroor ons dankbaar is. Joubert sê dankie dat Michael kos het.

Oor Michael wil ek nie skryf nie, uit vrees dat ek klink soos die Afrikaanse wat met bloedbelope oë ween oor sy wit skuld. Michael is ’n Zimbabwiër wat in Kayamandi bly, net anderkant die berg van Voëltjiedorp. Hy was al VK by die huis om kos te vra, maar nou kom hy elke oggend. Hy waag dit om padlangs hierheen te loop, want die munisipaliteit het die hek op die berg gesluit. Michael moet vinnig maak – sy dogtertjie is alleen by die huis. Sy vrou is ’n jaar gelede oorlede.

Ek maak lankal nie meer saans kos van verskillende lande nie (ons was wel al ’n paar keer in Meksiko). Maar ek hoop Michael geniet die boerekos van my grootwordjare.

IV

Ek sien my gesin raak, asof vir die eerste keer. Magdel is waagmoedig, maar weerloser as wat ek haar ooit gesien het. My kinders baklei gedurig, maar tog weet hulle daar is nie maatjies nie. Hulle móét weer opmaak en saam speel. Ek help Joubert skryf, hy help my deeg knie. Hannah verslind Harry Potter, speel lank klavier en skryf elke dag nuwe sêgoed op haar kamerdeur. “Boys drool, girls rule” is my gunsteling. Ons het twee huisgenote aangeneem voor lockdown: Jackie (vernoem na Michael Jackson) en JJ (Just Jinger of Johannes Jakobus). Hierdie katkinders bring liefde uit my kinders. Hulle bring rustigheid.

Jackie en JJ – ons nuwe huisgenote.

Kwakkies is die in ding in ons huis. Om elke hoek en draai kry jy ’n keuse. Bewaar jou siel as jy die verkeerde nommer kies en 100 push-ups moet doen. Ek wens ek kon ’n kwakkie maak waar al die papiervoue na die einde van hierdie vernietigende virus kon lei.

Die wêreld het gestol. Maar dan gaan staan ek voor die kombuisvenster en sien die berg.

My blik op die berg waar ek so graag laat smiddae in die herfson wil gaan stap.

Die lekkerste deel van Stellenbosch is om op só ’n helder herfsdag in die berg te gaan stap. Om die sagte son op jou vel te voel, die heuning in die fynboslug te ruik, en daarna yskoue witwyn onder die rooiwingerdblaarprieel van De Cameron-restaurant te gaan drink. Die wêreld het nie gaan stilstaan nie. Ons het.

Lees ook

Strafjaart: ’n onderhoud met Theo Kemp

Strafjaart deur Theo Kemp: ’n resensie

 

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie Theo, vir die eerlike blik wat jy werp op die “sluipmoordenaar”, Corona/COVID-19.
    Wat ons onwetend, onwettig en onwillekeurig betas en sussend vertrap.
    Ons dan forseer om die 1994-Madiba-droom, Ubuntu, met latex-handskoene en gesigmaskers te omhels. En met sosiale afstand te omarm.

    Voordelige ironie/“blessing in disguise”, wat gesinne tot op hulle grasperk inperk.
    En ’n gedeelde menslikheid, tot die kubertuig beperk.

    COVID-19 skei Suid-Afrika se berugte menslike verdelingslyne; rassisme en klassisme. Om “gesamentlikheid” in gemeenskap te herdefinieer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top