Kwarantynketting: "As whiskey en kombuisseks ’n gewoonte raak" deur Erla-Mari Diedericks

  • 5

Die tema wat hier bespreek word is volwasse inhoud.

Met die land wat tans in kwarantyn is, voer skrywers ’n korona-kettinggesprek oor hul gevoelens en ervarings as skrywers in hierdie moeilike tyd. 

Erla-Mari Diedericks skryf oor haar ervaring in die grendeltyd (Fase 5: Vrydag 27 Maart > Donderdag 30 April 2020).

Erla-Mari lees ook voor uit Seks, leuens en die internet (Wenkbrou, LAPA Uitgewers, 2019).

“As whiskey en kombuisseks ’n gewoonte raak” 

Ek drink elke oggend whiskey in my koffie en ek is so besig met seks dit kom by my ore uit.

Dis ironies.

Dit vat omtrent 28 dae om ’n gewoonte te kweek, en terwyl die hele land besig is om groentes en suurdeegsaadjies te kweek, kweek ek ’n drinkgewoonte.

Dan is daar die seks.

Kort voor die kwarantyntyd besluit ek dat ek eens en vir altyd klaar is met skryf oor seks. Die skrif is aan die muur.

Maar een week in kwarantyn in word ek versoek om ’n hygroman te skryf. So gou moontlik.

Quickies is nie juis my ding nie.

En dit geld vir boeke, mans en seks.

Maar dit blyk ek is wel goed met quickies. Spesifiek hygromans.

Dus – te midde van die kwarantyntyd sit ek en dink aan seks. Ek het nie ’n man om nader te trek vir inspirasie nie, so ek trek boeke nader. En flieks.

Ek kyk 9½ Weeks. Ek verlang na ’n jonger Mickey Rourke. Ek kyk The postman always rings twice en lees dat daar ernstige gerugte die ronde gedoen het dat die seks regtig was.

Ek dink aan regte seks. Hoe om dit beskryf in woorde dat dit regtig klink. Ek wonder oor al die paartjies wat saam is tydens lockdown en ek begin ernstig te wonder of ek liefde mis tydens hierdie tyd.

Ek weet nie. Dit pla my dat ek dit dalk nie mis nie. Dit pla my dat ek nie weet of ek dit mis nie. Ek besluit ek mis dit nie. Ek mag dalk later in die artikel van mening verander.

Tussendeur die sekstonele skryf, plant ek kruisement in my tuin wat almal aan ’n tragiese einde omkom. Ek kweek steggies in shot glasies op my vensterbank en drink een aand tequila saam met bure oor die kombuismuur. Ek, wat nie eens van bure hou nie.

Orals kom groen goeters op wat ek geplant het met ou tamaties, aartappels en soetrissiepitte, maar ek het nie ’n idee wat is wat nie. Daar is twee wynvate met blaargroente vol slakbyte wat ek ook nie die vaagste benul het wat dit is nie.

Een aand raak ek so angstig oor die leë rakke wat ek in my supermark gesien het dat ek besluit om als wat ek in my huis het te droog en op te gaar. Ek droog sampioene uit in my oond (’n totale mors van tyd) en hang ek chili’s op om te droog. My kind wil weet waarom ek ’n chili dreamcatcher maak.

Om my hongersnoodnagmerries mee te vang, my kind. Maar ek lag net.

My buie is op en af. Dis manies, om die minste te sê. Een dag is ek ongelooflik gelukkig en spuit plante nat, bak piesangbrood en drink glase vol wyn wat ek vas glo sal nooit opraak nie. Ander kere kan ek nie uit die bed kom nie.

Die siele is weg uit die strate, sê my kind. Ek kan nie meer my skaduwee sien nie, Ma.

Hy bedoel hy kan nie meer in die strate loop waar sy skaduwee hom vrolik volg nie, maar dit sink my in so ’n depressie in, ek kan nie beweeg nie.

Peter Pan.

Onthou jy? As hy ’n grootmens word en die verantwoordelikhede van die volwassenewêreld aanvaar, verdwyn sy skaduwee.

Ek bekommer my oor my kind. Hy is 18. Die wêreld moet aan sy voete lê en nou is die wêreld leeg. Die mense besig om te vrek soos vlieë. Watter toekoms is dit? Watter skade gaan dit doen aan sy psige?

Ek sien nie meer my skaduwee nie.

Een ding sal hom wel red. Hy weet wat vryheid is. Dit het ek by hom ingeprent van kleintyd af.

Ek het nog altyd ’n obsessie met vryheid gehad. Dalk omdat my ma my toegesluit gehou het in die huis. Geen speeltyd saam met maatjies. Geen oorslaap. Geen partytjies. Ek is net uitgelaat om kerk toe te gaan en winkels toe. Baie soos nou.

In my verhoudings is ek al toegesluit in ’n huis, aangehou in ’n badkamer en vasgekeer in ’n motor vir ure. En deur dit alles het ek geleer wat vryheid regtig is.

Vryheid moenie verwar word met “vry van” nie. Mens kan “vry wees van”: alkohol, drank, dwelms, slegte gewoontes, argumente, slegte verhoudings en komplikasies. Dit beteken nie jy is vry nie. Dit beteken net jy het elemente uit jou lewe verwyder wat jou bron van vryheid skade aandoen.

Moet vryheid ook nie gelykstel aan “die vryheid om te” nie. “Die vryheid om te”: gaan waar jy wil, doen wat jy wil, praat met jy wie jy wil, glo wat jy wil is menseregte. Dis wat jou mens maak. Tog definieer dit nie die bron van jou vryheid nie.

Die ou bekende liedjie lui: “Freedom is just another word for nothing left to lose.” Maar wat vryheid is, is jou siel. Die siel moet vry wees. As die siel nie vry is nie, is jy in die moeilikheid. En die siel, die siel kan nie ingeperk word nie.

Hell, no!

Vasgekeer in daardie kamer, daardie motor, daardie slegte verhouding, daardie vervelige werk, suburban huis, slegte situasie kan die siel nog sweef. Die siel het vlerke.

Die siel is vryheid. Die siel moet nooit gebreek word nie.

En dis waar die mens self inkom. As jy jou siel verkoop, verloën, verraai, is jou siel breekbaar. As jy getrou bly aan jou innerlike stem en kompas, gaan jou siel op koers bly, joune vir altyd.

En niemand kan die siel agter slot en grendel plaas nie. Die siel ken geen grense nie.

Maar wag, laat ek gaan. Ek het nog seks om te pleeg.

Luister hier na Erla-Mari Diedericks se voorlesing uit Seks, leuens en die internet (Wenkbrou, LAPA Uitgewers, 2019):

Lees ook

Seks, leuens en die internet deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie  

  • 5

Kommentaar

  • Erla-Mari

    Ek het lekker gelees aan jou dualistiese, paradoksale, oksimoronagtige gevoelens in hierdie tyd van nie-normaal en anti-roetine!

  • Die Skotte drink whisky, die Iere whiskey. Vir ons Boere makitisaki, dis lekker!
    Whiskey, rye whisky, whiskey I cry, If a tree don’t fall on me, I live till I die.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top