Seks, leuens en die internet deur Erla-Mari Diedericks: ’n resensie  

  • 0

Titel: Seks, leuens en die internet
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
Uitgewer: Wenkbrou, LAPA Uitgewers
ISBN: 978-0799-3934-15

Seks, leuens en die internet is ’n memoire waarin Erla-Mari Diedericks oopkop skryf oor haar ervaring van aanlyn afsprake en haar hunkering na ’n sielsgenoot. Kyk jy egter dieper, handel die memoire eerder en eerstens oor ’n 50-plusser se soeke na haarself.  

Diedericks is ’n joernalis, onder meer bekend vir haar ietwat kontroversiële (maar gewilde) rubrieke op Netwerk24. Sy het reeds ander boeke op haar kerfstok: Sin, Sushi and Survival, V-verhale en Still Standing. Seks is ’n gewilde tema.  

In haar nuwe memoire belig sy die uitdagings wat vroue ná 50 ervaar. Warm gloede en die verlies aan ’n geliefde ouer is voorbeelde. In “Waarskuwing en voorwoord” lei jy reeds af waaroor die boek handel. Diedericks skryf: “Ek is oorgewig en onderbetaald. Ek het artritis in my knieë en arms en klim soos ’n krap teen trappe af. Ek ontdek elke dag plooie op my gesig wat nie aan lag toegeskryf kan word nie. Ek piepie deesdae wanneer ek nies. Ek is steeds bang vir spinnekoppe en vaste verhoudings ...”

Hoewel die memoire ’n hartseer ondertoon het, is dit meestal vrek snaaks. Diedericks het dit byvoorbeeld teen mans wat, voordat hulle nog ’n potensiële liefdesmaat ken, vir haar name soos Bokkie of Girl toevoeg. Sy noem hulle tog nie “Bleskoppie of Varknekkie” nie, reken sy.

Om aanlyn afspake te maak, is deesdae algemeen, al waarsku ons voorgeslag  daarteen. Die skrywer se ma is eweneens skepties: “... hoe julle mekaar kan raakruik op daai webwerwe weet die vader alleen,” sê sy. Tyd om ’n potensiële geliefde in die werklike lewe raak te ruik, is daar vir sakevroue meestal nie. Daarby wil nie elkeen in klubs en kroeë rondhang nie.

Die sogenaamde dating scene het die afgelope tien jaar inderdaad verander. Verby is die dae toe net ryk, slim, gesofistikeerdes ADSL-lyne gehad het. Die gevaar dat jy ’n psigopaat kan raakkliek is nou werklikheid. Diedericks skryf dat sy eerstens oplet na ’n man se taalgebruik. Sy “kyk nie eens” na een wat nie kan spel nie. Veiligheidsonthalwe hoort jy natuurlik ook kontakte in ’n openbare plek soos ’n restaurant te ontmoet. 

Selfs al stel liefdessoekers veiligheidsmaatreëls, is daar tog benoude oomblikke. Soos die man wat sy oorlede honde opgestop het. Het hy nie dalk dieselfde met sy gewese vrou gedoen nie? Of dit dalk vir die skrywer beplan?

Die dokter wie se huis ’n spierwit interieur gehad het, het weer ’n swart boks na vore gebring. Binne-in was swart seksspeelgoed en swepe. Al weet Diedericks nie eens waar om oogklappe te vind nie, trek sy die streep by swepe. Foto’s of video’s van kroonjuwele of masturbeersessies is ook nie vir haar nie. Dié materiaal word dikwels aangestuur nog voor die man sy “gespreksgenoot” van aangesig tot aangesig gesien het.      

Die skrywer vertel van haar konfrontasie met een wat op die tafel gekap het. “Bam! Bam! Bam!” het hy die doodskiet van ses “pirates” op sy vorige “secret mission in Somalië” gedemonstreer.

Diedericks het selfs ’n intieme afspraak met ’n wolf gehad. Nie ’n regte gedierte nie, maar “die Wolf”. Haar aangetrokkenheid tot hierdie hunk is maan toe, want hy grom glo soos ’n wolf voor hy ’n klimaks bereik.

Jy lees oor vroue, meestal psigies, wat met spoke trou. Werklik. Een paartjie, so vind jy later uit, het selfs deel van die Mile High-klub geword. Dit laat jou wonder of spoke ná die egskeiding darem onderhoud betaal.

Die vrees vir verwerping – ook van haarself – is ’n belangrike tema. In haar soeke na aanvaarding, span Diedericks haarverlengings, vals wimpers, botoks en vullers in. Dis verfrissend dat sy een van die min vroue is wat erken dat sy “hulpmiddels” gebruik.  

Jy lees oor daardie negatiewe kopstem wat vir vroue sê hulle is oorgewig en onaansienlik. Deur die jare het die skrywer geleer hoe om met haarself te praat en dis nie “wees nou positief” nie. Lees gerus self oor die waardevolle en praktiese raad.

Dit bly vir vele mans moeilik om ’n alfavrou, veral ’n aweregse een, as langtermyn verhoudingsmaat te kies, skryf Diedericks. Maar wie is die alfavrou? Sy neem gewoonlik leiding in ’n groep en “laat nie toe dat omstandighede haar vorm nie, sy vorm eerder haar omstandighede”. Baie mans het duidelik nog ’n entjie se stap voor.      

Seks, leuens en die internet is nie net ’n samestelling van Netwerk24-rubrieke nie. Herskryf en bywerk verander rubriek in memoire, daar moet tog ’n deurlopende storielyn wees. Nie net sluit die hoofstukke netjies by mekaar aan nie, die inleidingsparagrawe prikkel die nuuskierigheid, die slotsinne verhef hierdie memoire tot blitsblaaier.

Diedericks kán skryf, soos oor die lees van ’n liefdesbrief: “Jy soek na geheime betekenisse en wagwoorde, vir versteekte klousules en towerwoorde. Jy weeg elke woord. Jy sing elke sin soos ’n psalm. Jy lees dit oor en oor tot jy nie meer kan nie. Dan vou jy dit toe, plaas dit onder jou kussing, en bevrug dit met wense en drome.”       

Sy skryf pittig. ’n “Ou tannie” met baie plooie lyk “soos ’n Renoir-olieverfskildery wat te lank in die son gelê en toe gesmelt het”. In ’n restaurant waar sy ’n potensiële geliefde ontmoet, rol die peperduur vis op haar bord sy oë. Mans wat haar soos ’n tweedehandse motor wil hanteer, hoort eers die fynskrif te lees, skryf sy, want “Ek het geen guarantee nie”. Die skrywer vra ook in ’n stadium: "Wat vir ’n naam is Amethyst Realm? Dit klink soos ’n verloofringreeks by Galaxy Jewellers."       

Die eksplisiete, intieme waksepisode hoort myns insiens nie in die memoire nie. Soos die jonges sou sê: bad visual coming through. Die stryd tussen “hart” en “brein” is ietwat van ’n cliché en daar word na vagina (intern) verwys wanneer vulva (ekstern) bedoel word. Dis egter verblydend dat geen setfoute voorkom nie. Dié probleem seëvier deesdae.

Diedericks se memoire kom sonder ’n waarskuwing, maar die sekswoord op die voorblad is tog ’n aanduiding dat sensitiewe lesers liefs moet wegbly. Seks, leuens en die internet laat inderdaad die wenkbroue lig. Die memoir word nie verniet deur Wenkbrou (LAPA) uitgegee nie.

Die skrywer kan gesalueer word. Ten spyte van haar agtergrond in ’n “NG-Afrikanerhuis” waar alles “van jeans tot by rockmusiek” sonde was, skryf sy sonder om doekies om te draai oor ’n ouerwordende vrou se seksuele ervarings, asook haar binnelewe.  

Die memoire behoort byval te vind by almal wat hul horisonne wil verbreed. Vroue, veral dié met lewenservaring, sal met Diedericks kan identifiseer. Mans kan meer oor die alfavrou uitvind. Dalk sien hulle na dese kans om ’n aweregse vrou as langtermyn liefdesmaat te oorweeg. Selfs al sou sy sê: “Ek is nie oukei nie. En dit is meer as oukei.”      

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top