Korona-kortverhaalfees: Wilmarie Pekeur oor "Die hemel se deure staan wawyd oop"

  • 0

Wilmarie, vertel ons van jouself en jou skrywery, asseblief.

Ek het op Worcester in die buurt Hexpark grootgeword. Van jongs af was ek lief vir die medium van kommunikasie; om dinge op ’n sekere manier vir mense te sê. Op hoërskool veral het ek die skryf van opstelle baie geniet. Die ontleding van gedigte en boeke het my begin fassineer. Ook wat dit oor ons samelewing sê. Daar was ook my eerste kennismaking met Adam Small se gedig “Geboortesertifikaat”.

Ek het ook baie dinge van kindsdae af sien gebeur en waargeneem. Dit kan ook ’n rede wees hoekom ek dit alles op papier wil vaslê. Skryf voel ook al hoe meer vir my soos comfort en ’n wegkruipplek. En wanneer ek pap voel, is dit soos my sterkte.

Is hierdie verhaal gegrond op jou eie ervarings as kind? Waar kom jou storie-idees vandaan?

Ja, ek het grootgeword in ’n charismatiese kerk. ’n Soortgelyke stelling is een oggend in die diens gemaak, en soos met Diena, was my klein wêreld op daai oomblik geskud. En ek moes toe stelselmatig weer die legkaart bymekaar probeer sit. Die ontnugtering was nogal nie lekker nie.

Ek sal sê my storie-idees kom uit dinge wat ek om my waarneem of gehoor of gelees het, en hoe dit my op daai stadium laat voel het. Ek het een dag ’n gedig geskryf oor ’n meisie wat by een van ons hoërskole deur haar neef wat tik doodgesteek is. Ek ken die mense glad nie, maar was geweldig daardeur geraak. Of die nuus van ’n ma wat ver moes stap om haar kinders skool toe te vat, en haar jongste seuntjie wat vermoor is omdat hy sy ma teen verkragting wou beskerm. Sulke goed.

Vertel asb hoe jy Rachelle Greeff se skryfskool by die Breytenbach Sentrum in Wellington ervaar.

Dis ’n groot voorreg om deel te wees van die skryfskool by die Breytenbach Sentrum. Dis nou my tweede jaar. Dis veral lekker saam met my medestudente – om hulle bietjie persoonlik te leer ken en te hoor wat hulle lewensuitkyk is.

Rachelle is ’n baie goeie skryfjuffrou. Sy haal die beste uit jou uit. Ek dink ek hoor al haar stem in my kop as ons skryfopdragte doen. En onder haar leiding voel ek hoe ek al hoe beter raak.

Die eerste sin van ’n storie is baie belangrik. Dit is een van die goed wat ons leer. Ek probeer dit toepas wanneer ek skryf. Wat ek ook by Rachelle leer en my elke keer aan moet herinner, is om geduldig te wees met jouself. Met die skryfproses. En om altyd nederig te bly oor jou vordering.

 

Lees Wilmarie Pekeur se kortverhaal, “Die hemel se deure staan wawyd oop”, hier:

Die hemel se deure staan wawyd oop

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top