Die hemel se deure staan wawyd oop

  • 4

“Hierdie evangelie het ons nie altyd geken nie,” sê pastoor Randall een Sondagoggend. “Dit het saam met ’n skip gekom ver van oor die see − saam met die Europeërs.” Pastoor Randall is hoofleraar van die AGS His Faith Ministries op Kromvlei. “Was dit nie vir die wit mense wat vir ons kom leer het van die Christendom nie, sou baie van ons bruin mense die Here nie geken en aanbid het soos ons dit vandag doen nie,” sê hy.

’n Koor van hallelujas en amens klink op uit die gemeente.

Dit was ’n Sondagoggend in Maart en ek was elf toe hy dié stelling maak. Soos ’n propeller het die vrae in my kop bly draai. Kom God dan nie hiérvandaan nie? Ek kyk verward na my ma.

Maar sy sit rustig; luister ongestoord. Beaam boonop kort-kort: “Ja, amen.” Uiteindelik, ná my gekriewel langs haar, kyk sy vir my. “Sjt,” fluister sy en trek my rok wat met die rondwoel opgeskuif het, af oor my knieë.

Ek kyk om my rond, maar almal se oë is na vore gerig en hulle luister kalm na die prediker.

 

Intussen vorder die nuwe skooljaar by Kromvlei Primêre Skool − ’n Boereskool, soos die kinders in my straat sê. Ek sien veral uit na die geskiedenislesse. Ek hoor van die slawe wat Kaap toe gekom het. “Dis die storie van die bruin mense,” sê my pa toe ek hom vertel.

Met my knieë opgetrek, my hande om my bene, sit ek voor hom op die stoep.

Hy sit op ’n geel krat. Poets sy kerkskoene. “Baie van ons voorvaders was slawe uit verskillende dele van die wêreld,” gaan hy aan. “Die Europeërs het hulle hierheen geboender.” Hy smeer die Nugget-politoer aan die skoenborsel. “Die slawe moes gehoorsaam wees aan hul eienaars, of hulle was swaar gestraf.” Hy staar ’n oomblik die verte in voor hy weer praat. “En toe kom hulle met apartheid. Toe is ons verder in ons hel in.” Hy staan op en sit die gepoleerde skoene op die krat om in die son droog te word.

 

In die klas leer ek meer oor apartheid. Oor rasklassifikasie.

“Het hulle ook ’n potlood in ouma Henna se hare gedruk?” vra ek een aand terwyl ouma Henna sit en nuus kyk. Ek langs haar op die bank. Terwyl ek praat, stryk ek deur haar stram regop grys hare.

“Hulle het dit met ons almal gedoen,” sê sy. “Om seker te maak watter kleur ons is.”

“Kon hulle dan nie met hulle oë sien nie?”

“Die regering van daai tyd het namens mense besluit aan watter kleurgroep hulle behoort,” sê sy terwyl sy die pyn uit haar bene probeer vryf. Dan lag sy. “Ons het hulle verder deurmekaar gemaak.”

“Hoe dan so?”

“Oor ons so tussenin lyk.” Ouma Henna tik met haar vinger teen haar wang.

“En as hulle nie seker was nie?”

“Dan het hulle geraai.”

 

Een Saterdag in die taxi op pad dorp toe vertel my ma my die storie van die poskantoor.

“Ons moes in aparte rye staan om gehelp te word,” sê sy.

In die dorp staan ons in ’n ry by die poskantoor om ’n pakkie af te haal. Die gebou het beige vloerteëls en groot vensters wat op die hoofstraat uitkyk. Daar is bankies vir mense om op te sit. Ek kyk al in die rondte. “Aan watter kant moes Mammie-hulle staan?”

“Ek kan nie meer onthou nie. Die gebou het anders gelyk.” Sy wys met haar vinger voor haar mond vir my om stil te bly.

 

Antie Bettie, die skoonmaker by die skool, praat een pouse saam met my in die kombuis. “Hulle het gesê die Bybel sê apartheid is reg.” Sy loer vlugtig of iemand nie in die gang verbyloop nie. “Die Boere het geglo dis God se wil,” sê sy terwyl sy die klein wit koppies in die Jik-water was. “Sien jy daai groot kerk met die hoë toring hier anderkant?” Sy wys met haar kop in die rigting van die NG Kerk.

Ek knik.

“Hulle het gepreek vir apartheid om te bly. Maar dis nie nou meer so nie.” Sy pak die breekgoed een vir een netjies op ’n skinkbord uit. Haar groen overall is vol nat kolle.

Ek skud my kop. “Nee. Antie Bettie is verkeerd. God sou nooit daai dinge toegelaat het nie. Daai mense het nie vir God geken nie. Óns het hulle van Hom geleer. Toe vra hulle vir God om vergifnis oor alles. Toe vergewe Hy hulle. Dis wat gebeur het.”

Dít het ek altyd gedink.

Tót daardie Sondag van Maart in pastoor Randall se kerk.

Dit lyk of nie een van die driehonderd gemeentelede in die rye grys plastiekstoele skrik vir sy uitlating oor die wit mense wat geloof na ons toe gebring het nie. Behalwe ek.

Die band speel. Die tromme doef-doef deur die kerkgebou. ’n Dogtertjie in ons ry sing luidkeels saam: “Spring in die bad van Bethesda …” Dan maak sy of sy in ’n bad spring.

Regs van my is ’n vrou met ’n bont kopdoek. Haar gesig donker van plaaswerk in die son. Sy swaai haar arms jubelend.

“Jesus! Jesus!” roep oom Ampie agter my.

Naby die einde van die diens stap ’n man vorentoe. Hy gaan staan langs die preekstoel en getuig hoe die Here hom verlos het van drank. “God het my vrygemaak,” sê hy en glimlag sonder sy vier voorste tande.

’n Vrou gaan staan langs hom en begin ook getuig. Sy vertel huilend van haar dwelmverslaafde seun: “Nog … net … die … Here kan my kind red,” snik sy. Dit lyk of sy gaan omval.

Twee kerksusters staan vinnig nader. Hulle hou haar van weerskante om die middel vas.

Ek kan nie wag vir die slotgebed nie.

 

Toe ons terug huis toe stap, wil my ouer broer Ferdinand hê ek moet ruik of hy nagmaal gebruik het.

“Dis tog net sap,” stoot ek hom geïrriteerd weg.

 

Middagete kom ouma Henna uit die kamer geslof en kom sit oorkant my aan die etenstafel.

“Dank vir ons, Ferdi,” sê my pa.

“Seën ons, Vader. Seën ons ete. Laat ons nimmer U vergete. Amen.”

Ouma Henna praat eerste: “Hoe was die diens?”

“Geseënd, Mamma,” antwoord my ma. “Ouderling Hess en sy vrou kom in die week vir Mamma nagmaal bedien. Hulle …”

“Dêdda, waar kom God vandaan?” val ek hulle in die rede.

My pa verstik aan gebraaide aartappel.

“Hoe meen jy, Diena?” Hy lyk verbaas. Hoes nog ’n slag.

“Het God saam met die wit mense gekom?”

Voor Pa kan antwoord, gryp Ma in: “Toe, toe, Diena, jou kos word koud. Eet klaar!”

“Wag nou, gee die kind ’n kans,” tree ouma Henna tussenbeide. Dan sê sy saggies: “Diena, God behoort nie op één plek nie. Ook nie aan een mens of groep nie. Hy is oral. Al het mense klompie jare gelede van ver af gekom om ons van God te vertel, het verskillende mense Hom hul eie gemaak. Ook die bruin mense.”

“Maar die mense wat ons van God geleer het, het nie van ons gehou nie,” stribbel ek teë. My oë brand.

Ouma Henna hou haar hande saam asof sy gaan bid. Sy wag ’n oomblik voor sy verder praat. “Mense doen uit eie wil die verkeerde ding. Dan het God niks daarmee te doen nie.” Voordat ek iets kan sê, hou ouma Henna haar hand in die lug. “Nie een van ons het vir jou ál die antwoorde nie. Net soos jy, hoop ons dat alles eendag duidelik sal word. Tot dan kan ons net glo in dit wat die Bybel sê: Dat ons almal voor Hom gelyk is. Dat ons almal Sy kinders is. Oor wat met ons geslagte gebeur het. Die oordeel is nie ons s’n nie.” Ouma Henna kyk in Pa se rigting.

“En die hemel, ouma Henna?” My oë is nat. “Kan ek nog hemel toe gaan?”

Ouma Henna knik. “Vir jou, Diena, staan die hemel se deure wawyd oop.”

 

Lees ’n kort onderhoud met Wilmarie Pekeur oor “Die hemel se deure staan wawyd oop” hier:

Korona-kortverhaalfees: Wilmarie Pekeur oor "Die hemel se deure staan wawyd oop"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 4

Kommentaar

  • Wilmarie is van jongs af 'n nuuskierige denker wat stelselmating haar kreatiwiteit en leierskap, in moeilike omstandigdhede, ontwikkel het. Pas haar mooi op, sy gaan nog uitstyg om 'n verskil in ander mense se lewens te maak. Go girl Go!

  • Lyk my die inperking het ook die hemel getref. Vroeër het jy deur twaalf pêrelpoorte gestap; nou's dit sommer net deure.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top