Korona-kortverhaalfees: Rika Cloete oor "’n Kwessie van geloof"

  • 0

Rika, jy het ’n klompie jare gelede by LAPA gedebuteer met die spanningsroman Doodsroeper. Maar ek sien in LitNet se resensie van die boek daar word verwys na ’n “debuutbundel” en “’n avontuurromanse” wat vroeër verskyn het. Vertel asseblief van die twee vorige publikasies.

Dis reg, ja. In 2001 het ek by Ronnie Belcher van Suider Kollege Uitgewers met ’n pak gedigte gaan aanklop en tot my grootste verbasing word hulle toe as die bundel eensaamigheid in 2002 uitgegee. Die verse put onder meer inspirasie uit die spanningsverhouding tussen lewe en dood, die skeppings- en skryfproses, en my eie intieme en persoonlike ervarings as mens en digter. Sommige ernstig, party hardegat en ander weer tong in die kies, het ek probeer om sowel die alledaagse as die besondere te inkorporeer. Een van my gedigte uit dié bundel verskyn tans in Vers & vrou, saamgestel deur Karen de Wet (2020).

Die avontuurromanse Die oog van Isis is in 2004 by LAPA Uitgewers gepubliseer as deel van die destydse Treffer-reeks. Bo en behalwe die uitgestelde begeerte tussen held en heldin wat sentraal tot enige liefdesroman staan, het ek hier gepoog om ook heelwat klem op avontuur in die verhaal te lê. Die misterie van Egipte, ’n gesteelde juweelstuk, sinistere karakters, ontvoerders, verraad – en dan nog die onvermydelike skeutjie liefde … So ’n ietsie van alles wat mens se tone op alle vlakke kan laat krul.

Ek hoor jy het ’n doktorsgraad in letterkunde?

In 2005 het ek ’n DLitt et Phil in Duitse Letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg verwerf. Dit was ’n natuurlike uitvloeisel van my destydse beroep as lektor, maar ek moet beken dat ek meer tuis voel as woordkunstenaar.

Dan het ek ’n ander voëltjie hoor fluit dat daar ’n nuwe publikasie deur jou op hande is. Is dit fiksie?

In Augustus vandeesjaar verskyn my tweede roman, getiteld Skadukant. Soos Doodsroeper is dit ’n misdaadroman, maar dit speel nie teen ’n historiese agtergrond af nie; dit is modern. In wese handel die verhaal oor ’n moordenaar wat swanger vroue teiken. Die inslag is dié van ’n sielkundige riller met heelwat intrige en kinkels. Maar ek wil nie te veel hier verraai nie!

Vertel asseblief hoe hierdie verhaal by jou aangemeld het.

Jong, soos wat alle verhale maar by my aanmeld. Heeltemal uit die bloute, dikwels soos ’n voorhamerhou teen die kop, maar soms ook met ’n tikkie deernis en gemoedelikheid. Hang eintlik net af van wat die storie wil sê. En dan los ek hom maar om sy loop te neem terwyl ek die pen vashou.

 

Lees Rika Cloete se kortverhaal, ““’n Kwessie van geloof”” hier:

’n Kwessie van geloof

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top