’n Kwessie van geloof

  • 0

’n Sug is die enigste geluid wat die geroeste ou windpomp uitkry. Markus hoor hoe die rooigrond onder sy skoensole knars en gaan staan ’n oomblik stil om die landskap om hom te bekyk.

Alles is dor, byna doodgebrand deur die son. Hy knipper sy oë, probeer fokus deur die wasige trillings in die lug. Wat hy sien, laat sy maag saamtrek. In ’n verlate hoop tussen die waaigras lê ’n karkas kaalgevreet deur die aasvoëls en insekte. ’n Vinnige, kort snuif beaam dat die reuk van ontbinding lankal reeds verdamp het saam met die laaste vog in die hemel.

Om ’n boer te wees is nie maklik nie. ’n Mens is uitgelewer aan soveel meer as net alledaagse probleme. Die elemente is jou meester en jou behoud. En hulle werk dikwels teen mekaar in. Maar tog sou hy dit nie anders wou hê nie. Die plaas is sy hele lewe. Sy grootwordplek, sy oudwordplek.

Hy het al vantevore, nes die ander boere hier, gebuk gegaan onder die droogte, maar dit het nog nooit so erg geknel soos nou nie. Hierdie keer voel dit asof dit nie gaan end kry nie. Asof elke maatreël om verligting te probeer bring tevergeefs is, elke plan om te oorleef pure wensdenkery. Diere vrek voor die voet, oeste misluk, water moet spesiaal vanaf die groter dorpe aangery word om die nood te verlig. Maar die reën bly uit.

Wat hom meer pla, is dat sy hoop soos die groen van die veld stadig maar seker aan die wegkwyn is. Hy was nog altyd oortuig daarvan dat alles ’n plan het, dat alles uitgewerk is. Dit is tog nie vir hom om dinge te bevraagteken nie. So is hy immers grootgemaak. Om te aanvaar wat is. Maar deesdae?

Sy geloof word getoets, hy weet dit. Vir die eerste keer wil hy weet hoekom ’n regverdige God die boere so laat ly. Hoekom hy soveel opofferings vir hierdie plaas moes maak – stil opofferings waarvan niemand weet nie, maar wat snags by hom spook as hy alleen in sy bed lê – en dít blykbaar alles vir niks. Hoeveel boere moes nie al uit radeloosheid plase wat geslagte lank reeds in hulle families is verkwansel om uit die verknorsing te kom nie? Wat is God se plan nou eintlik? En hoe moet hy dit verstaan as die droogte binne hom skielik groter is as die een óm hom?

’n Gedreun onderbreek sy gedagtes en kort daarna hou dominee Brits se bakkie in ’n stofwolk langs hom stil. Wanneer die vensterruit afrol, kan Markus die ontsteltenis op sy gesig sien.

“En nou, dominee? Het daar dan iets gebeur?”

“Kyk, Markus, ek is ’n vredeliewende man,” antwoord die ouer man, vroetel in sy broeksak en vee dan die sweet met ’n sakdoek van sy voorkop af. “Die mense ken my só. Maar vandag het ek myself te buite gegaan. Onder provokasie, bygesê.”

“Maar hoekom, dominee?”

“Dis oom Herklaas Buitendag. Hy’t my van sy plaas af weggejaag soos ’n sleg hond net omdat ek hom durf vra het om Sondag die biddag vir reën by te woon. Op my geskel en vir my geskree dat God hom nie deur mense sal laat aansê wanneer Hy sy hand oor die grond moet oopmaak nie. Maar ek moes my plig doen. Probeer om die verlore skaap weer terug te lei na die kraal. En wat doen hy toe? Skiet op my! Ek het nog nooit so gevloek nie, man.”

“Maar dominee weet mos oom Herklaas sit nooit sy voet in die kerk nie. Dit help tog nie om hom te dwing nie.”

“Ek weet, Markus. Maar nie een van ons kan nou afvallig wees nie. Ons moet saam staan in hierdie moeilike tyd. Één wees in geloof as ons wil hê die Here moet ons gebede verhoor.”

Daar is meteens ’n vreemde gewaarwording binne Markus en hy kan skaars sy eie woorde glo toe hy sê: “Toemaar, dominee. Laat ek met oom Herklaas gaan praat. Miskien sal hy eerder na ’n ander boer luister. Iemand wat sy situasie verstaan. Wat hóm verstaan.”

 

Die opstal is net so ongenaakbaar soos die eienaar, maar Markus laat hom nie afsit nie en stap by die trappies van die voorstoep op. Soos ’n wafferse ou patriarg sit oom Herklaas voor hom oor sy droë landerye en uitstaar. Woeste wit baard. Wilde swart oë. Duidelik nie in die bui om gesteur te word nie.

Toe hy voor die ou boer gaan staan, is hy nie meer so seker van sy saak nie. Hy weet – soos almal in die distrik – dat oom Herklaas Buitendag ’n regte ou korrelkop is. En dat hy geen tyd vir onsinnighede het nie. Dit gaan beslis nie maklik wees om hom tot ander insigte te probeer dwing nie. Veral nie as ’n mens se gemoed self vol twyfel is nie.

“Dag, oom Herklaas,” groet hy beleefd en lig sy hoed.

“Dag, Markus. Wat kan ek vir jou doen?” kom dit reguit.

“Ek kom vra of oom Sondag sal kom saambid vir reën.”

“Het die predikant jou gestuur?” Die stem is hard en ongeduldig. “Ek het hom gesê hy moet my uitlos. Ek het nie tyd vir twak nie.”

“Nee, oom. Ek het self gekom. Uit my eie uit.”

“Nou vir wat? Ek het gedink jy is ten minste ’n man met ’n verstand, man. Jy weet net so goed soos ek waar die reën vandaan kom. Ons sondige natuur het niks daarmee te make nie. En dis ook nie ’n kwessie van geloof nie. Geen rondgekruipery op die knieë gaan dit laat gebeur as die toestande nie reg is daarvoor nie.” Die ou man spoeg ’n stukkie voos gekoude twak ver oor die lae stoepmuurtjie.

“Oom Herklaas,” begin Markus en voel hoe die woorde stadig uit hom loswikkel. “Ek sukkel deesdae met soveel hoekoms en waaroms en ek kry nie antwoorde nie. Ek begin moed verloor. Nie net met die plaas nie, nie net oor die reën nie, sommer met alles. Met myself en met God ook. As oom net kom saambid, sal ek weer kan glo. Sal ek weet dat God daar is. Dat Hy hoor, omdat Hy oom deur my laat hoor het. En dan kan ek weer aangaan, want dan weet ek dat alles die moeite werd is. Asseblief oom. Dit is die laaste stukkie hoop waaraan ek nog vashou.”

Die ou man kyk hom met skrefiesoë aan en reik uit na die haelgeweer wat langs hom teen die muur aangeleun staan. En omdat Markus gelukkig ’n man vir ’n halwe woord is, maak hy hom dadelik uit die voete.

 

Die kerkbanke is volgepak met lede van die boeregemeenskap. Bonkige manne, stewige vroue, tjoepstil kinders. Almal van hulle rateltaai, maar met dieselfde uitdrukking van radeloosheid op hulle gesigte.

Markus se oë gly oor die gemeente, drink die mense een vir een in. Dominee Brits se stem dreun voort, maar hy neem nie die boodskap in nie. Dit is eers na ’n rukkie dat hy agterkom dat die mans almal opgestaan het. Die predikant is reeds besig om te bid. Hy staan ook stil-stil op, maar sluit nie sy oë nie, bly net na die mense om hom kyk. Hulle hande herinner hom aan ou verknotte takke, die fronse op hul voorkoppe aan diep vore waarvan die water lank reeds opgedroog het. Daar hang ’n desperaatheid oor hulle, veral rondom dié wat nou een na die ander ootmoedig smeek vir verlossing uit die waterkrisis. Hy luister of hy oortuiging by hulle kan hoor, ’n vaste geloof dat hulle gebede nie op dowe ore sal val nie.

Opeens voel hy ’n skerp blik op hom rus. Dit ontstem hom, maak hom ongemaklik.

Toe Markus omdraai om te kyk wie dit is wat hom so dophou, sien hy hom skuins agter in die laaste kerkbank sit. In die kleurstrepe wat in eweredige ruitpatrone deur die lang loodglasvensters val, lyk dit asof die man die bont pak van ’n harlekyn dra. Die wit baard wat gewoonlik woes om sy sterk ken staan, is vandag vir ’n verandering netjies geknip en sy hare is gekam. Sy neus is prominenter, die wenkbroue strakker en ruier. Die swart oë bly op hom gerig.

Markus wil eers wegkyk, maar hy kan nie. Die ligstrepe oor oom Herklaas word helderder, die kleure intenser, totdat dit lyk asof hy die brandende vlerke van ’n feniks agter hom dra.

Markus glimlag vir hom voordat hy terugdraai en dan sy oë sluit voordat die gebede finaal uitloop. Verbeel hy hom, of hoor hy iewers die gerammel van donderweer in die verte?

 

Lees ’n kort onderhoud met Rika Cloete oor “’n Kwessie van geloof” hier:

Korona-kortverhaalfees: Rika Cloete oor "’n Kwessie van geloof"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top