Korona-kortverhaalfees: Merle Grace oor "KleinKosie"

  • 0

Merle, waar kom jou belangstelling in skryf vandaan? Vertel asseblief van die publikasies waarin jou werk opgeneem is.

Ek is maar ’n “late bloomer”. Van kleins af het ek briewe geskryf. Sommige het ek gepos, en ander het ek onder my bed gebêre. Briewe aan Elsabe Steenberg het my laat jeuk vir meer skryf, want sy het teruggeskryf. Ek het my vingers deurgeskryf: briewe aan vriende, penvriende en Athol Fugard het onder die bed beland. Daar was ook briewe aan my verbeeldingsmaatjie en mense wie ek bewonder het. Maar ek het eers in my laat twintigs ’n brief aan ’n nou bekende skrywer gepos, wat toe terugskryf en sê: “Hoekom probeer jy nie ’n kortverhaal skryf nie?” Ek het, en dit was goed. Voëlvry het destyds twee stories gepubliseer, en toe ook Tydskrif vir Letterkunde. My reis het begin.

My werk is in die volgende publikasies opgeneem: “Disappear” in die bundel Incredible journey, “Discovery R” in The eleventh month en “206” in Jonk. Die verhaal “Record cards” het in 2019 derde plek in die SA Writer’s College se skrywerskompetisie gewen.

Hoe het jy op die idee van hierdie verhaal gekom? Gaan sit en werk jy ’n plot uit voor jy begin skryf?

Ek gebruik baie dinge wat by my spook, en maak dan fiksie daarvan. Ons bure op die plaas in die Kalahari het eens ’n slang in ’n vervalle kar aangehou. Ek en my pa het gaan kyk. Ek was maar ’n sensitiewe kind, en die beeld van die slang en die dooie muis het my lank bygebly. Ek het altyd geweet dat ek ’n storie daaroor sou skryf. Jare later het een van Kosie se honde vriende se dogter gebyt, en dit was die eerste keer dat ek ’n diep oop wond gesien het. Die res van hierdie storie is alles fiksie.

Oor plot: Ek weet gewoonlik hoe die verhaal gaan eindig voor enigiets anders. Soms lê die idee in mitologie, of iets wat ek op straat sien, of raaklees in ’n koerant. Ek is glad nie heilig oor my skryfwerk nie, en verander graag as dinge nie uitwerk nie.

Wie is jou gunstelingskrywers en wat lees jy graag?

Ek het onlangs drie haikoes oor my gunstelingskrywers geskryf:

Milan Kundera
Jonathan Safran Foer
Toni Morrison

Anne Michaels en Roy
Chigozie Obioma
Nicole Krauss, Zusak

Carlos Ruiz Zafón
Bukowski, Murakami
Ndlovu, Marquez.

Ek lees graag enigiets met ’n goeie plot en sterk karakters. Ek hou van moderne digkuns en lees graag die lirieke van my gunstelingmuso’s.

 

Lees Merle Grace se kortverhaal, “KleinKosie”, hier:

KleinKosie

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top