KleinKosie

  • 0

Ek skop ’n leemklip tot teen die muur van die skoolgebou.

“Ek dink ons moet môre gaan.”

Ek maak of ek nie vir Ben hoor nie.

“Net as jy vir Pa sal vra.”

“En net as jy die geld by KleinKoos sal kry …”

Sonder om na Ben te kyk, tel ek die klip op.

“Jy weet hoe befoeterd KleinKoos is …” Die sug in Ben se stem ken ek alte goed.

“Gaan nóú.” Ek trek aan een van my vuil skoolkouse. Ek wil ook die gevaarte sien wat KleinKosie glo met sy eie twee hande gevang het om vir almal te wys hoe dapper hy is.

“Oukei, ek sal.”

Ek loop oor die speelgrond tot onder die bloekoms waar ’n paar hoërskoolmeisies op die baksteenmuurtjie sit. Ek waai vir Liz. Sy blaas vir my soene. Ben sê ek mag nooit met Liz praat as ons by die skool is nie, maar ek steur my nie aan hom nie.

My oë soek na KleinKosie. Ek gewaar hom onder die peperboom en ek hoor die woord “mamba”. Ek sluk swaar aan my spoeg.

“Anna Kapanna Banana!”

KleinKosie het nog nooit van my gehou nie. GrootKoos moes sy hare gesny het. Sy kopvel lyk blouerig. Dit laat my ril.

“En wat soek jy?”

“Ek en Ben het vir jou geld …”

KleinKosie krap sy kop asof hy verdomp nie verstaan wat ek sê nie.

“Kyk self.” Ek maak my hand oop.

Hy sê niks, maar ek kan sien hy is bly oor die geld. Ek sit die munte in sy palm. Dit was toe nie eers so erg om hom te vra nie.

“Woensdag ná skool. En moenie laat wees nie.”

 

Ben kyk oor die sout- en peperhouers na my. Ons is tjoepstil aan tafel.

“Moenie vir my sê julle twee wil ook die absurde gade slaan nie?” Pa lyk teleurgesteld in ons.

“Asseblief, Pa! Almal het al.” Dis Ben wat so dapper is.

Ek stoot die silwerige vel van die vis op my bord rond.

“Dis ’n skande, dis wat dit is, om die arme dier so aan te hou!”

Ek kan nie anders nie. “Asseblief, Pa! Ben kan ons vat.”

 

Pa hou die bakkiesleutel na Ben uit. “Stadig om die peperboomdraai!”

“Dankie, Pa.” Ben vat die sleutels versigtig. Hy is twaalf, maar bestuur al vandat hy tien is.

Die ou bakkie vat dadelik, en ek voel skoenlappers op my maag wanneer ons in die stofpad wegry.

 

KleinKosie staan by die tuinhekkie vir ons en wag. Ek hoor ’n hond in die huis blaf.

Deur die kombuisvenster sien ek Kosie se ma. Sy droog skottelgoed af met ’n rooi vadoek.

Ben stoot sy bors uit, trots en regop. “Nou laat ons sien! Of lieg jy vir almal?”

Kosie loop voor ons uit. Hy lyk moerig.

Hy gaan staan voor die ou Chevy wat sy pa gekoop het toe hy sy liksens gekry het. Toe loop rol GrootKoos die kar, en het nooit weer bestuur daarna nie. Die kar is vol duike.

Ek tree versigtig nader en kyk deur die Chevy se venster.

Ek ruk terug.

Daar’s ’n rot op die agterste sitplek. Ek kan sien die ding is dood, maar sy vervlakste pienk oë is nog oop.

Ben vat my hand, en ons loer nou saam deur die venster. Die dooie rot met die fyn pootjies lê teen die dun lyf van ’n mamba. Dit lyk of iemand die slang met ’n ligte grys poeier geverf het.

“Is mambas dan nie swart nie?”

Nie een van die seuns antwoord my nie. Die mamba se tong flits. In en uit.

Ben los my hand en begin teen die kardeur stamp. “Ek gaan die slang vrylaat! Ek gaan!”

“Die deure is gesluit, jou dommie.” Kosie staan skielik regop. “Ek’s nou gatvol vir julle twee. Julle moet voetsek.”

In die huis begin die hond tjank, asof iemand op sy stert getrap het. Ek en Ben staan doodstil, want ons hoor ’n motorfiets in die paadjie aankom. Ek en Ben ken Liz se fiets, maar KleinKosie tuur met nou oë.

Dan snap hy. “Dis daai simpel Engelse meisiekind.”

“Hei, sy’s nie simpel nie!

“Dis nie wat my pa sê nie.”

“Ag wat weet …?” Voor ek my sin kan klaarmaak, skop Ben my teen die skeen.

Liz se motorfiets verwissel na ’n laer rat. Sy hou reg voor ons stil en klim van die fiets af.

Kosie se gesig lyk soos ’n vlermuis s’n. Hy staar haar aan wanneer sy stilhou en afklim, sy neus op ’n knop getrek.

Sy kyk na my en Ben. “Are you two okay? I saw the bakkie …” Dan na Kosie: “So, ek hoor jy hou ’n mamba hier aan?” Haar Afrikaans is perfek.

Hy antwoord nie.

“Laat ek sien, toe. Net vinnig.”

“Dit gaan jou kos.”

Liz kry geld uit haar jeans se sak en druk dit in Kosie se hand.

“Dis nie genoeg nie.” Kosie lyk gemeen.

“Ag loop bars, Kosie.”

“Ek sê dis nie genoeg nie! Is jy doof?”

Kosie se stem is so kwaai dat selfs Liz omkyk. Dan hoor ek die kombuisdeur oopgaan en die hond kom soos blits aangestorm.

Ek en Ben hardloop saam na die tuinhekkie. Hy sukkel om dit oop te kry. As ons terugkyk, het die hond reeds vir Liz omgespring. Sy kake om haar bobeen.

 

Ben gee vir my die bakkie se sleutel. “Jy sal moet bestuur.” Dan bokspring hy oor die heining en hardloop na Liz toe.

“Kry die hond af!” Ben praat soos Pa as hy genoeg gehad het. “Nou!”

Kosie lyk skielik bang. Ek sien hoe hy frons. Seker oor die bloed. Hy gryp die hond aan die halsband en ruk hom van Liz af.

Ben help die bebloede Liz tot by die hek.

Kosie staan soos ’n standbeeld.

Ek moet bestuur, en my hande bewe. Ek is nie so goed soos Ben met bestuur nie.

Ben slaan die bakkie se deur toe. “Waar’s die bike se sleutels?”

Liz beduie dat dit in die motorfiets is.

Ben draf vinnig na die bike toe. Ek hoor hoe hy sukkel om die ding te start, maar toe vat hy. Hy wys ek moet voor ry.

Ek ry nie stadiger om die peperboomdraai nie en moet klou aan die stuurwiel.

Wanneer die stof soos ’n plaag oor die werf sak, kom Pa uit die plaaswinkel gehardloop.

Pa dra vir Liz die huis in asof sy ’n dogtertjie is. Haar wonde is diep en lelik, maar ek kan nie wegkyk nie. Ma knip die jeans met haar materiaalskêr.

Skielik word die badkamerteëls met die pienk rosies op te pienk vir my. Die Dettolreuk maak my naarder.

Ben hou Liz se hand vas. Hy is dapperder as ek.

 

Alles voel anders, asof iemand ’n fout gemaak het wat nie gefix kan word nie.

Ek sit langs Susan op die lae muurtjie agter die skoolgebou en trek my rofies los. Niemand durf touspring of albaster speel nie. Die seuns fluister onder die bome.

“Het jy gehoor?” Susan se gesig gril vir my rofie wat begin bloei.

“Wat?”

“Kosie se mamba is dood.”

“Het iemand hom vrygelaat?”

“Nee, stupid. Die ding is dood in die kar.”

Ek staan op en skop ’n klippie.

“Maar jy kan nog gaan kyk.” Susan is in haar skik dat sy meer weet as ek.

“Wat? Na die dooie slang?”

“Ja. Dis goedkoper, jy weet.”

Die skoolklok lui.

 

Lees ’n kort onderhoud met Merle Grace oor “KleinKosie” hier:

Korona-kortverhaalfees: Merle Grace oor "KleinKosie"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top