
Maryna, jy het ’n interessante agtergrond en jy het in ’n stadium in Londen gewoon. Vertel asseblief kortliks oor wat jy doen, waar jy jou nou bevind, en hoe skryf in jou lewe inpas.
Met pioniersbloed wat in ons are bruis, het ek en my gesin in 1993 noord gefoeter; nie oor die berge nie, maar oor die see. Kort op ons hakke was daar jongmense met werk- en vakansievisums wat in hul duisende op Londen toegesak het.
UKkasie, ’n jaarlikse musiekfees, het in my kop vlamgevat en is uiteindelik in lokale soos Wembley se uitstalsentrum en die Royal Albert Hall aangebied. Die fees het probeer om die uitgewekenes se huishonger te stil. Susterfeeste soos EuroKasie (Nederland), KaNasie (Kanada) en KiwiKasie (raai waar) het gevolg. Ag, ek was in dié tyd by dosyne ander goed ook betrokke, maar UKkasie was my hooffokus in hierdie vreemder-as-fiksie-tydperk in my lewe.
Twaalf jaar later het ons teruggekeer na Suid-Afrika en het ek gestalte gegee aan my troetelbelangstelling, metafisika, in die vorm van ’n boek, Meer as ’n metafoor, waarin ek die groot prentjie van die werklikheid probeer bou met die legkaartstukkies wat soos brokkies brood van die tafel van moderne wetenskap val.
Koos Kombuis het die boek geresenseer (nogmaals dankie, Koos) en toe ek in Huisgenoot ’n storie van hom lees waarin hy na my boek verwys, het ek besluit om Koos met my eie storie-in-die-Huisgenoot, “Kombuistaal”, te antwoord (het jy dit ooit gelees, Koos?). Die kortverhaal is vir publikasie aanvaar en die gogga het my gebyt. Etlike ander kortverhale in Huisgenoot het gevolg, asook in Sarie, Rooi Rose en Vrouekeur.
Ek werk tans aan ’n boek oor my Engeland-jare, gevul met kleurvolle karakters, intriges, bloed en sweet, ideale en ontnugtering, en helaas, ook persoonlike groei.
Moes jy die plot vir “Doodsnaaks” eers presies gaan sit en uitwerk voordat jy die verhaal begin skryf het? Vertel hoe die proses tussen ’n idee en die uiteindelike skryfwerk verloop.
Gewis! Ek het snags vir ure na die plafon gelê en staar terwyl ek die verloop van gebeure van begin tot einde deurdink het. In fiksie moet gebeure logies op mekaar volg om geloofwaardig te wees. Los die onverklaarbare en die absurde toevallighede maar vir die werklikheid.
Die skryf van ’n verhaal begin uiteraard met die soeke na ’n goeie idee, maar daarvoor is daar nie ’n resep nie. Ek kies ’n plek of gebeurtenis uit my eie lewe wat storiewaardig is. (In “Doodsnaaks” was dit die Aprilgek-poets op my eks.) Dan verweef ek die fiksie om dit. Wanneer jy vals blomme tussen egtes indruk, lyk die hele spul eg.
Baie navorsing en ’n sterk, verrassende einde is belangrike elemente.
Karakterontwikkeling ook. Ek skryf en herskryf (en herskryf) ’n verhaal om ontslae te raak van die oortollige, en om standaarduitdrukkings met kleurvolles te vervang, maar sonder om slim of oordadig skeppend oor te kom. Laastens stuur ek die verhaal vir my twee Engelse dogters vir kommentaar (maar eintlik om hulle via pligpleging te dwing om Afrikaans te bly lees).
Lees Maryna Blomerus se kortverhaal, “Doodsnaaks”, hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

