Doodsnaaks

  • 0

Soos elke weeksoggend sluit Belinda Schönfeldt die voordeur van Montgomery Makelaars stiptelik agtuur oop. Oudergewoonte maak sy vir haarself tee en skuif agter haar lessenaar in, waarna sy ’n taaklys vir die dag opstel. Vandag skakel sy egter nie haar rekenaar aan nie. Sy haal haar selfoon uit haar handsak. Wat sy nou moet afhandel, verg ’n persoonlike aanslag.

’n Glimlag pluk aan haar mondhoeke terwyl sy haar gewese man skakel. Hy is eerste op haar lys.

Riaan Schönfeldt antwoord met die ryk sjokoladestem waarop sy destyds verlief geraak het.

“Ons het ’n probleem,” kom sy gou tot die punt. “SARS het gebel en gevra vir bewys van ons egskeiding. Ek was by Binnelandse Sake, maar volgens hulle is die egskeiding nooit geregistreer nie. Het jy destyds enige papierwerk van die prokureur ontvang? Ek dink nie ek het nie.”

Hy reageer nes sy verwag het. Karakter word altyd onthul as iemand onder druk geplaas word. Hy blameer haar dadelik vir die fly-by-night prokureur wat sy gebruik het en vra hoekom dit nou sy probleem is.

“Die ding is,” antwoord Belinda, “hulle wil jou nou van veelwywery aankla. As ons nog getroud is, is jou en Elna se huwelik onwettig. En julle kinders buite-egtelik. Dit hou ook belastingimplikasies vir jou in.”

Sy wag terwyl hy al sy verwyte – stokoud en splinternuut – uitbulder. “Bedaar, Riaan,” sê sy kalm toe hy uiteindelik stilbly. “Ek kan die probleem laat weggaan. Sê net die volgende hardop agter my aan: Dit is vandag die eerste April.”

“Baie snaaks,” antwoord hy voordat hy dooddruk.

Belinda lag en slaan so hard met haar vuiste op haar lessenaar dat haar selfoon hop. Hy het nog nooit ’n humorsin gehad nie. Sy, daarenteen, is ’n bobaaspoetsbakker. In haar ouerhuis het woorde konstant deur die lug gevlieg – grappe, raaisels, woordspeling – en sy moes vroeg leer om hulle te snap.

Hoewel sy haar humorsin in toom probeer hou in die korporatiewe omgewing, het sy vandag ’n verskoning om vrye teuels daaraan te gee. Die feit dat haar senior vennoot, Arnold Montgomery, heeldag by ’n seminaar is, tel natuurlik in haar guns.

 

Arnold Montgomery stap gemoedelik met ’n koppie tee tussen die seminaargangers deur. Hy is die land se voorste batebestuurkenner en lewer gereeld praatjies op radio en televisie en by seminare. Soos vandag. Hy is verlig toe ’n goeie vriendin van hom en Belinda, Sue Papendorf, hom naderwink.

“Sue,” groet hy. “Hou my tog geselskap totdat die verrigtinge hervat. Almal is op soek na vinnige, gratis advies.”

Sue draai na die man aan haar sy en stel hom aan Arnold voor. “Ontmoet my kollega, Pieter Daneel. Pieter is Birkinbine se nuwe finansiële direkteur.

“En hoe gaan dit by Birkinbine?” vis Arnold vir inligting. Montgomery Makelaars besit ’n aardige hoeveelheid aandele in die maatskappy en hy hou sy vinger sover moontlik op daardie pols.

“Ons is in ’n verknorsing,” sê Sue en lyk skielik gespanne. “Pieter het, soos dit ’n nuwe besem betaam, op grootskaalse bedrog afgekom wat ons aandeleprys in duie gaan laat stort as ons dit nie reg hanteer nie.”

Arnold voel hoe sy hart ’n klop mis. “Waarvan praat jy, Sue?”

“Daan en Pieter se voorganger het ons finansiële resultate vir jare lank gemanipuleer. Ons groot winste, ons groei … dis als ’n klug. Ons sal self met die waarheid moet uitkom as ons enige geloofwaardigheid wil behou.”

Sue brei uit op wat gebeur het, maar Arnold hoor skaars wat sy sê. Die bloed suis deur sy ore. Birkinbine Bpk is een van die winsgewendste maatskappye op die beurs, en Daan Beyers, die besturende direkteur, is een van die land se gerespekteerde sakeleiers. Dit is hoekom hy wat Arnold is, elke Birkinbine-aandeel waarop hy sy hande kon lê, gekoop het. As daardie aandele hul waarde nou moet verloor …

Hy verskoon homself en gaan staan agter die naaste potplant om tot verhaal te kom. Van hier kan hy Sue en Daneel steeds hoor. Na ’n ruk staan hy heeltemal eenkant toe en skakel ’n nommer.

 

Belinda het reeds vyf suksesvolle poetse op haar kerfstok toe haar selfoon lui.

Dis Arnold. “Belinda,” sê hy, “ek het nie tyd om te praat nie, maar doen my ’n guns. Ons moet dringend van ons Birkinbine-aandele ontslae raak. Ek kan nie nou verduidelik nie, maar vertrou my net. Verkoop als wat jy kan aan Stuart Bergman – ek weet hy soek Birkinbine-aandele met ’n seer hart. Sê vir hom ons het die geld nodig vir ’n ander belegging. Maak iets op. Maar doen dit dadelik. Hoor jy my? Dadelik.”

Toe sy haar selfoon neersit, skater Belinda. Sy weet presies hoekom Arnold van hul kroonjuwele ontslae wil raak, want was dit nie sy wat vir Sue gevra het om daardie poets met hom te bak nie? Natuurlik sal sy nie die aandele verkoop nie, maar tussen al die gelag deur pla dit haar dat Arnold bereid is om Bergman so in te doen. Sy het gedink sy ken hom goed.

 

Later, na afloop van die seminaar, skakel Arnold haar. Sy het hom nog nooit so gespanne gehoor nie.

“Belinda,” sê hy, “my selfoon se battery gaan enige oomblik vrek, maar ek wil weet waarom jy nie vir Bergman gebel het nie. Hy sê jy het nooit …”

“Ag tog,” sê Belinda, “sy foon het gedooi. Ek sal maar vir hom ’n boodskap stuur. Hopelik lees hy dit voordat hy ’n oorval kry.”

 

Arnold voel helder en gefokus. Sy oë soek na Sue Papendorf en Pieter Daneel tussen die mense wat nog vir oulaas ’n geselsie probeer maak voordat hulle huiswaarts moet keer. Hy sien hulle by die teetafel.

“Sue, wie weet almal van die gekookte syfers?” vra hy dadelik toe hy by hulle aansluit.

“Net ons twee,” antwoord sy. “Ons was uiters diskreet. Ons sal môreoggend met die res van die bestuur gesels, en dan sal ons ’n persverklaring uitreik.” Sy loer na haar polshorlosie en maak verskoning. “Ons moet gaan. Ons is hier met Pieter se motor en hy moet my nog huis toe vat.”

Toe die twee wegstap, is Arnold kort op hul hakke.

Hy volg Daneel se motor onopsigtelik deur die verkeer. Hulle neem ’n afrit van die snelweg. Die strate raak al hoe stiller en lei uiteindelik tot die grondpad na Sue se kleinhoewe.

Arnold voel onder sy sitplek, vind die pistool wat hy daar versteek hou, en versnel dan totdat hy langs hulle ry.

Toe Sue en Daneel hom gewaar, beduie hy vir hulle om stil te hou. Die motors kom langs mekaar tot stilstand.

Daneel draai sy venster oop toe Arnold naderstap.

“Wat op aarde maak jy hier?” vra Sue.

“Ek is so jammer om dit te moet doen, Sue,” sê Arnold, “maar julle kan nie daardie nuus breek nie. Ek sal alles verloor. Ek moet julle keer.”

Hy lig sy pistool en trek die sneller twee keer.

 

Dit is al laat toe Arnold sy voordeur oopsluit, sy das afhaal en na die boodskappe op sy selfoon kyk. Hy lees Belinda s’n dadelik: Jammer, ek wou jou self vertel: Sue en ek het net jou been getrek. Die aandele is veilig. Aprilgek!

 

 

Lees ’n kort onderhoud met Maryna Blomerus oor “Doodsnaaks” hier:

Korona-kortverhaalfees Maryna Blomerus oor "Doodsnaaks"

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top