Korona-kortverhaalfees: Martin Steyn oor "Lopers"

  • 0

Martin, dit is algemeen bekend dat jy as tiener gruverhale begin skryf het omdat Stephen King jou geïnspireer het. Hoe beïnvloed die gegewe van die COVID-pandemie die manier waarop jy aan grustories en karakters dink?

Wanneer jy ’n fiksieskrywer is, het enigiets wat rondom jou gebeur, ongeag hoe sleg dit is, ’n goue randjie, want dis ’n nuwe ervaring wat jy in ’n storie kan gebruik. (Wel, solank jy dit oorleef.) En dis baie interessant om te sien hoe mense in hierdie situasie optree, en die verskillende standpunte en opinies te hoor. Ek sien een mens wat met ’n chirurgiese masker, plastiekskerm en latekshandskoene tussen SPAR se rakke rondloop en nog een wat die wag met die handreiniger by die deur ’n vuil kyk gee, voor hy sy (eie) masker afpluk en die ding al die pad kar toe vloek.

Dis beslis handig om te sien hoe regte mense ’n Hollywood-plot hanteer. Iemand het op Twitter gesê hy vra al die skrywers van gruwelfilms om verskoning vir al sy kritiek dat hulle karakters te dom is om eg te wees, want hy sien nou dit was eintlik realisties.

Jy is nie bang om donker, ontstellende onderwerpe te verken nie – soos in hierdie verhaal en ook jou boeke. Hoe reageer lesers op jou boeke waarin temas soos geweld en verkragting uitgebeeld word?

Positief? Dit klink nie reg nie, maar ek het nog nooit ’n klagte daaroor gekry nie. Swartval is die boek waaroor ek die meeste terugvoer van lesers gekry het. En baie het gesê dit was erg om te lees (“harrowing” bly my gunstelingbeskrywing), maar nie een het gesê dit was té erg nie. ’n Paar het selfs dankie gesê dat ek so ’n boek geskryf het. En daar was ook ’n paar wat gesê het hulle sien nie kans om dit te lees nie.

Hierdie onderwerpe is elke dag in die nuus, die temas en gebeure in my misdaadromans is dinge wat regtig gebeur en dit word nie meer deesdae so dig gehou soos twintig, dertig jaar terug nie. En ek het ook al ’n paar verskriklike tonele geskryf, maar ek probeer altyd om die werklike slagoffers van sulke misdade te respekteer, so ek probeer dit skryf soos wat dit is, so grafies en gewelddadig as wat nodig is vir daardie storie, maar sonder om dit te sensasionaliseer.

Skrywers soos jy en Rudie van Rensburg is natuurlik ’n uitgewer se droom, want julle is gewild en julle sit nie stil nie – elke jaar is daar ’n nuwe publikasie vir gretige lesers. Skryf jy voltyds?

Ek is ongelukkig nie naastenby op Rudie se vlak van produktiwiteit nie, maar ja, ek skryf voltyds.

Lees Martin Steyn se kortverhaal, “Lopers” hier:

Lopers

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top