Waar is al die mense?
Ek kyk op en af in die straat. Die donker teer is nat en leeg. Nie ’n enkele kar wat kom of gaan nie.
Almal is weg, dis net jy.
Dit is net ek. Me and my lonesome. Is nog altyd, maar nie só nie. Daar is altyd karre wanneer die son net so oor die berg begin klouter. Die mense gaan werk toe of hulle gaan winkels toe of hulle gaan kerk toe of hulle gaan net iewers om iewers te gaan. Moet nice wees om iewers te hê om heen te gaan.
Jy wil nie gaan waar hulle heen gaan nie. Jy weet. Jy weet. Weet jy?
Die lug is koud en ek trek my baadjie stywer om my. Maar die koue is in my, in my bene. Ek kry dit nie uit nie, nie wanneer die seisoene eers begin draai nie. Snags trek dit tot in die murg in.
Ek loop op die sypaadjie tot by my robot en maak my poster teen die geel paal staan. Geen rede om die ding vas te hou nie, daar is niemand vir wie ek dit kan wys en hoop vir ’n paar oorskietrande nie. Die straat bly leeg.
Dis so stil. Geen enjins nie. Niks wat dreun nie.
Hulle het almal gevat. Hulle het net vir jou hier gelos.
Hulle het nie almal gevat nie. Hier kom ’n kar. Die verligting is weird. Want mense is nie juis my vriende nie. Ek tel my poster op. Die robot laat die kar stop. Een paar oë aan die binnekant. Kyk stip voor hulle uit. Die robot laat hom gaan.
Die skaduwees kom uit en word groter.
Ek vat my poster en loop op in Main Road. Die winkels het nie oopgemaak nie. Al die deure en shutters is toe.
Hulle het almal gevat.
Nie almal nie. Nog ’n scavenger of twee dwaal op die sypaadjie.
En SPAR is oop. Daar is ’n paar karre in die parking lot.
Maar die robot is klaar gevat.
Ek loop maar verder, volg die dwarsstraatjies, begin in die blou dromme kyk wanneer ek een teen ’n lamppaal sien. Ek kry ’n Steers-boksie. Slierte bruin blaarslaai klou aan ’n smeersel harde geel mayonnaise. Daar is altyd blaarslaai. Een verskrompelde chip het in die pakkie agtergebly. Melerig en koud, maar darem iets.
Die groepie scavengers onder die brug maak vuur. Hulle is ook nog hier.
“Hei, wat kom maak jy hier? Voertsek!”
Die klip tref my teen die kop en ek steier agteruit. Ek keer met my hand en strompel weg, hoor nog ’n klip die grond agter my tref.
Niemand wil jou hê nie.
Ek kom terug by die pad. My hand is rooi en taai.
Daar is darem altyd water in die rivier. Ek was my hand en drink totdat daar nie meer gevoel in my vingers oor is nie. Een manier om vol te voel.
Ek trek die baadjie stywer en loop na my plekkie toe.
Die skaduwees smelt saam totdat dit net een groot skaduwee bo-oor alles is.
Die strate is nog steeds leeg. Nog net een kar gesien. Ek staan verniet by my robot.
Hulle is weg. Weg. Hulle gaan jou ook kom haal.
Ek kies koers weg van die dorp af, na die huise toe. Lig ’n asblikdeksel. Ek onthou toe dit nog swartsakke op die sypaadjie was. Nou is dit wheelie bins. Boksies County Fair-hoender en I&J-vis, leeg. Pick n Pay-slippies. ’n Leë toiletpapierrol. ’n Sponsie met happe uit.
Ek stap oor die straat. Burgers en Huisgenote. ’n Barbie met net een been. ’n Opgerolde badkamermatjie. Ek vat dit. My plekkie kan doen met ’n carpet.
Piesangskille en appelstronke. Hoenderbene – vlerkies en drumsticks – met rys. Die rys beweeg. Nie net rys nie, maaiers ook. En ’n mieliestronk wat net halfpad geëet is. Ek haal dit uit en krap die maaiers af. Daar is nog heelwat pitte. Ek kan nie onthou wanneer laas ek mielies van ’n stronk af geëet het nie.
Dit gee my hoop vir die volgende blik. Maar dis leeg. Behalwe vir een ding. ’n Blikkie Doom.
Hulle gaan jou ook kom haal. Hulle gaan.
Ek kyk rond. My hart klop onder in my keel. Maak dit moeilik om te sluk en asem te kry.
Maar alles is stil. Die huise ook. Stil. Toe.
Leeg?
Ek kyk na die huis oorkant die straat. Die venster. Daar sal ’n yskas wees. ’n Koskas. Mense?
Ek trap van die randsteen af.
’n Kar kom om die draai.
Ek vries. Een voet op die sypaadjie, een op die teer.
Die man dra ’n masker oor sy mond en neus.
Hulle is hier. Hulle kom. Dis jou tyd.
Hy kyk na my. Gesiglose oë.
Dis jou tyd. Jou tyd is op.
Nee. Ek soek, maar alles is toe. Hekke. Mure. Net die straat. En al wat ek het, is ’n opgerolde badkamermatjie.
Die kar ry verby, raak weg.
Hulle gaan kom. Hulle weet nou.
Ek loop, vat die eerste dwarsstraat, probeer my rigting hou wanneer ek die berg kan sien uitsteek. ’n Kwart brood lê op een van die asblikke en ek gryp dit in die verbygaan, kyk weer oor my skouer. Die pad is leeg. Weggekom.
Die mense kom terug. Maar hulle is anders. Hulle het nie meer gesigte nie, net oë. Partykeer sien ek nog ’n neus en ’n mond, maar ek sien selfs van die scavengers nou maskers dra.
Hulle steek dit weg. Wat hulle doen.
Net ’n paar winkels is oop. Checkers. SPAR. Petrolstasies.
Hulle sit hulle stadig terug. Vervang hulle.
Hulle ry een-een. Loop een-een. Hulle wag buite SPAR in ’n ry, staan nie naby mekaar nie. Hulle praat nie. Hulle staan net.
Hulle is nie meer reg nie.
By die deur spuit iemand hulle hande.
Hulle toets hulle om te kyk of hulle al verander is. Hulle sal jou ook toets as jy naby gaan. Hulle sal jou vat.
Hulle kom uit met ’n sak, klim in hulle karre en ry. Praat nie. Glimlag nie.
Hulle is hier. Hulle is anders. Hulle gaan jou ook anders maak.
Ek bly weg van die dorp af. Dis beter in die buurte. Stiller. Veral vroeg in die oggend.
Maar nie vanoggend nie. Vanoggend is anders.
Dis hulle plan. Hulle voer dit verder. Die volgende fase.
Hulle loop. In oefenklere. Een-een. Twee-twee. In die straat. Hulle dra hulle maskers.
Hulle is nie reg nie.
Wat steek hulle weg? Wat is hulle?
Daar is baie van hulle. Ek kruip in die hoek van ’n veldjie weg.
Ek wag.
Hulle raak minder en verdwyn.
Hulle is nie reg nie. Hulle lyk nie reg nie.
Wat steek hulle weg?
Hulle gaan jou ook kry.
Daar kom sy. Alleen. Net soos gister en eergister. Sy kom wanneer die son amper bo-oor die berg gekruip het. Die ander lopers kom eers later.
Hoekom kom hulle net in die oggend uit?
Hulle is nie reg nie.
Ek gaan uitvind. Ek is reg. Ek het my ysterpyp saamgebring.
Sy het my nie gesien nie.
My hart klop so dat dit voel asof my hele bors skud. Ek loop agter haar aan, begin hardloop.
Sy draai om. Haar oë rek bokant die masker.
Hulle gaan weet. Hulle gaan kom. Hulle gaan jou kry.
Ek slaan. Die pyp tref haar teen die voorkop en sy steier agtertoe. Ek slaan weer. En weer, tref haar hierdie keer teen die kant van die kop. Sy val en ek sleep haar tot op die sypaadjie, die veldjie in tot teen die muur.
Sy maak kreungeluide.
Haar bloed lyk grys.
Hulle is nie reg nie.
Nou sal ek sien. Ek trek die masker af.
Sy het nog ’n neus. En ’n mond. Haar mond beweeg, maak geluide wat ek nie verstaan nie.
Hulle gaan weet. Hulle gaan jou kom haal. Jou ook verander.
Ek kyk om straat toe.
Jou tyd is op.
Ek druk die pyp teen haar keel, druk af so hard as wat ek kan. Haar hande lig. Een vat my arm. Ek druk harder. Totdat haar hand op die gras val. Totdat niks van haar meer beweeg nie. Totdat sy stil is.
Ek vee die grys bloed aan haar klere af en loop.
Hulle is hier.
Hulle is hier en hulle vat mense en maak mense anders. Maak hulle soos zombies. Wat net een-een in rye staan en hulle sakkie kos gaan haal, wat nie meer werk toe gaan nie, wat nie meer glimlag nie. Wat in die oggend loop om die lywe aan die gang te hou.
Hulle het ’n plan.
Hulle het. Hulle wil gevoellose mense hê, lewende doppe. Waarvoor?
Jy moet uitvind. Voor jou tyd op is.
Niemand anders weet nie. Net ek.
Jy moet uitvind. Hulle loop in die oggend.
Ek moet nog een kies. Maar hierdie keer moet ek haar laat praat.
Hulle is hier. En ek moet uitvind wat hulle wil hê.
Lees ’n kort onderhoud met Martin Steyn oor “Lopers” hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:
Kommentaar
Oh wow as an English person, I thoroughly enjoyed this Afrikaans short novel. Very captivating. Thought I would glance at it and ended up sitting down taking needed time out to read from beginning to end. Well done Martin Steyn