
Izak, jy is ’n man van vele talente. Nie net skryf jy kortverhale nie, maar jy het as digter gedebuteer in Nuwe stemme 5 en daar het twee niefiksie-boeke uit jou pen verskyn – Boereverneukers en Ralph Haynes – godfather van die Wes-Rand. Waar pas die kortverhale tussen alles in?
Ek het ’n behoefte om stories te vertel. Dit brand in my soos Pablo Neruda se God in ’n rivier. Ek kan dit nie keer nie, dis so erg dat ek soms ’n geselskap kan oorneem en eers na die tyd baie verleë besef dat ek dit al weer gedoen het. Van kleintyd af.
Maar ek kan dit nie verander nie, dis net so. Die skryf help om dit in toom te hou.
Saam met die brandende behoefte het ek gedroom om ’n skrywer te kan wees. En soos alle aspirerende skrywers het ek as ’n jongman van my kortverhale vir publikasie aan verskeie tydskrifte voorgelê. Maar ek is keer op keer afgewys, want dit was regtig baie, baie swak. Genugtig, ek is skoon skaam om te dink ek het sulke goed geskryf.
Met verloop van tyd het ek meer bedrewe geraak met woorde en ek het geleer om fyner te kan kyk. Toe begin ek stories op Facebook publiseer. Tot my verbasing het mense nogal daarvan gehou. En baie jare later is van my verhale uiteindelik vir die eerste keer gepubliseer. Ek is gek oor kortverhale, dis soos foto’s, ’n komposisie van ’n oomblik.
Waar kom jy aan die klomp kroegvlieë wat in hierdie verhaal uitgebeeld word?
Ek het in 2010 twee groot egskeidings tegelyk beleef. Die een is my egskeiding van die NG kerk as ’n ontnugterde en ongelowige dominee. Die verloopte predikant, het PG du Plessis my altyd genoem. Die ander een is my huwelik wat misluk het.
Albei is bitter seer, maak nie saak hoe skuldig of onskuldig jy is nie. En die pyn tref wyd. Ek het toe in ’n eenmanwoonstel in Silverton geëindig. Werkloos en ongelowig. Ek het sosaties gemaak en op ’n kosmark verkoop om aan die lewe te bly. ’n Vriend met ’n kroeg het my toegelaat om die sosaties daar by hom in die kombuis te maak. So het ek te make gekry met al die karakters wat die kroeg besoek het.
Dit was my terapie om hulle in stories te laat gestalte kry. En ja, elkeen van die stories, wat ek as “Woonstelstories” op Facebook gepubliseer het, is die reine en wellustige waarheid.
As ’n skrywer sy hand aan humor te waag, kan dit maklik ontaard in ’n spektakel. Hoe hou jy die humordrade in ’n verhaal soos hierdie styfgetrek om die skryfwerk geloofwaardig te laat oorkom?
Melt, ek weet regtig nie. Ek is nie slim genoeg om dit te verstaan nie. Ek skryf maar soos ek meeste van die tyd praat. Dis net ’n gevoel hier binne in my wat verstaan wanneer iets snaaks is. Vir my minstens, want ek het al agtergekom jou snaaks is nie iemand anders se snaaks nie.
Ek het wel die voorreg gehad om vir PG du Plessis so drie jaar voor sy dood te ontmoet en ’n paar intieme gesprekke met hom te hê. Die resultaat daarvan was dat ek al my “Woonstelstories” herbesoek en begin sny het, dinge bondiger probeer sê het, onnodige beskrywings uit te haal. Ek dink dit het baie gehelp.
En dan het ek in die laaste paar jaar geleer om foto’s te neem. Dit het my gehelp om detail raak te sien, die klein gewoontetjies wat mense maak wat hulle is, soos die manier hoe Ernst rook, die manier hoe iemand soos Vet Peet drink. Ek dink daai goedjies help om humor te laat werk.
Maar ek dink net so, ek weet nie regtig nie.
Lees Izak du Plessis se kortverhaal, “André Tanneman se tronk”, hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

