André Tanneman se tronk

  • 0

“Kyk,” sê Ernst, ons werfhaan van ʼn faktotum, vir André Tanneman, “die huwelik is ʼn tronk. Elke ou se view lyk anders, maar dit bly ʼn tronkvenstertjie waardeur jy kyk.” Hy gooi sy kop agteroor en met ʼn gekromde arm bring hy die Voyager tussen sy duim en wysvinger nader aan sy mond. Hy teug diep aan die sigaret en jaag dan die rook met die punt van sy tong by sy mondhoek uit.

“Ja, Ernst,” lag André Tanneman selfingenome, “jy kon dit net nog nooit regkry om eerlik met ʼn vrou te wees nie. Dit is hoekom jy so negatief oor die huwelik is. Eerlikheid, dis waarop ek my huwelik bou. Dan word die huwelik ʼn speelveld vol opwinding.” Hy vou sy beursie met ʼn foto van sy mooi vrou daarin toe, en met ʼn groot glimlag gooi hy sy hand in ʼn sirkel deur die lug as ʼn teken dat Jo nog ʼn ronde vir die manne moet bring.

Pierre Pond het op ’n dag vir André Tanneman ná nege gaatjies gholf op Silver Lakes hier aangebring. Hulle het met die Tanneman se Hummer hier gestop. Binne ʼn halfuur het ons geweet hy is ʼn tandarts in Faerie Glen, sy vrou ʼn suksesvolle advokaat en dat hulle in Silver Lakes bly. En as jy die jong Tanneman kan glo, is hy die afgelope jaar al die toonbeeld van ʼn man wat gelukkig getroud is. Hy het ʼn mooi vrou, albei verdien goeie geld en hulle gun mekaar die ruimte om individue in eie reg te wees. Dis tóé dat hy die foto uitpluk, sodat almal mooi kan sien hoe gelukkig hy dit met ʼn vrou getref het.

“Aitsa, sy is nie ʼn shifting spanner nie,” het Ernst soos ’n steppewolf wat tjank uitgeroep, “sy het die curves van ʼn vice grip.”

Flip Voël se strandbalpens het gehop van opwinding en Vet Peet het ʼn onsigbare druppel drank van sy pers neus afgevee. Selfs Vleis Beukes het vir ʼn oomblik uit sy gebedshouding ontwaak en omgekyk na ons wat op die stoep sit. Dis net Pierre Pond wat ongeërg ʼn Camel uit sy sigaretpakkie geskud en ʼn aansteker by Jo gebedel het. Nie ’n woord gepraat nie.

“Vat hom, Flippie, vat hom vas,” het Skollie bo van die staalhek af gekwaak. Maar niemand het agtergekom die papegaai het vir die eerste keer gepraat nie. Die manne se oë was vasgenael op die foto van die brunet in ʼn bikini op Margate se strand.

Die toneel het sy gebruiklike kwota skerpsinnighede ontlok.

“Tja, hulle sê mos ’n vrou het eintlik net een van twee keuses,” het Ernst laat loop, “’n lui lange of ’n flukse kortetjie.” Hy het deur ’n bol rook na André Tanneman getuur. “Watter een van die twee is jy, Tanneman?”

“There’s too much violence in good sex to think it can last forever,” het Joof sy oordeel oor die klaarblyklik volmaakte huwelik uitgespreek.

Pierre, wat gewoonlik die geselskap oorneem, is die enigste een wat nog niks gesê het nie. Dit het my gepla, maar ek het nie veel aandag daaraan kon gee nie.

“Jis manne, sit weg daai foto, julle maak vir Thys jealous,” het Flip Voël laat hoor, terwyl hy vir Suinige Thys met sy elmboog in die ribbes pomp. Dit het almal laat uitbars van die lag.

Dis alombekend dat Suinige Thys brand van begeerte om weer te trou. Hy is op al wat ’n dating site is, en hy kom kort-kort daar aan met ’n mooi vrou, want Suinige Thys is nie ’n lelike ou nie. Binne ’n maand na die ontmoeting haal Suinige Thys sy ouma se ring uit die kluis, laat verstel dit by die Pakistani op die hoek, en by Garmar langsaan koop hy vis en tjips, en daai aand gaan hy op sy knieë om die groot vraag te vra.

Byna elkeen van die vroue sê ja, maar binne die volgende maand kom hulle agter hoe suinig Thys regtig is en ook dat hy nie juis die toonbeeld van intelligensie is nie. Dan los hulle hom, en die ses voet vyf lange Suinige Thys kom sit en ruk van die huil hier by Hoot ’n Toot vir die volgende week, waarna hy sy soeke na ’n droomvrou voortsit.

“Hoeveel verstellings dink jy sal jou ouma se ring nog kan deurmaak, Thys?” het Vet Peet onsimpatiek gevra. Hy het die ys in sy glas met sy wysvinger geroer. Ek het effens geril oor die swart halfmaan onder sy nael wat ’n mens nie kan miskyk nie.

Thys het net verleë gelag, want met dié manne is dit soms beter om liewer nie te antwoord nie.

André Tanneman het breëbors tussen al die gejil deur gelag. “Julle mag maar kyk. Ek weet my Ansa maak die manne mal. Maar weet net, ek is die man wat vanaand langs daai lyf mag inkruip.”

Dis toe dat Ernst soos ’n Prediker van ouds met sy siening oor die huwelik vorendag kom. Met bietjie van ’n oordrewe stelligheid vir ʼn man wat nog nooit getroud was nie, het ek gedink.

Maar ek kry nie kans om daarop te reageer nie. André Tanneman se iPhone skal die wysie van “Dis hemel op Tafelberg” uit. Die skerm flikker ANSA ENGEL.

“Hallo, engel,” groet André Tanneman met ʼn Silver Lakes-glimlag.

Ek weet nie of hy dit doelbewus so gestel het nie, maar toe sy praat, hoor ons almal die stem van die vrou met die vice grip-kurwes. “Waar is jy?”

“Ek en Pierre drink ʼn drankie saam met die manne by ʼn kroeg in Silverton, engel.”

Toe volg daar ʼn stilte soos lou bier wat verslaan het.

“Ek wil net seker maak of ek reg verstaan …” reageer die stem, wat allermins klink of sy op Margate se strand uitspan. “Verwyl jy jou middag in ʼn kroeg? Ontspan jy terwyl ek myself besimpeld moet werk?”

“Ek ry nou, my engel,” antwoord hy. Hy druk die foon in sy sak. Sonder om terug te kyk, stap hy na sy Hummer toe. Sy skouers hang verleë. Vergete is die ronde drankies vir almal.

“Going to the chapel, gonna get married,” sing Ernst terwyl hy ʼn Voyager uit die pakkie haal, dit in die lug tol en netjies tussen sy lippe raakvang.

“From beauty queen to ice queen without a climate change,” brom Joof.

“Wie gaan saam met my Maders Hotel toe?” vra Ernst. “Daar gaan vanaand ʼn paar shifting spanners wees wat werk soek.” Hy blaas kringetjies rook deur sy dun lippies wat hy gerond hou. Hy tik, tik, tik met sy een vinger teen sy gebolde wang om die kringetjie voort te bring.

Net Flip Voël reageer. “Kan ons eers vir Skollie by die huis gaan drop?”

“Kom,” sê Ernst, sy reënmeterogies geskreef teen die Voyager se rookspiraal, “ons gaan vanaand boogie.”

Terwyl die twee wegstap, flikker Pierre Pond se Huawei. Net voor hy dit optel om die boodskap te lees, sien ek die naam ANSA BABE op die skerm.

Hy lees die boodskap, glimlag en roep agter Ernst aan: “Ernst, sal jy my by die flats gaan drop, asseblief?”

“Een man se tronk is ʼn ander man se speelgrond,” knipoog hy vir my, voor hy agter Ernst en Flip Voël aandraf.

 

Lees ’n kort onderhoud met Izak du Plessis oor “André Tanneman se tronk” hier:

Korona-kortverhaalfees: Izak du Plessis oor “André Tanneman se tronk”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top