KKNK vier 30ste fees (en kondig Kannas-nominasies aan)

  • 0

Dit was ’n voorreg om die 30ste KKNK op Oudtshoorn by te woon en te sien wat jonk en oud in verskeie kreatiewe genres verrig.

Hier is Tobie Cronjé, Annelisa Weiland en Alyssa Dionne in Die gebed van ’n halfmens. Alyssa Dionne is vir ’n Kanna genomineer vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol en Tobie Cronjé vir beste manlike speler in ’n ondersteunende rol.

Dis ook ’n lekkerte om die Kannas-nominasies te hoor en te sien een van ons gunstelinge én baie tersaaklike stukke – Nicola Hanekom se nuutste plekspesifieke drama, Die gebed van ’n halfmens, is vir 10 Kannas benoem.

Hierdie benoemings sluit onder andere in beste regie, beste aanbieding: toneel, beste debuutwerk: toneel, beste literêre bydrae, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se ontwerp en tegniese versorging, asook vyf spelerbenoemings.

Die son sak perspienk agter die horison toe die toneelstuk op die stortingsterrein buite die dorp open. Dié drama ondersoek die impak wanneer tegnologie binne ons biologie geïntegreer word. Die karakters se enigste toevlug is ’n ashoop. Wat is die menslike liggaam en ’n lewe werd? Oumense is voor die voet afgemaai; almal bo 40 is slagpale toe; jongvroue word broeikaste vir mens en masjien. KI het oorgeneem – die mensdom is soos zombies.

Ek kon myself nie so ver kry om een enkele nota te neem nie; die realiteit dat ons al klaar te ver met KI gelol het, lê swaar op die krop van my maag.

Hier is De Klerk Oelofse Boklied. Hy is benoem vir ’n Kanna vir beste manlike speler in ’n hoofrol.

Breyten Breytenbach se Boklied, terug by die KKNK, onder regie van Marthinus Basson, is vir sewe Kannas benoem, waaronder beste regie, beste aanbieding: toneel, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se ontwerp en algehele tegniese versorging, beste ensemble en drie spelerpryse.

Ek het 30 jaar gelede Boklied gesien en hoe raar om dit weer te sien: dieselfde storie, dieselfde regisseur, maar met Breytenbach nie meer hier nie en met nuwe akteurs. Die storie van ’n aantal ietwat verloopte toneelspelers wat onder ’n maestro of president (wat effe aan ’n paar huidige diktators herinner) bymekaar kom in ’n tyd van krisis en oor die liefde, lewe en dood besin, is nou nog meer tersaaklik as in die laat negentigs.

Die wêreld brand warmer, die haat vlam hoër en die kunste en kreatiwiteit word erg deur KI en louwarm pogings bedreig.

Dis bykans vier ure van intense drama, en die akteurs verdien elkeen ’n Kanna. Meesterlike regie (weer eens) en grondverskuiwende teater wat kommentaar lewer op die samelewing – ons het meer sulke stukke nodig.

Benoem vir vyf Woordtrofees by die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2025, en vir sewe Kannas 2026.

Hier is Geon Nel en Carla Smith in Atropa: die wraak van vrede. Carla is vir ’n Kanna genomineer in die kategorie vir beste vroulike speler in ’n hoofrol.

Tom Lanoye se Atropa: die wraak van vrede is vir ses Kannas benoem, waaronder beste aanbieding: toneel, beste debuutwerk: toneel, uitnemende literêre bydrae vir Lanoye se vertaling in Afrikaans, asook drie spelerpryse. Dit lewer skerp kritiek op die vrou as slagoffer in die man se strydlustigheid om te regeer en te oorwin. Dit was tersaaklik in die laat Bronstydperk en is tersaaklik in 2026. Min het regtig verander, al glo die mensdom ons is so gevorderd en beskaaf.

Ek is nie Danie deur Danie Marais en onder regie van Nico Scheepers is vir vyf Kannas benoem, waaronder beste regie, beste aanbieding: musiekteater, uitnemende literêre bydrae vir Marais se teks en verwerking, asook beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die stuk se klankontwerp.

Die ander dogter met Sandra Prinsloo

Die ander dogter, ’n nuwe eenpersoondrama met Sandra Prinsloo, het vier benoemings ontvang: beste regie (Lara Foot), beste debuutwerk: toneel, beste aanbieding: toneel, en beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se stel- en beligtingsontwerp. Die letsels wat ouers se besluit op jong kinders laat, word treffend uitgebeeld.

Frank Opperman in CRYBABY

Vyf produksies het elkeen drie benoemings ontvang: Carla Smith se debuutkomedie CRYBABY, die debuut van Andrew Buckland se nuwe drama The fool’s guide, Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk, Verwelkingslied, Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective, en die kabaret Wat om te doen as die wêreld brand deur Bibi Slippers.

Die KKNK se Kanna-pryse word deur ’n onafhanklike paneel beoordeel en bekroon jaarliks uitnemendheid by dié fees.

Ons het vanjaar vyf propvol dae by die fees gehad, en met die feeslogo wat in kruisiesteek “Fees Voluit” uitgespel het, is dit heeltemal te verstane dat ’n ingangportaal by ’n skool met hekelwerk versier sou word; die logo by die feesmark die agtergrond van selfies sou word; en hekelwerk uit die ingangsportaal se dak hang. Dis waarlik ’n viering van drie dekades van alles wat Afrikaans en Afrikaner is.

As Suid-Afrika se eerste Afrikaanse kunstefees het dit sedert 1995 ontwikkel tot ’n deurslaggewende vervaardiger- en bestemmingsfees wat produksies van Oudtshoorn na die res van die wêreld stuur.

Die idee het in 1992 by die sakeman Nic Barrow posgevat nadat hy die Grahamstad-fees bygewoon het. Hy het besef dat Afrikaans ’n soortgelyke platform nodig het en dat Oudtshoorn, as tuiste van CJ Langenhoven, die ideale plek sou wees. Saam met Andrew Marais het hy die droom in 1994 begin verwesenlik.

Hiermee my feeshoogtepunte in woorde en my geliefde se indrukke in beelde:

Die Grammy-bekroonde Mauritz Lotz se reis as tiener wat eers op die platteland en toe die groot stad sy liefde vir musiek ontdek, was pynlik herkenbaar en het my ’n paar maal tot trane gedryf. In Plektrum, waar hy saam met Schalk Joubert, Peter Auret en Anjulie Nock opgetree het, skop hy af met “Music was my first love and it will be my last”. Hy deel roerende oomblikke van sy musiekontwaking en neem die gehoor saam na sy skool-band-dae; hoe hy met Priscilla Presley middagete eet en musiek vir Hollywood-flieks komponeer. Die eerste elektriese kitaar wat hy met sakgeld koop en dit sy loopbaan rig, is soveel jongmense se storie – ongeag waar jy grootgeword het óf wat die instrument was.

Die kuns by Prince Vintcent was oorsigtelik oor die 30 jaar van die KKNK, waar feeskunstenaars se werke onder meer te sien was.

Twee installasies bied ’n wegbreek van die feeswoeligheid:

Being here for you

Being here for you is ’n samewerking tussen die Nederlandse kunstenaar Rita Hoofwijk en die Suid-Afrikaanse kunstenaar Hannah Loewenthal, wat in 2020 begin het, waar jy met oorfone in ’n klein skemerhoekie na hul gesprekke luister wat tydens Covid gevoer is: oor duisende kilometers heen tussen Brussel en Suid-Afrika.

Aangesien Hannah op die platteland woon en Rita nou in Brussel (België) gevestig is, was hulle gewoond daaraan om oor ’n groot afstand te kommunikeer. Dit was eers toe die wêreld getref is deur Covid en inperkings dat hulle spesifiek begin werk het met die afstand tussen hulle. Die skeiding tussen hulle het ’n bron van inspirasie geword, ’n manier om dit wat moontlik was uit te daag. Hulle het die vraag gestel: Kan ons mekaar se oë, ore en hande word? Is dit moontlik om iets namens iemand anders te beleef – en om die wêreld deur ’n ander liggaam, of ’n ander wese te ervaar? Een luisteraar hoor Rita se stem en die ander hoor Hannah se stem. Sodoende word die kyker deel van die oorspronklike interaksies.

Doornkraal

Doornkraal deur Jonathan en Anique Pinkhard vertel die verhaal van Celia en haar pa, Swepies le Roux, in ’n kort dokumentêre film, en soos sy in die film gesels oor die vryheid wat sy in die veld op haar perd se rug geniet met die reuk van die bossies in haar neus, ruik jy die lusernbale en goiingsak waarop jy sit en kan jy jou verbeel jy is ook in die veld.

Celia sê ons is net die rentmeesters, behoeders en oppassers van die nou; ons is nietig en perde is die stil medewerker van ons erfenis.

Die Le Roux-familie het ’n bepalende rol gespeel in die ontwikkeling van landbou in die Klein Karoo, en Doornkraal is die baken wat staan as getuienis van dié bydrae. Wat dit vandag besonders maak, is dat hierdie familie-erfenis nou in die hande van vroue voortleef, ’n natuurlike oorgang wat nie net strukture verander nie, maar ook perspektiewe verdiep.

Die rolprent is meer as ’n plaasportret; dit is ’n verkenning van ’n plek waar geskiedenis steeds geleef word en waar die ritmes van die verlede saamsmelt met die werk en wysheid van vandag.

Deep heat met Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt

’n Ander plekspesifieke teaterstuk staan ook uit – nie net omdat die natuur deel van die dekor word nie, maar omdat albei diep sielskos én kommer oor die mensdom besorg. In Deep heat by die Ovaalbaan is dit die sosiale verval van ons samelewing wat sterk na vore kom.

Carin Bester en Hendrik Nieuwoudt speel Hedda en Gizz. Hedda vlug van die polisie en kruip saam met haar broer buite die stad weg. Deur die loop van ’n oggend vind gehore uit hoe hulle daar beland het.

Iewers anderkant die draad blêr ’n skaap en mens wonder of jou ore jou bedrieg, want kort-kort swiep voëltjies nuuskierig op die draad neer  Dis vrek warm op daardie pawiljoen met sy uitsigte oor die berge wat in grysblou lae in die verte soos reuse golwe blink. Ek wil nie weet hoe warm dit binne die sinkhokkie is wat ’n huis in die vlaktes voorstel nie.

Gizz stap uit. “Mens is veronderstel om jouself te vind in die Karoo, nie om weg te kom van iets nie.”

Die broer en suster besef gou dat hulle mekaar eintlik glad nie ken nie – “Ons het eintlik net opinies van mekaar.” Toe die skaduwees al langer word en die son alles met goud omlyn, vryf Hedda haar knie in met Deep heat, om die diep seer – in haar been én siel – vir ’n wyle weg te vryf. Die reuk vervang die reuk van stof wat tot dan alles omgewe het.

“Die Karoo is God se land en ons as mense het nie regtig ’n plek hier nie.” Hul verlatenheid word geëggo in die omgewing.

Die aanklag teen ons koue houding jeens geweld teen vroue druk swaar teen my bors as ek sien hoe dit ’n vrou soos Hedda verklein het tot iemand wat nie meer in haarself glo nie.

Chris Vorster in die komedie Gebou soos Steffi Graf

Ander sosiale kwessies en woke-heid het ook onder skerp dramaturgtonge deurgeloop: soos Chris Vorster tereg in Gebou soos Steffi Graf sê: “Net omdat iemand anders aanstoot neem, beteken dit nie dat hulle reg is nie.”

En soos die fees aanstap, besef ek keer op keer dat nie alle teaterstukke sielskos hoef te gee nie. Soms kan dit net vermaaklik wees en jou vir ’n wyle van die werklikheid laat vergeet.

Ntombi Makhutshi, Miché van Wyk, Nic de Jager, Jayden Dickson en Daneel van der Walt in ge-gebergtes

Ntombi Makhutshi, Miché van Wyk, Nic de Jager, Jayden Dickson en Daneel van der Walt in ge-gebergtes, oor ’n emeritus professor wat ’n paar dae ná sy 90ste verjaarsdag oorweldig word deur die lewe en sy eie lewe probeer neem, is ’n juweel. Die professor se rekenaar, foon ... “Niks wou werk nie; alles het net te veel geraak.” ge-gebergtes is ’n poging om sin te maak van sy konfrontasie met tegnologie. Hy vertel dat die wêreld op 90 “klein en anders” voel. “Oorloë en stommerike aan die stuur en ek wat waad deur ’n wêreld wat ek eintlik nie verstaan nie.” Hy is omring deur versorgers – jongmense wat “geen begrip het van jare nie” – en wat betaal word om om te gee.

Met beweging deur Sylvaine Strike, musiekregie deur Charl-Johan Lingenfelder en dramatiese beligting deur Luke Elmbogen omskep Wessel Pretorius die teks van Saartjie Botha in ’n roerende blik op oudword; die eensaamheid en verwildering van moderne tegnologie wat ouer mense agterlaat.

“Om aan te hou lewe, voel soos wen. Tot jy die dag verloor. En dis ’n verloor wat altyd gaan aanhou, maar dan laat die lewe jou nie los nie.” Treffende woorde wat my diep geraak het met ’n 96-jarige pa wat al daardie realiteite elke dag lééf. En ek wat magteloos moet toekyk en ook weet dat dit vir ons almal wag.

Tribuato Artistieke Platform word bekendgestel

’n Nuwe Tribuato Artistieke Platform (TAP) is tydens die fees bekendgestel. Die doel is ’n eenstopplek vir die kunste, waar nie net geleenthede vir dié in die vermaaklikheidsbedryf geskep sal word nie, maar waar nuus oor residensies en geleenthede, opleiding, wenke en hulp met befondsing en kontrakte en aansoeke vir feeste ook vergemaklik sal word. Verskeie sprekers het hul visie gedeel. Karen Meiring het gesê die kunste is altyd die eerste wat die winde van verandering ontgeld, maar altyd die laaste om daarom te kan reageer. Hierdie platform wil dit verander.

Carel Nel van Boplaas Familiewingerde gesels

Carel Nel van Boplaas Familiewingerde op Calitzdorp wat bekend is vir internasionaal erkende portstylwyne, en sy dogter, Rozanne, wat die plaas se bemarking hanteer, het met Kabous Meiring gesels oor hoe die 7de geslag Nels op die plaas die toekoms met klimaatsverandering en wisselvallige ekonomiese speelvelde navigeer. Carel het onder meer vertel die eerste Nels het reeds in 1751 in Calitzdorp aangekom, en in 1880 het sy agteragteroupagrootjie al brandewyn na Engeland uitgevoer. “Mense in die Klein Karoo is soos die vetplante – hulle trek hul koppe in en lê laag as dit nie reën nie en as dit reën, blom ons en gaan weer aan.” Hy het vertel hoe hulle meer hitte- en droogtebestande variëteite aanplant en ook wingerde anders oplei om beter sukses met uiterste weerpatrone te hê.

The reservation

Ander stukke wat vermelding verdien, is The reservation en Kompoun. Eersgenoemde dryf die spot met ons moderne samelewing se beheptheid met selfies en die belaglike versoeke van restaurantgangers. Laasgenoemde sluit aan by die aanklag teen die mensdom wat hom blind hou vir dit wat onder ons neuse gebeur: “Daar was oorlog in Irak, maar daar was ook oorlog in die Flats.”

Ons het ook heerlike ervaringe in die Blitsteater se wit tente by die Feesmark gehad.

  • Die Kannas word op 14 Mei by Leopard’s Leap in Franschhoek aangekondig.

Foto’s: Clifford Roberts met die Canon R6

Lees ook:

Die klein oomblikke wat die KKNK nog 30 jaar gaan laat gedy

Persverklaring: Plekspesifieke drama neem voortou by KKNK se Kannas

Die KKNK se kuns, en meer, in my truspieëltjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top