Persverklaring: Plekspesifieke drama neem voortou by KKNK se Kannas

  • 0

Die gebed van ’n halfmens © Hans van der Veen

Nicola Hanekom se nuutste plekspesifieke drama, Die gebed van ’n halfmens, is na afloop van die 30ste KKNK vir tien Kannas benoem.

Hierdie benoemings sluit onder andere in beste regie, beste aanbieding: toneel, beste debuutwerk: toneel, beste literêre bydrae, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se ontwerp en tegniese versorging, asook vyf spelerpryse.

Die KKNK se Kanna-pryse word deur ’n onafhanklike paneel beoordeel en bekroon jaarliks uitnemendheid by dié fees in die Klein Karoo.

Boklied © Gys Loubser

Die terugkeer na die KKNK van Breyten Breytenbach se Boklied, onder regie van Marthinus Basson, is vir sewe Kannas benoem, waaronder beste regie, beste aanbieding: toneel, beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se ontwerp en algehele tegniese versorging, beste ensemble en drie spelerpryse.

Atropa: Die wraak van vrede © Hans van der Veen

Tom Lanoye se Atropa: Die wraak van vrede is vir ses Kannas benoem, waaronder beste aanbieding: toneel, beste debuutwerk: toneel, uitnemende literêre bydrae vir Lanoye se vertaling na Afrikaans, asook drie spelerpryse.

Ek is nie Danie deur Danie Marais en onder regie van Nico Scheepers, is vir vyf Kannas benoem, waaronder beste regie, beste aanbieding: musiekteater, uitnemende literêre bydrae vir Marais se teks en verwerking, asook beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die stuk se klankontwerp.

Die ander dogter, ’n nuwe eenpersoon drama met Sandra Prinsloo, het vier benoemings ontvang: beste regie (Lara Foot), beste debuutwerk: toneel, beste aanbieding: toneel en beste ontwerp en/of tegniese bydrae vir die drama se stel- en beligtingsontwerp.

Vyf produksies het elkeen drie benoemings ontvang: Carla Smith se debuutkomedie CRYBABY, die debuut van Andrew Buckland se nuwe drama The Fool’s Guide, Breyten Breytenbach se laaste toneelstuk Verwelkingslied, Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective en die kabaret Wat om te doen as die wêreld brand deur Bibi Slippers.

“Die 30ste KKNK se propvol program het ’n groot uitdaging vir die paneel gebied: ons het oor die 60 toneelproduksies en amper 40 musiekproduksies gehad om binne ’n week deur te draf, en as gevolg van elke paneellid se toegewydheid, professionaliteit en bloot net hul passie en liefde vir teater en musiek, was dit een van die lekkerste uitdagings wat ’n mens vir hierdie groep mense kon gee.

“Wat jou egter tydens so week nóg meer energie gee, is die kwaliteit van die kuns wat op verhoë, sandputte, sportvelde, galerye, en ja, ashope, te sien was. Dit het ’n breë spektrum van menslike ervarings en emosies vervat. Daar was bekende legendes in nuwe gedaantes, en jong nuwe talent wat gesoute teater- en konsertgangers se ore laat spits en regop sit.

“Ons het ook weer eens besef hoe hard die mense agter die skerms werk om hierdie fees te laat gebeur, so die tegniese spanne van al die venues verdien vermelding,” sê Naude van der Merwe, sameroeper van die Kannapaneel.

Die onafhanklike Kannapaneel vir KKNK 2026 was Van der Merwe (sameroeper), Nolan Africa, Amelda Brand, Felicia Lesch, Wayne Muller, Ilza Roggeband, Tracey Saunders en Fahiem Stellenboom. Op die kinderpaneel was 25 kinders tussen die ouderdomme van 6  en 13 jaar vanuit die breë Oudtshoorn-gemeenskap. Die Kannapaneel is ondersteun deur Haddad Viljoen, Marguerite Robinson en Diane de Beer, wat die Kanna vir beste bydrae tot visuele kuns beoordeel het.

Kanna-pryse word geborg deur onder andere Absa, Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, ATKV, Castle Lager, Dotsure, Sonn Familie Trust, Ton & Anet Vosloo, Wicus Pretorius en die RautenTrust.

Die wenners word op Donderdag 14 Mei tydens ’n glansgeleentheid by Leopard’s Leap in Franschhoek aangekondig. ’n Spesiale paneelprys, ’n spesiale Kanna vir diens aan die KKNK en ’n Kanna vir uitsonderlike tegniese diens aan die KKNK word ook tydens die geleentheid aangekondig en oorhandig. 

Die 30ste KKNK, geborg deur Absa, is van Saterdag 28 Maart tot Saterdag 4 April op Oudtshoorn aangebied. KKNK 2026 is aangebied met ondersteuning van die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, Checkers, Netwerk24, kykNET, ATKV, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering. 

Volgende jaar se KKNK word van Dinsdag 23 tot Saterdag 27 Maart 2027 aangebied. Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Die volledige lys van Kanna-benoemings is:

Beste aanbieding: komedie

  • Beste van alle tye
  • Comedy by Committie!
  • CRYBABY
  • Kry vir jou ’n tux, Thomas
  • Ouma en die ou koeie

Beste aanbieding: toneel

  • Atropa: Die wraak van vrede
  • Boklied
  • Die ander dogter
  • Die gebed van ’n halfmens
  • Verwelkingslied

Beste aanbieding: musiekteater

  • Amanda Strydom en Je-Ani Swiegelaar: Tillie / Mathilda
  • Die kronieke van Buks
  • Ek is nie Danie
  • Hoort
  • Ommitafel
  • Wat om te doen as die wêreld brand

Beste debuutwerk: musiek

  • Amanda Strydom en Je-Ani Swiegelaar: Tillie / Mathilda
  • Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective
  • Die kronieke van Buks
  • Ommitafel
  • Stille vuur
  • Wat om te doen as die wêreld brand

Beste debuutwerk: toneel

  • Atropa: Die wraak van vrede
  • Deep Heat
  • Die ander dogter
  • Die gebed van ’n halfmens
  • Spoel
  • The Fool’s Guide

Beste aanbieding: kontemporêre musiek

  • Anna Davel en Ilse Klink in harmonie
  • Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective
  • KLAWER
  • Stille vuur
  • The Scullery Quintet: Stir-Fried Sonatas

Beste aanbieding: Blitsteater

  • Badtyd
  • Excerpts | Uittreksels
  • Met die maan gepla

Uitnemende literêre bydrae (nuutgeskepte teks, samestelling of vertaling)

  • Bibi Slippers vir die teks van Wat om te doen as die wêreld brand
  • Danie Marais vir die teks en verwerking van Ek is nie Danie
  • Francois Toerien vir die teks van Hortjies dig: Die storie van digter Peter Blum
  • Nicola Hanekom vir die teks van Die gebed van ’n halfmens
  • Tom Lanoye vir die vertaling van Atropa: Die wraak van vrede
  • Tshiamo Moretlwe vir die teks van Filled

Beste ensemble

  • Beste van alle tye
  • Boklied
  • Ganga Nyoko! Inzima Nyoko!
  • GAT
  • Zip Zap Circus: MOYA

Beste regie

  • Janet Buckland (The Fool’s Guide)
  • Lara Foot (Die ander dogter)
  • Marthinus Basson (Boklied)
  • Nico Scheepers (Ek is nie Danie)
  • Nico Scheepers (Seun)
  • Nicola Hanekom (Die gebed van ’n halfmens)

Beste vroulike speler in ’n hoofrol

  • Anna-Mart van der Merwe (Atropa: Die wraak van vrede)
  • Antoinette Kellermann (Verwelkingslied)
  • Carla Smith (Atropa: Die wraak van vrede)
  • Miché van Wyk (GAT)
  • Rolanda Marais (Atropa: Die wraak van vrede)
  • Veronique Jephtas (Boesman en Lena)

Beste manlike speler in ’n hoofrol

  • Albert Pretorius (Ek is nie Danie)
  • Andrew Buckland (The Fool’s Guide)
  • De Klerk Oelofse (Boklied)
  • Marlo Minnaar (Die gebed van ’n halfmens)
  • Tony Miyambo (Kafka’s Ape)
  • Wilhelm van der Walt (Seun)

Beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol

  • Alyssa Dionne (Die gebed van ’n halfmens)
  • Annelisa Weiland (Die gebed van ’n halfmens)
  • Daneel van der Walt (ge-gebergtes)
  • Minke Marais (Doolhof)
  • Nicole Holm (CRYBABY)

Beste manlike speler in ’n ondersteunende rol

  • Brendon Daniels (Die gebed van ’n halfmens)
  • David Viviers (Boklied)
  • Frank Opperman (CRYBABY)
  • Keagon Cochrane (Boklied)
  • Tobie Cronjé (Die gebed van ’n halfmens)

Beste ontwerp en/of tegniese bydrae

  • Marthinus Basson, Nicolaas de Jongh en Elana Snyman vir die ontwerp en algehele tegniese versorging van Boklied
  • Wolf Britz vir die stel- en beligtingsontwerp van Die ander dogter
  • Nicola Hanekom en Elana Snyman vir die ontwerp en tegniese versorging van Die gebed van ’n halfmens
  • Schalk Joubert vir die klankontwerp van Ek is nie Danie
  • Marí Borstlap vir die ontwerp van Verwelkingslied

Beste aanbieding: visuele kuns

  • Brother Bear in Africa – Diane Victor (deel van PLEK / PLACE)
  • Goue lint, my storie begint – Liza Grobler (deel van PLEK / PLACE)
  • Kans Karoo – Hannah Paton en Barrydale Hand Weavers
  • PLEK / PLACE: ’n Geografiese of emosionele ruimte – Liza Grobler (kurator)

Beste aanbieding: kindervermaak

  • Hou die wêreld vas
  • Kaskenades!
  • Liewe Heksie word ‘gescam’
  • Zip Zap Circus: MOYA

Beste opkomende kunstenaar of nuweling                                  

  • Graigan Mentoor Papier – saksofoonspeler van die Papier Family Band
  • Heinrich Wentzel – spel in Akrasia
  • Kristen Fichardt – teks van Badtyd (Blitsteater)
  • Kristen Fichardt en Shannon Hendry – teks van Akrasia
  • Kristi Steyn – sang en liriek in As die mooi aan ons haak
  • Melisizwe Plaatjie – musiekregie van Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective
  • Robert Kruger – teks, regie, beligting- en klankontwerp van Doolhof
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top