Kanniedood, kopieregwetgewing en stories: ’n onderhoud met Joha van Dyk

  • 0

Foto van Joha van Dyk: verskaf; boekomslag van Kanniedood: NB-Uitgewers

Kanniedood
Joha van Dyk
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798183802

Joha van Dyk praat met Naomi Meyer oor Kanniedood en oor boeke vir jong volwassenes in Afrikaans.

Joha, ek val met die deur in die huis. Jy is ’n wit vrou en jou hoofkarakters in Kanniedood is nie wit nie. In hierdie land is dit nogal moeilik om mekaar werklik te leer ken. So, hoe het jy dit reggekry om te klink soos ’n karakter wat heeltemal anders praat en in ’n ander omgewing leef as jy?

Eerstens moes ek baie bewus wees van my posisie as ’n wit vrou. Ek moes vrae vra, niks vanselfsprekend aanvaar nie, en oop wees om te luister en bowenal nog meer navorsing te doen indien ek steeds onseker was. Soms moes ek ’n paar keer teruggaan en vrae vra, elemente van hierdie karakters se lewe probeer uitpluis en uitdebatteer met mense wat lyk en praat soos my karakters, soos Ben en Kalla spesifiek (omdat ek die meeste tyd in hulle koppe moes spandeer).

Rondom die dialoog het ek geweet wat ek wou hê hulle moet sê, so ek het dit reguit so geskryf en na die tyd gesit met my vriendin, Nienke Osborne, en ons het die dialoog en gedagtes van die karakters deurgewerk en aangepas dat alles akkuraat is tot die spesifieke karakters. Waar sy onseker was, het ons haar kollegas en familielede gevra. Ek het my ander vriende ook geraadpleeg, en wanneer daar verskille is (soos daar maar dikwels is rondom dialek en kultuur, gebaseer op areas), het ek bepaal wat die mees natuurlik sou pas in my karakters se omstandighede. Die springtouliedjie “So rond ommie bos, my lint skiet los, ek jol saam ‘n cherry wat my nooit sal los” is dalk herkenbaar omdat dit die titel van Veronique Jephtas se digbundel Soe rond ommie bos is, maar dis ’n algemene kinderliedjie op speelgronde. Tog verskil dit hier en daar – iemand het gesê dis die meervoud “linte”, ander het gesê dis enkelvoud “lint”. Oral is daar sulke klein verskille, daarom moet jy maar jou huiswerk doen, jy moet jouself immerse in hierdie kultuur, in hierdie manier van praat, totdat dit kliek met jou karakters. Na ’n rukkie het dit vir my makliker geraak om te identifiseer wanneer ’n karakter se taal nie hard genoeg is vir sy persoonlikheid nie (bv Check of Boss se taal), of waar ons te veilig speel met Kalla se dialek. Teen die tyd dat Nienke na werk by my aangesluit het, het ek soms ’n paar bladsye reeds geredigeer, dan kan sy dit net nagaan en aandui waar dinge kan verbeter.

My karakters bevat ook elemente van werklike figure in my lewe, werklike ervarings en karaktereienskappe. Spesifiek is Ben se manier van aksent aanpas geïnspireer deur my vriend Darren Carolissen.  Toe ons op skool was, het ek opgelet hy praat een manier om my, ’n ander manier om ’n sekere onderwyser, ’n ander manier om sekere bruin leerders. Toe ek vir hom vra hoekom hy anders praat om my het hy gesê: “Dis sodat jy gemaklik voel.” Ek, nes Lee in Kanniedood, het toe vir hom gesê dis nie nodig nie, ek is gemaklik om hom. Maar hierdie was ’n oorlewingstegniek – een wat ek opgelet het baie bruin kinders moes aanleer. Dit het my bygebly en ek het dit net nooit in ’n boek raakgelees nie. Dis iets wat gebeur, surely moet ons dit acknowledge en ’n gesprek daaroor voer?

............
Spesifiek is Ben se manier van aksent aanpas geïnspireer deur my vriend Darren Carolissen.  Toe ons op skool was, het ek opgelet hy praat een manier om my, ’n ander manier om ’n sekere onderwyser, ’n ander manier om sekere bruin leerders. Toe ek vir hom vra hoekom hy anders praat om my het hy gesê: “Dis sodat jy gemaklik voel.” Ek, nes Lee in Kanniedood, het toe vir hom gesê dis nie nodig nie, ek is gemaklik om hom. Maar hierdie was ’n oorlewingstegniek – een wat ek opgelet het baie bruin kinders moes aanleer. Dit het my bygebly en ek het dit net nooit in ’n boek raakgelees nie. Dis iets wat gebeur, surely moet ons dit acknowledge en ’n gesprek daaroor voer?
.............

Of ten minste net dit insluit in boeke, want dit is die realiteit. Die realiteit is ook dat daar baie boeke is waarin ek myself kan raaklees, al vandat ek klein is. Maar Darren en Nienke byvoorbeeld – hoe baie is die bruin kids die protagoniste? Hoe dikwels word hulle akkuraat in boeke uitgebeeld sonder dat hulle voel dele van hulle en hulle kultuur en hulle manier van praat word uitgewis om dit meer palatable te maak?

...........
Maar Darren en Nienke byvoorbeeld – hoe baie is die bruin kids die protagoniste? Hoe dikwels word hulle akkuraat in boeke uitgebeeld sonder dat hulle voel dele van hulle en hulle kultuur en hulle manier van praat word uitgewis om dit meer palatable te maak?
................

Ek dink omdat die saak baie na aan my hart was en omdat dit net reg is teenoor my karakters en my storie, kon ek nie anders as om daardie moeite en tyd in dit in te stort nie. 

Jy het duidelik baie navorsing en huiswerk gedoen oor jou karakters en die bendekultuur, dit kan ek sien. Ek lees dit in die storie en ek sien dit in jou verwysings agterin die boek. Wat het jou ten eerste geïnspireer om dit te doen – of het jy in jou vorige twee boeke in die Branderjaer-reeks hierdie karakters geskep en toe móét jy meer van hulle lewens en leefwêrelde uitvind om verder met hulle stories te kon vorder?

Ek het vir Ben en Kalla in die eerste boek al voorgestel. Ek het vooraf geweet Ben gaan sy eie boek hê, hoewel ek nog nie geweet het Kalla gaan sy counter-perspective wees nie. Met elke boek doen ek ’n deep dive oor die karakter, oor hulle omstandighede. Maar met die vorige twee boeke is al die perspektiewe wit, so hoewel daar werk was rondom ’n seun se perspektief, ’n ryk en ’n arm perspektief reg te skryf, was daar nie die komplekse element van ras nie. Dit is iets wat ek reg wou doen. Ek wil graag karakters van ander rasse kan skryf wat eg is, wat ’n bruin kind byvoorbeeld kan lees en mee kan vereenselwig. So, met Kanniedood was dit ’n absolute moet dat ek meer moes leer oor die bruin kultuur, oor bendekultuur, oor taal en dialek en grootword in verskeie omgewings waar ras opvallend is (’n bruin kind uit Breekwater wat in Stormbaai skolgaan byvoorbeeld, is opvallend). Soos wat ek navorsing gedoen het, het meer en meer legkaartstukke hul plek gevind. Ek het idees gehad, die konsepte en die karaktereienskappe, en die navorsing het óf dit geback óf my anders oor hierdie elemente laat dink totdat ek die jackpot geslaan het en die korrekte besluite vir die karakter kon maak. Ek is gelukkig dat met elk van my boeke sover is daar natuurlik tonele wat jy moet skryf wat broodnodig is, maar die klein details, die tonele wat jy nie verwag nie, duik by my op soos wat ek lewe, soos wat ek lees of navors of by die straat afloop. Asof die storie nog heeltyd wag om vertel te word.

Jy skryf nie kinderboeke of boeke wat werklik as tienerboeke geklassifiseer kan word nie – dis Young Adult-boeke, boeke vir jong volwassenes. Is ek reg? Of wie is jou teikenmark; wie sien jy voor jou as jy skryf?

Die boek word bemark vir tieners van 14 jaar en ouer, maar ek kry baie goeie terugvoer van volwasse lesers ook. Hoewel dit gemik is op jong volwassenes, lees baie jonger tieners van so oud soos 13 en 14 dit ook. Toe ek ’n tiener was, het ek nie belang gestel om Afrikaans te lees nie – die boeke was te dun, daar was te min om my aandag te hou. Ek het reekse soos Reënboogrant geniet juis omdat ek die karakters beter kon leer ken met elke boek. Boeke soos Daar’s vis in die punch was ook treffend (sowel as Ruik jy die filmster – daar is twee kopieë van elk op my tienerboekrak), omdat dit realisties gevoel het. Verder het ek Engels gelees. Ek dink ek skryf gedeeltelik vir tiener-Joha en haar vriende wat dikker boeke wou hê, boeke waar jy lief raak vir die karakters, waar die karakters soos vriende voel. Waar jy jouself in die karakters kan sien. Andersins, wie sien ek voor my as ek skryf …? Ek sien nie eintlik enigiemand nie. Ek vertel seker vir mysélf die storie. Dit speel af soos ’n reeks in my brein en ek moet dit net op papier neerkry en dit deel met almal. Spesifiek is ek altyd baie opgewonde om dit met my uitgewer, Simone, te deel. Wanneer ek details verklap van die volgende boek (voordat sy dit onder oë gehad het), voel dit omtrent asof ons saam ’n reeks op Showmax kyk en ek ’n paar episodes voor is en brand om dit vir haar te spoil, maar terughou. Wanneer sy dit gelees het, is dit ongelooflik om te gesels oor tonele wat ons opgewonde maak.

Vertel my, hoekom het jy begin skryf? En wanneer? En hoekom in Afrikaans? Was enige van die antwoorde op hierdie vrae doelbewuste besluite? Of kon jy nie anders nie?

Ek het in graad 2 ’n mondeling gehad oor talente. Ek het besef ek het nie ’n ooglopende talent soos goed sing of dans of so nie. Maar ek was lief vir lees en stories. Ek het dikwels vir myself stories opgemaak as ek alleen was op die plaas. Daar was altyd ’n avontuur betrokke met my verbeelding. Toe besluit ek ek sal vir myself ’n talent moet skep. Dis mos net oefen en luck of hoe? Ek het ’n Word document op ’n rekenaar oopgemaak wat my broer vir my gebou het om mee Zoo Tycoon en Sims te speel. En toe begin ek skryf. Ek het nie opgehou nie. Op skool het ek altyd vir ekstra papier na ’n eksamen gevra om stories te skryf terwyl ons wag vir die eksaminators om die vraestelle in te neem. Ek het tydens klas geskryf as ek nie skelm onder my bank gelees het nie. En in drama het ek vir Darren my dramajoernaal aangegee sodat hy die volgende toneel in een van my Engelse fantasiestories kon lees. Dit was verslawend en nodig. Dit was ontsnapping en … dit was myne. Niemand kon my skryftalent van my af wegvat nie – ek het tog hand en tand daarvoor baklei en dit geslyp. Nou voel dit vir my, met hindsight, asof daar nooit ’n ander pad was nie. Hierdie was bedoel om so te gebeur. Ek is bedoel om ’n skrywer te wees – die talent was daar, ek moes dit net ontdek en oefen, oefen, oefen. Gelukkig is ek so lief daarvoor, die moeilike skryfdae vergelyk nie met die geluk wat dit vir my bring nie.

Ek het hoofsaaklik Engels geskryf. Op universiteit het ek Spoegwolf en Jan Blohm en Koos Kombuis begin luister. Veral Spoegwolf het my oortuig dat Afrikaans modern en mooi kon wees. Dit kan accessible wees. So, toe begin ek gedigte skryf en later het ek ’n Afrikaanse manuskrip geskryf. Hy is nog nie gepubliseer nie, maar hy het my na Simone Hough gelei en teen die tyd dat ons besluit het dit gaan nie vir eers die lig sien nie, het ek reeds begin met die Branderjaers se verhaal. Toe sy my nooi vir koffie by Media24, het ek vir haar die idee gepitch en sy het vir my haar kaartjie gegee. Sy het van my skryfstyl gehou – as ek iets gehad het, moes ek laat weet. Dis ironies, want hoewel ons aan die ander manuskrip geredigeer het, het ek nog vir my ma gesê ek wens die Branderjaers kon my debuutwerke wees, juis omdat dit ’n reeks is, dis jonk en vars en opwindend, dis swaar op die regte maniere. En toe werk dit wraggies so uit.

Ek dink dit kon nie anders nie.

Jou karakters in Kanniedood leef totaal verskillende lewens van dié van baie bevoorregte tieners in die Kaapse wynlande (of Kaapse kusdorpe). En tog kan mens met hulle identifiseer. Dink jy ons is in boekgesprekke verby die punt waar mens moet vra mag ’n wit karakter hom of haar indink in die leefwêrelde van iemand van ’n ander agtergrond en kultuur? Kan dit? (Want ek kan sien, uit jou storie dit kán. Dalk móét dit, selfs.) Ander vraag: Dink jy lesers van Suid-Afrikaanse agtergrond is oop daarvoor om ’n boek te lees waar die skrywer wit is, maar haar hoofkarakters is nie almal wit nie?

Ek dink dit verg harde werk en consideration om dit te doen. Jy kan nie net sit, besluit jy gaan ’n bruin of swart karakter skryf en dit doen nie. Jy moet met mense uit daardie kultuur- en rasgroep gesels, jy moet navorsing doen, jy moet regtig jouself in jou karakter se kop probeer sit. ’n Simpel voorbeeld is die springtouliedjie. Die meeste kinders speel springtouspeletjies met liedjies wanneer hulle jonger is. Behalwe vir die feit dat ek nie kan onthou watter liedjies my vriende spesifiek gesing het nie – bruin en wit – moet ek in die kop klim van ’n meisie wat in Breekwater grootgeword het tussen oorhoofs bruin kinders. So, ek vra vir my vriendinne wat bruin is watter liedjies het julle gesing? Ek gaan soek op watter liedjies is al gesing en vra hulle uit, het julle hierdie gesing? Of dié? Dan antwoord hulle gewoonlik nee of ja of ja, maar anders, en hier is hoe ons dit gedoen het. Mens sal nie dink dis belangrik nie, maar dit is. “Linte ommie bos” is die liedjie wat ek gebruik in Kanniedood en alhoewel my vriendinne soms klein verskille het in hoe hulle dit gesing het, weet ek dat ’n bruin meisiekind dit gaan lees en hopelik dink: A, ja, ek onthou daai liedjie, dit was deel van ons laerskool-springtouspeletjie.

My generasie het ook postapartheid grootgeword. Hoewel ons natuurlik die nagevolge en effek daarvan tot vandag toe kan merk, het ons meer geïntegreerd grootgeword. Ons medestudente en vriende is racially diverse. Dit is vir ons normaal. Dis nie meer ’n vreemde ding om vriende te wees met mense van verskillende rasse en kulture nie. Daar is dus ook ’n natuurlike instink om diverse karakters te skryf omdat ek grootword met diverse mense in my lewe. So, waar dit dalk meer taboe voel vir ouer skrywers of lesers, dink ek dit kom meer natuurlik vir jonger skrywers om oop te wees daarvoor, juis omdat ons die lewe so ken, omdat dit ons natuurlike ervaring is. Skrywers het ’n geleentheid om onsself in ander se skoene te sit en hulle ervaring so eg en natuurlik moontlik aan te bied – ons moet net verantwoordelik wees daarmee. Ek dink lesers is oop daarvoor as dit reg gedoen word. Ek dink nie ek het die authority om dit te bepaal nie – ons sal seker moet sien. Maar solank ek dit sensitief en oopkop kan aanhou doen, solank ek dieselfde tyd en moeite in die karakters instoot, sal ek hulle skryf, veral as hulle hopelik ’n verskil kan maak in ’n kind se lewe.

Nog ’n meer moeilike vraag. Hoeveel Afrikaanssprekende jongmense lees Afrikaanse boeke? Wat is jou terugvoer? As jy van lesers hoor, hoe oud is hulle gewoonlik?

Sjoe, statistiek is ek nie oor seker nie, maar ek dink ons getalle groei.

Ek het baie Engelse lesers wat vir my laat weet dis die eerste Afrikaanse boek wat hulle klaar lees, en dan lees hulle dit nogal maklik ook! Wat verbasend is, is altyd as ’n Afrikaanse tiener vir my sê dis die eerste Afrikaanse boek wat hulle klaar lees, selfs onder die boeke wat vir hulle voorgeskryf is. Daar was onlangs ’n vyftienjarige meisie wat by ons gastehuis in Namakwaland was. Ek het haar vertel van my boeke en haar ouers het vir haar die eerste boek gekoop, hoewel hulle skouers opgetrek het en gesê het: “Luister, sy lees nie eintlik nie.” Sy het die boek amper klaar gelees op pad terug Wes-Kaap toe en anderdag laat weet sy is op pad om die derde een te lees – sy het Vuurvreter reeds verslind. Dít bring my ongelooflik baie vreugde. My boeke is nie dun nie, en ’n kind wat nie eintlik lees nie, het dit tjoef-tjaf klaargelees, want die storie of die karakters het haar meegesleur. Dit is wat boeke moet doen. Ek het ouer lesers, tieners, jong volwassenes in hul twintigs en tieners so jonk soos 13 jaar oud. Daar is ietsie vir almal in die reeks.

Hoe het jou storie in jou kop gevorm? Het jy soggens wakker geword en geweet: Ah, dis wat moet gebeur! Of het jy dit vooruit beplan en toe net die kolletjies verbind? Of het dit alles so half in kombinasie met mekaar gebeur?

Soos genoem, is ek baie bevoorreg rondom dit. Gewoonlik het die storie “gekom”. Inspirasie tref my wanneer ek my gang gaan en my lewe leef; ek maak notas daarvan, sit dit in ’n Word-dokument spesifiek vir die boek waarin dit pas (ek het toe ek met Branderjaer besig was, al idees en inspirasie gehad vir Boek 4 en 5). Wanneer ek moet skryf, het ek iewers om te begin – met die tonele of stukkies inspirasie wat ek dan opbou in tonele of deel van tonele maak. Ek brei uit en begin die gaps invul. Dis soos ’n legkaart – ek moet dan die stukke herorganiseer tot alles mooi pas. Maar ek het nog nooit die rande klaar gebou voordat ek stuk-stuk met die prent begin het nie. As ek geblok was, sou ek myself forseer om te kyk na die bits and pieces wat ek het en die groter prent te probeer insien of net klein tonele daarmee probeer ontwikkel net om in die wêreld te bly. As dit nie gewerk het nie, het ek buitentoe gegaan, gaan draf of stap, en dan sou ek iets raaksien of hoor wat my prikkel. Wanneer ek weer gaan sit, het ek idees om neer te skryf. Met Vuurvreter was dit tog nodig om ’n goeie tydlyn te bou. Ek het dit op papiere uitgeskryf en teen my kas opgeplak. Soos wat dinge gebeur of verander, kon ek dit bylas of rondskuif na gelang. Dit help verskriklik baie met skryf, veral noudat ek drie boeke diep in die tydlyn is! So ek dink die kort antwoord is seker dat dit ’n kombinasieproses is.

Vertel gou vir mense wat hier lees, waaroor gaan die storie Kanniedood, en vertel ook van die res van die Branderjaer-reeks. Moes mens die vorige boeke gelees het om die ander karakters te leer ken? (Ek wil iets soos ’n bederfwaarskuwing invoeg: Elke boek in die reeks fokus op ander hoofkarakters in die groep tieners. Mens leer karakters wat reeds in ’n vorige boek was, beter ken in die volgende boek.)

Branderjaer gaan oor vyf tienerseuns wat in ’n fiktiewe kusdorp, Stormbaai, woon. Hulle is almal geboelie toe hulle jonk was, waar hulle snaakse noemname soos Vuurvreter, Bittereinder en Kanniedood verdien het. Een vir een red hulle mekaar van hul boelie-omstandighede en vorm ’n tipe oorlewingsbende. Saam begin hulle surf, kransduik, rotsklim en deur grotte kruip om van hul omstandighede te ontsnap. Maar hulle vat alles tot ’n nuwe, ekstreme vlak. Hulle verdien die naam Branderjaers en begin op sosiale media opblaas. In Branderjaer raak Deidre Anker betrokke met Louw Swanepoel wanneer hy haar moet tutor in wiskunde en sy besef daar is baie meer aan die Branderjaers. Só word sy al hoe dieper meegesleur in die donker kant van die dorp  Breekwater, waar kringgevegte, bendes en ’n dwelmkring gehandhaaf word deur gesiene figure van Stormbaai. Die boek volg die perspektiewe van Louw en Deidre met verwisselende hoofstukke.

Vuurvreter, die opvolg, volg Malherbe Albertyn en Mieke le Roux se perspektiewe soos wat hulle meer ontdek oor Stormbaai en sy buurdorp, Chancer Bay, se geskiedenis en mitologie. Sake met die Rotte, die hoofbende van Breekwater, begin ernstiger word.

Met Kanniedood volg ons die perspektiewe van Ben en Kalla Palmer, kinders van die bendeleier van die Urchins, Check Palmer. Check het teruggekeer om ’n bendeoorlog te begin en sy kinders word dieper betrek in die bende se sake.

Ek sou voorstel jy begin by Branderjaer, maar elke boek is so geskryf dat jy met hom kan begin.

Wie is jou gunstelingkarakters (tot dusver) in die reeks?

Al die karakters het iets van myself en die mense wat ek liefhet in hulle, so dit is moeilik om te kies.

Kalla en Ben was natuurlik mees onlangs in my kop en diep in my hart, so dit voel asof ek die naaste nog aan hulle is. Ek moet nou nader aan die volgende twee beweeg. Mieke is vir my ’n gunsteling. Jak ook. Hy is my gunsteling-Branderjaer tot dusver. En dan, ’n onverwagse gunsteling – Daniels. Hy kom voor as die skurk in die eerste boek, maar met elke boek kry die leser nou ’n dieper blik op wie hy is en wat sy motiewe is. Ek dink teen die einde van die reeks gaan hy ’n spesiale plek in die meeste lesers se harte hê.

Is jy reeds besig met jou volgende boek – in die reeks, of iets anders?

Ek het besluit om hierdie jaar ekstra hard te fokus op my PhD (ek wil nou klaar maak!). Maar ek het ’n deadline om by te hou ook. So ek gaan my bes probeer om my PhD reg te trek sodat ek tussendeur sy redigering aan die volgende boek kan werk. Die volgende boek is daar, hy huiwer so op die rand van my gedagtes heeltyd en ek het al ’n hele paar notas gemaak (daarmee bedoel ek plus-minus ’n paar los hoofstukke). Maar die sít en skryf het nog nie gebeur nie. Ek wil ook graag hierdie jaar my digbundel finaliseer en instuur.

Ek weet jy is ’n kampvegter vir kopiereg en gekant teen die wysigings wat voorgestel word binne die Suid-Afrikaanse wet. Wil jy iets hieroor sê? Wat jy van die wet weet, van die veranderinge wat voorgestel word en hoekom jy besluit het om op te tree?

Kopiereg is uiters belangrik. Ons as skrywers maak daarop staat om ons intellektuele eiendom te beskerm, maar dit is nie nét ons wat sal ly indien die nuwe kopieregwetgewing ingestel word nie – dit affekteer ’n verskeidenheid kunstenaars, maar ook dié wat saam met ons werk. Dit sal baie mense se inkomstebronne vernietig en uiteraard verwoesting oor die uitgewersbedryf in Suid-Afrika saai.

Benewens die kopieregdebakel het ek natuurlik die nuus gevolg rondom die WhatsApp-groepe wat Suid-Afrikaanse skrywers se boeke onwettig versprei. ‘n Menigte kere het skrywers soos Sidney Gilroy die groepe geïnfiltreer en die groepe is gesluit, maar dan is net weer nuwes oopgemaak. Hulle is dus ‘n menigte kere gewaarsku voordat Media24 hulle uiteindelik hof toe geneem het. Dit is skokkend en werklik hartseer hoe koud en ongevoelig die lede van die groepe reageer het oor hulle misdaad toe hulle aangevat is, en ek dit is ’n blatante aanduiding van hoe min hulle verstaan van die boekbedryf, hoe baie werk daar in hierdie boeke ingestoot word, hoe baie mense betrokke is wie se salarisse afhang van boekverkope, en hoe min die skrywers werklik verdien. Ons Suid-Afrikaanse, en Afrikaanse, mark is reeds so klein. Om ons boekbedryf op te som as ’n kapitalistiese cashgrab kan nie verder van die waarheid wees nie. Dis soos om kuns te koop, hetsy dit oorspronklik of ’n print is, of om beeldhouwerk, of ceramics of ’n CD te koop. Spotify het nou gemaak dat ons ons gunstelingkunstenaars se musiek kan ondersteun deur gratis daarna te luister, tog kry hulle steeds die geld wat hulle verdien daaruit. Dit is ons alternatief vir CD’s wat duurder geword het.

Ek dink daar moet meer bewusmaking gedoen word rondom alternatiewe. Jy kan byvoorbeeld by ’n biblioteek aansoek doen (gratis) en toegang tot Libby kry (gratis), waar jy oudio- en e-boeke kan luister/lees. Jy kan jou biblioteek self benut en regte boeke uitneem. Tweedehandse boekwinkels en Hospices bied boeke vir baie goedkoop aan as jy weet waar om te kyk. Daar is makliker, beter maniere as om boeke onwettig te versprei.

............
Die wysiging in die kopieregwetgewing is ’n groot bedreiging vir die skeppende kunste in Suid-Afrika. Dit is belangrik dat almal van ons saamstaan om bewusmaking daaroor te skep en dit teen te staan. Skrywers en kunstenaars wend hulle tyd, vaardighede en talente aan om iets unieks en vermaakliks en moois vir die wêreld te skep – in ruil daarvoor is hulle geregtig daarop om daarvoor vergoed te word.
...............

Die wysiging in die kopieregwetgewing is ’n groot bedreiging vir die skeppende kunste in Suid-Afrika. Dit is belangrik dat almal van ons saamstaan om bewusmaking daaroor te skep en dit teen te staan. Skrywers en kunstenaars wend hulle tyd, vaardighede en talente aan om iets unieks en vermaakliks en moois vir die wêreld te skep – in ruil daarvoor is hulle geregtig daarop om daarvoor vergoed te word.

Is skryf jou manier om jou inkomste te verdien, of watter ander werk doen jy ook? 

O, nee. Ek is nog ver van daardie vlak – indien dit ooit my vlak sal kan raak (hou maar duim vas, want dit is die droom). Ek studeer nog, maar ek was baie fortunate om ’n beurs te verdien – die NRF-beurs. Ek werk al vanaf my honneursjaar by ’n maatskappy – Leaply – aanlyn. En ek het al getutor en by die universiteit se biblioteek gewerk. Ek is nog onseker wat ek gaan doen wanneer ek klaar is met my PhD. Daar is baie opsies, maar ek hou daarvan dat ek nie weet nie. Ek het na skool gaan swot en aangehou tot  nou, by my PhD, so ek sal ’n gap jaar wil neem, waar ek werk ook, maar dalk nie in die akademie nie. We’ll see.

Is jy self ’n branderplankjaer? Of wat geniet jy nog in jou vrye tyd?

Ek is nie, maar ek wens ek was! Ek wil nog eendag ’n les neem – baie van my pelle is branderjaers (in my opinie). Hulle is gewaagd en motiveer my ook om my horisonne uit te brei.

Ek geniet dit om in die see te swem wanneer ek gelukkig genoeg is om naby soutwater te kom. Ek lees. Ek het onlangs met klei begin speel en weer my verfkwaste opgetel. Elke nou en dan tel ek ’n kitaar op, en ek probeer gedigte skryf. Ek geniet dit om tyd saam met my mense te spandeer, live musiek shows te kyk.

Wat is die sin van die lewe?

Lag, wees lief, voel die son op jou gesig, jou voete op die aarde. Duik onder die seewater in. Gee jou troeteldier ’n drukkie. Lees. Eet lekker kos. Máák. Luister na wat kinders sê. Hou jou ouers vas. Haal asem. Alles gaan oukei wees.

Lees ook:

23-jarige student Joha van Dyk se debuutroman landswyd gepubliseer

Branderjaer deur Joha van Dyk: ’n resensie

Onderhoud: Soe rond ommie bos deur Veronique Jephtas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top