Branderjaer deur Joha van Dyk: ’n resensie

  • 0

Titel: Branderjaer
Outeur: Joha van Dyk
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-8048-1 

Jy ken daardie gevoel wanneer jou voete onder jou uitgeslaan word deur ’n reusebrander en jy hulpeloos oor die seebodem gerol word in ’n malse kakofonie van borrels, lig en donkerte. Daar is mos ’n dreuning in jou kop wat al harder word want jou asem is op. Dít was my ervaring toe ek Branderjaer lees. Ek wou desperaat gryp na iets om aan vas te hou om die getuimel te laat end kry, maar die sleurstroom was te sterk.

Deidre Anker is die slimkopdogter van advokaat Renate Anker. Hoewel briljant in tale, sukkel sy met wiskunde. Juffrou Kruger span vir Louw Swanepoel in om vir Deidre ekstra klasse in wiskunde te gee. Louw is een van vyf Branderjaers – ’n bende hoërskoolseuns wat vanaf laerskooldae ekstreme en doodsveragtende toertjies doen wat wyd op sosiale media gedeel word en aan hulle ’n string bewonderaars besorg. Hy is alles wat Deidre nie kan verdra nie. "Waaghalsig. Windgat. Weerbarstig" (bl 13). "Sy haat hom. En sy groepie. En alles waarvoor hulle staan ..." (14). Die verpligte wiskundelesse dwing Deidre en Louw om tyd saam te spandeer en mekaar beter te leer ken.

Dié storielyn klink heel eenvoudig.

Toe nie.

Nuwelingskrywer Joha van Dyk, ’n nagraadse student in Engels aan die US, se jeugverhaal het pas verskyn en trek beslis aandag. Gegewe die feit dat Van Dyk in haar vroeë twintigs is, het ek daarna uitgesien om Branderjaer te lees, aangesien so baie van ons jeugverhaalskrywers wel ... um ... nie meer self jeugdig is nie. Ek het vermoed dat Van Dyk ’n eietydse outentiekheid oftewel ’n edge na haar werk sou bring wat haar lesers opwindend sou vind. En ja, haar stem ís vars en haar idees vernuwend. Branderjaer sal beslis aan haar lesers besorg wat sal vra na meer. Dis ’n vinnige, rou storie wat spring tussen karakters en gebeure. Soveel dat ek naderhand gedisoriënteerd gevoel het – daardie presiese gevoel wanneer seewater in jou neus en ore brand.

Van Dyk se dapper skryfpoging van 312 bladsye word op die treffende voorblad deur Annie Klopper geloof as "Onstuimig, onvoorspelbaar en onbevange. Branderjaer is vreesloos." Dit is ’n baie raak beskrywing. Van Dyk was inderdaad vreesloos om ’n debuutverhaal met soveel karakters, temas, plotte en milieus aan te pak. Selfs baie ervare skrywers sal wegskram van só ’n uitdaging. ’n Eenvoudiger storielyn en minder hoof- en newekarakters sou ’n veel groter impak gemaak het. Voordat ek halfpad deur die boek was, was ek spyt omdat ek nie van die begin af notas gemaak het om tred te hou met die wie’s wie en waar’s wat in die storie nie. Ek het gereeld verward gevoel en wou terugblaai om net weer seker te maak oor dié of oor dáái.

Die storie is net té oraloor en wil kommentaar lewer oor sóveel gewigtige kwessies (soos onder meer ’n onbetrokke gemeenskap, die prys van roem, boeliery, bendebedrywighede, die druk om te presteer, drank- en dwelmmisbruik, gekompliseerde verhoudings, verlies en nog ’n swetterjoel ander sake) dat dit herinner aan ’n pot vol springmielies wat gelyk begin spring. Die boek wemel van intriges en geheime, maar eindig stomp en onbevredigend met min of geen resolusies nie. Daar is net té veel kwessies wat in die lug bly hang, net té veel vrae wat onbeantwoord bly. Ja, ek weet, die lewe is nie so eenvoudig dat daar noodwendig ’n netjiese begin en einde vir alles is nie, maar tog. Ek lees ’n boek omdat ek wil weet wat gebéúr. Die storie moenie in die lug bly hang nie. Los drade moet deeglik vasgeknoop word. Deirdre se pa word byvoorbeeld in inkriminerende omstandighede opgemerk saam met mense wat nie nét die Branderjaers nie maar ook vir Deirdre ontstig. Dis ’n taamlik groot openbaring, maar tog is daar nie die verwagte konfrontasie of verduideliking daarvoor wat ‘n leser – in alle redelikheid – wel sou kon verwag nie.

Hoofstuk een begin belowend aksievol waar ’n skare toeskouers by ’n geveg wat in die Kring plaasvind, Bitter (oftewel Louw) se naam herhaaldelik gil. Die Branderjaers (Louw, Malherbe, Jak, Ben en Ellis) duik nie net van kranse af, kruip in grotte rond en durf reusebranders met branderplanke aan nie, hulle veg ook in die geheim (onder kontrak, al is hulle minderjarig) vir die Kringmakers om sogenaamde "Bloedskuld" (1) af te betaal. Die indruk word egter geskep dat die vyf – elkeen het sy eie bynaam en agtergrondstorie – nie net onaantasbaar is vanweë hulle roem nie, maar in teenstelling daarmee ook onsigbaar is. Hulle leef met vryhede wat vir volwassenes bedoel is, en dít sonder beskerming en positiewe rolmodelle. Hulle loop met ooglopende beserings rond en hou verskonings gereed sou enigeen daaroor wonder, maar "dis asof die onderwysers net nie omgee nie. Almal moet sien kom klaar, maar die Jaers word alles verskoon" (15).

Dis oorspronklik en lekker gutsy om die tienerbende in ’n kryt te laat veg. Dieselfde tieners se fassinasie met ekstreme sportsoorte en ook branderplankry sorg vir bykomende opwinding. Die oordrewe belangstelling in Branderjaers op sosiale media reflekteer ook gepas op eietydse norme en waardes. Die taalgebruik in die boek sal in tieners se kraam pas. Die surfers se eiesoortige lingo verleen ekstra geur. Die tieners se lewens is gevul met normale tienerdinge, soos skool, die reëlings vir ’n sosiale week, die skoolkoerant, kuiers op die strand, ens. Dit is ’n boek oor vriendskap, lojaliteit en broederskap. Oor keuses. Hoe meer normaal die elkedagse tienerlewe uitgebeeld word, hoe meer aangrypend as teenpool word die abnormale (en selfs absurde) omstandighede uitgelig waar die seuns hulself as geharde vegmasjiene in ’n kryt bevind terwyl weddenskappe aangegaan word.

Die Branderjaers veg in die kryt om bloedskuld te betaal. "Die Kringmakers hou die arena oop, die Rotte – die bende – hulle werk saam met die Kringmakers. As jy Bloedskuld het, moet jy dit betaal. Die Kring is hoe" (264). Die rede waarom die Kringmakers hierdie houvas op Louw en sy vriende het, word ook op hierdie bladsy onthul. Hoewel skokkend, kon ek nie anders as wonder of die rede net té vergesog is nie. Ek wil nou nie die storie verklap deur te veel te sê nie, maar hier het ek wéér gewonder oor waarom die kinders so aan hulle eie lot oorgelaat word. Die polisie sou tog sekerlik ’n paar vrae van hulle eie gehad het oor die gebeure wat aanleiding gegee het daartoe dat die Rotte en die Kringmakers so ’n geweldige houvas op Louw-hulle gekry het?! Soveel vrae! So min antwoorde! En waarom práát niemand nie?

Dit het my gepla dat die skrywer realisties skryf oor die brekers en hulle hardebaardgewoontes – die bende se vrye toegang tot dwelms en drank (vermoedelik ook nie net as gebruikers nie maar ook dealers) – maar tog skram sy daarvan weg om vrytonele (let wel, ek verwys nie hier na grafiese sekstonele nie!) te skryf waar die tieners lustig kafoefel. Ja, seks word gesuggereer, byvoorbeeld toe een van die meisies kommentaar lewer op die feit dat ’n Jaer vir Deidre ekstra lesse gee. "Wiskunde is die taal van liefde," merk Mieke geheimsinnig op. "Dis amper soos ’n Get Into His Pants Free Card" (54). Die lyflike aspek van Louw en Deidré se verhouding word egter heel preuts voorgestel met byvoorbeeld "Louw se hand op haar knie" (166) en "sy duim onder die soom van haar hemp" (305). Ek sou dink dat ’n boek vir tieners wat kaalvuis omstrede temas aanpak en selfs kru taal soos "doos" (114), "donner" (132) en "fokof" (67) gebruik, darem die lyflike effe meer prominent sou uitlig. Die veelbekroonde skrywer Jan Vermeulen skryf in Oopmond, ’n wenner van LAPA se jeugromankompetisie, heel openlik oor jongmense wat warmbloedig reageer, byvoorbeeld: "Hy wikkel die bra se knippies los. Sy help hom om haar van die katoenkledingstuk te bevry. Dan trek sy hom treetjie vir treetjie saam met haar tot teen die bed en trek hom op haar neer" (252). Sien, niks vulgêrs nie, wel lewendig en realisties.

Branderjaer is nié ’n ontspannende Saterdagmiddaglees nie. Jou aandag moet ten volle by die boek wees. En hou daardie pen en notaboekie gereed; jy gaan dit nodig kry. Die storie word beurtelings uit Louw en Deirdre se perspektiewe vertel. In die hoofstukke wat uit Louw se perspektief geskryf word, is daar kort-kort wenke soos [STAGE LEFT, LIGTE FADE IN, BLOU. STAGE RIGHT, LIGTE FADE IN, GROEN. CENTRE STAGE SPOT] (38). Vir my, wat nie ’n toneelspeler is nie, was hierdie prompts/cues verwarrend. Dit het eers vir my regtig begin sin maak nadat Louw op bladsy 175 erken dat hy buitemuurse dramaklasse loop. In Louw se lewe was daar nog "altyd iets wat weggesteek moes word [...] Al hierdie leuens, soos ’n storie mooi inmekaargevleg en onafskeidbaar van mekaar om Louw Swanepoel op te maak" (132). Hy fassineer Deidre teen haar wil. "Nuuskierigheid brand regdeur haar. Soos ’n storie wat nou net begin interessant raak het, ’n boek wat sy gereed is om heelaand mee te sit – so staan Louw voor haar. Maar as dinge so erg is dat hy dit nie met haar kán deel nie, is dit regtig die moeite werd?" (111)

Lees gerus en neem kennis van Van Dyk se onbetwisbare skryftalent. Hier volg enkele juwele uit die boek: "Die koue lug byt haar wange" (97); "Haar hande is onrustig in haar jeans se sakke" (102); "Skadu’s klou aan elke hoek van sy kamer" (130); "Sy asem is ’n miswolk wanneer hy weer die glas na sy lippe bring" (131); en "Die dorp lê oopgesprei soos ’n speelgoedmat onder hulle" (133).

Ek voorspel ’n blink en briljante skryfloopbaan vir Van Dyk – mits sy nie ál die probleme van die jeug in een boek probeer aanspreek nie. Ek sien daarna uit om haar groei as skrywer dop te hou. Branderjaer is ’n debuutverhaal wat beslis gemengde reaksies gaan uitlok. Ek verlustig my aan die eindelose potensiaal wat hierin opgesluit lê – dié van ’n bloedjong skrywer met tonne talent en baie jare se skryf voor haar.

Joha van Dyk, ek hoop jy is al besig om aan jou volgende boek te skryf!

Bestel Branderjaer hier. Dit is ook beskikbaar as e-boek.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top