Kan Suid-Afrika se politieke partye leer om op munisipale vlak saam te regeer?

  • 0

Volgens die OVK het 521 politieke partye aan die munisipale verkiesings van 4 November deelgeneem, en die uitslae het ’n nuwe magsbalans opgelewer. Maar kan die partye hul mandate omskep in stabiele administrasies wat basiese dienste kan lewer?

  • Die uitslae hou ’n waarskuwing vir die ANC in, met ’n skerp afname in steun.
  • Die DA se posisie het in verskeie stedelike sentra versterk.
  • ActionSA het ’n belangrike rolspeler geword, straks ten koste veral vir die ANC en die DA.
  • Die MK-party se posisie het ook verstewig, veral in KwaZulu-Natal, waar die IVP steeds ’n belangrike politieke rolspeler bly.
  • Die EFF het steun verloor, hoewel hulle steeds ’n beduidende prominensie het.
  • Daar is ook verskeie kleiner partye wat op kritieke oomblikke invloed op belangrike oorwegings kan uitoefen, en hulle dra by tot ’n versplintering van die politieke landskap.

Die koalisieonderhandelinge sal die uiteindelike saamstelling van plaaslike regerings beïnvloed, byvoorbeeld wie die burgemeesters word, watter partye ’n meerderheid kan saamstel, en watter kleiner partye voordeel uit die onderhandelingsproses kan trek. Vir huishoudings, besighede en beleggers is die belangrikste toets van hierdie verkiesing of en hoe partye infrastruktuurverbeterings van noodsaaklike plaaslike dienste beïnvloed, soos veilige water, sanitasie, elektrisiteit, paaie en strate, vullisverwydering, ens.

Die groter partye: DA en ActionSA: ’n moeilike verhouding

Gegewe die verkiesingsuitslae en hul invloed in verskeie plaaslike rade sal die besluite van die DA en ActionSA fyn dopgehou word. Veral in Gauteng sal die verhouding tussen hulle waarskynlik een van die belangrikste, maar ook moeilikste, koalisie-uitdagings wees. Daar is heelwat gemeenskaplike grond tussen hulle. Albei beywer hulle vir fiskale dissipline, skoon regering, ’n bekwame administrasie, beter dienslewering en die bekamping van korrupsie. Albei is ook uitgesproke kritici van die ANC se rekord in plaaslike regering.

Maar politieke verhoudings word nie net deur beleidsdokumente bepaal nie. Die politieke struweling tussen die twee partye sedert die verkiesingsuitslae het dit reeds duidelik gemaak. ActionSA het deels uit ontevredenheid met die DA ontstaan en probeer hulself vestig as ’n alternatief vir kiesers wat ’n ander soort opposisiepolitiek as die DA verlang. Herman Mashaba se wegbreek uit die DA in 2019 het nie bloot beleidsverskille weerspieël nie, maar ook ’n botsing van politieke style, ambisies en opvattings oor die rigting waarin die DA beweeg het.

Mashaba en Helen Zille is albei sterk persoonlikhede en uitgesproke kritici van mekaar. Maar hulle kan nie bekostig om hul verhouding bloot as ’n persoonlikheidwedstryd te hanteer nie Die DA het, op grond van hul verkiesingsteun en regeringservaring in sommige rade, waarskynlik die sterkste aanspraak op leierskap, maar dit gee hulle nie ’n onbeperkte mandaat om voorwaardes voor te skryf nie.

Koalisiesuksesse sal afhang van die vermoë om oor praktiese programme ooreen te kom. Benewens besluite oor wie die burgemeesters- en komiteeposisies kry, verg dit eenstemmigheid oor begrotings, diensleweringsprioriteite, senior aanstellings, finansiële bestuur en die hantering van meningsverskille. Hulle hoef nie van mekaar te hou nie, maar sal maniere moet vind om respekvol saam te werk. Daarvan was daar egter dusver nie veel te sien nie.

Die ANC: Mededinger, vennoot of albei?

Die ANC se dalende steun beteken dat hulle nie meer kan aanneem dat hul historiese oorheersing vanselfsprekend ’n rol in plaaslike regerings sal verseker nie. In sommige munisipaliteite sal hulle steeds die grootste party wees, maar in ander sal hulle vanuit ’n veel swakker posisie moet onderhandel.

Vir hulle as ’n breë politieke beweging kan interne faksies en plaaslike belange dit moeilik maak om ’n konsekwente benadering tot koalisieonderhandelinge te volg. Die DA en ActionSA het boonop hul onderlinge verskille wat tans so sigbaar is tussen Zille en Mashaba, maar hul politieke en administratiewe benaderings stem nader ooreen ten opsigte van heelwat aspekte van munisipale bestuur. Hul organisatoriese grondslag is ook in baie opsigte sterker gevestig.

Ander partye

Ander partye se deelname aan die RNE het getoon dat samewerking met voormalige politieke teenstanders moontlik is. Plaaslike politiek het sy egter eie aansporings en druk. Meningsverskille oor ’n burgemeester, munisipale bestuurder of begrotings kan vinnig ontaard in krisisse wat basiese dienslewering raak.

Daar kan munisipaliteite wees waar samewerking tussen die ANC en hul politieke teenstanders ’n praktiese manier is om ’n stabiele administrasie tot stand te bring. Maar politieke geskiedenis, botsende ambisies en ideologiese verskille kan sulke reëlings moeilik maak om te beklink en te volhou.

Verskillende metro's verg verskillende politieke benaderings

Die keuses waarvoor partye in die groot metro's te staan kom, illustreer waarom daar nie ’n enkele resep vir koalisies kan wees nie.

Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni sal belangrike toetse van die verhouding tussen die DA en ActionSA wees. Hulle kan mekaar nodig hê om stabiele administrasies te vorm, maar hul politieke geskiedenis en botsende ambisies kan onderhandelinge bemoeilik.

In eThekwini het MK, met 86 van die metro se 223 raadsetels, as die grootste party uit die verkiesing gekom, maar dit is ver onder die 112 setels wat vir ’n meerderheid nodig is. Die koalisieonderhandelinge daar is dus oop. ActionSA het reeds verkennende gesprekke met sowel MK as die ANC gevoer, maar nog geen ooreenkoms bereik nie. Die DA het intussen samewerking met MK as ’n opsie uitgesluit. Ander moontlikhede sluit samewerking tussen die ANC, DA en IVP in, hoewel dit nog nie duidelik is watter kombinasie uiteindelik die nodige steun sal kan mobiliseer nie.

Die belangrike vraag is nie bloot wie die metro gaan beheer nie, maar of partye ’n werkbare ooreenkoms oor dienslewering en die stabilisering van die administrasie kan bereik. Hoe MK hierdie onderhandelinge hanteer, sal ’n vroeë aanduiding gee van hul vermoë om pragmaties te regeer.

In Nelson Mandelabaai het die DA 53 van die 120 setels gewen en is dit duidelik die grootste party. Dit het egter minstens agt verdere setels nodig om ’n meerderheid te vorm. Die DA het reeds gesprekke met die Vryheidsfront Plus, ActionSA en die UDM begin. Die ANC, met 32 setels, kan egter ook probeer om ’n alternatiewe meerderheid met ander kleiner partye saam te stel. Die DA se groter getalle gee hulle ’n sterker onderhandelingsposisie, maar waarborg nie dat hulle die nuwe administrasie sal lei nie. Na jare van koalisieonstabiliteit sal die uitdaging wees om die politieke en administratiewe stabiliteit te bied wat die metro dringend nodig het.

Kleiner partye se invloed wissel

Die groeiende aantal kleiner partye in munisipale rade maak onderhandelinge ingewikkelder. Die EFF, IVP, MK, PA, Vryheidsfront Plus en ander sal, afhangend van die munisipaliteit, in verskillende mates invloed hê.

In rade waar geen party ’n meerderheid het nie, kan selfs ’n handjievol setels aansienlike bedingingsmag meebring. Kleiner partye is geregtig daarop om verteenwoordiging te soek en daarop aan te dring dat die belange van hul kiesers ernstig opgeneem word. Dit is egter moeiliker om die gebruik van ’n klein aantal setels te regverdig om beheer te eis oor portefeuljes waarvoor hulle nie die nodige ervaring of ’n geloofwaardige rekord het nie.

’n Suksesvolle koalisie verg onderhandeling, maar ook ’n rede waarom hul vennote bymekaar moet bly. Rise Mzansi, onder leiding van Songezo Zibi, het byvoorbeeld beperkte verteenwoordiging in plaaslike regering. Tog kan hul verbintenis tot etiese leierskap en institusionele vernuwing sommige groter partye oorreed om die party by koalisies te betrek. Suid-Afrika het meer brugbouers nodig, nie bloot meer politieke makelaars nie.

Wat behoort ’n koalisieooreenkoms te bevat?

Onlangse munisipale koalisies het ’n belangrike swak punt blootgelê: Te min aandag word gegee aan wat ’n koalisie eintlik wil bereik. Om behoorlik te funksioneer behoort ’n koalisieooreenkoms ’n openbare verbintenis tot ’n regeerprogram te wees. Dit hoef nie ’n uitgebreide manifes te wees nie, maar moet spesifiek genoeg wees sodat inwoners kan beoordeel of die partye hul beloftes nakom. Dit behoort minstens vyf sake te dek:

  • ’n Gesamentlike program met duidelike prioriteite, gekoppel aan die munisipaliteit se begroting en realistiese dienslewering vermoë. Prioriteite kan die herstel van betroubare water- en elektrisiteitdienste, beter inkomste-invordering, die vermindering van agterstande in infrastruktuurinstandhouding, verbeterde afvalbestuur en die aanspreek van probleme met verkryging insluit. Algemene aspirasies is nie genoeg nie.
  • Duidelike verantwoordelikhede en aanspreeklikheid. Die ooreenkoms moet bepaal wie waarvoor verantwoordelik is, hoe uitvoerende besluite geneem sal word en hoe prestasie beoordeel sal word. Posisies moet nie bloot toegeken word om individuele politieke ambisies te bevredig nie.
  • Beskerming van die administrasie. Munisipale bestuurders, finansiële hoofde en senior amptenare moet hul werk kan doen sonder om slagoffers van elke politieke meningsverskil te word. Aanstellings moet op bekwaamheid en integriteit berus, nie op partylojaliteit nie. Munisipale poste moet nie belonings vir ondersteuners of politieke invloed word nie.
  • Finansiële aanspreeklikheid en dienslewering. Begrotings, besteding, verkryging en diensleweringsverpligtinge moet gereeld gemonitor en gerapporteer word. Inwoners moet kan sien of ooreengekome prioriteite befonds word en of daar werklike verbeterings plaasvind.
  • ’n Meganisme om meningsverskille te hanteer. Die ooreenkoms moet bepaal hoe partye sal kommunikeer wanneer ’n reëling verbreek is, sodat alle samewerking nie noodwendig in duie te stort nie.
Munisipale administrasie is net so belangrik soos die koalisie

Daar is ’n risiko dat koalisieonderhandelinge ’n meer fundamentele kwessie sal verdoesel: die toestand van munisipale administrasies. ’n Koalisie kan redelik funksioneer as dit konsekwente politieke leiding bied en bevoegde amptenare toelaat om die munisipaliteit te bestuur. Dit vereis dat:

  • Politieke leiers prioriteite bepaal, begrotings goedkeur, die administrasie aanspreeklik hou, maar nie self elke operasionele besonderheid probeer bestuur of in aanstellings, aankope en daaglikse bestuur inmeng nie. Dit is belangrik in die bestuur van basiese dienste, wat volgehoue tegniese en finansiële bestuur vereis eerder as daaglikse politieke oorsig.
  • ’n Koalisie wat munisipale leierskap elke paar maande verander, of senior poste as politieke pryse behandel, sal hul eie vermoë om dienste te lewer ondermyn. Dieselfde geld vir ’n party wat hul beheer oor ’n raad gebruik om swak bestuur te beskerm of finansiële mislukkings te verdoesel.

Om ’n koalisie te bestuur is nie maklik nie. Partye het verskillende geskiedenisse, kiesersbasisse, beleidsposisies en ambisies. Hul ondersteuners kan diep wantroue teenoor mekaar koester, maar kompromie is nie noodwendig ’n verraaiing van beginsels nie. Dit is dikwels hoe demokrasie werk.

Lees ook:

Die eenvoudige verskille tussen goeie en swak munisipaliteite

Wyngaard Weekliks: Die regte mense met die regte vaardigheid sal munisipaliteite regruk

LitNet Akademies Weerdink: Die munisipale afgrond en 2026-scenario’s

Plaaslike munisipale dienslewering daagliks meer dringend vir water en ander dienste

The municipal elections: Five things to consider before you make your cross

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top